Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w98 1/1 bl. 30-31
  • Elia verheerlik die ware God

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Elia verheerlik die ware God
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Twee opponente ontmoet mekaar
  • Jehovah word verheerlik
  • ’n Les vir ons
  • Hy het rein aanbidding verdedig
    Volg hulle geloof na
  • Hy het rein aanbidding verdedig
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Sal jy getrou wees soos Elia?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • ’n Toets op die berg Karmel
    Lesse wat jy kan leer uit die Bybel
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
w98 1/1 bl. 30-31

Hulle het Jehovah se wil gedoen

Elia verheerlik die ware God

HY WAS ’n man na wie daar naarstig in Israel gesoek is. Dit was so te sê ’n uitgemaakte saak dat hy doodgemaak sou word as die koning hom in die hande kon kry. Wie was hierdie man? Jehovah se profeet Elia.

Koning Agab en sy heidense vrou, Isebel, het Baälaanbidding in Israel laat floreer. Gevolglik het Jehovah ’n droogte oor die land gebring, wat nou al meer as drie jaar geduur het. Die woedende Isebel was daarop uit om Jehovah se profete te laat doodmaak, maar Agab wou veral vir Elia in die hande kry. Dit was Elia wat meer as drie jaar tevore vir Agab gesê het: “Daar sal geen dou of reën in hierdie jare wees nie, behalwe op my woord!” (1 Konings 17:1). En die droogte wat daarna gevolg het, het nog steeds die land geteister.

In hierdie gevaarlike situasie het Jehovah vir Elia gesê: “Gaan heen, vertoon jou aan Agab, dan wil Ek reën gee op die aarde.” Elia het Jehovah se bevel gehoorsaam, al was sy lewe in groot gevaar.—1 Konings 18:1, 2.

Twee opponente ontmoet mekaar

“Is dit jy, jou beroerder van Israel?” het Agab gevra toe hy Elia sien. “Ek het Israel nie in beroering gebring nie”, het Elia moedig geantwoord, “maar u en u familie, deurdat u die gebooie van die HERE verlaat het en agter die Baäls aan geloop het.” Toe het Elia opdrag gegee dat die hele Israel op die berg Karmel bymekaar moet kom, met inbegrip van “die vierhonderd-en-vyftig profete van Baäl en die vierhonderd profete van Asjera”. Daarna het Elia die skare toegespreek: “Hoe lank hink julle op twee gedagtes?a As die HERE God is, volg Hom na; en as Baäl dit is, volg hom na!”—1 Konings 18:17-21.

Die volk was stil. Miskien het hulle besef dat hulle skuldig is omdat hulle nie uitsluitlike toegewydheid aan Jehovah gegee het nie (Exodus 20:4, 5, vgl. NW). Of dit kan wees dat hulle gewete so afgestomp geraak het dat hulle dit nie as sonde beskou het om hulle lojaliteit tussen Jehovah en Baäl te verdeel nie. Hoe dit ook al sy, Elia het die volk beveel om twee jong bulle te bring—een vir die Baälprofete en die ander een vir hom. Albei bulle sou vir ’n offerande voorberei word, maar geen vuur moes gemaak word nie. “Roep julle dan die naam van julle god aan”, het Elia gesê, “en ék sal die Naam van die HERE aanroep; en die God wat met vuur antwoord, Hy sal God wees.”—1 Konings 18:23, 24.

Jehovah word verheerlik

Die Baälprofete het begin ‘rondspring by die altaar wat hulle gemaak het’. Die hele oggend het hulle uitgeroep: “O Baäl, gee ons antwoord!” Maar Baäl het nie geantwoord nie (1 Konings 18:26). Toe het Elia met hulle begin spot: “Roep hard; hy is mos ’n god!” (1 Konings 18:27). Die Baälprofete het hulle selfs met swaarde en spiese begin stukkend kerf—’n gebruik wat heidene dikwels gevolg het om die simpatie van hulle gode te wek.b—1 Konings 18:28.

Dit was nou al in die namiddag en die Baälaanbidders het voortgegaan om hulle “soos profete te gedra”—’n frase wat in hierdie konteks die gedagte oordra dat hulle op ’n waansinnige manier en sonder enige selfbeheersing te kere gegaan het. Laat die middag het Elia uiteindelik vir die hele volk gesê: “Kom nader na my.” Almal het met stipte aandag gekyk terwyl Elia die altaar van Jehovah herbou het, ’n sloot daarom gemaak het, die jong bul in stukke gesny het en dit tesame met vuurmaakhout op die altaar gesit het. Daarna is die bul, die altaar en die hout heeltemal met water deurweek, en die sloot is gevul met water (wat hulle ongetwyfeld uit die Middellandse See gekry het). Toe het Elia tot Jehovah gebid: “Laat dit vandag bekend word dat U God in Israel is, en ek u kneg, en dat ek al hierdie dinge op u woord gedoen het. Antwoord my, HERE, antwoord my, sodat hierdie volk kan erken dat U, HERE, God is, en dat Ú hulle hart tot U laat terugkeer.”—1 Konings 18:29-37, vgl. NW.

Skielik het vuur uit die hemel gereën “en die brandoffer en die hout en die klippe en die stof verteer, ja, die water wat in die sloot was, opgelek”. Die volk wat dit aanskou het, het onmiddellik op hulle aangesig geval en gesê: ‘Jehovah, Hy is God! Jehovah, Hy is God!’ Op Elia se bevel is die Baälprofete gegryp en na die spruit Kison geneem waar hulle tereggestel is.—1 Konings 18:38-40.

’n Les vir ons

Dit lyk dalk of Elia bomenslike moed aan die dag gelê het. En tog verseker die Bybelskrywer Jakobus ons: “Elia was ’n mens met gevoelens soos ons s’n” (Jakobus 5:17). Hy was nie immuun teen ’n mate van vrees en angs nie. Toe Isebel byvoorbeeld later wraak gesweer het weens die dood van die Baälprofete, het Elia gevlug en toe tot Jehovah in gebed uitgeroep: “Dit is genoeg, neem nou my siel weg, HERE.”—1 Konings 19:4.

Jehovah het nie Elia se siel weggeneem deur hom te laat sterf nie. Hy het hom eerder op barmhartige wyse van hulp voorsien (1 Konings 19:5-8). God se hedendaagse knegte kan daarvan seker wees dat Jehovah dieselfde sal doen wanneer hulle tye van intense angs ondervind, miskien weens teenstand. Trouens, as hulle tot Jehovah om hulp bid, kan hy hulle voorsien van “krag wat bo die normale is”, sodat hulle, selfs al word hulle “in elke opsig geknel”, nie ‘só vasgekeer sal wees dat hulle nie kan beweeg nie’. Hulle sal dus, soos Elia, gehelp word om te volhard.—2 Korintiërs 4:7, 8.

[Voetnote]

a Party geleerdes voer aan dat Elia dalk gesinspeel het op die rituele dans van Baälaanbidders. Die woord “hink” word ook in 1 Konings 18:26 (NW) gebruik om die dans van die Baälprofete te beskryf.

b Party beweer dat selfverminking verband gehou het met die gebruik om mense te offer. Albei dade het geïmpliseer dat liggaamlike leed of die vergieting van bloed ’n god se guns kan afsmeek.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel