Streef Goddelike vrede in die gesinslewe na
“Gee aan die HERE, o geslagte [“families”, NW] van die volke, gee aan die HERE eer en sterkte.”—PSALM 96:7.
1. Watter soort begin het Jehovah die gesinslewe gegee?
JEHOVAH het toegesien dat die gesinslewe vreedsaam en gelukkig begin toe hy die eerste man en vrou in die huwelik verbind het. Trouens, Adam was so gelukkig dat hy sy vreugde in die vroegste opgetekende poësie uitgedruk het: “Dit is nou eindelik been van my gebeente en vlees van my vlees. Sy sal mannin genoem word, want sy is uit die man geneem.”—Genesis 2:23.
2. Wat het God in gedagte gehad vir die huwelik behalwe dat dit sy mensekinders geluk moes verskaf?
2 Toe God die huwelik en die gesinsreëling ingestel het, het hy meer in gedagte gehad as om net geluk aan sy mensekinders te verskaf. Hy wou hê dat hulle sy wil moes doen. God het vir die eerste egpaar gesê: “Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip” (Genesis 1:28). Inderdaad ’n lonende toewysing. Hoe gelukkig sou Adam, Eva en hulle toekomstige kinders tog gewees het as die eerste egpaar Jehovah se wil gehoorsaam uitgevoer het!
3. Wat is nodig vir gesinne om met godvrugtige toegewydheid te lewe?
3 Maar selfs vandag is gesinne op hulle gelukkigste wanneer hulle saam werk om God se wil te doen. En watter wonderlike vooruitsigte het sulke gehoorsame gesinne tog! Die apostel Paulus het geskryf: “Godvrugtige toegewydheid is voordelig vir alles, aangesien dit belofte inhou vir die teenswoordige en die toekomstige lewe” (1 Timoteus 4:8). Gesinne wat met ware godvrugtige toegewydheid lewe, volg die beginsels in Jehovah se Woord en doen sy wil. Hulle streef Goddelike vrede na en smaak sodoende geluk in ‘die teenswoordige lewe’.
Die gesinslewe word bedreig
4, 5. Waarom kan daar gesê word dat die gesinslewe nou wêreldwyd bedreig word?
4 Ons vind natuurlik nie vrede en geluk in elke gesin nie. The New York Times haal ’n studie aan wat gedoen is deur ’n demografiese instituut wat die Bevolkingsraad genoem word en sê: “In ryk sowel as arm lande is die struktuur van die gesinslewe besig om drasties te verander.” ’n Samesteller van hierdie studie het volgens berig gesê: “Die gedagte dat die gesin ’n stabiele en hegte eenheid is waarin die vader as die ekonomiese voorsiener en die moeder as die emosionele versorger dien, is ’n mite. Die ware toedrag van sake is dat ongetroude moeders, stygende egskeidingsyfers [en] kleiner gesinne . . . ’n wêreldwye tendens is.” Weens hierdie tendens is daar in miljoene gesinne ’n gebrek aan stabiliteit, vrede en geluk en baie van hulle verbrokkel. In Spanje het die egskeidingsyfer aan die begin van die laaste dekade van die 20ste eeu tot 1 uit 8 huwelike gestyg—’n groot sprong van die 1 uit 100 net 25 jaar vroeër. Engeland het volgens berig een van die hoogste egskeidingsyfers in Europa—4 uit 10 huwelike loop op die rotse. Daardie land het ook ’n toename in die aantal enkelouergesinne ondervind.
5 Dit lyk of party mense skaars kan wag om te skei. Baie stroom na die “Bandverbrekingstempel” naby Tokio, Japan. Hierdie Sjinto-tempel aanvaar versoeke om egskeidings en die verbreking van ander ongewenste verhoudings. Elke aanbidder skryf sy of haar versoek op ’n dun houtbord, hang dit in die tempelgebied op en bid vir ’n antwoord. Toe die tempel ongeveer ’n eeu gelede opgerig is, “het die vrouens van ryk plaaslike handelaars gebede geskryf waarin hulle gevra het dat hulle mans hulle minnaresse los en na hulle terugkeer”, sê ’n Tokiose koerant. Maar vandag is die meeste versoeke om ’n egskeiding en nie om versoening nie. Dit ly geen twyfel dat die gesinslewe wêreldwyd bedreig word nie. Moet dit Christene verbaas? Nee, want die Bybel gee ons insig in die huidige gesinskrisis.
Waarom die gesinskrisis?
6. Hoe het 1 Johannes 5:19 betrekking op vandag se gesinskrisis?
6 Een rede vir vandag se gesinskrisis is die volgende: “Die hele wêreld lê in die mag van die bose” (1 Johannes 5:19). Wat kan ons van die bose, Satan die Duiwel, verwag? Hy is ’n bose, sedelose leuenaar (Johannes 8:44). Dit is geen wonder nie dat sy wêreld hom oorgee aan bedrog en onsedelikheid, dinge wat die gesinslewe verwoes! Buite God se organisasie dreig sataniese invloede om Jehovah se instelling van die huwelik te vernietig en om vreedsame gesinslewe te beëindig.
7. Hoe kan gesinne geraak word deur die eienskappe wat baie mense in hierdie laaste dae openbaar?
7 Nog ’n rede vir die gesinsprobleme wat die mensdom nou teister, word in 2 Timoteus 3:1-5 aangegee. Paulus se profetiese woorde wat daar opgeteken staan, toon dat ons in “die laaste dae” lewe. Gesinne kan nie vreedsaam en gelukkig wees as hulle lede “liefhebbers van hulleself [is nie], liefhebbers van geld, aanmatigend, hoogmoedig, lasteraars, ongehoorsaam aan ouers, ondankbaar, dislojaal, sonder natuurlike geneentheid, nie bereid tot enige ooreenkoms nie, kwaadsprekers, sonder selfbeheersing, wreedaardig, sonder liefde vir goedheid, verraaiers, eiesinnig, opgeblase van trots, liefhebbers van genot eerder as liefhebbers van God, wat ’n vorm van godvrugtige toegewydheid het maar die krag daarvan verloën”. ’n Gesin kan nie volkome gelukkig wees as selfs net een lid daarvan nie natuurlike geneentheid het nie of dislojaal is. Hoe vreedsaam kan die gesinslewe wees as iemand in die huisgesin wreedaardig en nie bereid tot enige ooreenkoms is nie? Nog erger, hoe kan daar vrede en geluk wees wanneer gesinslede liefhebbers van genot eerder as liefhebbers van God is? Dit is die eienskappe van mense in hierdie wêreld waaroor Satan heers. Geen wonder dat gesinsgeluk iets ontwykends in hierdie laaste dae is nie!
8, 9. Watter uitwerking kan die gedrag van kinders op gesinsgeluk hê?
8 Die slegte gedrag van kinders is nog ’n rede waarom baie gesinne nie vrede en geluk het nie. Toe Paulus die toestande in die laaste dae voorspel het, het hy geprofeteer dat baie kinders ongehoorsaam aan ouers sou wees. As jy ’n jongmens is, dra jou gedrag daartoe by dat julle gesin vreedsaam en gelukkig is?
9 Party kinders se gedrag is nie voorbeeldig nie. Een jong seun het byvoorbeeld hierdie venynige brief aan sy vader geskryf: “As jy my nie Aleksandrië toe neem nie, sal ek nie vir jou ’n brief skryf, of met jou praat of vir jou totsiens sê nie, en as jy Aleksandrië toe gaan, sal ek nie jou hand vashou of jou ooit weer groet nie. Dit is wat sal gebeur as jy my nie saamneem nie . . . Maar ek smeek jou om vir my ’n [harp] te stuur. As jy dit nie doen nie, sal ek nie eet nie en sal ek nie drink nie. Uit en gedaan!” Dit klink nogal na ’n onlangse brief, nie waar nie? Wel, daardie brief van ’n seun aan sy vader is meer as 2000 jaar gelede in antieke Egipte geskryf.
10. Hoe kan jongmense hulle gesin help om Goddelike vrede na te streef?
10 Daardie Egiptiese kind se gesindheid het nie gesinsvrede bevorder nie. Veel ernstiger dinge vind natuurlik in hierdie laaste dae in gesinne plaas. En tog kan julle jongmense julle gesin help om Goddelike vrede na te streef. Hoe? Deur hierdie Bybelraad te gehoorsaam: “Kinders, wees in alles aan julle ouers gehoorsaam, want dit is welbehaaglik in die Here.”—Kolossense 3:20.
11. Hoe kan ouers hulle kinders help om getroue knegte van Jehovah te word?
11 Ouers, wat van julle? Help julle kinders op ’n liefdevolle manier om getroue knegte van Jehovah te word. “Oefen die seun volgens die eis van sy weg”, sê Spreuke 22:6. “Dan sal hy, ook as hy oud word, daar nie van afwyk nie.” Met uitstekende skriftuurlike onderrigting en die goeie voorbeeld wat ouers stel, wyk baie seuns en dogters nie van die regte weg af wanneer hulle ouer word nie. Maar baie hang af van die gehalte en omvang van die Bybelonderrigting, asook die hart van die kind.
12. Waarom behoort ’n Christenhuis vreedsaam te wees?
12 As al die lede van ons gesin Jehovah se wil probeer doen, behoort ons Goddelike vrede te geniet. ’n Christenhuis behoort vol ‘vriende van vrede’ te wees. Lukas 10:1-6 toon dat Jesus sulke mense in gedagte gehad het toe hy 70 dissipels as bedienaars uitgestuur en vir hulle gesê het: “Oral waar julle in ’n huis ingaan, sê eers: ‘Mag hierdie huis vrede hê.’ En as daar ’n vriend van vrede is, sal julle vrede op hom rus.” Terwyl Jehovah se knegte vreedsaam van huis tot huis gaan met “die goeie nuus van vrede”, soek hulle vriende van vrede (Handelinge 10:34-36; Efesiërs 2:13-18). ’n Christenhuis wat uit vriende van vrede bestaan, behoort beslis vreedsaam te wees.
13, 14. (a) Wat wou Naomi graag vir Rut en Orpa hê? (b) Watter soort rusplek behoort ’n Christenhuis te wees?
13 ’n Huis moet ’n plek van rus en vrede wees. Die bejaarde weduwee Naomi het gehoop dat God haar jong weduweeskoondogters, Rut en Orpa, die rus en vertroosting sou gee wat deur ’n goeie man en huis moontlik gemaak word. Naomi het gesê: “Mag die HERE gee dat julle ’n rusplek vind, elkeen in die huis van haar man” (Rut 1:9). Aangaande Naomi se wens het een geleerde geskryf dat Rut en Orpa in sulke huise “vry sou wees van onrus en angs. Hulle sou rus vind. Dit sou ’n plek wees waar hulle kon vertoef en waar hulle teerste gevoelens en eerbaarste begeertes bevrediging en rus kon vind. Die unieke krag van die Hebreeus . . . word goed getoon deur die aard van die verwante uitdrukkings in [Jesaja 32:17, 18].”
14 Let asseblief op hierdie verwysing na Jesaja 32:17, 18. Daar lees ons: “Die werking van die geregtigheid sal vrede wees, en die voortbrengsel van die geregtigheid rus [“kalmte”, NW] en veiligheid tot in ewigheid. En my volk sal woon in ’n plek van vrede en in veilige wonings en in plekke van ongestoorde rus.” ’n Christenhuis behoort ’n rusplek van geregtigheid, kalmte, veiligheid en Goddelike vrede te wees. Maar gestel beproewinge, verskille of ander probleme ontstaan. Dan moet ons veral weet wat die geheim van gesinsgeluk is.
Vier noodsaaklike beginsels
15. Hoe sal jy die geheim van gesinsgeluk definieer?
15 Elke familie op die aarde het sy naam aan Jehovah God, die Skepper van families, te danke (Efesiërs 3:14, 15). Diegene wat dus graag gesinsgeluk wil geniet, moet sy leiding soek en hom loof, soos die psalmis gedoen het: “Gee aan die HERE, o geslagte [“families”, NW] van die volke, gee aan die HERE eer en sterkte” (Psalm 96:7). Die geheim van gesinsgeluk lê in die bladsye van God se Woord, die Bybel, en in die toepassing van die beginsels daarin. ’n Gesin wat hierdie beginsels toepas, sal gelukkig wees en sal Goddelike vrede geniet. Laat ons derhalwe na vier van hierdie belangrike beginsels kyk.
16. Watter rol moet selfbeheersing in die gesinslewe speel?
16 Een van dié beginsels is hierop toegespits: Selfbeheersing is noodsaaklik vir Goddelike vrede in die gesinslewe. Koning Salomo het gesê: “’n Afgebreekte stad sonder muur, so is ’n man wat sy gees nie kan inhou nie” (Spreuke 25:28). Om ons gees in te hou—selfbeheersing te beoefen—is noodsaaklik as ons graag ’n vreedsame en gelukkige gesin wil hê. Al is ons onvolmaak moet ons selfbeheersing, wat ’n vrug van God se heilige gees is, beoefen (Romeine 7:21, 22; Galasiërs 5:22, 23). Die gees sal selfbeheersing in ons voortbring as ons vir hierdie eienskap bid, Bybelraad daaroor toepas en met ander assosieer wat dit openbaar. As ons dít doen, sal dit ons help om ‘vir die hoerery te vlug’ (1 Korintiërs 6:18). Selfbeheersing sal ons ook help om geweld te verwerp, alkoholisme te vermy of te oorkom en moeilike situasies op ’n kalmer manier te hanteer.
17, 18. (a) Hoe is 1 Korintiërs 11:3 op die gesinslewe van Christene van toepassing? (b) Hoe bevorder die erkenning van hoofskap Goddelike vrede in ’n gesin?
17 Nog ’n noodsaaklike beginsel kan só gestel word: Die erkenning van hoofskap sal ons help om Goddelike vrede in ons gesinne na te streef. Paulus het geskryf: “Ek wil hê dat julle moet weet dat die Christus die hoof is van elke man; die man weer is die hoof van die vrou; God weer is die hoof van die Christus” (1 Korintiërs 11:3). Dit beteken dat ’n man die leiding in die gesin neem, dat sy vrou hom lojaal ondersteun en dat die kinders gehoorsaam is (Efesiërs 5:22-25, 28-33; 6:1-4). Sulke gedrag sal Goddelike vrede in die gesinslewe bevorder.
18 ’n Christenman moet onthou dat skriftuurlike hoofskap nie diktatorskap is nie. Hy moet Jesus, sy Hoof, navolg. Hoewel Jesus “hoof oor alles” sou word, het hy “gekom . . . , nie om gedien te word nie, maar om te dien” (Efesiërs 1:22; Matteus 20:28). ’n Christenman oefen eweneens hoofskap op ’n liefdevolle manier uit wat hom in staat stel om goed na die belange van sy gesin om te sien. En ’n Christenvrou sal beslis met haar man wil saamwerk. As sy “hulp” en “’n komplement” vul sy eienskappe aan wat haar man nie het nie, en sy gee hom sodoende die nodige ondersteuning (Genesis 2:20, NW; Spreuke 31:10-31). Die behoorlike uitoefening van hoofskap help mans en hulle vrouens om mekaar te respekteer en beweeg kinders om gehoorsaam te wees. Ja, erkenning van hoofskap bevorder Goddelike vrede in die gesinslewe.
19. Waarom is goeie kommunikasie onontbeerlik vir gesinsvrede en -geluk?
19 ’n Derde belangrike beginsel kan in hierdie woorde uitgedruk word: Goeie kommunikasie is onontbeerlik vir gesinsvrede en -geluk. Jakobus 1:19 sê vir ons: “Elke mens moet gou wees om te hoor, stadig om te praat, stadig ten opsigte van gramskap.” Gesinslede moet na mekaar luister en met mekaar praat, want gesinskommunikasie is ’n tweerigtingpad. Maar selfs as wat ons sê waar is, sal dit waarskynlik meer kwaad as goed doen as dit op ’n hardvogtige, trotse of ongevoelige manier gesê word. Ons spraak moet aangenaam wees, “smaaklik gemaak met sout” (Kolossense 4:6). Gesinne wat skriftuurlike beginsels volg en goed met mekaar kommunikeer, streef Goddelike vrede na.
20. Waarom sou jy sê dat liefde noodsaaklik vir gesinsvrede is?
20 ’n Vierde beginsel is dit: Liefde is noodsaaklik vir gesinsvrede en -geluk. Romantiese liefde kan ’n belangrike rol in die huwelik speel, en innige toegeneentheid kan tussen gesinslede ontwikkel. Maar selfs belangriker is die liefde waarna die Griekse woord a·gaʹpe verwys. Dit is die liefde wat ons vir Jehovah, vir Jesus en vir ons naaste aankweek (Matteus 22:37-39). God het hierdie liefde vir die mensdom getoon deur ‘sy enigverwekte Seun te gee, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê’ (Johannes 3:16). Hoe wonderlik is dit tog dat ons daardie selfde soort liefde aan ons gesinslede kan betoon! Hierdie verhewe vorm van liefde is “’n volmaakte band van eenheid” (Kolossense 3:14). Dit bind ’n egpaar saam en spoor hulle aan om dinge te doen wat mekaar en hulle kinders tot voordeel strek. Wanneer probleme ontstaan, help liefde hulle om sake op ’n verenigde wyse te hanteer. Ons kan hiervan verseker wees, want “die liefde . . . soek nie sy eie belang nie . . . Dit verdra alles, glo alles, hoop alles, verduur alles. Die liefde faal nooit nie” (1 Korintiërs 13:4-8). Gesinne waarin liefde vir mekaar deur liefde vir Jehovah versterk word, is inderdaad gelukkig!
Hou aan om Goddelike vrede na te streef
21. Wat sal waarskynlik die vrede en geluk van jou gesin laat toeneem?
21 Die voorgaande beginsels en ander wat uit die Bybel kom, is uiteengesit in publikasies wat Jehovah goedgunstig deur “die getroue en verstandige slaaf” voorsien het (Matteus 24:45). Sulke inligting word byvoorbeeld gevind in die boek met 192 bladsye met die titel Die geheim van gesinsgeluk, wat vrygestel is by die “Boodskappers van Goddelike vrede”-streekbyeenkomste van Jehovah se Getuies wat in 1996/97 regoor die wêreld gehou is. Persoonlike en gesinstudie van die Skrif met behulp van so ’n publikasie kan baie voordele inhou (Jesaja 48:17, 18). Ja, die toepassing van skriftuurlike raad sal waarskynlik die vrede en geluk van jou gesin laat toeneem.
22. Wat moet die middelpunt van ons gesinslewe wees?
22 Jehovah het wonderlike dinge in die vooruitsig gestel vir gesinne wat sy wil doen, en hy verdien ons lof en diens (Openbaring 21:1-4). Mag jou gesin dus die aanbidding van die ware God die middelpunt van julle lewe maak. En mag ons liefdevolle hemelse Vader, Jehovah, jou seën met geluk terwyl jy Goddelike vrede in jou gesinslewe nastreef!
Hoe sal jy antwoord?
◻ Wat is nodig as gesinne met godvrugtige toegewydheid wil lewe?
◻ Waarom is daar vandag ’n gesinskrisis?
◻ Wat is die geheim van gesinsgeluk?
◻ Wat is van die beginsels wat ons sal help om vrede en geluk in die gesinslewe te bevorder?
[Prent op bladsy 24]
Goeie kommunikasie help ons om Goddelike vrede in die gesinslewe na te streef