Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w95 8/15 bl. 17-22
  • “My juk is sag en my vrag is lig”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “My juk is sag en my vrag is lig”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Sagte juk
  • ’n Ligte vrag
  • “Verkwikking vir julle siele”
  • ‘Vind verkwikking vir julle siel’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Jesus het verkwikking gebied
    Ons Christelike lewe en bediening — Vergaderingwerkboek — 2018
  • Verligting van spanning—Praktiese hulp
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • “Kom na my toe, . . . en ek sal julle verkwik”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2019
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
w95 8/15 bl. 17-22

“My juk is sag en my vrag is lig”

“Neem my juk op julle en leer by my.”—MATTEUS 11:29.

1, 2. (a) Wat het jy in die lewe ondervind wat vir jou verkwikkend is? (b) Wat moet ’n mens doen om die verkwikking te ontvang wat Jesus belowe het?

’N KOEL stort aan die einde van ’n warm en bedompige dag of ’n goeie nagrus ná ’n lang en vermoeiende reis—o, hoe verkwikkend is dit tog! So is dit as ’n swaar las van jou skouers geneem word of wanneer sondes en oortredings vergewe word (Spreuke 25:25; Handelinge 3:19). Die verkwikkende uitwerking van sulke besielende ondervindings gee ons krag, en ons word versterk om voort te gaan.

2 Almal wat swaar belaai en vermoeid voel, kan na Jesus toe kom, want dit is juis wat hy hulle belowe het—verkwikking. Maar om die verkwikking te vind wat so begeerlik is, is daar iets wat ’n mens bereid moet wees om te doen. “Neem my juk op julle en leer by my”, het Jesus gesê, “en julle sal verkwikking vir julle siele vind” (Matteus 11:29). Wat is hierdie juk? Hoe bring dit verkwikking?

’n Sagte juk

3. (a) Watter soort jukke is in Bybeltye gebruik? (b) Watter figuurlike betekenis word met ’n juk geassosieer?

3 Omdat Jesus en dié wat na hom geluister het in ’n landbougemeenskap gewoon het, was hulle goed bekend met die juk. ’n Juk is basies ’n lang houtbalk wat aan die onderkant op twee plekke weggesny is en oor die nekke van twee trekdiere, gewoonlik osse, pas sodat hulle saam ingespan kan word om ’n ploeg, ’n wa of die een of ander vrag te trek (1 Samuel 6:7). Jukke is ook vir mense gebruik. Dit was bloot ’n balk of paal wat oor die skouers gedra is met ’n vrag wat aan elke punt vasgemaak was. Hiermee kon arbeiders swaar vragte dra (Jeremia 27:2; 28:10, 13). Weens die juk se assosiasie met laste en arbeid, word dit dikwels figuurlik in die Bybel gebruik om oorheersing en dwang te simboliseer.—Deuteronomium 28:48; 1 Konings 12:4; Handelinge 15:10.

4. Wat word deur die juk gesimboliseer wat Jesus diegene aanbied wat na hom toe kom?

4 Wat is dan die juk wat Jesus diegene wat vir verkwikking na hom toe kom, genooi het om op hulleself te neem? Onthou dat hy gesê het: “Neem my juk op julle en leer by my” (Matteus 11:29). ’n Leerling is ’n dissipel. Om Jesus se juk op te neem, beteken dus bloot om sy dissipel te word (Filippense 4:3). Dit vereis egter meer as om net sy leringe te ken. Dit vereis dat ons in ooreenstemming daarmee optree—om die werk te doen wat hy gedoen het en te lewe soos hy gelewe het (1 Korintiërs 11:1; 1 Petrus 2:21). Dit vereis gewillige onderdanigheid aan sy gesag en aan diegene aan wie hy gesag oorgedra het (Efesiërs 5:21; Hebreërs 13:17). Dit beteken dat ’n mens ’n toegewyde, gedoopte Christen word en al die voorregte en verantwoordelikhede aanvaar wat met so ’n toewyding gepaardgaan. Dit is die juk wat Jesus almal aanbied wat na hom toe kom vir troos en verkwikking. Is jy bereid om dit te aanvaar?—Johannes 8:31, 32.

5. Waarom is dit nie swaar om Jesus se juk op te neem nie?

5 Om verkwikking te vind deur ’n juk op te neem—is dit nie ’n weerspreking nie? Dit is in werklikheid nie, want Jesus het gesê sy juk is “sag”. Hierdie woord dra die betekenis van lig, aangenaam en genotvol (Matteus 11:30; Lukas 5:39; Romeine 2:4; 1 Petrus 2:3). As ’n professionele timmerman het Jesus heel waarskynlik ploeë en jukke gemaak, en hy sou geweet het hoe om ’n juk te vorm sodat die maksimum werk so gemaklik moontlik verrig kon word. Hy het die jukke moontlik met lap of leer afgewerk. Baie word so gemaak sodat dit nie die nek onnodig sal skaaf of skuur nie. Die figuurlike juk wat Jesus ons aanbied, is op soortgelyke wyse “sag”. Alhoewel dit sekere verpligtinge en verantwoordelikhede insluit om ’n dissipel van hom te wees, is dit nie swaar of onderdrukkend nie, maar ’n verkwikkende ervaring. Die gebooie van sy Hemelse Vader, Jehovah, is ook nie swaar nie.—Deuteronomium 30:11; 1 Johannes 5:3.

6. Wat kon Jesus bedoel het toe hy gesê het: “Neem my juk op julle”?

6 Daar is nog iets wat Jesus se juk “sag” maak, of maklik maak om te dra. Toe hy gesê het: “Neem my juk op julle”, kon hy een van twee dinge bedoel het. As hy die dubbele juk in gedagte gehad het, dit wil sê die soort wat twee trekdiere saambind om die vrag te trek, dan het hy ons genooi om saam met hom onder dieselfde juk in te kom. Wat ’n seën sal dit tog nie wees nie—om Jesus langs ons te hê om saam met ons ons vrag te trek! As Jesus daarenteen die jukstok in gedagte gehad het wat deur die gewone arbeider gebruik is, dan het hy ons vertel hoe ons enige vrag wat ons ook al moet dra makliker of draagliker kan maak. Hoe dit ook al sy, sy juk is ’n bron van ware verkwikking omdat hy ons verseker: “Ek is saggeaard en nederig van hart.”

7, 8. Watter fout maak party wanneer hulle onder spanning verkeer?

7 Wat moet ons dan doen as ons voel dat die vrag lewensprobleme wat ons dra ondraaglik word en dat ons soveel spanning verduur dat ons breekpunt bereik het? Party voel dalk verkeerdelik dat die juk om ’n dissipel van Jesus Christus te wees te hard of te veeleisend is, hoewel dit eintlik die daaglikse sorge is waaronder hulle gebuk gaan. Party mense in daardie situasie hou op om Christelike vergaderinge by te woon of hulle neem nie meer aan die bediening deel nie omdat hulle dink dat dit hulle miskien ’n bietjie verligting kan gee. Maar dit is ’n ernstige fout.

8 Ons besef dat die juk wat Jesus aanbied “sag” is. As ons dit nie reg opsit nie, sal dit ons skaaf. As dít die geval is, moet ons die juk op ons skouers van naderby bekyk. As die juk, om die een of ander rede, stukkend is of nie reg pas nie, sal dit nie net meer inspanning van ons kant af verg om dit te dra nie, maar dit sal ’n mate van pyn tot gevolg hê. Met ander woorde, as teokratiese bedrywighede vir ons soos ’n las begin lyk, moet ons kyk of ons dit op die regte manier behartig. Wat is ons beweegrede vir dit wat ons doen? Is ons goed voorbereid wanneer ons na die vergaderinge gaan? Is ons fisies en geestelik voorbereid wanneer ons aan die veldbediening deelneem? Geniet ons ’n hegte en gesonde verhouding met ander in die gemeente? En, bowenal, hoe is ons persoonlike verhouding met Jehovah God en sy Seun, Jesus Christus?

9. Waarom behoort die Christelike juk nooit ’n ondraaglike las te wees nie?

9 Wanneer ons die juk wat Jesus aanbied heelhartig aanvaar en leer om dit reg te dra, is daar geen rede waarom dit ooit soos ’n ondraaglike las moet voel nie. Trouens, as ons die situasie kan visualiseer—Jesus onder dieselfde juk saam met ons—is dit nie vir ons moeilik om te sien wie werklik die grootste deel van die las dra nie. Dit is soortgelyk aan ’n kleuter wat aan die handvatsels van sy stootwaentjie vashou en dink dat hy dit vorentoe stoot, terwyl dit in werklikheid natuurlik die ouer is wat dit doen. As ’n liefdevolle Vader is Jehovah God deeglik bewus van ons beperkings en hoe swak ons is en voorsien hy deur Jesus Christus in ons behoeftes. “God [sal] ten volle in al julle behoeftes voorsien na die mate van sy rykdom in heerlikheid deur middel van Christus Jesus”, het Paulus gesê.—Filippense 4:19; vergelyk Jesaja 65:24.

10. Wat was die ondervinding van iemand wat dissipelskap in ’n ernstige lig beskou?

10 Talle toegewyde Christene het deur persoonlike ondervinding tot dié besef gekom. Daar is byvoorbeeld Jenny wat elke maand aan die hulppionierdiens deelneem terwyl sy ’n veeleisende voltydse werk het en vind dat dit haar onder baie druk plaas. Sy meen egter dat die pionierdiens haar in werklikheid help om haar balans te handhaaf. Om mense Bybelwaarhede te leer en te sien hoe hulle hulle lewe verander om God se goedkeuring te verkry—dít is wat haar die grootste vreugde in haar besige lewe bring. Sy stem heelhartig saam met die woorde van die spreuk wat sê: “Die seën van Jehovah—dit maak ryk‚ en hy voeg daar geen smart by nie.”—Spreuke 10:22, NW.

’n Ligte vrag

11, 12. Wat het Jesus bedoel toe hy gesê het: “My vrag is lig”?

11 Behalwe dat Jesus ons ’n “sagte” juk belowe, bied hy ons ook die versekering: “My vrag is lig.” ’n “Sagte” juk maak al klaar die werk makliker; as die vrag boonop ligter gemaak word, is die werk waarlik ’n plesier. Maar wat het Jesus met daardie stelling in gedagte gehad?

12 Dink wat ’n boer sou doen as hy sy diere vir ’n ander werk wou inspan, sê byvoorbeeld om ’n wa te trek nadat hulle in ’n land geploeg het. Hy sou eers die ploeg afhaal en dan die wa vasmaak. Hy sou dwaas wees om die ploeg en die wa tegelykertyd aan die diere vas te maak. Jesus het insgelyks nie vir die mense gesê om sy vrag bo-op die een te sit wat hulle reeds dra nie. Hy het vir sy dissipels gesê: “Geen huiskneg kan ’n slaaf van twee here wees nie” (Lukas 16:13). Jesus het die mense dus ’n keuse gebied. Sou hulle eerder aanhou om die swaar vrag wat hulle gehad het te dra of sou hulle dit neersit en aanvaar wat hy hulle aangebied het? Jesus het hulle liefdevol aangespoor deur te sê: “My vrag is lig.”

13. Watter vrag het die mense in Jesus se dag gedra, en wat was die gevolg?

13 In Jesus se dag het die mense onder ’n swaar vrag gebuk gegaan wat die onderdrukkende Romeinse heersers en die formalistiese, skynheilige godsdiensleiers hulle opgelê het (Matteus 23:23). In ’n poging om die Romeinse vrag af te skud, het party mense sake in eie hande probeer neem. Hulle het by politieke strewes betrokke geraak en gevolglik ’n rampspoedige einde gehad (Handelinge 5:36, 37). Ander was vasbeslote om hulle lot te verbeter deur diep betrokke te raak by materialistiese strewes (Matteus 19:21, 22; Lukas 14:18-20). Toe Jesus hulle die weg tot verligting gebied het deur hulle te nooi om sy dissipels te word, was nie almal bereid om dit te aanvaar nie. Hulle het gehuiwer om die vrag wat hulle gedra het, al was dit hoe swaar, neer te sit en syne op te neem (Lukas 9:59-62). Wat ’n tragiese fout!

14. Hoe kan die sorge van die lewe en materiële begeertes ons swaar belaai?

14 As ons nie versigtig is nie, kan ons vandag dieselfde fout maak. As ons Jesus se dissipels word, bevry dit ons van die strewe na dieselfde doelwitte en waardes wat die mense van die wêreld het. Hoewel ons steeds hard moet werk om die daaglikse benodigdhede te bekom, maak ons nie hierdie dinge die middelpunt van ons lewe nie. Tog kan die sorge van die lewe en die aanloklikheid van materiële geriewe ’n kragtige houvas op ons hê. As ons dit toelaat, kan sulke begeertes selfs die waarheid verstik wat ons so gretig aangeneem het (Matteus 13:22). Ons kan so betrokke raak by die vervulling van sulke begeertes dat ons Christelike verantwoordelikhede vermoeiende verpligtinge word wat ons net uit die pad wil kry en vinnig wil afhandel. Ons kan sekerlik nie verwag om enige verkwikking te vind in ons diens aan God as dit in daardie gees gedoen word nie.

15. Watter waarskuwing het Jesus aangaande materiële begeertes gerig?

15 Jesus het daarop gewys dat ons ’n lewe van tevredenheid kan hê, nie deur al ons begeertes te probeer bevredig nie, maar deur seker te maak van die belangriker dinge in ons lewe. “Hou op om besorg te wees oor julle siel, oor wat julle sal eet of wat julle sal drink, of oor julle liggaam, oor wat julle sal dra”, het hy gemaan. “Beteken die siel nie meer as voedsel en die liggaam meer as klere nie?” Toe het hy die aandag op die voëls van die hemel gevestig en gesê: “Hulle saai nie saad nie en hulle maai nie en hulle maak nie in voorraadskure bymekaar nie; nogtans voed julle hemelse Vader hulle.” Met verwysing na die lelies van die veld het hy gesê: “Hulle swoeg nie, en hulle spin ook nie; maar ek sê vir julle dat nie eens Salomo in al sy heerlikheid soos een van hulle geklee was nie.”—Matteus 6:25-29.

16. Wat het ondervinding getoon aangaande die gevolge van materiële strewes?

16 Kan ons iets uit hierdie eenvoudig dog treffende lesse leer? Dit is ’n algemene ervaring dat hoe harder iemand daarna streef om op materiële gebied sy lot in die lewe te verbeter, hoe meer raak hy in wêreldse strewes verstrengel en hoe swaarder word die las op sy skouers. Die wêreld is vol sakemanne wat met gebroke gesinne, verwoeste huwelike, swak gesondheid en nog meer vir hulle materiële sukses betaal het (Lukas 9:25; 1 Timoteus 6:9, 10). Die Nobelpryswenner Albert Einstein het op ’n keer gesê: “Besittings, uiterlike sukses, publisiteit, weelde—hierdie dinge was nog altyd vir my veragtelik. Ek glo dat ’n eenvoudige en beskeie lewenswyse vir almal die beste is.” Dit is maar net ’n herhaling van die apostel Paulus se eenvoudige raad: “Dit is ongetwyfeld ’n middel tot groot gewin, hierdie godvrugtige toegewydheid tesame met vergenoegdheid.”—1 Timoteus 6:6.

17. Watter lewenswyse beveel die Bybel aan?

17 Daar is ’n belangrike aspek wat ons nie oor die hoof moet sien nie. Hoewel “’n eenvoudige en beskeie lewenswyse” baie voordele inhou, bring dit op sigself nie tevredenheid mee nie. Daar is baie wat weens omstandighede ’n eenvoudige lewenswyse voer, tog is hulle alles behalwe tevrede of gelukkig. Die Bybel spoor ons nie aan om materiële genietinge te laat vaar en soos ’n kluisenaar te lewe nie. Die klem is op godvrugtige toegewydheid, nie vergenoegdheid nie. Dit is slegs wanneer ons die twee kombineer dat ons die “middel tot groot gewin” het. Watter gewin? Verder in dieselfde brief wys Paulus daarop dat diegene wat ‘hulle hoop nie op onsekere rykdom vestig nie, maar op God, vir hulleself ’n voortreflike fondament vir die toekoms as ’n skat veilig sal weglê, sodat hulle ’n stewige houvas op die werklike lewe kan kry’.—1 Timoteus 6:17-19.

18. (a) Hoe kan ’n mens ware verkwikking vind? (b) Hoe moet ons die veranderinge beskou wat ons dalk moet aanbring?

18 Ons sal verkwik word as ons leer om die persoonlike swaar vrag wat ons dalk dra, neer te sit en die ligte vrag op te neem wat Jesus ons aanbied. Baie wat hulle lewe herorganiseer het sodat hulle ’n groter aandeel in die Koninkryksdiens kan hê, het die weg na ’n lewe van geluk en tevredenheid gevind. Dit verg natuurlik geloof en moed van iemand om so ’n verandering aan te bring, en daar kan hindernisse in die pad wees. Maar die Bybel herinner ons: “Wie op die wind ag gee, sal nie saai nie; en wie na die wolke kyk, sal nie oes nie” (Prediker 11:4). Baie dinge is werklik nie so moeilik as ons ons eers voorgeneem het om dit te doen nie. Om die besluit te neem, is blykbaar die moeilikste deel. Ons kan onsself gedaan maak deur met die gedagte te worstel of dit te weerstaan. As ons ons verstandelik daarop voorberei en die uitdaging aanvaar, sal ons dalk verbaas wees om te sien wat ’n seëning dit uiteindelik meebring. Die psalmis het ons aangespoor: “Smaak en sien dat die HERE goed is.”—Psalm 34:9; 1 Petrus 1:13.

“Verkwikking vir julle siele”

19. (a) Wat kan ons verwag namate wêreldtoestande steeds agteruitgaan? (b) Waarvan kan ons verseker wees terwyl ons onder Jesus se juk is?

19 Die apostel Paulus het die eerste-eeuse dissipels herinner: “Ons moet deur baie verdrukkinge heen in die koninkryk van God ingaan” (Handelinge 14:22). Dit is tot vandag toe nog die geval. Namate wêreldtoestande steeds agteruitgaan, sal die druk op almal wat vasbeslote is om ’n lewe van regverdigheid en godvrugtige toegewydheid te lei selfs groter word (2 Timoteus 3:12; Openbaring 13:16, 17). Tog voel ons soos Paulus toe hy gesê het: “Ons word in elke opsig geknel, maar nie só vasgekeer dat ons nie kan beweeg nie; ons is raadop, maar nie heeltemal sonder uitweg nie; ons word vervolg, maar nie in die steek gelaat nie; ons word neergewerp, maar nie vernietig nie.” Die rede is dat ons op Jesus Christus kan vertrou om ons die krag wat bo die normale is te gee (2 Korintiërs 4:7-9). As ons die juk van dissipelskap heelhartig aanvaar, sal ons die vervulling van Jesus se belofte geniet: “Julle sal verkwikking vir julle siele vind.”—Matteus 11:29.

Kan jy verduidelik?

◻ Wat is die sagte juk wat Jesus aangebied het?

◻ Wat moet ons doen as ons voel dat ons juk ’n las word?

◻ Wat het Jesus bedoel toe hy gesê het: “My vrag is lig”?

◻ Hoe kan ons seker maak dat ons vrag lig bly?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel