Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w98 3/1 bl. 20-24
  • Dankbaar vir ’n blywende Christelike erfenis

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Dankbaar vir ’n blywende Christelike erfenis
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • My pa se ywer vir Bybelwaarheid
  • Uitdaging van die oorlogsjare
  • Gereed om ’n antwoord te gee
  • ’n Onverwagte uitnodiging
  • Sendingtoewysings
  • Verandering van toewysing
  • Werk in Nigerië
  • Onderskraag deur ons hoop
  • Jehovah het ons versterk in tye van oorlog en in tye van vrede
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2024
  • Jehovah is my toevlug en sterkte
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Die loon van diens aan een Heer
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • My pa se getroue voorbeeld
    Ontwaak!—1993
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
w98 3/1 bl. 20-24

Dankbaar vir ’n blywende Christelike erfenis

SOOS VERTEL DEUR GWEN GOOCH

Op skool het ek ’n gesang met die woorde ‘die Groot Jehovah gekroon in sy heerlikheid’ gesing. Ek het dikwels gewonder: ‘Wie is hierdie Jehovah?’

MY GROOTOUERS was godvresende mense. Vroeg in hierdie eeu het hulle geassosieer met die Bybelstudente, soos Jehovah se Getuies destyds bekend gestaan het. My pa het goed gedoen in die sakewêreld, maar hy het aanvanklik nie die Christelike erfenis wat hom gebied is aan sy drie kinders oorgedra nie.

Eers toe my pa vir my, my broer, Douglas, en my suster, Anne, die boekies met die titels His Works en Wie is God? gegee het, het ek gesien dat Jehovah die naam van die ware God is (Psalm 83:18, NW). Ek was verheug! Maar wat het my pa se belangstelling weer laat opvlam?

Toe my pa in 1938 sien hoe die nasies gereedmaak vir oorlog, het hy besef dat mensepogings nie genoeg is om wêreldprobleme op te los nie. My ouma het hom die boek Enemies gegee, wat deur Jehovah se Getuies uitgegee is. Hy het dit gelees en daarin geleer dat Satan die Duiwel eintlik die mensdom se vyand is en dat net God se Koninkryk wêreldvrede kan bring.a—Daniël 2:44; 2 Korintiërs 4:4.

Toe die oorlog nader gekom het, het ons gesin vergaderinge begin bywoon by die Koninkryksaal van Jehovah se Getuies in Wood Green, in die noorde van Londen. In Junie 1939 het ons na die nabygeleë Alexandra Palace gegaan om te luister na die openbare toespraak “Regering en vrede”, wat gehou is deur Joseph F. Rutherford, die destydse president van die Wagtoringgenootskap. Rutherford se toespraak in die stad New York se Madison Square Garden is deur middel van radioverbindings in Londen en ander groot stede uitgesaai. Ons kon die toespraak so duidelik hoor dat ek, toe ’n oproerige skare in New York steurnis veroorsaak het, omgekyk het om te sien of dit in ons ouditorium plaasvind!

My pa se ywer vir Bybelwaarheid

My pa het daarop aangedring dat ons hele gesin elke Saterdagaand saam die Bybel studeer. Ons studie het gehandel oor die Bybelonderwerp in Die Wagtoring wat die volgende dag bespreek sou word. Die trefkrag wat hierdie studies gehad het, word toegelig deur die feit dat ek tot vandag toe die verslag van Josua en die beleëring van die stad Ai wat in The Watchtower van 1 Mei 1939 bespreek is nog goed kan onthou. Daardie verslag het my so geboei dat ek al die verwysings daarna in my eie Bybel nageslaan het. Ek het sulke navorsing baie interessant gevind—en dit is nog steeds die geval.

Die feit dat ons ander vertel het wat ons geleer het, het Bybelleringe diep in my hart laat insink. Eendag het my pa vir my ’n grammofoon met ’n opname van ’n Bybelpreek, ’n boekie wat ons vir Bybelstudie gebruik het en die adres van ’n bejaarde dame gegee. Toe het hy my gevra om haar te gaan besoek.

“Wat gaan ek sê, en wat moet ek doen?” het ek gevra.

“Jy het alles”, het my pa geantwoord. “Speel net die plaat, lees die vrae, laat die huisbewoner die antwoorde lees en lees dan die tekste.”

Ek het gedoen wat hy gesê het, en sodoende het ek geleer om ’n Bybelstudie te hou. Deur die Skrif so in my bediening te gebruik, het ek dit self beter begin verstaan.

Uitdaging van die oorlogsjare

Die Tweede Wêreldoorlog het in 1939 uitgebreek, en die volgende jaar is ek gedoop as simbool van my toewyding om Jehovah te dien. Ek was net 13. Ek het toe besluit om ’n pionier te word, soos voltydse bedienaars genoem word. In 1941 het ek die skool verlaat en by die streekbyeenkoms in Leicester saam met Douglas aan die voltydse predikingswerk begin deelneem.

Die volgende jaar is my pa gevange geneem weens sy gewetensbeswaar teen oorlogvoering. Ons kinders het my ma bygestaan en haar gedurende daardie moeilike oorlogstyd gehelp om na die huis om te sien. My pa was skaars uit die gevangenis vrygelaat of Douglas is vir militêre diens opgeroep. ’n Plaaslike koerantopskrif het gesê: “Waarom seun soos vader gevangenis kies.” Dit het tot ’n goeie getuienis gelei, aangesien ons die geleentheid gebied is om te verduidelik waarom ware Christene nie ’n deel daarin het om hulle medemens dood te maak nie.—Johannes 13:35; 1 Johannes 3:10-12.

Gedurende daardie oorlogsjare het baie Getuies wat in die voltydse bediening was ons gereeld besoek, en hulle opbouende Bybelbesprekings het ’n blywende indruk gelaat. Onder hierdie getroue Christenbroers was John Barr en Albert Schroeder, wat nou lede van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies is. My ouers was waarlik gasvry, en hulle het ons geleer om ook so te wees.—Hebreërs 13:2.

Gereed om ’n antwoord te gee

Kort nadat ek pionierdiens begin doen het, het ek Hilda in die bediening van deur tot deur ontmoet. Sy het woedend gesê: “My man is besig om te veg vir mense soos julle! Waarom doen julle niks om die oorlog te steun nie?”

“Hoeveel weet u van wat ek doen?” het ek gevra. “Weet u waarom ek na u toe gekom het?”

“Wel”, het sy geantwoord, “jy moet dan maar inkom en vir my vertel.”

Ek kon vir haar verduidelik dat ons ware hoop bied aan mense wat ly as gevolg van die verskriklike dade wat gepleeg word—dikwels in die naam van God. Hilda het met waardering geluister, en sy het my eerste gereelde Bybelstudent geword. Sy is nou al meer as 55 jaar ’n bedrywige Getuie.

Teen die einde van die oorlog het ek ’n nuwe pioniertoewysing ontvang in Dorchester, ’n dorp in die suidweste van Engeland. Dit was die eerste keer dat ek weg van die huis af gewoon het. Ons gemeentetjie het in ’n restaurant bymekaargekom, ’n 16de-eeuse gebou wat “The Old Tea House” genoem is. Ons moes die tafels en stoele vir elke vergadering regskuif. Dit was heeltemal anders as die Koninkryksaal waaraan ek gewoond was. Nietemin het ons dieselfde geestelike voedsel en liefdevolle omgang met Christenbroers en -susters geniet.

Intussen het my ouers getrek na Tunbridge Wells, suid van Londen. Ek het teruggekeer huis toe sodat ek, my pa en Anne saam pionierdiens kon doen. Ons gemeente het kort voor lank van 12 tot 70 Getuies gegroei, en ons gesin is dus gevra om te verhuis na Brighton aan die suidkus, waar daar meer Koninkryksverkondigers nodig was. Baie het ywerig saam met ons pioniergesin aan die predikingswerk deelgeneem, en ons het gesien hoe Jehovah ons werk ryklik seën. Die een gemeente het gou drie geword!

’n Onverwagte uitnodiging

In die somer van 1950 was ons gesin onder die 850 afgevaardigdes uit Brittanje wat die “Teokrasie se vermeerdering”- internasionale byeenkoms by Yankee-stadion in die stad New York bygewoon het. Baie pioniers wat van oorsee na daardie byeenkoms sou kom, is ’n aansoekvorm gestuur om die Wagtoring-Bybelskool Gilead by te woon, wat naby South Lansing, New York, geleë was. Ek, Douglas en Anne was onder hulle! Ek onthou dat ek, toe ek my voltooide aansoekvorm in die posbus gooi, gedink het: ‘Wel, nou is daar geen keer meer nie! Wat lê vir my voor?’ Nietemin het ek reeds vas besluit: “Hier is ek, stuur my” (Jesaja 6:8). Ek was verheug toe ek ’n uitnodiging ontvang om ná die byeenkoms aan te bly om die 16de klas van Gilead, saam met Douglas en Anne, by te woon. Ons almal het goed geweet dat ons as sendelinge na enige deel van die wêreld gestuur kon word.

Nadat ons die byeenkoms as gesin saam geniet het, het die tyd aangebreek vir ons ouers om terug te keer Engeland toe—alleen. Ons drie kinders het tot siens gewaai toe hulle op die Mauritania huis toe gevaar het. Wat ’n emosionele afskeid was dit tog nie!

Sendingtoewysings

Die 16de klas van Gilead het bestaan uit 120 studente uit alle wêrelddele, waaronder sommige wat in Nazi-konsentrasiekampe gely het. Aangesien ons klas Spaans geleer is, het ons verwag om na die een of ander Spaanssprekende land in Suid-Amerika gestuur te word. Stel jou net ons verbasing voor toe ons op die gradueringsdag hoor dat Douglas na Japan gestuur word en ek en Anne na Sirië. Ons meisies moes dus Arabies leer, en selfs toe ons toewysing na Libanon verander is, was dit steeds die geval. Terwyl ons vir ons visums gewag het, het ons twee maal per week Arabiese lesse ontvang van George Shakashiri, die Wagtoringgenootskap se lettersetter vir die Arabiese Wagtoring.

Hoe opwindend was dit tog om na ’n Bybelland te gaan waarvan ons in die klas geleer het! Keith en Joyce Chew, Edna Stackhouse, Olive Turner, Doreen Warburton en Doris Wood het saam met ons daarheen gegaan. Wat ’n gelukkige sendelinggesin het ons tog nie geword nie! ’n Plaaslike Getuie het na ons sendinghuis toe gekom om ons verder met die taal te help. Tydens ons daaglikse onderrigsessie het ons ’n kort aanbieding geoefen, waarna ons uitgegaan en dit in ons predikingswerk gebruik het.

Ons het ons eerste paar jaar in Tripoli deurgebring, waar daar ’n gevestigde gemeente was. Ek, Joyce, Edna, Olive, Doreen, Doris en Anne het die vrouens en dogters van plaaslike Getuies gehelp om aan die vergaderinge sowel as die openbare bediening deel te neem. Tot op daardie tyd het ons Christenbroers en -susters die plaaslike gebruik gevolg en nie by die vergaderinge saam gesit nie, en hierdie Christensusters het selde aan die bediening van huis tot huis deelgeneem. Ons het hulle hulp nodig gehad met die taal in ons openbare predikingswerk, en ons het hulle aangemoedig om self aan hierdie werk deel te neem.

Daarna is ek en Anne toegewys om die groepie Getuies in die eeue oue stad Sidon te gaan help. Nie lank daarna nie is ons gevra om terug te keer na die hoofstad, Beiroet. Saadjies van Bybelwaarheid was reeds onder die Armeenssprekende gemeenskap in daardie stad gesaai, en ons het dus daardie taal geleer om hulle te help.

Verandering van toewysing

Ek het Wilfred Gooch ontmoet voordat ek uit Engeland weg is. Hy was ’n ywerige, liefdevolle broer wat in die Londense Bethel gedien het. Wilf was ’n lid van die 15de klas van Gilead, wat in 1950 tydens die byeenkoms by Yankee-stadion gegradueer het. Sy sendingtoewysing was die Wagtoringgenootskap se takkantoor in Nigerië, en ons het ’n tyd lank vir mekaar geskryf. In 1955 het ons albei die “Triomfantelike Koninkryk”-streekbyeenkoms in Londen bygewoon, en kort daarna het ons verloof geraak. Die volgende jaar het ons in Ghana getrou, en ek het by Wilf in sy sendingtoewysing in Lagos, Nigerië, aangesluit.

Nadat ek Anne in Libanon agtergelaat het, het sy met ’n gawe Christenbroer getrou wat Bybelwaarhede in Jerusalem geleer het. My ouers kon nie ons troues bywoon nie, aangesien ek, Douglas en Anne in verskillende dele van die wêreld getrou het. Hulle was nogtans tevrede om te weet dat ons almal ons God, Jehovah, blymoedig dien.

Werk in Nigerië

By die takkantoor in Lagos was dit my werk om die kamers van die agt lede van die gesin skoon te maak sowel as om hulle maaltye voor te berei en hulle wasgoed te was. Dit het vir my gevoel asof ek nie net ’n man nie maar ’n kitsgesin op die koop toe gekry het!

Ek en Wilf het kort Bybelaanbiedings in die Joroeba-taal geleer, en ons is vir ons pogings beloon. ’n Jong student met wie ons in aanraking gekom het, het nou ’n seun en ’n dogter wat in Nigerië se groot Bethelgesin van ongeveer 400 lede dien.

In 1963 het Wilf ’n uitnodiging ontvang om ’n spesiale onderrigkursus van tien maande in Brooklyn, New York, by te woon. Nadat hy dit voltooi het, is hy onverwags gevra om weer in Engeland te dien. Ek het in Nigerië agtergebly en is net 14 dae kennis gegee om Wilf in Londen te ontmoet. Ek is met gemengde gevoelens daar weg, aangesien ons so gelukkig in ons toewysing in Nigerië was. Ná 14 jaar se diens in die buiteland het dit tyd gekos om weer aan te pas by die lewe in Engeland. Ons was egter dankbaar dat ons weer eens naby ons bejaarde ouers kon wees en kon help om vir hulle te sorg.

Onderskraag deur ons hoop

Van 1980 af was ek bevoorreg om Wilf te vergesel terwyl hy as sone-opsiener na baie lande gereis het. Ek het veral uitgesien na ons besoeke aan Nigerië. Later het ons ook na Skandinawië, Wes-Indië en die Midde-Ooste—met inbegrip van Libanon—gegaan. Dit was ’n besondere vreugde om gelukkige herinneringe te herlewe en te sien hoe diegene wat ek as jong tieners geken het as Christen- ouer manne dien.

Ongelukkig is my dierbare man in die lente van 1992 oorlede. Hy was net 69. Dit was ’n baie swaar slag, aangesien dit so skielik gebeur het. Ná 35 jaar van getroude lewe het dit lank geneem om aan te pas. Maar ek het baie hulp en liefde van my wêreldwye Christenfamilie ontvang. Ek het soveel gelukkige ondervindinge waaraan ek kan terugdink.

Albei my ouers het ’n uitstekende voorbeeld van Christelike onkreukbaarheid gestel. My ma is in 1981 oorlede en my pa in 1986. Douglas en Anne dien Jehovah nog steeds getrou. Douglas en sy vrou Kam is terug in Londen, waar hulle aangebly het nadat hulle my pa versorg het. Anne en haar gesin is in die Verenigde State. Ons almal stel ons godgegewe hoop en erfenis hoog op prys. Ons gaan voort om “’n wagtende houding [te] openbaar” en sien uit na die tyd wanneer die lewendes, tesame met hulle verrese dierbares, vir ewig saam sal dien as lede van Jehovah se aardse gesin.—Klaagliedere 3:24, NW.

[Voetnoot]

a My pa, Ernest Beavor, se lewensverhaal het in Die Wagtoring van 1 Junie 1980 verskyn.

[Prente op bladsy 23]

Kloksgewys van links bo:

Gwen waar sy op 13-jarige ouderdom ’n modelstudie by die Enfield-Koninkryksaal demonstreer

Sendelinggesin in 1951 in Tripoli, Libanon

Gwen saam met haar oorlede man Wilf

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel