Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w82 10/15 bl. 27-30
  • Geldskietery en Christelike liefde

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Geldskietery en Christelike liefde
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Terugbetaling
  • Lenings met rente
  • Geleenthede om liefde te toon
  • Wanneer vriende geld uitleen of leen
    Ontwaak!—1999
  • Die leen van geld aan mede-Christene
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Moet ek by my broer geld leen?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Moet ek geld leen?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2014
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
w82 10/15 bl. 27-30

Geldskietery en Christelike liefde

’N RUK gelede was ’n boer se dogter ernstig siek. Sy het behandeling dringend nodig gehad, maar die boer was te arm en kon dit nie bekostig om haar na ’n dokter te neem nie. In die dorp waar hulle gewoon het—soos in die meeste dorpe in daardie land—was daar ’n geldskieter wat geld uitgeleen het op ’n grondslag van ses tot vyf. Jy leen vyf rand en die volgende maand betaal jy ses terug. Dit was vir hierdie geldskieter geen probleem om vir die boer die kontant te gee nie, maar die boer moes natuurlik die volgende maand die rente begin betaal.

Hoe beskou jy hierdie reëling? Sal dit reg wees vir ’n Christen om onder sulke omstandighede geld op rente uit te leen?

Die apostel Johannes het vir sy mede-Christene gesê dat hulle nie hul hart vir hul behoeftige broers moes “toesluit” nie (1 Johannes 3:17). En die wet wat God aan die Israeliete gegee het, het spesifiek gesê: “Jy [moet] jou hart nie verhard en jou hand nie toehou vir jou arm broer nie. Maar jy moet jou hand wyd oopmaak vir hom, en jy moet gewillig aan hom leen, genoegsaam vir sy behoefte, wat hom ontbreek.”—Deuteronomium 15:7, 8.

Die geldskieter het gevolglik die regte ding gedoen deur die geld beskikbaar te stel vir die siek meisie se behandeling. Sy het ten minste die nodige behandeling ontvang. Maar daar was ’n ander aspek van die wet wat aan Israel gegee is. Dit het gesê: “As jy aan my volk, aan die arme by jou, geld leen, mag jy vir hom nie soos ’n geldeiser wees nie: julle mag hom geen rente oplê nie” (Exodus 22:25). Waarom kon die Jode nie vir mekaar geld op rente leen nie?

Jy sal onthou dat die meeste Jode aanvanklik boere was, nie sakemanne nie. As ’n boer wat sy erfgrond bewerk om ’n lening gevra het, was dit heel waarskynlik omdat hy behoeftig was. Die wet het vanselfsprekend aangeneem dat die een wat geld leen ‘arm’ sou wees. Hy het moontlik ’n ongeluk of ’n misoes gehad, of hy het om die een of ander rede geld nodig gehad om tot die volgende oes aan die lewe te bly. Deur onder sulke omstandighede rente te vra, sou ’n persoon munt slaan uit ’n broer se teëspoed. Dit sou nie liefde toon nie, en die Israeliete is beveel: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”—Levitikus 19:18.

Hoewel Christene vandag nie onder daardie eertydse wet is nie, is hulle steeds verplig om mekaar lief te hê. Jesus het gesê: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Mattheüs 22:39). ’n Christen sal gevolglik ook nie uit die teëspoed van sy broer munt wil slaan deur op rente aan te dring wanneer sy broer behoeftig raak en om ’n lening vra nie.

Die feit is dat Christene mekaar in moeilike tye met meer as lenings help. Hulle gee geskenke. In die eerste eeu was dit Paulus en Barnabas se taak om bydraes van die Christene in Klein-Asië na die broers in Judea te neem wat weens ’n hongersnood gely het (Handelinge 11:29, 30). Wanneer daar vandag ’n ramp is, stuur Christene eweneens geskenke om hulle broers te help.

Dit is in hierdie selfde gees dat Jesus ons aangespoor het: “Wys hom nie af wat [sonder rente] van jou wil leen nie” (Mattheüs 5:42, vgl. NW). ’n Christen beskou die tydelike moeilikhede van sy broer dus as ’n geleentheid om liefde te bewys. Hy behoort te help waar hy kan, en sal selfs geskenke gee of geld sonder rente leen. Indien die geldskieter wat vroeër gemeld is Christenbeginsels toegepas het, sou hy ongetwyfeld die saak ook so beskou het.

Terugbetaling

Maar die lener het ook ’n verpligting. Paulus het Christene vermaan: “Wees aan niemand iets skuldig nie, behalwe om mekaar lief te hê” (Romeine 13:8). ’n Lener moet dus bewus wees van sy verpligting om sy skuld so gou moontlik te vereffen. Hy moenie redeneer dat aangesien die persoon wat die geld aan hom geleen het ryker as hy is, dit nie nodig is om dit terug te betaal nie. Hy moet eweneens nie verwag dat ’n mede-Christen, soos ’n dokter of ’n prokureur, vir hom dienste moet lewer sonder om vergoed te word nie.

Jesus het gesê: “Laat julle woord wees: Ja ja, nee nee” (Mattheüs 5:37). Met ander woorde, ’n Christen moet sy woord hou. As hy geld leen en beloof om dit terug te betaal, of op die een of ander manier skuld maak, dan moet hy alles in sy vermoë doen om daardie skuld te vereffen. Om hom hiermee te help, en om te sorg dat daar geen misverstand by enige van die partye bestaan nie, is dit verstandig om ’n skriftelike ooreenkoms aan te gaan wat die bedrag meld, uiteensit hoe dit terugbetaal sal word, ensovoorts.

Lenings met rente

Is dit altyd liefdeloos om rente te vra? Nie noodwendig nie. Dit is opmerklik dat hoewel die Jode nie vir mede-Israeliete rente kon vra nie, dit nie vir uitlanders gegeld het nie. “Die uitlander mag jy rente oplê” het die wet gesê (Deuteronomium 23:20). Waarom die verskil? Omdat ’n uitlander in Israel waarskynlik ’n sakeman sou wees, en die lening waarskynlik vir besigheidsdoeleindes gebruik sou word. Dit was gevolglik slegs redelik dat die geldskieter in enige profyt sou deel, en hy kon dit doen deur rente te vra.

Jesus het geen beswaar gehad teen die beginsel om geld op rente uit te leen nie. Hy het dit in een van sy gelykenisse getoon. Hy het vertel van ’n man van hoë geboorte wat ’n ruk lank weggegaan het en geld aan sy diensknegte gegee het. Na sy terugkeer het hy hulle ontbied om met hulle af te reken en gevind dat die meeste van die diensknegte die geld belê het en ’n wins gemaak het. Hy het hulle geprys. Maar een dienskneg het nie die geld belê nie; daar was gevolglik geen wins nie. Hy het dit nie eers in ’n bank gesit—dit in werklikheid aan die bank geleen sodat dié dit vir sakedoeleindes kon gebruik—en rente gekry nie. Hierdie dienskneg is deur sy heer bestraf.—Lukas 19:11-24.

Wat van vandag? Twee Christinne het ’n sakereëling gehad. Die een het elke dag die ekwivalent van R20 aan die ander geleen. Die lener het dan kos gekoop en dit op die mark verkoop. Aan die einde van die dag het sy omtrent R25 gehad waarvan sy R21 aan die geldskieter teruggee en R4 vir haarself gehou het. In daardie land is R4 nie ’n buitengewone loon vir ’n dag se werk nie.

In ’n ander deel van die wêreld het ’n Christen ’n familiesaak behartig. Omdat die tegnologie vooruitgang maak, het hy geweet dat die onderneming binnekort verouderd sou wees. Maar die geleentheid het hom voorgedoen om ’n ander rigting in te slaan. Al probleem was dat hy meer geld nodig gehad het. Hy het dus geld by ’n mede-Christen geleen en beloof om elke maand ’n sekere hoeveelheid rente op die lening terug te betaal.

Was enige van hierdie reëlings in stryd met die gees van God se wet aan die Israeliete dat hulle nie vir mekaar rente moes vra nie? Glad nie! Wanneer ’n persoon nie in die knyp is nie, maar geld wil leen—moontlik om sakeredes—bestaan daar geen rede vir die geldskieter om nie rente te vra nie. Hoeveel rente kan hy vra? Dit sal onder meer afhang van die soort lening, die bedrag waartoe albei partye instem en die landswet. In die eerste reëling wat gemeld is, klink vyf persent rente per dag miskien hoog. Maar die lener het in werklikheid 25 persent wins gemaak en het nie omgegee om ’n deel daarvan met die geldskieter te deel nie.

Indien daar natuurlik later probleme opduik, sal dit nie redelik van die skuldenaar wees om te kla dat die rentekoers te hoog is indien hy aanvanklik vryelik en gewilliglik daartoe ingestem het nie. Dit is hier weer eens verstandig om die terme van die lening op skrif te stel om later ’n misverstand te voorkom.

Geleenthede om liefde te toon

Wanneer sulke transaksies glad verloop, kan almal daarby baatvind. Maar ons lewe in ’n onseker wêreld, en dinge loop dikwels skeef. Gestel byvoorbeeld dat die voormelde vrou wat elke dag R20 geleen het, beroof is. Of gestel dat sake in die geval van die ooreenkoms tussen die twee manne nie na verwagting verloop het nie en dat die lener nie kon bekostig om die beloofde rente te betaal nie. Wat dan?

Die Bybel bevat geen reëls oor hoe sulke probleme opgelos moet word nie, maar die verpligting geld steeds: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Mattheüs 22:39). Indien albei partye ’n opregte besorgdheid oor mekaar se belange met ’n gees van praktiese wysheid balanseer, die situasie realisties beskou en redelike voorstelle aanvaar, kan sake gewoonlik in der minne geskik word.

Die apostel Paulus het beslis nie aanbeveel dat Christene hulle broers oor geldsake hof toe moet sleep nie. Hy het gesê: “Eintlik is julle saak al klaar verlore, omdat julle hofsake met mekaar het. Waarom ly julle nie liewer onreg nie? Waarom laat julle julle nie liewer te kort doen nie?”—1 Korinthiërs 6:7, NTP.

Omdat die Christenskuldenaar geen ‘vuilgewinsoeker’ is nie, behoort dit in werklikheid sy begeerte te wees om sy skuld te vereffen (1 Timotheüs 3:8). Die Bybel sê vir ons: “Die goddelose leen en gee nie terug nie” (Psalm 37:21). Selfs al het onverwagte probleme opgeduik, wil hy steeds nie onder die “goddelose” gereken word nie. Dit behoort sy begeerte te wees om ’n persoon te wees wat “aan niemand iets skuldig [is] nie” behalwe liefde (Romeine 13:8). Hy moet hom dus eerbaar gedra en nie na wetlike skuiwergate soek om sy verpligtinge te ontduik nie.

Die geldskieter moet andersyds realistiese verwagtings koester. Hy besef dat geldskietery ’n sekere risiko inhou. Hy moet dus nie ondraaglike druk op die skuldenaar uitoefen nie. Daar is dalk eenvoudig geen geld om hom mee terug te betaal nie. Talle Christene in sulke omstandighede het getoon dat hulle ‘nie geldgieriges’ is nie deur die keerdatum vir terugbetalings uit te stel of ’n verstandige en redelike skikking te aanvaar (1 Timotheus 3:3). Party het die skuld heeltemal afgeskryf.

In die lig van die probleme wat kan ontstaan wanneer geld geleen en uitgeleen word, ontstaan nog ’n vraag: “Is dit werklik nodig?” Die Bybel veroordeel nie geldlenery wanneer dit nodig is nie. Maar dikwels is dit nie. “Die begeerlikheid van die oë” is dikwels sterker as die vermoë van die notebeurs, en dan leen mense geld om luukse-artikels te koop wat hulle nie werklik nodig het nie (1 Johannes 2:16). Die rekening moet een of ander tyd vereffen word. Die Bybel waarsku dus onomwonde: “Hy wat leen, is ’n slaaf van die man wat uitleen.”—Spreuke 22:7.

Maar wanneer Christene aan en van mekaar moet leen, bied dit hulle dikwels die geleentheid om Christelike eienskappe aan die dag te lê. ’n Opregte begeerte om verpligtinge na te kom, ’n innige besorgdheid oor die welsyn van ander en die vermyding van geldgierigheid sal help om te verseker dat geldskietery in Christelike liefde geskied. So sal die Bybelse gebod gehoorsaam word: “Laat alles by julle in liefde geskied.”—1 Korinthiërs 16:14.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel