Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w98 3/1 bl. 14-19
  • Waardeer Christelike samekomste

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waardeer Christelike samekomste
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Vergaderinge wat opbou
  • Berei goed voor
  • Voorbeelde uit God se Woord
  • Die beste voorbeeld
  • Hedendaagse voorbeelde
  • Toon respek vir ons heilige samekomste
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Hoe kan die vergaderinge van Jehovah se Getuies jou help?
    Geniet die lewe vir ewig! – Bybellesse wat jou kan help
  • Help jy om Christelike vergaderinge opbouend te maak?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • Waarom moet ons vir aanbidding bymekaarkom?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2016
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
w98 3/1 bl. 14-19

Waardeer Christelike samekomste

“Laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en voortreflike werke aan te spoor en nie ons onderlinge vergadering nalaat nie.”—HEBREËRS 10:24, 25.

1, 2. (a) Waarom is dit ’n voorreg om ’n samekoms van ware Christene by te woon? (b) In watter sin is Jesus teenwoordig by samekomste van sy volgelinge?

WAT ’n voorreg is dit tog om ’n Christelike samekoms by te woon, hetsy daar minder as tien of etlike duisende aanbidders van Jehovah is, want Jesus het gesê: “Waar twee of drie in my naam bymekaar is, daar is ek in hulle midde”! (Matteus 18:20). Toe Jesus hierdie belofte gemaak het, het hy weliswaar regterlike sake bespreek wat reg hanteer moes word deur diegene wat die leiding in die gemeente geneem het (Matteus 18:15-19). Maar kan Jesus se woorde in beginsel ook op alle Christelike samekomste toegepas word wat met ’n gebed in sy naam geopen en gesluit word? Ja. Onthou, toe Jesus sy volgelinge beveel het om die dissipelmaakwerk te doen, het hy belowe: “Kyk! ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die stelsel van dinge.”—Matteus 28:20.

2 Dit ly geen twyfel nie dat die Hoof van die Christengemeente, die Here Jesus Christus, intens belangstel in alle samekomste van sy getroue volgelinge. Daarbenewens kan ons seker wees dat hy teenwoordig is deur middel van God se heilige gees (Handelinge 2:33; Openbaring 5:6). Jehovah God stel ook in ons vergaderinge belang. Die hoofdoel van sulke vergaderinge is om God “onder die versamelde menigtes” te loof (Psalm 26:12, NW). Ons bywoning van gemeentelike vergaderinge getuig van ons liefde vir hom.

3. Om watter belangrike redes waardeer ons Christelike samekomste?

3 Daar is ander goeie redes waarom ons Christelike samekomste waardeer. Voordat Jesus Christus die aarde verlaat het, het hy sy gesalfde dissipels aangestel om as ’n “getroue en verstandige slaaf” te dien deur tydige geestelike voedsel aan die huisgenote van die geloof te voorsien (Matteus 24:45). ’n Belangrike manier waarop sulke geestelike voeding plaasvind, is deur gemeentelike vergaderinge sowel as groter samekomste—kring- en streekbyeenkomste. Die Here Jesus Christus rig hierdie getroue slaaf om lewensbelangrike inligting by sulke samekomste aan almal te voorsien wat die einde van hierdie goddelose stelsel wil oorleef en die lewe in God se regverdige nuwe wêreld wil ontvang.

4. Watter gevaarlike “gewoonte” word in die Bybel gemeld, en wat sal ons help om dit te vermy?

4 Geen Christen kan dit derhalwe bekostig om die gevaarlike gewoonte aan te kweek waaroor die apostel Paulus geskryf het nie: “Laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en voortreflike werke aan te spoor en nie ons onderlinge vergadering nalaat soos party die gewoonte het nie, maar mekaar aanmoedig, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom” (Hebreërs 10:24, 25). As ons nadink oor die voorreg om Christelike samekomste by te woon en die voordele wat sodanige bywoning meebring, sal dit ons help om sulke samekomste lojaal en heelhartig te ondersteun.

Vergaderinge wat opbou

5. (a) Watter uitwerking moet ons spraak by vergaderinge hê? (b) Waarom moet ons nie versuim om belangstellendes te nooi om die vergaderinge by te woon nie?

5 Aangesien Christene bid dat Jehovah se heilige gees by Christelike vergaderinge werksaam moet wees, moet elkeen wat dit bywoon sy bes doen om in ooreenstemming met die gees op te tree en ‘nie God se heilige gees bedroef nie’ (Efesiërs 4:30). Toe die apostel Paulus hierdie geïnspireerde woorde geskryf het, het hy bespreek watter soort spraak gepas is. Wat ons sê, moet altyd gebruik word “vir opbouing na gelang van die behoefte, sodat dit iets gunstigs aan die hoorders kan meedeel” (Efesiërs 4:29). Dit is veral belangrik by Christelike samekomste. In sy brief aan die Korintiërs het Paulus beklemtoon dat vergaderinge opbouend, leersaam en aanmoedigend moet wees (1 Korintiërs 14:5, 12, 19, 26, 31). Almal wat teenwoordig is, vind by sulke vergaderinge baat, met inbegrip van nuwe vergaderingbywoners, wat heel moontlik tot die slotsom sal kom: “God is werklik onder julle” (1 Korintiërs 14:25). Ons moet derhalwe nie versuim om nuwe belangstellendes te nooi om saam met ons te vergader nie, want dit sal hulle geestelike vooruitgang bespoedig.

6. Wat is party faktore wat help om ’n vergadering opbouend te maak?

6 Almal aan wie toesprake, onderhoude of demonstrasies by ’n Christelike vergadering toegewys word, moet seker maak dat hulle spraak opbouend sowel as in ooreenstemming met God se geskrewe Woord, die Bybel, is. Wat ons sê, moet nie net juis wees nie, maar ons moet gevoelens en emosies uitdruk wat in ooreenstemming met die liefdevolle persoonlikhede van God en Christus is. As almal wat dele op ’n vergaderingprogram behartig, daarvan bewus is dat hulle ‘die vrugte van God se gees’, soos vreugde, lankmoedigheid en geloof, moet openbaar, sal almal wat teenwoordig is ongetwyfeld opgebou voel.—Galasiërs 5:22, 23.

7. Hoe kan almal wat teenwoordig is tot ’n opbouende vergadering bydra?

7 Hoewel slegs ’n paar moontlik dele op die program by gemeentelike vergaderinge het, kan almal tot ’n opbouende vergadering bydra. Dikwels kry die gehoor die geleentheid om vrae te beantwoord. Dit is geleenthede om ons geloof in die openbaar bekend te maak (Romeine 10:9). Dit moet nooit as ’n geleentheid gebruik word om ons persoonlike idees te bevorder, oor ons eie prestasies te spog of ’n medegelowige te kritiseer nie. Sal dit nie God se gees bedroef nie? Verskille met medegelowiges moet liewer privaat en in ’n gees van liefde hanteer word. Die Bybel sê: “Word goedhartig teenoor mekaar, vol tere medelye, en vergewe mekaar vryelik net soos God julle ook deur Christus vryelik vergewe het” (Efesiërs 4:32). Wat ’n uitstekende geleentheid bied Christelike samekomste ons tog om hierdie goeie raad toe te pas! Met dié doel kom talle vroeg na die vergaderinge, en na afloop daarvan bly hulle ’n rukkie. Dit help ook nuwe belangstellendes, wat ’n spesiale behoefte daaraan het om welkom te voel. Alle toegewyde Christene speel dus ’n rol daarin om die vergaderinge opbouend te maak deur ‘op mekaar ag te gee en tot liefde en voortreflike werke aan te spoor’.

Berei goed voor

8. (a) Watter prysenswaardige opofferings maak party om vergaderinge by te woon? (b) Watter voorbeeld stel Jehovah as ’n herder?

8 Hoewel dit moontlik vir party redelik maklik is om Christelike vergaderinge by te woon, verg dit ’n volgehoue opoffering van ander. ’n Christenmoeder wat byvoorbeeld sekulêre werk moet doen om in die behoeftes van haar gesin te help voorsien, is gewoonlik moeg wanneer sy van die werk af kom. Dan moet sy miskien ’n maaltyd voorberei en haar kinders help om vir die vergadering gereed te maak. Ander Christene moet dalk ver reis om by die vergaderinge te kom of hulle word moontlik ingeperk deur siektes of bejaardheid. Jehovah God verstaan beslis elke getroue vergaderingbywoner se situasie, net soos ’n liefdevolle herder die spesiale behoeftes van elke skaap in sy kudde verstaan. “[Jehovah] sal sy kudde laat wei soos ’n herder”, sê die Bybel. “Hy sal die lammers in sy arm vergader en aan sy bors dra; die lammerooie sal Hy saggies lei.”—Jesaja 40:11.

9, 10. Hoe kan ons die meeste voordeel uit die vergaderinge trek?

9 Diegene wat groot opofferings moet maak ten einde gereeld by die vergaderinge te wees, het dalk nie baie tyd om die materiaal voor te berei wat bespreek gaan word nie. As ons bybly by die weeklikse rooster vir Bybellees, vind ons meer baat by ons bywoning van die Teokratiese Bedieningskool. So ook trek ons groter voordeel uit ander vergaderinge, soos die Wagtoring-studie en die Gemeentelike Boekstudie, as ons daarvoor voorberei. As dié met tydrowende familiesituasies die studiemateriaal vooraf lees en ten minste sommige van die teksverwysings naslaan, sal hulle beter voorbereid wees om ’n betekenisvolle aandeel aan hierdie belangrike Bybelbesprekings te hê.

10 Ander wie se omstandighede nie so beperkend is nie, kan meer tyd aan vergaderingvoorbereiding bestee. Hulle kan byvoorbeeld navorsing oor die teksverwysings doen. Almal kan dus voorbereid wees om die meeste voordeel uit die vergaderinge te trek en ’n voortreflike deelname daaraan te hê om die gemeente deur hulle toesprake en kommentare op te bou. As ouer manne en bedieningsknegte goed voorberei, sal hulle ’n goeie voorbeeld stel deur kort en bondige antwoorde te gee. Uit respek vir Jehovah se voorsienings sal diegene wat teenwoordig is enige steurende gewoonte tydens die vergaderinge vermy.—1 Petrus 5:3.

11. Waarom is selfdissipline nodig om voorbereid te wees vir vergaderinge?

11 Bedrywighede en vermaak wat nie noodsaaklik is vir ons geestelike gesondheid nie, neem miskien te veel van ons tyd in beslag. Indien dit die geval is, moet ons ons ondersoek en ‘ophou om onredelik te word’ wat die gebruik van ons tyd betref (Efesiërs 5:17). Dit moet ons doel wees om ‘die tyd uit te koop’ van minder belangrike sake sodat ons meer tyd aan persoonlike Bybelstudie en vergaderingvoorbereiding sowel as Koninkryksdiens kan bestee (Efesiërs 5:16). Dit is wel nie altyd maklik nie en verg selfdissipline. Jongmense wat aandag hieraan skenk, lê ’n goeie grondslag vir toekomstige vooruitgang. Paulus het aan sy jonger metgesel Timoteus geskryf: “Bepeins hierdie dinge [was Paulus se raad aan Timoteus]; wees verdiep daarin, sodat jou vooruitgang vir almal duidelik kan wees.”—1 Timoteus 4:15.

Voorbeelde uit God se Woord

12. Watter uitstekende voorbeeld het Samuel se familie gestel?

12 Beskou die goeie voorbeeld van Samuel se familie, wat gereeld reëlings ondersteun het om saam met medeaanbidders te vergader toe God se tabernakel in Silo was. Daar is slegs van mans vereis om elke jaar die feeste by te woon. Maar Samuel se vader, Elkana, het sy hele gesin saamgeneem wanneer hy “van jaar tot jaar opgegaan [het] uit sy stad om te aanbid en aan die HERE van die leërskare te offer in Silo” (1 Samuel 1:3-5). Samuel se tuisdorp, Ramataim, was moontlik naby die kus by die hedendaagse Rentis in die voetheuwels van “die gebergte van Efraim” geleë (1 Samuel 1:1). Die reis na Silo sou dus ongeveer 30 kilometer gewees het, wat destyds ’n uitputtende tog was. Dit is wat Elkana se gesin lojaal gedoen het, ‘van jaar tot jaar, telkens as hulle opgegaan het in die huis van die HERE’.—1 Samuel 1:7.

13. Watter voorbeeld het getroue Jode gedurende Jesus se tyd op die aarde gestel?

13 Jesus het ook as deel van ’n groot gesin opgegroei. Die gesin het elke jaar van Nasaret af omtrent 100 kilometer suidwaarts gereis om die Pasgafees in Jerusalem by te woon. Daar is twee moontlike roetes wat hulle kon gevolg het. Die direkter roete het in die vallei van Megiddo afgedaal en dan ongeveer 600 meter geklim terwyl dit deur Samaritaanse gebied en verder tot by Jerusalem geloop het. Die ander gewilde roete was die een wat Jesus op sy laaste reis na Jerusalem in 33 G.J. gevolg het. Dit het behels dat hy met die Jordaanvallei langs tot onder seespieël moes loop totdat hy “die grensgebiede van Judea . . . oorkant die Jordaan” bereik het (Markus 10:1). Hiervandaan is ‘die pad wat na Jerusalem opgaan’ ongeveer 30 kilometer lank en klim dit meer as 1100 meter (Markus 10:32). Skares getroue feesgangers het gereeld hierdie veeleisende reis van Galilea af na Jerusalem onderneem (Lukas 2:44). Wat ’n goeie voorbeeld is dit tog nie vandag vir Jehovah se knegte in welvarende lande nie, waarvan baie dit betreklik maklik vind om Christelike samekomste by te woon, danksy moderne vorme van vervoer!

14, 15. (a) Watter voorbeeld het Anna gestel? (b) Wat kan ons uit die mooi gesindheid leer wat sommige nuwe vergaderingbywoners aan die dag lê?

14 Nog ’n voorbeeld is dié van die 84-jarige weduwee Anna. Die Bybel sê dat sy “nooit van die tempel afwesig was nie” (Lukas 2:37). Daarbenewens het Anna liefdevolle belangstelling in ander getoon. Wat het sy gedoen toe sy die kindjie Jesus gesien en uitgevind het dat hy die beloofde Messias is? Sy het God gedank en begin om “met almal wat op Jerusalem se verlossing gewag het oor die kind te praat” (Lukas 2:38). Wat ’n mooi gesindheid tog, ’n voorbeeld vir Christene van vandag!

15 Ja, die bywoning van ons vergaderinge en die deelname daaraan behoort ons soveel vreugde te verskaf dat ons, soos Anna, nooit daarvan afwesig wil wees nie. Baie nuwes kan nie anders as om so te voel nie. Omdat hulle uit die duisternis en tot in God se wonderbare lig gekom het, wil hulle soveel as moontlik leer, en baie spreek groot geesdrif uit vir Christelike vergaderinge. Aan die ander kant moet diegene wat langer in die waarheid is daarteen waak dat hulle ‘die liefde wat hulle eers gehad het, verlaat’ (Openbaring 2:4). Soms kan ernstige gesondheidsprobleme of ander faktore waaroor ’n mens geen beheer het nie vergaderingbywoning beperk. Maar ons moet nooit toelaat dat materialisme, ontspanning of ’n gebrek aan belangstelling veroorsaak dat ons vergaderinge onvoorbereid, passief of ongereeld bywoon nie.—Lukas 8:14.

Die beste voorbeeld

16, 17. (a) Wat was Jesus se gesindheid ten opsigte van geestelike samekomste? (b) Watter goeie gewoonte moet alle Christene probeer navolg?

16 Jesus het ’n uitstekende voorbeeld gestel wat waardering vir geestelike samekomste betref. Op 12-jarige ouderdom het hy sy liefde vir God se huis in Jerusalem geopenbaar. Sy ouers het nie geweet waar hy was nie, maar het hom uiteindelik gevind waar hy God se Woord met leermeesters in die tempel bespreek het. In reaksie op sy ouers se besorgdheid het Jesus eerbiedig gevra: “Het julle nie geweet dat ek in die huis van my Vader moet wees nie?” (Lukas 2:49). Die jong Jesus was onderdanig aan sy ouers en het saam met hulle na Nasaret teruggekeer. Daar het hy voortgegaan om sy liefde vir vergaderinge vir aanbidding te toon deur gereeld na die sinagoge te gaan. Die Bybel sê derhalwe oor die tyd toe hy sy bediening begin het: “Hy het in Nasaret gekom, waar hy grootgemaak is; en volgens sy gewoonte op die sabbatdag het hy in die sinagoge ingegaan, en hy het opgestaan om te lees.” Nadat Jesus Jesaja 61:1, 2 gelees en verduidelik het, het die gehoor “hulle [begin] verwonder oor die innemende woorde wat uit sy mond kom”.—Lukas 4:16, 22.

17 Vandag volg Christelike vergaderinge hierdie selfde basiese patroon. Nadat die vergadering met ’n loflied en ’n gebed geopen is, word Bybeltekste (of tekste wat in die Bybelstudiemateriaal aangehaal word) gelees en verduidelik. Ware Christene is verplig om Jesus Christus se goeie gewoonte na te volg. Sover hulle omstandighede hulle toelaat, skep hulle behae daarin om Christelike samekomste gereeld by te woon.

Hedendaagse voorbeelde

18, 19. Watter uitstekende voorbeelde het broers in armer lande gestel wat vergaderinge, kring- en streekbyeenkomste betref?

18 In armer wêrelddele stel baie van ons broers en susters ’n goeie voorbeeld wat waardering vir Christelike samekomste betref. In Mosambiek het dit ’n streekopsiener, Orlando, en sy vrou, Amélia, 45 uur geneem om ongeveer 90 kilometer oor ’n hoë berg te loop om ’n byeenkoms te bedien. Toe moes hulle weer met dieselfde pad teruggaan om die volgende byeenkoms te bedien. Orlando het beskeie gesê: “Toe ons die broers van die Bawa-gemeente ontmoet, het dit gevoel of ons niks gedoen het nie. Hulle moes ’n reis van ses dae onderneem en ongeveer 400 kilometer te voet aflê om die byeenkoms by te woon en weer na hulle huise terug te keer, en onder hulle was ’n 60-jarige broer!”

19 Wat van waardering vir weeklikse gemeentelike vergaderinge? Kashwashwa Njamba is ’n tenger suster in haar sewentigerjare. Sy woon in Kaisosi, ’n dorpie ongeveer vyf kilometer van die Koninkryksaal in Rundu, Namibië. Sy stap tien kilometer heen en weer deur die bos om die vergaderinge by te woon. Ander is al op hierdie roete beroof, maar Kashwashwa kom steeds. Die meeste vergaderinge word in tale gehou wat sy nie verstaan nie. Hoe vind sy dus baat by die vergaderinge? “Ek volg die tekste”, sê Kashwashwa, “en probeer so vasstel waaroor die toespraak handel.” Maar hoe volg sy die tekste, aangesien sy ongeletterd is? “Ek let op die tekste wat ek uit die kop ken”, antwoord sy. En oor die jare het sy ’n aansienlike aantal tekste gememoriseer. Sy woon ’n lees-en-skryf-klas by wat deur die gemeente gereël is, sodat sy haar vermoë kan verbeter om die Bybel te gebruik. “Ek hou daarvan om die vergaderinge by te woon”, sê sy. “Daar is altyd nuwe dinge om te leer. Ek hou daarvan om met die broers en suster te assosieer. Hoewel ek nie met hulle almal kan praat nie, kom groet hulle my altyd. En die belangrikste is dat ek weet dat ek Jehovah se hart verbly deur die vergaderinge by te woon.”

20. Waarom moet ons nie ons Christelike samekomste nalaat nie?

20 Soos Kashwashwa toon miljoene aanbidders van Jehovah regoor die wêreld prysenswaardige waardering vir Christelike samekomste. Namate Satan se wêreld op sy vernietiging afstuur, kan ons nie bekostig om ons onderlinge vergadering na te laat nie. Laat ons eerder geestelik wakker bly en diepe waardering vir vergaderinge, kring- en streekbyeenkomste toon. Dit sal nie net Jehovah se hart verbly nie, maar sal ons grootliks tot voordeel strek terwyl ons Goddelike onderrigting ontvang wat tot die ewige lewe lei.—Spreuke 27:11; Jesaja 48:17, 18; Markus 13:35-37.

Hersieningsvrae

◻ Waarom is dit ’n voorreg om Christelike samekomste by te woon?

◻ Hoe kan almal wat teenwoordig is tot ’n opbouende vergadering bydra?

◻ Watter uitstekende voorbeeld het Jesus Christus gestel?

◻ Watter les kan by broers in armer lande geleer word?

[Venster op bladsy 17]

Hulle Waardeer Weeklikse Vergaderinge

Miljoene mense woon in stede waar armoede en misdaad aan die orde van die dag is. Ondanks sulke omstandighede toon die ware Christene onder hulle prysenswaardige waardering vir Christelike samekomste. ’n Ouer man in een van die gemeentes in Soweto, Gauteng, berig: “In ’n gemeente met 60 Getuies en ongedoopte verkondigers, woon tussen 70 en 80, en soms meer, ons vergaderinge by. Hoewel die broers en susters nie ver reis om die vergaderinge by te woon nie, is die situasie in hierdie deel van Soweto gevaarlik. ’n Broer is in die rug gesteek terwyl hy vergadering toe geloop het. Ten minste twee susters is aangeval in ’n poging om hulle te beroof. Maar dit keer nie dat hulle kom nie. Sondae oefen ons ’n paar liedere nadat ons die vergadering met ’n gebed gesluit het. Ten minste 95 persent bly gereeld hiervoor en sing al die liedere wat die volgende week tydens die vergaderinge gesing gaan word. Dit help nuwe belangstellendes om die liedere te leer en saam te sing.”

Plattelanders het ander struikelblokke, soos lang afstande wat hulle moet aflê om vergaderinge drie maal per week by te woon. ’n Belangstellende egpaar woon 15 kilometer van die Koninkryksaal in Lobatse, Botswana. Hulle woon die vergaderinge die afgelope jaar gereeld met hulle twee kinders by. Die man herstel skoene om sy gesin te onderhou. Die vrou verkoop klein artikels om die gesin se inkomste aan te vul sodat hulle vir vervoer na en van die vergaderinge kan betaal.

Onlangs, op ’n someraand, ná ’n vergadering met die kringopsiener, was hierdie gesin om 9:00 nm. by ’n bushalte gestrand. Die busse het vroeg opgehou loop as gevolg van slegte weer. ’n Polisiebeampte in sy voertuig het stilgehou en gevra wat hulle doen. Toe hy van hulle verknorsing hoor, het hy hom oor hulle ontferm en hulle na hulle huis 15 kilometer daarvandaan geneem. Die vrou, wat ’n ongedoopte verkondiger is, het vir haar man gesê: “Sien jy, as ons die vergaderinge eerste stel, voorsien Jehovah altyd.” Nou het die man die begeerte uitgespreek om ook ’n prediker van die goeie nuus te word.

[Prent op bladsy 18]

Getuies, soos hierdie in Roemenië, stel ’n goeie voorbeeld van waardering vir Christelike samekomste

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel