Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w80 6/1 bl. 26-30
  • Die loon van diens aan een Heer

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die loon van diens aan een Heer
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • SAADJIES VAN WAARHEID WORD GESAAI
  • SLAWERNY AAN ’N ANDER HEER
  • EK SIEN ’N PAAR FEITE ONDER DIE OË
  • EK DIEN DIE REGTE HEER
  • DIE HEER SE DIENS KOM EERSTE
  • ONS VOLHARD IN DIE HEER SE DIENS
  • Dankbaar vir ’n blywende Christelike erfenis
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • “Soek eers die koninkryk”
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Jehovah is vir my ’n God van liefderyke goedhartigheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
w80 6/1 bl. 26-30

Die loon van diens aan een Heer

Soos vertel deur Ernest E. Beavor

TALLE probleme bly onopgelos omdat hulle uitgestel word deurdat ’n mens ’n kompromis aangaan, en dit maak jou ongelukkig; en ’n kompromis kan die gevolg wees as jy probeer om twee here te dien. Jesus Christus het dit so duidelik gestel toe hy gesê het: “Niemand kan twee here dien nie . . . Julle kan nie God én Mammon dien nie!” En sy halfbroer Jakobus het geskryf dat “die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is”.—Matt. 6:24; Jak. 4:4.

Daar het ons dit. Kortom, wie se vriendskap begeer ons? Dit is soos ’n oorlog met die wêreld, die vlees en die Duiwel aan die een kant en Jehovah God en Jesus Christus aan die ander (1 Joh. 2:15-17). Die keuse is ons s’n. Maar een ding is seker; as ’n mens Jehovah as Heer kies, bring dit beloninge mee wat grenslose geluk tot gevolg het. Dit is hoe sake vir my verloop het.

SAADJIES VAN WAARHEID WORD GESAAI

Toe ek in 1902 gebore is, was my ouers Bybelstudente, soos Jehovah se Getuies in daardie dae bekend gestaan het. Ons het vergaderinge bygewoon in die Londense Tabernakel waar die Bybelstudente vergader het. Om te toon hoe belangrik dit is om kindertjies na Christenvergaderinge te neem; ek kan nog duidelik een van die ou liedere onthou—“A thousand years! earth’s coming glory! ’Tis the glad day so long foretold.” Hoe waar tog! Ewige lewe op daardie glorieryke paradysaarde—wat ’n beloning tog vir baie wat die een Heer dien!

My moeder het gereeld vir my gelees—in daardie dae was daar geen televisie nie. Saadjies van waarheid is gesaai. En wanneer my vader my weens ongehoorsaamheid gestraf het, het hy altyd gesê: “Dit gaan my seerder maak as vir jou”—’n waarheid wat ek nie destyds ingesien het nie. Spreuke 23:13 sê egter: “Hou die tug nie terug van die seun nie; as jy hom met die roede slaan, sal hy nie sterwe nie.” Ek het nie gesterf nie, en is dankbaar dat my vader my geleer het om die een Heer te dien.

Dit was aangrypend om die Fotodrama van die Skepping op die ouderdom van 12 te sien. Dit is op vier agtereenvolgende aande gratis by die Londense Operahuis vertoon. Die Fotodrama het die waarheid van die skepping by my hart ingeskerp, in teenstelling met die algehele valsheid van die ewolusieteorie. ’n Onvergeetlike deel van hierdie “drama” was ’n kort rolprent oor Abraham wat op die punt gestaan het om Isak op te offer. Abraham het aldus getoon dat hy Jehovah God dien. En hoe groot was sy beloning tog—hy is “’n vriend van God” genoem! “As ek tog maar net so genoem kon word!” het ek gedink.—Jak. 2:23.

SLAWERNY AAN ’N ANDER HEER

Gedurende die jare van die Eerste Wêreldoorlog het die Here se volk ’n baie verontrustende tyd beleef. My ouers het om die een of ander rede gestruikel, en ek is in die wêreld in om deur die weë daarvan beïnvloed te word. Omdat ek patrioties was, het ek op 11 November 1918 die wapenstilstandseremonie in Whitehall bygewoon en gehoor hoe ’n geestelike sê: “Hulle het nie tevergeefs gesterf nie. Hulle het gesterf om ons land ’n geskikte plek vir helde te maak.” Was dit waar? Watter heer het hulle gedien? Dit was ongetwyfeld ontnugtering tydens daaropvolgende jare wat my gehelp het om regte gevolgtrekkings te maak toe die onweerswolke van die Tweede Wêreldoorlog begin opsteek het.

Intussen het die ou wêreld sy greep op my begin verstewig. Die koerantbedryf het my aangetrek, en saam met twee wêreldse vriende het ek ’n persfotografiese buro op die been gebring. Dit het gelei tot wêreldse omgang, en ek het ook begin rook, gedrink en voor vleeslike begeertes geswig. Maar die woorde ‘Jy kan nie twee here dien nie’ het deur my kop gemaal en ek het besef dat die dinge wat ek doen van my ’n slaaf gemaak het.

My vader is in 1934 oorlede. In 1936 het ’n getuie van Jehovah my moeder by haar huis besoek, en sy het die Bybelstudiehulp Rykdom bekom. Sy het besef hoe dwaas sy was om af te dwaal en het haar voorgeneem om verlore tyd in te haal. (Vergelyk Kolossense 4:5.) Is dit wat sy gedoen het? Sy was ’n tingerige vroutjie, maar sy was “altyd” besig om Bybelwaarheid te verkondig. Sy het my oorlaai met lektuur wat ek nooit gelees het nie. Alhoewel ek geweet het dat die dinge wat sy vir my vertel het waar is, het ek geen ag daarop geslaan nie, want ek wou nie my lewe verander nie.

EK SIEN ’N PAAR FEITE ONDER DIE OË

Omdat ek materieel voorspoedig was, het ek ’n mooi huis laat bou en baie materiële geriewe aangeskaf. My wêreldlike heer het my egter in ’n vleeslike krisis gedompel wat my gesinsgeluk kon vernietig het. Die prikkels van my Bybelopgeleide gewete het my skielik tot stilstand laat kom. Vyande, een van die boeke wat my moeder vir my gegee het, het baie duidelik getoon watter besluit ons almal moet neem—ons moet kies watter heer ons wil dien. Die waarheid is vir my bevestig toe ek die openbare toespraak “Sien die feite onder die oë” bygewoon het, wat in 1938 deur J. F. Rutherford in die Royal Albert Hall gehou is. Sy rondborstige lewering het die feit dat jy nie twee here kan dien nie by my hart ingeskerp.

Ek moes nog soveel leer, en gou. Ons was altyd ’n hegte gesin wat dinge saam gedoen het—dit wil sê, wanneer ek tuis was, want my koerantsaak het my dikwels besig gehou. Ek het die feite onder die oë gesien en besluit om die ou heer die rug toe te keer en die gesin na ons eerste Christenvergadering te neem. Stel jou die vreugde op my moeder se gesig voor! By een vergadering het ’n broer op die verhoog oor die rookgewoonte gepraat en uit 2 Korintiërs 7:1 bewys dat dit ’n besoedeling van die vlees is. Hy het gevra: “Kan jy jou Christus Jesus met ’n sigaret in sy mond voorstel, of dat Adam in die tuin van Eden gerook het?” Ek kon nie. Terwyl ek geluister het, het ek 20 sigarette in die een sak en ’n pyp en tabak in die ander gehad. Hulle het daardie aand, 29 Augustus 1939, in die vuur beland.

EK DIEN DIE REGTE HEER

Met die aanvang van die Tweede Wêreldoorlog moes alles gesensor word, en so te sê elke foto van my firma het ’n aspek van oorlogvoering uitgebeeld. Ek het daarmee geld gemaak. Die boek Vyande het my oë geopen vir die Bybelwaarheid dat Satan die god van hierdie wêreld is (2 Kor. 4:4). Omdat ek nie langer die Duiwel wou dien nie, is ek in Oktober 1939 gedoop om my toewyding aan Jehovah te simboliseer. Van toe af het ek hom en sy dierbare Seun, Christus Jesus, gedien.

Ek het gemeen dat ons seun, Douglas, persfotografie sy loopbaan sou maak. Na sy eerste drie dae by die kantoor het ek vir hom gevra hoe hy vorder. Hy het gesê: “Ek wil ’n pionier word.” Ons het hom toe dadelik na die kantoor van die Wagtoringgenootskap geneem sodat hy om sulke voltydse getuieniswerk aansoek kon doen. In 1950 het hy die Gileadskool vir sendelinge bygewoon, en hy dien sedertdien as ’n kringopsiener in Japan. Hy het ook die vreugde van sy Heer se diens gesmaak.

Elke dag het my gewetenstryd verskerp. Wat materiële behoeftes betref, het ek geglo dat ‘as jy eers die Koninkryk soek, al hierdie dinge vir jou bygevoeg sal word’ (Matt. 6:25-33). “Vertrou op die HERE met jou hele hart” is die versekering wat ek gehad het. Waarom ‘op twee gedagtes hink’? Ek het gemeen dat ek besig was om te hink.—1 Kon. 18:21; Spr. 3:5.

Ek het ’n direksievergadering van my firma belê waarop ek bedank en my aandele opgesê het sodat ek heeltemal vry sou wees. Nadat ek die laaste dokument te dien effekte onderteken het, is ek reguit na die Bethelhuis om vir die pionierdiens in te skryf. Die vryheid en vreugde van daardie oomblik bly my nog steeds by. Dit was 1 Junie 1940. Ek het ’n nuwe fiets en ’n draagbare platespeler gekoop wat destyds gebruik is tydens ons getuieniswerk van huis tot huis.

Van daardie dag af tot vandag toe het Jehovah op so ’n oorvloedige wyse voorsien. Ek het geleer hoedat ‘die godsaligheid saam met vergenoegdheid groot wins is’ en hoedat die ware Heer diegene beloon wat hom getrou dien.—1 Tim. 6:6.

“Kompromis” was nog altyd vir my ’n baie lelike woord. Gevolglik is alles vir my of swart of wit. Maar ek moes leer om gebalanseerd te wees. Paulus het vir jong Timotheüs gesê: ‘’n Dienskneg van die Here moet vriendelik wees teenoor almal’ (2 Tim. 2:24). My vrou, Jessie, het nie die waarheid geredelik aanvaar nie. Terwyl ek eendag velddiens gedoen het, het ’n suster vir my gesê: “Weet jy, Ernie, jou vrou sal nog die waarheid aanvaar ten spyte van jou!” Dit het my geruk. Ek het gesê: “Is dit so erg?” “Ja!” het sy geantwoord. Daardie suster is sedertdien oorlede, maar ek is so dankbaar dat sy nie bang was om die waarheid te praat nie. Party van ons het dit nodig. Jessie is ’n jaar later gedoop.

Gedurende daardie oorlogsjare is daar baie klem op die pionierdiens gelê, en as gesin het ons voortdurend daaroor gepraat. Die enigste weg vir ’n ware Christen was die van strenge neutraliteit (Joh. 15:19). Pionierdiens was ’n Godgegewe voorreg vir diegene wat Skriftuurlik vry was om dit te aanvaar. Douglas het in 1939 ingeskryf. Ons dogter Gwen was die jongste pionier wat in 1941 by die nasionale byeenkoms in Leicester ingeskryf het. Sy was destyds 14 en is nog in die voltydse diens. Sy was ’n sendeling in Libanon en Nigerië en dien nou in die Londense Bethelhuis. Ons jonger dogter, Anne, het die pionierdiens in 1942 betree. Sy was ook ’n sendeling in Libanon, waar sy met ’n geestelike broer getrou het, en hulle woon nou in die Verenigde State met drie pragtige dogters by wie hulle die begeerte inskerp om die een ware Heer te dien.

DIE HEER SE DIENS KOM EERSTE

Kom ons gaan terug na 1940. Nadat ek my betrekkinge met Fleet Street verbreek het, was ek nie langer vrygestel van militêre diens nie en is ek opgeroep. Ek het die Wagtoringgenootskap se boekie God and the State gelees, wat Blackstone se kommentaar oor Engelse wet aangehaal het. Dit sê dat geen wet van die mens geldig is tensy dit op God se wet gebaseer is nie. Omdat ek vasbeslote was om dit te gebruik om myself te verdedig, het ek appèl aangeteken teen my tronkvonnis van 12 maande. Ek is gewaarsku dat indien ek die appèlsaak verloor, my vonnis verdubbel sou word. Tydens my verhoor voor ’n jurie het die regter botweg geweier dat ek Blackstone se woorde lees en my daaraan herinner dat die land in ’n oorlog gewikkel was en dat die Ryksverdedigingsregulasies wat toe van krag was alle vorige wette vervang het. Ek is tot twee jaar hardepad gevonnis. Maar ek het daardie twee jaar nodig gehad om die waarheid deel van my te maak. Ek het die Bybel vir die eerste keer deurgelees. Watter vreugde vanaf die Heer!

Gedurende daardie tyd het ek en ander broers vir medegevangenes sowel as tronkpersoneel getuig. Die gevolg was dat drie tronkbewaarders die waarheid aangeneem het en gedoop is. Een is oorlede en die ander twee is ouere manne in hulle onderskeie gemeentes. Interessant genoeg, ek het nou die voorreg om die prediker te wees wat aangestel is om die gevangenes wat graag besprekings met Jehovah se Getuies wil hê in daardie einste tronk te besoek.

Ek was ’n lid van die Koninklike Tuinbouvereniging. My tuinier het pragtige krisante gekweek waarvoor ek bronsmedaljes ontvang het. Ek het hieroor nagedink. Dit was nie ek wat die blomme gekweek het nie; my tuinier het hulle versorg. Daarbenewens is dit Jehovah wat hulle laat groei het, en dit was hy wat die eer daarvoor moes kry—beslis nie ek nie. As voorsitter van die plaaslike tuinbouvereniging was dit ’n voorreg om dit aan die lede te verduidelik toe ek my bedanking ingedien het. Nie dat dit verkeerd is om ’n lid van ’n tuinbouvereniging te wees nie. Maar as voorsitter het die pligte gans te veel van my tyd in beslag geneem, veral aangesien ek ’n pionier was.

Ons huis was ’n sentrum vir teokratiese bedrywigheid, en ons deur het altyd oopgestaan vir geestelike broers, jonk sowel as oud. Gesprekke en ontspanning het altyd om Christenbeginsels gedraai. Vergaderinge was aangenaam en onmisbaar, ongeag die verdonkerings en lugaanvalle tydens die oorlog. Ons het altyd dinge saam gedoen. Na die oorlog het ons as gesin aangebied om op enige plek te dien wat die Wagtoringgenootskap voorgestel het. Ons het Tunbridge Wells, Kent, gekies, waar ons die vreugde gehad het om te sien hoedat die gemeente in twee jaar van 12 tot 70 persone toeneem. Toe ons versoek is om na Brighton in Sussex te gaan, het ons dit gedoen en gesien hoe die gemeentes in net drie jaar van een tot vyf aangroei. Die Heer het dit laat groei.—1 Kor. 3:5-9.

Toe het 1950 aangebreek, asook daardie onvergeetlike Teokrasie se Vermeerdering-byeenkoms te Yankee-stadion in die stad New York. Omdat hulle geweet het dat ons beplan om dit as ’n gesin by te woon, het die Genootskap ons drie kinders genooi om die Gilead-sendingskool by te woon. Dit was baie moeilik om vir hulle tot siens te sê toe ons na Engeland teruggekeer het. Ons woonstel in Brighton het so leeg gevoel. Maar Jehovah het weer eens sy hand geopen en ek is genooi om as kringopsiener te dien. Ek is meegedeel dat Jessie ’n pionier sou moes word. Sy het ingestem, en hoe bly het dit my tog gemaak! So het die aangenaamste tydperk van ons lewe begin. Agttien jaar lank het ons in Engeland en Noord-Ierland rondgereis terwyl die broers liefdevol gasvryheid aan ons betoon het en ons Koninkrykswaarhede met hulle gedeel en saam met hulle gewerk het.

ONS VOLHARD IN DIE HEER SE DIENS

Ons seun en dogters is in drie verskillende plekke op aarde getroud. Ons kon nie een van die troues bywoon nie. Maar ons het altyd staatgemaak op ons Heer, wat beloof om daardie pragtige reël in Koninkrykslied 119 te vervul: “When loved ones never have to part.”

Oor die jare heen het ons met soveel liefdevolle broers en susters bevriend geraak. Ondervinding verskaf baie persoonlike herinneringe en lesse. Jehovah kasty die wat hy liefhet. Dit moet ons voortdurende, biddende strewe wees om sy luisterryke naam te verheerlik.

Op die ouderdom van 74 kon Jessie nie meer die ontberinge van kringwerk verduur nie. Ek het dus gevra dat ek afgehaal word, en ’n vriendelike broer het ons ’n kamer in sy groot huis aangebied. Ek doen nog steeds pionierdiens, hoewel met ’n bietjie minder krag, daar ek nou 77 is. My vrou, wat nou 84 is, sorg vir my en doen die nodige huiswerkies terwyl ek my besig hou met die voorregte van ’n opsiener en Jehovah se dierbares soos ’n herder versorg.

Wat lê voor? Die wonderlikste en verstommendste gebeure in mensegeskiedenis. Hoe verheug ons ons tog oor Jehovah se belofte: “Die nasies sal weet dat Ek [Jehovah] is”!—Eseg. 39:7.

My laaste woord? Bly nederig, wees gebalanseerd en vergewis jou van die belangrike dinge. En onthou altyd dat diens aan die een ware Heer ons nou en in die toekoms van beloninge verseker.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel