Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w88 11/1 bl. 15-20
  • Is jou huis ’n plek van rus en vrede?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Is jou huis ’n plek van rus en vrede?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die keuse van die regte huweliksmaat
  • Raad wat huislike vrede bevorder
  • “Gee aan die duiwel geen plek nie”
  • Die rol van kinders in gesinsvrede
  • Handhaaf ’n huis van rus en vrede
  • Moenie skei wat God onder een juk saamgevoeg het nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Wyse raad vir egpare
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Hoe om jou gesinslewe gelukkig te maak
    Wat leer die Bybel werklik?
  • Waardeer jy werklik God se gawe van die huwelik?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
w88 11/1 bl. 15-20

Is jou huis ’n plek van rus en vrede?

“Mag die HERE gee dat julle ’n rusplek vind, elkeen in die huis van haar man.”—RUT 1:9.

1. Watter drie vroue het sowat 3 000 jaar gelede ’n reis na Juda onderneem?

SOWAT 3 000 jaar gelede het drie vroue ’n gevaarlike reis onderneem. Dit sou hulle deur gebiede neem wat gewoonlik van diewe en desperate manne gewemel het. Die vroue het deur die onherbergsame land Moab gereis. Die oudste was die weduwee Naomi, wat Betlehem in haar geliefde vaderland, Juda, wou bereik. Saam met haar was twee jonger weduwees, Orpa en Rut, Moabitiese vroue wat met Naomi se oorlede seuns Giljon en Maglon getroud was. Luister!

2. Wat was Naomi se wens vir Orpa en Rut?

2 “Gaan heen”, het Naomi gesê, “draai om, elkeen na die huis van haar moeder; mag die HERE aan julle guns bewys soos julle aan die dode en aan my bewys het.” En watter verdere wens spreek Naomi uit? “Mag die HERE gee”, het sy gesê, “dat julle ’n rusplek vind, elkeen in die huis van haar man” (Rut 1:8, 9). Ja, Naomi het haar skoondogters aangespoor om na hulle volk terug te keer en het gehoop dat God onder hulle landgenote vir albei jong vroue die rus en vertroosting sou gee wat met ’n goeie eggenoot en huis gepaard gaan.

3. Watter standpunt het Rut ingeneem, en met watter eindresultaat?

3 Orpa het weggegaan, maar nie lojale Rut nie. Sy het geweier om haar skoonmoeder te verlaat en het haar voorgeneem: “U volk is my volk, en a God is my God.” Die eindresultaat? Rut het ’n huis van rus en vrede by Boas gevind en is ’n volkome loon’ gegee! Sy het ’n voormoeder van koning Dawid en van sy weergalose Here, Jesus Christus, geword.—Rut 1:16; 2:12; 4:13-22; Psalm 110:1; Mattheüs 1:1-6.

4. Watter gedagteprikkelende vraag ontstaan nou?

4 Naomi wou hê dat Jehovah vir albei haar skoondogters die gawe van ’n veilige huwelik en ’n huis van rus en vrede moes gee. God wil ongetwyfeld hê dat die huislike lewe van sy knegte rustig moet wees. Is jou huis, as jy ’n getuie van Jehovah is, dan ’n plek van rus en vrede?

Die keuse van die regte huweliksmaat

5. Wat moet jou eerste stap wees as jy ’n ongetroude Christen is wat aan trou dink en ’n rustige huislike lewe wil hê?

5 As jy ’n ongetroude Christen is wat aan trou dink, hoop jy ongetwyfeld dat jy ’n rustige huislike lewe sal hê. Die apostel Paulus het aangedui wat die eerste stap in daardie rigting is deur te skryf: “’n Vrou is deur die wet gebonde solank as haar man lewe; maar as die man ontslaap het, is sy vry om te trou met wie sy wil, maar net in die Here.”—1 Korinthiërs 7:39.

6. (a) Wat beteken dit om “net in die Here” te trou? (b) Oor watter vrae moet iemand wat ’n huweliksmaat soek, nadink? (c) Waarom moet ’n mens ’n gedoopte huweliksmaat biddend kies?

6 Om “net in die Here” te trou, beteken dat ’n mens net met ’n medegelowige sal trou. Maar ’n Christen moet nie oorhaastig trou nie, nie eens met ’n persoon wat aan Jehovah toegewy is nie. Soek die individu werklik ‘geregtigheid en ootmoedigheid’? (Sefanja 2:3). Dien hy of sy God van ganser harte? Praat die persoon uit ’n hart vol liefdevolle lofuitinge aan Jehovah? Is die veldbediening ’n gereelde en vername deel van die individu se lewe? Het hy of sy die nodige bekwaamheid vir die bediening en vir ’n Christelike huwelik? Ja, selfs ’n gedoopte huweliksmaat moet verstandig en biddend gekies word. Wees sover moontlik seker dat die gelowige voortreflike geestelike eienskappe het. So ’n huwelik voorkom die vredeverstorende spanning en hartseer wat so dikwels in godsdienstig verdeelde huisgesinne heers.

7. Wat is nodig vir die grootste geluk in die huwelik?

7 In die huwelik van twee toegewyde Christene kan daar in emosionele behoeftes voorsien word en kan geestelike dinge gedeel word. Dit het die hegs moontlike menseband tot gevolg. Christenmans en -vroue wil beslis ’n hegte band met hulle huweliksmaat geniet. Mense is geskep met ’n drang om te aanbid, en as ons die gepaste stappe doen om in ons geestelike behoefte te voorsien, bring dit die grootste geluk vir ons mee (Mattheüs 5:3, NW). Omdat ons dit besef, wil ons tog nie aan Jehovah ongehoorsaam wees deur met ’n ongelowige te trou en ons sodoende te beroof van hierdie geestelike eenheid wat die huwelik versterk nie (Deuteronomium 7:3, 4). Ja, vir die grootste geluk in die huwelik moet jy sorg dat God in jou huwelik is. So ’n figuurlike “driedubbele lyn word nie gou verbreek nie” (Prediker 4:12). As Jehovah God in jou huwelik is, sal dit jou huwelik inderdaad sterk maak en help om jou huis ’n plek van rus en vrede te maak.

Raad wat huislike vrede bevorder

8. Aan watter raad moet getroude Christene besondere aandag skenk?

8 Aan watter vereistes moet getroude Christene voldoen om ’n huis van rus en vrede te hê? Daar is natuurlik baie, maar Paulus se raad in Efesiërs 5:21-33 is veral opmerkenswaardig. ’n Man of ’n vrou kan weliswaar daardie woorde gebruik om die tekortkominge van sy of haar huweliksmaat na vore te bring. Maar hoeveel beter is dit tog om aandag te skenk aan die raad in daardie verse wat jy persoonlik kan toepas!

9. Wat was Paulus se raad vir Christenmans?

9 As jy ’n Christenman is, sal persoonlike toepassing van Paulus se raad help om jou huis ’n plek van rus en vrede te maak. Die apostel maan: “Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het.” Paulus het ook gesê: “So behoort die mans hul eie vroue lief te hê soos hul eie liggame. Wie sy eie vrou liefhet, het homself lief; want niemand het ooit sy eie vlees gehaat nie, maar hy voed en koester dit, net soos die Here die gemeente . . . Elkeen van julle [moet] ook afsonderlik sy eie vrou liefhê net soos homself.” ’n Man moet “sy eie vrou liefhê net soos homself”—asof sy hy is. Hoe gepas tog, aangesien ‘die twee een vlees geword het’!—Genesis 2:24.

10. Watter verantwoordelikheid het ’n Christenman volgens 1 Timotheüs 5:8?

10 ’n Man wat sy vrou soos homself liefhet, sal die leiding gee in geestelike aangeleenthede. Hy dra die verantwoordelikheid vir die situasie in sy gesin en kan nie met reg toelaat dat sake maar net hul gang gaan nie. Nee, hy moet goed in die materiële en geestelike behoeftes van die hele huisgesin voorsien. Paulus het gesê: “lemand wat vir sy eie mense, en veral sy huisgenote, nie sorg nie, het die geloof verloën en is slegter as ’n ongelowige.”—1 Timotheüs 5:8.

11. Wat was Paulus se raad vir Christenvrouens?

11 ’n Christenvrou kan baie doen om die huis ’n plek van rus en vrede te maak. Paulus gee vrouens hierdie geïnspireerde raad: “Vroue, wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here. Want die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente; en Hy is die Verlosser van die liggaam. Maar soos die gemeente aan Christus onderdanig is, so moet die vroue dit ook in alles aan hul eie mans wees. . . . Die vrou moet [diep respek vir haar man hê]” (Efesiërs 5:22-24, 33, vgl. NW). Hierdie “diep respek” help om die huis ’n plek van rus en vrede te maak. Dit verskil gewis grootliks van die gesindheid van so baie wêreldse vrouens wat ’n onafhanklike, uitdagende gees het wat ’n huis versteur en ontwrig.

12. Hoe moet Christenmans en -vrouens optree?

12 Christenmans en -vrouens moet só optree dat dit liefde en respek bevorder. Die man moet bedagsaam, liefdevol en geestelik ryp wees. En die vrou moet godvresend, saamwerkend en beminlik wees. Dit is nie moeilik om te sien hoe sulke gesindhede ’n huis ’n plek van rus en vrede sal maak nie.

“Gee aan die duiwel geen plek nie”

13. Watter raad gee Paulus in Efesiërs 4:26, 27?

13 Aangesien mense onvolmaak is, is dit nie altyd maklik om ’n huis vreedsaam te hou nie. Druk van buite kan byvoorbeeld spanning tot gevolg hê wat die huis van vrede kan beroof. Maar die toepassing van Paulus se raad in Efesiërs 4:26, 27 kan tot die rustigheid van ons huise bydra. Paulus het geskryf: “Word toornig en moenie sondig nie; laat die son nie ondergaan oor julle toorn nie; en gee aan die duiwel geen plek nie.” Al word ’n man of ’n vrou soms tereg kwaad, moet nie een van hulle ooit toelaat dat hierdie woede ’n sonde word deur vertoornd te bly en vyandigheid te koester nie. Mag ons nooit toelaat dat die vredeverstoorder, Satan die Duiwel, ons Christelike huise van vrede beroof nie!—1 Petrus 5:8.

14. Wat kan gedoen word om huislike vrede te herstel as ’n probleem ontwrigting veroorsaak het?

14 Natuurlik moet albei huweliksmaats Bybelraad toepas om huislike vrede te kan geniet. As ’n probleem ontwrigting veroorsaak, kan gesamentlike gebed om God se gees meebring dat die vrugte van die gees aan die dag gelê en huislike vrede herstel word (Lukas 11:13; Galasiërs 5:22, 23). Ja, hierdie handelwyse sal, selfs onder die beproewendste omstandighede, help om die huis ’n plek van rus en vrede te maak.

Die rol van kinders in gesinsvrede

15. Hoe kan kinders help om gesinsvrede te bevorder?

15 Kinders kan ook help om gesinsvrede te bevorder. Hoe? Deur ’n gees van gehoorsaamheid en samewerking aan die dag te lê. So ’n gees hang in groot mate af van die Skriftuurlike onderrig wat hulle ontvang en van die manier waarop ’n Christenouer sy individuele rol as onderrigter vervul. Ouers se regte voorbeeld is ’n deel van hierdie lewensbelangrike opleiding. Soos Spreuke 22:6 dit raak uitdruk: “Oefen die seun volgens die eis van sy weg; dan sal by, ook as by oud word, daar nie van afwyk nie.” Met goeie opleiding en ’n voortreflike ouerlike voorbeeld wyk kinders gewoonlik nie van die regte weg af nie. Maar baie hang natuurlik af van die gehalte en omvang van die opleiding, sowel as van die kind se hart.

16. Watter voorbeeld ten opsigte van die opleiding van kinders het ons in Timotheüs se geval?

16 Begin jou kinders geestelik oplei terwyl hulle baie jonk is. Dit is in Timotheüs se geval gedoen, want Paulus het hom gemaan: “Bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is [“wat jy oortuig is om te glo”, NW], omdat jy weet van wie jy dit geleer het, en dat jy van kleins of die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus” (2 Timotheüs 3:14, 15). Ja, Timotheüs is “oortuig” om Skriftuurlike waarhede te glo. ’n Griekse woord word hier gebruik wat beteken “om vas oortuig te wees van; om verseker te wees van” iets (New Thayer’s Greek-English Lexicon, bladsy 514). Daardie ‘vaste oortuiging’ het groot inspanning van Timotheüs se Christenmoeder, Eunice, en -grootmoeder, Loïs, geverg. Hulle het daarin geslaag om “ongeveinsde geloof” in Timotheüs te bou, al was sy vader blykbaar ’n ongelowige (2 Timotheüs 1:5). Lê jy jou daarop toe om soortgelyke geloof in jou kinders te bou?

17. Watter getuienis is daar dat ’n mens van kleins of geleer kan word?

17 Timotheüs is van kleins of die Skrif geleer. Moet derhalwe nooit ’n kind se leervermoë onderskat nie. The New York Times het berig dat een studie getoon het dat “kinders twee keer soveel sinaptiese verbindings—plekke waar die boomagtige vertakkings van breinselle ontmoet—in sekere dele van hulle brein het as volwassenes”. Selfs baie jong kindertjies kan iets leer omtrent wat goed en wat sleg, aangenaam of pynlik, is. In sy boek The Brain sê Richard M. Restak, M.D.: “In alle lewende organismes kan herinneringe volgens hulle belangrikheid vir oorlewing in die brein bewaar word. ’n Dier ‘onthou’ sy roofvyand en vlug sodra sy vyand nader kom. Herinneringe word ook ooreenkomstig die intensiteit van emosionele ervaringe vasgelê. As kinders hoef ons nie meer as een keer gewaarsku te word om nie ons hande op ’n warm stoof te sit nie.” Daar moet natuurlik nog heelwat omtrent die brein se funksies geleer word, maar ’n kind kan uit ondervinding leer. Selfs as ’n kind nog baie jonk is, kan by geleer word om by Christenvergaderinge stil te sit.

18. Watter raad het Paulus in Efesiërs 6:1-4 aan kinders en ouers gegee?

18 Namate kinders ouer word, kan hulle progressief geestelike onderrig inneem. Hulle kan onder andere leer dat God van hulle verwag dat hulle hul ouers gehoorsaam. Dit vereis ferm maar liefdevolle opleiding deur die ouers, want Paulus het geskryf: “Kinders, julle moet jul ouers gehoorsaam wees in die Here, want dit is reg. Eer jou vader en jou moeder—dit is die eerste gebod met ’n belofte—sodat dit met jou goed mag gaan en jy lank mag lewe op die aarde. En vaders, moenie julle kinders vertoorn nie, maar voed hulle op in die tug en vermaning van die Here” (Efesiërs 6:1-4). Gehoorsame kinders help grootliks om die huis ’n plek van rus en vrede te maak.

19. Wat kan die band tussen ouer en kind versterk?

19 Maar wat kan die band tussen ouer en kind versterk? Daardie band word beslis hegter as hulle saam die Bybel en Christelike lektuur lees. Publikasies soos My boek met Bybelverhale en Luister na die Groot Onderwyser is veral nuttig om kinders te help. Beklemtoon liefde vir God wanneer julle die Bybel lees sowel as op ander tye. Loof Jehovah as die Groot Voorsiener terwyl julle ’n maaltyd nuttig. Skryf die skeppingswonders—plante, blomme, bome, berge, strome, mere en dierelewe—aan God toe wanneer jy saam met jou kinders reis. Benut geleenthede om oor God se liefde te praat wanneer julle saam aan die veldbediening deelneem. Help jou kind daagliks om meer liefde vir Jehovah as ’n persoon op te bou. Sulke liefde moet natuurlik in jou eie hart wees voordat jy jou kind se hart kan bereik.—Deuteronomium 6:4-7.

20. Hoe belangrik is behoorlike dissipline?

20 Moet nooit vergeet dat dissipline noodsaaklik is nie. Wanneer dit reg toegedien en ontvang word, “lewer dit . . . ’n vredevolle vrug van geregtigheid” (Hebreërs 12:11). En kinders wat hulle verstandig aan ouerlike dissipline onderwerp, bring vir die gesin vreugde en eer mee en hou die gesin se goeie naam hoog (Spreuke 10:1; 13:1; 23:24, 25). Deur hulle Skriftuurlike rolle te vervul, maak ouers en kinders hulle huis inderdaad ’n plek van rus en vrede.

Handhaaf ’n huis van rus en vrede

21. Hoe kan ’n huis volgens Spreuke 24:3, 4 as ’n plek van rus en vrede in stand gehou word?

21 Hoe kan ’n huis ’n plek van rus en vrede gehou word? ’n Spreuk sê: “Deur wysheid word ’n huis gebou, en deur verstand word dit bevestig; en deur kennis word die kamers gevul met allerhande kosbare en lieflike goed” (Spreuke 24:3, 4). Deur die kennis en werk van ’n vlytige gesin kan ’n huis met pragtige materiële dinge gevul word. Maar ’n huisgesin kan alleenlik opgebou en op ’n vaste grondslag bevestig word as die gesinslede onderskeidingsvermoë en goddelike wysheid aan die dag lê deur Skriftuurlike kennis reg toe te pas. Ja, wysheid bou ’n gesin op en maak die sukses daarvan as ’n eenheid moontlik.

22. Die toepassing van God se raad sal wat tot gevolg hê?

22 Wanneer God se raad in ’n huisgesin toegepas word, sal dit vrede meebring, want daar is vir die Israeliete gesê: “Ek is die HERE jou God, wat jou leer wat heilsaam is, wat jou lei op die weg wat jy moet gaan. Ag, as jy maar na my gebooie geluister het, dan sou jou vrede gewees het soos ’n rivier en jou geregtigheid soos die golwe van die see” (Jesaja 48:17, 18). Mag alle godvresende mans, vrouens en kinders dus hemelse wysheid toepas. Dan sal ons huise altyd plekke van rus en vrede wees.

Onthou jy?

◻ Watter keuse moet ’n ongetroude Christen wat aan trou dink, maak om ’n rustige huislike lewe te hê?

◻ Wat moet mans en vrouens volgens Efesiërs 5:21-33 doen om huislike vrede te bewerkstellig?

◻ Hoe kan die toepassing van die raad in Efesiërs 4:26, 27 help om die huis ’n plek van vrede te maak?

◻ Hoe kan kinders tot gesinsvrede bydra?

◻ Hoe kan ons ons huise plekke van rus en vrede hou?

[Prent op bladsy 17]

Christenmans en -vrouens moet só optree dat dit liefde en respek bevorder

[Prent op bladsy 18]

Timotheüs is van kleins af God se waarhede geleer. Help jy jou kinders om groter kennis van en liefde vir Jehovah te verkry?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel