Getroue huisgesinne bespoedig die vermeerdering in Sri Lanka
SRI LANKA, wat tot 1972 Ceylon genoem is, is ’n lieflike eiland met strande wat deur palmbome omsoom word, bergreekse en klein woestyne. Op die hoogland is Adamspiek, wat 2 243 meter hoog is en ’n heilige terrein vir vier groot godsdienste is.a Daar naby is World’s End, ’n platorand waar die rotswand skielik met meer as 1 500 meter daal. Dié plek bied een van Sri Lanka se pragtigste uitsigte.
Die 18 miljoen inwoners van Sri Lanka het ’n interessante agtergrond. Sedert die vyfde eeu v.G.J. het mense van Indo-Europese herkoms uit noordelike Indië die eiland bevolk. Hulle is die Singalese, wat nou bykans driekwart van die bevolking uitmaak. Toe, tot omtrent die 12de eeu, het ’n stroom Tamils uit suidelike Indië gekom; hulle woon nou hoofsaaklik in die noorde en die ooste van die eiland. Die Portugese, Nederlanders en Britte het ook uit die koloniale dae hulle stempel afgedruk. Seevarende handelaars van die Arabiese en Maleise skiereilande het ook tussen die plaaslike mense gaan woon. Daar is ook nedersettings van Europeërs, Parse, Chinese en ander.
Naas die verskeidenheid van rasse, weerspieël die tale en godsdienste in Sri Lanka sy uiteenlopende agtergrond. Die eiland se hooftale is Singalees, Tamil en Engels. Baie Sri Lankaners praat ten minste twee van die drie. Etniese agtergronde speel ook ’n belangrike rol in die volk se godsdienste. Die meeste Singalese is Boeddhiste, terwyl die meeste Tamils Hindoes is. Dié wat Arabiese of Maleise verbintenisse het, is gewoonlik aanhangers van Islam, terwyl diegene met ’n Europese agtergrond gewoonlik lidmate van die Christendom se kerke is, hetsy Katoliek of Protestant.
Hoe hulle die uitdaging die hoof bied
Al hierdie omstandighede is ’n geweldige uitdaging vir Jehovah se Getuies in Sri Lanka. Hulle werk hard aan die uitvoering van Jesus se opdrag: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word tot ’n getuienis vir al die nasies” (Matteus 24:14). Buiten die feit dat hulle met heelwat tale te doen het, praat verkondigers van die goeie nuus dalk met Boeddhiste, Hindoes, lede van die Christendom se kerke en ateïste—alles binne ’n paar uur se predikingswerk.
Om welslae in hulle bediening te behaal, moet die verkondigers Die Wagtoring en Ontwaak! asook ander Bybellektuur in Tamil, Singalees en Engels met hulle saamdra. Dié wat sterk genoeg is, dra selfs Bybels in daardie tale saam. Die verkondigers was onlangs verheug toe die brosjures Gee God werklik vir ons om? en Our Problems—Who Will Help Us Solve Them? asook die traktaat Sal hierdie wêreld bly voortbestaan? gelyktydig in hierdie drie tale vrygestel is. Dit het meer instrumente vir die werk beteken.
Die Getuies werk hard sedert 1912, toe Charles Taze Russell, wat destyds president van die Internasionale Bybelstudente-vereniging was, Ceylon kortliks besoek het. Betekenisvolle groei het egter eers ná die aankoms van sendelinge van die Wagtoring-Bybelskool Gilead in 1947 gekom. Sedertdien het die verkondigers in Sri Lanka goeie resultate met hulle predikingswerk behaal. In 1994 het die 1 866 Koninkryksverkondigers elke maand gemiddeld 2 551 tuisbybelstudies gehou. En die Gedenkmaalopkoms van 6 930 was amper vier keer soveel as die aantal verkondigers in al die gemeentes. Wat ’n wonderlike seëning!
In vergelyking met party ander lande lyk die vordering in Sri Lanka miskien stadig. Dit wil voorkom of sterk gesinsbande een oorsaak daarvoor is. Maar sake kan ook anders verloop. Toe die Romeinse leëroffisier Kornelius sy standpunt vir die waarheid ingeneem het, het sy huisgesin hulle standpunt saam met hom ingeneem (Handelinge 10:1, 2, 24, 44). Die boek Handelinge maak ook melding van ander sterk Christengesinne, onder andere dié van Lidia, Krispus sowel as die tronkbewaarder van Paulus en Silas.—Handelinge 16:14, 15, 32-34; 18:8.
Ja, sterk gesinsbande kan voordelig wees as daar goeie organisasie en getroue volharding is. Dit is na aanleiding van die woorde in Jesaja 60:22 dat Ray Matthews, wat al lank ’n sendeling is, sê: “Dit lyk asof Jehovah dinge nou op die regte tyd bespoedig, deur nie net individue nie, maar ook hele huisgesinne in te bring.”
’n Georganiseerde gesin bring lof
Daar is gewis vandag sulke getroue huisgesinne in Sri Lanka. Neem die voorbeeld van die goedgeorganiseerde Sinnappa-gesin wat in Kotahena woon, ’n gebied in Colombo, die hoofstad van Sri Lanka. Al het die gesinshoof, Marian, onlangs gesterf, gaan sy vrou, Annamma, en 12 van hulle 15 kinders, met ouderdomme wat wissel van 13 tot 33, voort om Jehovah as ’n huisgesin te dien. Tans is agt van die kinders gedoop, en drie van hulle is in die voltydse bediening en dien as gewone pioniers. Drie ander het van tyd tot tyd hulppionierdiens gedoen. Onder die jongeres van die huisgesin is daar vier ongedoopte verkondigers. Daar is boonop vier kleinkinders wat, hoewel hulle nog baie jonk is, besig is om die Bybel te bestudeer en Christelike vergaderinge by die Colombo-Noord-gemeente van Jehovah se Getuies by te woon.
Annamma het die goeie nuus van die Koninkryk vir die eerste keer in 1978 gehoor toe sy ’n eksemplaar van Die Wagtoring geneem het. ’n Bybelstudie is begin en nadat sy die Bybelstudiehulp Die waarheid wat lei tot die ewige lewe voltooi het, het Annamma haar lewe aan Jehovah God toegewy en is sy gedoop, en sodoende het sy die voorbeeld vir baie in haar huisgesin gestel.
Net soos die militêre man Kornelius is Annamma goed georganiseerd in haar huishouding. “Ons moes vir Christelike vergaderinge en byeenkomste beplan—om nie eens van skool te praat nie”, vertel Annamma. “Klere was ’n probleem, maar met Jehovah se seëning kon ons ’n paar nuwe kledingstukke vir elke byeenkoms maak. Die hele gesin het goed geklee en goed gevoed daar aangekom—en elkeen ook met ’n groot glimlag.”
Die kinders dink met liefde terug aan hulle gesinsorganisasie. Om die hele gesin te help om Christelike vergaderinge by te woon, het die ouer kinders gewoonlik spesiale verantwoordelikhede gekry. Mangala het byvoorbeeld die wasgoed gedoen en Winnifreda die strykwerk. Winnifreda, wat ook die jongeres gehelp het om aan te trek, sê: “Almal het regtig goed gelyk wanneer hulle van die huis vertrek het.”
Geestelike voorsienings is ewe goed georganiseer. Pushpam, ’n dogter wat nou ’n gewone pionier is, sê: “Elke dag het ons gesin dit geniet om die Bybel te lees en om die dagteks saam te hersien.” Annamma sê verder: “Elke kind het sy eie Bybel, Wagtoring en ander publikasies. Ek luister mooi na al hulle kommentare by die vergaderinge. Wanneer dit nodig lyk, gee ek hulle by die huis aanmoediging en help ek hulle reg. Saans kom ons bymekaar om die dag met ons gesinsgebed af te sluit.”
Die ouer kinders doen baie om Annamma te help om almal in die gesin van ’n goeie Christelike opvoeding te voorsien. Maar die vol program verminder nie hulle begeerte om die goeie nuus met ander te deel nie. Die onderskeie gesinslede hou altesaam 57 tuisbybelstudies met mense in die omgewing. Die skoonseun Rajan sê: “Die gesin hou progressiewe Bybelstudies. My vrou, Pushpam, het al die voorreg gehad om te sien dat een van haar studente haar lewe aan Jehovah toewy.”
Dit het nogal ’n opskudding in Kotahena veroorsaak toe so ’n groot gesin die Katolieke Kerk verlaat het. Al het die priester self nooit die gesin besoek om die rede vas te stel nie, het hy van die kerklidmate gevra om ondersoek in te stel. Etlike besprekings het daarop gevolg, hoofsaaklik oor die Drie-eenheidsleerstelling. Annamma het haar altyd tot Jehovah en die Bybel gewend om haar geloof te verdedig. Haar gunstelingteks tydens hierdie besprekings was Johannes 17:3.
Die Sinnappa-gesin lewer duidelike bewys dat goeie organisasie en voortdurende inspanning wel bevredigende resultate kan lewer. Deur hulle ywerige pogings word ’n nuwe geslag Koninkryksverkondigers groot, alles tot lof van Jehovah.
Teenstand verenig ’n gesin in ware aanbidding
Die Ratnamgesin bevind hulle net ’n paar kilometer van die Sinnappas, in Narhenpitya, ’n ander gebied van Colombo. Hulle was ook voorheen Rooms-Katolieke. In 1982 het Getuies wat besig was met die huis-tot-huis-bediening in aanraking gekom met Balendran, die man van die oudste dogter, Fatima. ’n Bybelstudie is met die hele gesin begin. Kort voor lank het hulle drie kinders ouma Ignasiamal oor God se naam uitgevra. Toe die kinders “Jehovah” as antwoord gee, het hulle hulle ouma se belangstelling geprikkel, en ’n Bybelstudie is met haar begin. Twee van haar dogters, Jeevakala en Stella, het later by die studie aangesluit, en teen 1988 is al drie gedoop.
Intussen het Balendran en Fatima vir nog ’n suster van Fatima, Mallika, en haar man, Yoganathan, van die waarheid vertel. Teen 1987 is hierdie egpaar gedoop, en hulle het ’n toenemende liefde vir Jehovah by hulle twee kinders ingeskerp. Pushpa, ’n ander suster van Fatima, was volgende. Sy het haar toegewy en is in 1990 gedoop. Terwyl hy in Tokio was, het haar man Eka in ’n Engelse gemeente gedien en Pushpa het gehelp dat hulle seuntjie, Alfred, in Jehovah se weë geleer word.
Tot dusver het vier van die tien kinders uit die Ratnam-gesin hulle standpunt vir ware aanbidding ingeneem. Dit is verblydend dat drie ander kinders goeie vooruitgang maak met hulle persoonlike Bybelstudie. Onder die 11 kleinkinders is een dogter, Pradeepa, reeds gedoop. Nog sewe van die jongeres word gereeld deur middel van hulle gesinsbybelstudies onderrig. Altesaam 24 tuisbybelstudies word boonop met belangstellendes in hulle omgewing gehou.
Dit het nie alles maklik gebeur nie. Daar was aanvanklik gesinsteenstand. Die pa, Muthupillai, en die ouer broers was baie daarteen gekant dat enigeen van hulle gesin die vergaderinge by die Koninkryksaal bywoon of aan die openbare predikingswerk deelneem. Hoewel dit deels aan besorgdheid oor persoonlike veiligheid te wyte was, sê Muthupillai verder: “Ek het vas geglo aan die ‘heiliges’ en het dit nie goedgekeur dat my gesin die Katolieke Kerk verlaat nie.” Maar hy glo nou dat hulle die ware God aanbid, want hy sien die voordele wat hulle geloof hulle gebring het.
Die eienaar van die huis waarin hulle woon, ’n Boeddhis, het hulle byvoorbeeld eenkeer van sy eiendom probeer afsit deur toorkuns teen hulle te gebruik. Hy het een nag gekom en “getoorde” suurlemoene rondom die huis gesit. Die bygelowige bure is met vrees vervul en hulle het almal verwag dat die een of ander ongeluk die Ratnam-gesin sou tref. Maar toe Ignasiamal dit uitvind, het sy en die kinders die vrugte net verwyder sonder enige vrees of angs—en niks het met hulle gebeur nie. Hulle vreeslose optrede het nogal ’n goeie getuienis in die omgewing gelewer, wat mense hulle laat respekteer het. Stella kon toe twee tuisbybelstudies in die aangrensende strate begin. Die skoondogter Nazeera is hierdeur aangemoedig en het ook ’n Bybelstudie aanvaar.
Wanneer sy terugkyk op al die seëninge wat haar gesin geniet het, sê Ignasiamal: “Ek is baie bly om die geestelike ontwikkeling in die gesin te sien. Ons is deur Jehovah geseën, want die teenstand het verflou en ons het nou groter gesinseenheid.”
Wat ’n seëning is hierdie groot gesinne tog. Hulle het hulle stemme by dié van die kleiner gesinne, die eenouergesinne en die ongetroude Christene gevoeg wat hard strewe om die verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk in Sri Lanka, wat “die pragtige land” beteken, te bespoedig. Saam met hulle mede-Christene oor die hele wêreld sien die Sri Lankaanse Getuies uit na die herstel van die Paradys, wat ons ons nou reeds kan voorstel as ons na die strande en berge van die pragtige Sri Lanka kyk.
[Voetnoot]
a Daar is ’n groot holte wat volgens Moslem-, Boeddhiste-, Hindoe- en kerklegendes onderskeidelik die voetspoor van Adam, Boeddha, Siwa en “sint” Tomas is.
[Prente op bladsy 24, 25]
Baie mense in Sri Lanka reageer op die Christelike predikings- en onderrigtingswerk