Waak teen simonie!
SIMON van Samaria is hooggeag in sy gemeenskap. Hy het in die eerste eeu G.J. gelewe, en mense is so betower deur sy toorkunste dat hulle van hom gesê het: “Hierdie man is die Krag van God, wat Groot genoem kan word.”—Handelinge 8:9-11.
Nadat Simon ’n gedoopte Christen geword het, het hy egter ’n krag gesien wat baie groter was as dié wat hy voorheen gehad het. Dit was die krag wat Jesus se apostels ontvang het en wat hulle in staat gestel het om die wonderdadige gawes van die heilige gees aan ander te gee. Simon was so beïndruk dat hy die apostels geld aangebied en versoek het: “Gee my ook hierdie gesag, sodat enigeen wat ek die hande oplê, heilige gees kan ontvang.”—Handelinge 8:13-19.
Die apostel Petrus het Simon bestraf en gesê: “Mag jou silwer saam met jou vergaan, omdat jy gedink het om die vrye gawe van God deur geld in besit te kry. Jy het part nog deel in hierdie saak, want jou hart is nie reg in God se oë nie.”—Handelinge 8:20, 21.
Van hierdie Bybelverslag kom die woord “simonie”, wat gedefinieer is as “die sonde om besittings of bevorderings in die kerk te koop of te verkoop”. Die New Catholic Encyclopedia erken dat simonie veral van die 9de tot die 11de eeu “algemeen voorgekom het in die kloosters, onder die laer geestelikes, die bisdom en selfs die pousdom”. Die negende uitgawe van The Encyclopædia Britannica (1878) sê: “’n Studie van die geskiedenis van die Pouslike sittings laat die student met die oortuiging dat daar nog nooit ’n verkiesing was wat nie deur simonie beïnvloed is nie, terwyl die simonie wat in die kardinaalsvergaderinge beoefen is in baie gevalle van die ergste, onbeskaamdste en openlikste was.”
Ware Christene van vandag moet teen simonie waak. Diegene wat aan ander bykomende voorregte kan gee, word byvoorbeeld deur party opgehemel of ontvang gereeld geskenke van hulle. Daarenteen kan diegene wat sulke voorregte aan ander kan gee diegene begunstig wat in staat is—en dikwels gretig is—om geskenke aan hulle te gee. Albei situasies behels simonie, en die Skrif veroordeel duidelik so ’n weg. “Toon dus berou oor hierdie slegtheid van jou,” het Petrus Simon gemaan, “en smeek Jehovah dat die lis van jou hart [“hierdie plan van jou”, New Jerusalem Bible] jou, indien moontlik, vergewe word; want ek sien dat jy ’n giftige gal en ’n band van onregverdigheid is.”—Handelinge 8:22, 23.
Simon het gelukkig die erns van sy verkeerde begeerte besef. Hy het die apostels gesmeek: “Doen tog ’n smeekbede tot Jehovah vir my dat niks van wat julle gesê het oor my sal kom nie” (Handelinge 8:24). Ware Christene slaan ag op die belangrike les in hierdie verslag en probeer enige vorm van simonie vermy.