Praktiese lesse uit die Beloofde Land
DIE Beloofde Land van die Bybel was beslis uniek. In hierdie relatiewe klein gebied vind ons ’n groot verskeidenheid aardrykskundige kenmerke. In die noorde is daar sneeubedekte berge, en in die suide warm streke. Daar is vrugbare laaglande, verlate woestyngebiede en heuwellande vir boorde en weiding.
Die verskil in hoogte, klimaat en grond bring mee dat ’n groot verskeidenheid bome, struike en ander plante in die gebied voorkom—waaronder sommige wat goed in die koue alpynse streke aard, ander wat in die skroeiende woestyn groei en nog ander wat op die alluviale vlakte of die rotsplato floreer. Een plantkundige reken dat sowat 2 600 plantsoorte in die gebied gevind kan word! Die eerste Israeliete wat die land verken het, het onmiddellik bewys van die land se potensiaal gesien. Hulle het uit een stroomdal ’n tros druiwe teruggebring wat só groot was dat twee mans dit tussen hulle aan ’n drastok moes dra! Die dal is gepas Eskol genoem, wat “Tros [Druiwe]” beteken.a—Numeri 13:21-24.
Maar kom ons bekyk nou party van die aardrykskundige kenmerke van hierdie unieke strook land van naderby, veral in die suidelike deel daarvan.
Die Sjefela
Die westelike grens van die Beloofde Land is sy kus langs die Middellandse See. Ongeveer 40 kilometer na die binneland is die Sjefela. Die woord “Sjefela” beteken “Laagland”, maar in werklikheid is hierdie ’n heuwelagtige gebied en kan alleenlik laag genoem word wanneer dit met die berge van Juda na die ooste vergelyk word.
Kyk na die bygaande dwarssneekaart en let op die verhouding van die Sjefela tot die omliggende gebiede. Na die ooste is die berge van Juda, en na die weste die kusvlakte van Filistea. Die Sjefela het dus as ’n buffersone gedien, wat in Bybeltye ’n skeiding tussen God se volk en hulle eertydse vyande gevorm het. Enige invallende leër vanuit die weste sou eers deur die Sjefela moes kom voordat dit ’n aanval op Jerusalem, die hoofstad van Israel, kon loods.
So ’n voorval het gedurende die negende eeu v.G.J. plaasgevind. Die Bybel sê dat koning Hasael van Sirië “opgetrek en teen Gat [waarskynlik aan die grens van die Sjefela] geveg en dit ingeneem [het]; daarna het Hasael sy aangesig gerig om teen Jerusalem op te trek”. Koning Joas het daarin geslaag om Hasael te stuit deur hom met ’n verskeidenheid kosbaarhede uit die tempel en paleis om te koop. Hierdie verslag lig nietemin toe dat die Sjefela van deurslaggewende belang vir die veiligheid van Jerusalem was.—2 Konings 12:17, 18.
Ons kan ’n praktiese les hieruit leer. Hasael wou Jerusalem inneem, maar hy moes eers deur die Sjefela kom. Satan die Duiwel is eweneens “daarop uit om” God se knegte “te verslind”, maar dikwels moet hy eers deur ’n sterk buffersone dring—hulle getrouheid aan Bybelbeginsels, soos dié in verband met slegte omgang en materialisme (1 Petrus 5:8; 1 Korintiërs 15:33; 1 Timoteus 6:10). Ontrouheid aan Bybelbeginsels is dikwels die eerste stap wat tot ernstige sonde lei. Beskerm dus voortdurend daardie buffersone. Volg vandag Bybelbeginsels; dan sal jy nie môre God se wette verbreek nie.
Die heuwelland van Juda
Verder na die binneland van die Sjefela af lê die heuwelland van Juda. Dit is ’n bergagtige gebied wat goeie graan, olyfolie en wyn gelewer het. Omdat Juda so hoog geleë is, was dit ook ’n uitstekende skuilplek. Koning Jotam het gevolglik “forte en torings” daar gebou. In tye van gevaar kon mense hierheen vlug vir veiligheid.—2 Kronieke 27:4.
Jerusalem, wat ook Sion genoem is, was ’n belangrike deel van die heuwelland van Juda. Jerusalem het veilig gelyk aangesien dit aan drie kante deur steil valleie omring is, en die noordekant is, volgens die eerste-eeuse geskiedskrywer Josefus, deur ’n driedubbele muur beskerm. Maar ’n skuilplek het meer as net mure en wapens nodig om die veiligheid daarvan te verseker. Dit moet ook water hê. Dit is noodsaaklik gedurende ’n beleëring, want sonder water sal vasgekeerde burgers weldra gedwing word om oor te gee.
Jerusalem het water uit die Siloampoel getrek. Koning Hiskia het egter gedurende die agtste eeu v.G.J., ter voorbereiding vir ’n beleëring deur die Assiriërs, ’n buitemuur gebou om die Siloampoel te beskerm en dit sodoende ’n deel van die stad gemaak. Hy het ook die fonteine buite die stad toegestop sodat dit vir die invallende Assiriërs moeilik sou wees om water vir hulleself te kry (2 Kronieke 32:2-5; Jesaja 22:11). Dit is nie al nie. Hiskia het ’n manier gevind om ’n ekstra waterbron tot reg in Jerusalem af te lei!
In wat al een van die groot ingenieursprestasies van die ou tyd genoem is, het Hiskia ’n tonnel van die Gihonfontein reg tot by die Siloampoel laat grawe.b Hierdie tonnel was gemiddeld 1,8 meter hoog en was 533 meter lank. Stel jou dit voor—’n tonnel wat langer as ’n halwe kilometer is en deur rots gekap is! Vandag, sowat 2 700 jaar later, kan besoekers aan Jerusalem deur hierdie meesterstuk van ingenieursvernuf waad, wat algemeen as Hiskia se tonnel bekend staan.—2 Konings 20:20; 2 Kronieke 32:30.
Hiskia se pogings om Jerusalem se watervoorraad te beskerm en te vermeerder, hou ’n praktiese les vir ons in. Jehovah is “die fontein van lewende water” (Jeremia 2:13). Sy gedagtes, wat in die Bybel vervat is, is lewensonderhoudend. Dit is waarom persoonlike Bybelstudie noodsaaklik is. Maar geleenthede om te studeer en die kennis wat daaruit voortspruit, sal nie net vanself na jou toe kom nie. Jy moet dalk as ’t ware ‘tonnels grawe’ deur jou propvol daaglikse roetine om daarvoor plek te maak (Spreuke 2:1-5; Efesiërs 5:15, 16). As jy eers begin het, moet jy by jou rooster hou en persoonlike studie ’n hoë prioriteit maak. Pas op dat niemand of niks jou van hierdie kosbare watervoorraad beroof nie.—Filippense 1:9, 10.
Die woestyngebiede
Oos van die berge van Juda is die Woestyn van Juda, wat ook Jesimon, wat “Woestyn” beteken, genoem word (1 Samuel 23:19, NW, voetnoot). By die Soutsee word hierdie barre streek deur rotsagtige klowe en ruwe kranse gekenmerk. Omdat die Woestyn van Juda sowat 1 200 meter in net 24 kilometer daal, is dit teen die reënwinde uit die weste beskut en het dit gevolglik net ’n beperkte reënval. Dit is ongetwyfeld die woestyn waarin die bok vir Asasel op die jaarlikse Versoendag ingestuur is. Dit is ook waarheen Dawid van Saul af weggevlug het. Hier het Jesus 40 dae gevas en is hy daarna deur die Duiwel versoek.—Levitikus 16:21, 22; Psalm 63:1; Matteus 4:1-11.
Ongeveer 160 kilometer suidwes van die Woestyn van Juda is die Woestyn Paran. Baie van die plekke waar Israel laer opgeslaan het gedurende hulle 40 jaar lange trek uit Egipte na die Beloofde Land was in hierdie gebied (Numeri 33:1-49). Moses het geskryf van “die groot en vreeslike woestyn . . . [met] giftige slange en skerpioene en ’n dorsland sonder water” (Deuteronomium 8:15). Dit is ’n wonder dat miljoene Israeliete hier aan die lewe kon bly! Maar Jehovah het vir hulle gesorg.
Mag dit ons help om te onthou dat Jehovah ons ook kan onderskraag, selfs in hierdie geestelik barre wêreld. Ja, ons loop ook tussen slange en skerpioene, al is dit nie noodwendig letterlikes nie. Ons moet dalk daagliks met mense omgaan wat niks daarvan dink om giftige woorde uit te spuug wat ons denke maklik kan beïnvloed nie (Efesiërs 5:3, 4; 1 Timoteus 6:20). Diegene wat daarna streef om God ondanks hierdie struikelblokke te dien, moet geprys word. Hulle getrouheid is ’n kragtige bewys dat Jehovah hulle inderdaad onderskraag.
Die heuwels van Karmel
Die naam Karmel beteken “Boord”. Hierdie vrugbare streek na die noorde, wat sowat 50 kilometer lank is, is oortrek met wingerde en olyf- en vrugtebome. Die voorgebergte van hierdie reeks heuwels is onvergeetlik vanweë sy grasie en prag. Jesaja 35:2 praat van “die sieraad van Karmel” as ’n simbool van die vrugbare glorie van die herstelde land van Israel.
Verskeie merkwaardige gebeure het in Karmel plaasgevind. Hier het Elia die profete van Baäl uitgedaag en het “die vuur van die HERE neergeval” as bewys van Sy oppergesag. Dit was ook van die top van Karmel af dat Elia die aandag op die wolkie gevestig het wat ’n groot reën geword en sodoende op wonderdadige wyse die droogte in Israel beëindig het (1 Konings 18:17-46). Elia se opvolger, Elisa, was by die berg Karmel toe die vrou van Sunem hulp by hom kom vra het vir haar dooie kind, wat Elisa later opgewek het.—2 Konings 4:8, 20, 25-37.
Daar is vandag steeds boorde, olyfbome en wingerde teen die hange van Karmel. Gedurende die lente is hierdie hange bedek met ’n pragtige blommetapyt. “U hoof op u is soos die Karmel”, het Salomo vir die Sulammitiese meisie gesê, moontlik ’n verwysing na die prag van haar hare of na die manier waarop haar mooi gevormde kop majestueus bo haar nek uitgetroon het.—Hooglied 7:5.
Die luisterrykheid wat kenmerkend van die heuwels van Karmel was, herinner ons aan die geestelike prag wat Jehovah aan sy hedendaagse organisasie van aanbidders geskenk het (Jesaja 35:1, 2). Jehovah se Getuies woon waarlik in ’n geestelike paradys, en hulle is dit eens met koning Dawid, wat geskryf het: “Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi.”—Psalm 16:6.
God se geestelike nasie kom weliswaar vandag voor moeilike uitdagings te staan, net soos die eertydse Israeliete voortdurend deur God se vyande teëgestaan is. Maar ware Christene verloor nooit die seëninge uit die oog wat Jehovah voorsien het nie—waaronder die immertoenemende lig van Bybelwaarheid, ’n wêreldwye broederskap en die geleentheid om ewige lewe op ’n paradysaarde te verkry.—Spreuke 4:18; Johannes 3:16; 13:35.
“Soos die tuin van die HERE”
Die Beloofde Land van die ou tyd was ’n lus vir die oë. Dit is heel gepas beskryf as ’n land wat “oorloop van melk en heuning” (Genesis 13:10; Exodus 3:8). Moses het dit beskryf as “’n goeie land, ’n land van waterstrome, fonteine en onderaardse riviere wat in die laagtes en op die berge uitkom; ’n land van koring en gars en wingerdstokke en vyebome en granate; ’n land van olieryke olyfbome en heuning; ’n land waarin jy brood sonder skaarste sal eet, waarin niks jou sal ontbreek nie; ’n land waarvan die klippe yster is, en uit die berge waarvan jy koper sal uitkap”.—Deuteronomium 8:7-9.
As Jehovah so ’n vrugbare, pragtige tuisland aan sy eertydse volk kon gee, dan kan hy beslis aan sy hedendaagse getroue knegte ’n glorieryke, aardwye paradys gee—met berge, valleie, riviere en mere. Ja, die eertydse Beloofde Land met sy verskeidenheid was net ’n voorsmaak van die geestelike paradys wat sy Getuies vandag geniet en van die toekomstige Paradys van die nuwe wêreld. Dáár sal die belofte wat in Psalm 37:29 opgeteken is, vervul word: “Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon.” Hoe gelukkig sal die gehoorsame mensdom tog wees wanneer Jehovah daardie Paradystuiste aan hulle gee en hulle die ewigheid het om al die “vertrekke” daarin van naderby te bekyk!
[Voetnote]
a Dit is opgeteken dat een druiwetros uit hierdie streek 12 kilogram geweeg het en ’n ander een meer as 20 kilogram.
b Die Gihonfontein was net buite die oostelike grens van Jerusalem geleë. Dit was in ’n grot versteek; die Assiriërs het dus waarskynlik nie daarvan geweet nie.
[Kaart op bladsy 4]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
GALILEA
Berg Karmel
See van Galilea
SAMARIA
SJEFELA
Berge van Juda
Soutsee
[Erkenning]
NASA photo
[Kaart op bladsy 4]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Die Sjefela was ’n skeiding tussen God se volk en hulle vyande
MYL 0 5 10
KM 0 8 16
Vlakte van Filistea
Sjefela
Heuwelland van Juda
Woestyn van Juda
Skeurvallei
Soutsee
Land van Ammon en Moab
[Kaart/Prent op bladsy 5]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Hiskia se tonnel: 533 meter lank, wat deur soliede rots gekap is
Tyropoeon-vallei
Siloam
STAD VAN DAWID
Kidronvallei
Gihon
[Prente op bladsy 6]
Dawid het in die Woestyn van Juda skuiling gesoek toe hy van Saul gevlug het. Later is Jesus hier deur die Duiwel versoek
[Erkenning]
Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.
[Prente op bladsy 7]
Berg Karmel, waar Elia die profete van Baäl verneder het
[Erkenning]
Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.
[Prente op bladsy 8]
“Die HERE jou God bring jou in ’n goeie land, ’n land van waterstrome, fonteine en onderaardse riviere wat in die laagtes en op die berge uitkom.”—Deuteronomium 8:7