“Maak dissipels van mense van al die nasies”
“GAAN dus en maak dissipels van mense van al die nasies, en doop hulle in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees.” Dit is hoe die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte Jesus se opdrag in Matteus 28:19 weergee. Hierdie weergawe is egter al gekritiseer. ’n Godsdienspamflet beweer byvoorbeeld: “Die enigste vertaling wat deur die Griekse teks toegelaat word, is: ‘Maak dissipels van al die nasies!’” Is dit waar?
Hierdie weergawe: “Maak dissipels van al die nasies”, verskyn in talle Bybelvertalings en is ’n letterlike vertaling van die Grieks. Watter grondslag is daar dus vir die vertaling: “Maak dissipels van mense van al die nasies, en doop hulle”? Die konteks. Die uitdrukking “doop hulle” verwys ongetwyfeld na individue, nie nasies nie. Die Duitse geleerde Hans Bruns sê: “Die [woord] ‘hulle’ verwys nie na die nasies nie (die Grieks tref ’n duidelike onderskeid), maar na die mense in die nasies.”
Daarbenewens moet ’n mens die manier waarop Jesus se opdrag uitgevoer is in oënskou neem. Ons lees aangaande die bediening van Paulus en Barnabas in Derbe, ’n stad in Klein-Asië: “Nadat hulle die goeie nuus aan daardie stad bekend gemaak en ’n hele paar dissipels gemaak het, het hulle na Listra en na Ikonium en na Antiogië teruggekeer” (Handelinge 14:21). Let op dat Paulus en Barnabas nie dissipels van die stad Derbe gemaak het nie, maar van party van die mense van Derbe.
Die boek Openbaring het eweneens omtrent die tyd van die einde voorspel dat “’n groot skare . . . uit alle nasies en stamme en volke en tale”, en nie daardie hele nasies nie, God sal dien (Openbaring 7:9). Die New World Translation is dus geregverdig as ’n betroubare vertaling van ‘die hele Skrif, wat deur God geïnspireer is’.—2 Timoteus 3:16.