Moet ek by my broer geld leen?
SIMON se jongste kind is siek en het dringend medisyne nodig. Maar Simon is baie arm en kan dit nie bekostig nie. Wat kan hy doen? Wel, ’n mede-Christen met die naam Michael is geldelik beter daaraan toe as hy. Miskien sal Michael vir hom die geld leen. Maar in sy hart weet Simon dat dit onwaarskynlik is dat hy die lening sal kan terugbetaal.a
Wanneer Simon hom hieroor nader, bevind Michael hom in ’n dilemma. Hy besef dat daar ’n werklike behoefte is, maar hy twyfel of Simon die geld sal kan terugbetaal omdat dit vir hom ’n stryd is net om sy gesin te voed. Wat moet Michael doen?
In baie lande kan mense hulle lewensmiddele oornag verloor en skielik sonder geld of versekering wees om mediese uitgawes te dek. Banklenings is dalk nie beskikbaar nie of heeltemal te duur. Wanneer ’n noodgeval ontstaan, lyk ’n lening dalk na die enigste oplossing. Voordat jy by iemand geld leen, is daar egter ’n paar belangrike sake om te oorweeg.
Bereken die koste
Die Skrif voorsien riglyne vir die uitlener sowel as die lener. Deur op hierdie raad ag te slaan, kan ons baie misverstande en gekrenkte gevoelens vermy.
Die Bybel herinner ons byvoorbeeld dat ons dit nie lig moet opneem om geld te leen nie. Die apostel Paulus het die Christene in Rome vermaan: “Julle moet niemand enigiets verskuldig wees nie, behalwe om mekaar lief te hê; want hy wat sy medemens liefhet, het die wet vervul” (Romeine 13:8). Ideaal gesien is liefde al wat ’n Christen aan ander verskuldig moet wees. Gevolglik kan ons ons eers afvra: ‘Is hierdie lening werklik noodsaaklik?’
As die antwoord ja is, sal dit verstandig wees om na te dink oor die gevolge wat skuld vir jou kan inhou. Jesus Christus het getoon dat belangrike besluite ernstige oorweging en beplanning vereis. Hy het sy dissipels gevra: “Wie van julle wat ’n toring wil bou, gaan nie eers sit en die koste bereken, om te sien of hy genoeg het om dit te voltooi nie?” (Lukas 14:28). Hierdie beginsel geld wanneer ’n mens dit oorweeg om geld by ’n broer te leen. Om die koste van ’n lening te bereken, beteken om te bereken hoe en wanneer ons dit sal terugbetaal.
Die uitlener het die reg om te weet hoe en wanneer die lening terugbetaal sal word. Deur sake goed te oordink, sal ons hom spesifieke antwoorde kan gee. Het ons bereken wat die koste sal wees om die lening binne ’n redelike tydperk terug te betaal? Dit sal natuurlik makliker wees om vir ons broer te sê: “Ek sal jou so gou moontlik terugbetaal. Jy weet jy kan my vertrou.” Maar moet ons sulke sake nie op ’n meer verantwoordelike wyse hanteer nie? Ons moet van die begin af vasbeslote wees om die lening terug te betaal, aangesien Jehovah dit van ons vereis. “Die goddelose leen en gee nie terug nie”, sê Psalm 37:21.
Deur te bereken hoe en wanneer ons die lening sal terugbetaal, herinner ons ons aan die erns van die verbintenis wat ons aangaan. Dit verminder die waarskynlikheid dat ons onnodig skuld sal maak. Dit hou vir ons voordele in as ons skuld kan vermy. Spreuke 22:7 waarsku: “Hy wat leen, is ’n slaaf van die man wat uitleen.” Selfs wanneer die uitlener en die lener geestelike broers is, kan ’n lening hulle verhouding raak, ten minste in ’n sekere mate. Misverstande oor lenings het al selfs die vrede van sommige gemeentes versteur.
Verduidelik waarom die geld nodig is
Die uitlener het die reg om ’n eenvoudige verduideliking te hê van hoe ons die geleende geld gaan gebruik. Leen ons nie net by hom geld nie, maar ook by ander mense? Indien wel, moet ons dit duidelik maak, want dit kan ons vermoë beïnvloed om die lening terug te betaal.
Dit is veral belangrik om tussen sakelenings en lenings vir noodgevalle te onderskei. ’n Broer het geen skriftuurlike verpligting om vir ons geld te leen vir ’n sakeonderneming nie, maar hy sal waarskynlik geneë voel om te help as ’n ander broer, sonder sy eie toedoen, vind dat hy nie vir basiese behoeftes soos voedsel, klere of noodsaaklike mediese sorg kan betaal nie. As ons openhartig en eerlik is wat sulke sake betref, sal dit help om misverstande te vermy.—Efesiërs 4:25.
Stel dit op skrif
’n Geskrewe dokument van die ooreenkoms is noodsaaklik as ons in die toekoms misverstande wil voorkom. As dit nie op skrif is nie, is dit maklik om spesifieke besonderhede van ’n ooreenkoms te vergeet. Ons moet die bedrag wat geleen word asook wanneer dit terugbetaal moet word, neerskryf. Dit sal raadsaam wees as die uitlener sowel as die lener die ooreenkoms teken en as elkeen ’n persoonlike afskrif hou. Die Bybel toon dat geldelike transaksies op skrif gestel moet word. Kort voor die Babiloniërs Jerusalem vernietig het, het Jehovah vir Jeremia gesê om ’n stuk land by een van sy familielede te koop. Ons kan baat vind by ’n hersiening van die stappe wat hy gevolg het.
“Daarop het ek van Hanameël, die seun van my oom, die stuk grond gekoop wat in Anatot lê”, het Jeremia gesê. “En [ek het] vir hom die geld afgeweeg: sewentien sikkels silwer. En ek het dit in die brief geskrywe en dit verseël en getuies geneem en die geld afgeweeg op ’n weegskaal. Toe het ek die koopbrief geneem, die verseëlde een—volgens voorskrif en wetlike bepalinge en die oop een, en die koopbrief aan Barug, die seun van Neria die seun van Magseja, gegee voor die oë van Hanameël, die seun van my oom, en voor die oë van die getuies wat die koopbrief onderteken het; voor die oë van al die Jode wat in die voorhof van bewaking gesit het” (Jeremia 32:9-12). Hoewel die voorgaande voorbeeld betrekking het op ’n aankoop en nie op ’n lening nie, toon dit nietemin hoe belangrik dit is om geldelike transaksies op ’n duidelike, ondubbelsinnige manier te hanteer.—Sien Die Wagtoring van 15 Julie 1973, bladsye 335-6 (The Watchtower van 1 Mei 1973, bladsye 287-8).
As probleme ontstaan, moet Christene probeer om dit in ooreenstemming met Jesus se raad in Matteus 18:15-17 op te los. Maar een ouer man, wat probeer het om bystand te verleen in sulke sake, sê: “Daar was byna nooit ’n geskrewe ooreenkoms nie. Gevolglik was daar nie ’n duidelike verstandhouding tussen die twee partye oor hoe die lening terugbetaal moes word nie. Ek is oortuig dat die opskrifstelling van sulke sake ’n bewys van liefde is, en nie van wantroue nie.”
Wanneer ons dan ’n ooreenkoms aangegaan het, moet ons beslis daarna streef om ons woord te hou. Jesus het ons aangespoor: “Laat julle woord Ja eenvoudig Ja beteken, julle Nee, Nee; want wat meer as dit is, is uit die bose” (Matteus 5:37). As die een of ander onvoorsiene probleem ons verhinder om die lening op tyd terug te betaal, moet ons onmiddellik die situasie aan die uitlener verduidelik. Miskien sal hy ons toelaat om die lening in kleiner bedrae oor ’n langer tydperk terug te betaal.
Maar ongunstige omstandighede verskoon ons nie van ons verantwoordelikhede nie. Iemand wat Jehovah vrees, doen sy bes om sy woord te hou (Psalm 15:4). Al het sake dalk nie uitgewerk soos ons verwag het nie, moet ons bereid wees om opofferings te maak sodat ons ons skuld kan betaal, aangesien dit ons Christelike verantwoordelikheid is.
Wees versigtig om geld uit te leen
Dit is natuurlik nie net die lener wat ernstig oor die saak moet nadink nie. ’n Broer wat genader word vir ’n lening, moet ook die koste bereken. Voordat ons geld uitleen, sal dit verstandig wees as ons die tyd neem om sake versigtig en objektief te oorweeg. Die Bybel vermaan ons om versigtig te wees en sê: “Wees nie onder die wat ’n handslag gee, onder die wat vir skulde borg staan nie.”—Spreuke 22:26.
Voordat jy jou verbind, moet jy aan die moontlike gevolge dink as die broer jou nie kan terugbetaal nie. Sal jy dan self ernstige geldelike probleme hê? Selfs al het die broer die beste bedoelings, kan omstandighede verander of kan sy berekeninge verkeerd wees. Jakobus 4:14 herinner ons almal: “Julle [weet] nie . . . wat julle lewe môre sal wees nie. Want julle is ’n mis wat vir ’n klein rukkie verskyn en dan verdwyn.”—Vergelyk Prediker 9:11.
Veral in die geval van ’n sakelening sal dit verstandig wees om na die reputasie van die lener te kyk. Is hy bekend as iemand wat geloofwaardig en betroubaar is of is hy onverstandig wat geldelike sake betref? Is hy geneig om verskillende persone in die gemeente te nader om geld by hulle te leen? Dit is verstandig om hierdie woorde in gedagte te hou: “Die eenvoudige glo elke woord, maar die skrandere let op sy voetstappe.”—Spreuke 14:15.
Soms is ’n lening ook nie in die belang van die lener nie. Dit kan maklik vir hom ’n las word wat hom van sy vreugde beroof. Wil ons hê dat so ’n broer ons “slaaf” moet word? Kan ’n lening ons verhouding raak en tot ’n ongemaklike situasie of selfs ’n verleentheid lei as hy nie kan terugbetaal nie?
Kan ons, as daar ’n ware behoefte is, dit oorweeg om eerder ’n geskenk as ’n lening te gee, selfs al is dit ’n kleiner bedrag? Die Skrif moedig ons aan om medelydend te wees wanneer ons sien dat ons broer behoeftig is. “Die regverdige ontferm hom en gee”, het die psalmis gesing (Psalm 37:21). Liefde moet ons beweeg om te doen wat ons kan om praktiese hulp aan behoeftige broers te verleen.—Jakobus 2:15, 16.
Dink goed daaroor na
Aangesien lenings ’n bron van wrywing kan wees, kan ons dit as ’n laaste uitweg beskou, nie as ’n maklike oplossing nie. Soos vroeër genoem is, moet die lener eerlik wees met die uitlener en op skrif stel hoe en wanneer die lening terugbetaal sal word. En in geval van ’n ware behoefte sal ’n geskenk moontlik die beste oplossing wees.
Michael het nie vir Simon die geld geleen wat hy gevra het nie. Michael het eerder vir hom ’n kleiner bedrag as ’n geskenk gegee. Simon was dankbaar vir hierdie hulp om sy kind se medisyne te help betaal. En Michael was bly dat hy sy broederlike liefde op ’n praktiese manier kon betoon (Spreuke 14:21; Handelinge 20:35). Michael sowel as Simon sien uit na die tyd onder die Koninkryksheerskappy wanneer Christus ‘die behoeftige sal red wat roep om hulp’ en niemand sal sê: “Ek is siek” nie (Psalm 72:12; Jesaja 33:24). Laat ons intussen goed daaroor nadink as ons ooit genoodsaak voel om geld by ’n broer te leen.
[Voetnoot]
a Die name is verander.
[Prent op bladsy 25]
Om leningsooreenkomste op skrif te stel, is ’n bewys van liefde, nie van wantroue nie