Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w89 7/15 bl. 16-21
  • ‘Vind verkwikking vir julle siel’

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ‘Vind verkwikking vir julle siel’
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die waarheid wat verkwik
  • Hoe die waarheid verkwik
  • Verkwik deur die Koninkrykshoop
  • Vind verkwikking deur God se werk te doen
  • “My juk is sag en my vrag is lig”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • ‘Vind verkwikking vir julle siele’
    Ons Koninkryksbediening—1985
  • “Neem my juk op julle”
    Ons Koninkryksbediening—2008
  • Word verkwik deur geestelike dinge
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
w89 7/15 bl. 16-21

‘Vind verkwikking vir julle siel’

“Kom na my, almal wat swoeg en swaar belaai is, . . . en julle sal verkwikking vind vir julle siel. Want my juk is sag en my vrag is lig.”—MATTHEÜS 11:28-30, “NW”.

1, 2. In watter situasie bevind die mensdom hom al eeue lank, en hoe kontrasteer dit met God se oorspronklike voorneme?

“ONS weet dat die hele skepping tesame sug en tesame in barensnood is tot nou toe.” Dit is wat ’n man eeue gelede aan sy vriende in Rome geskryf het (Romeine 8:22). In die jare sedertdien het die gesug en nood van die mensdom in sy geheel net toegeneem. Vooroordeel, armoede, misdadigheid en honger het oral ’n tragiese oes voortgebring. Die onregverdige ekonomiese stelsel het miljoene hulle werk en selfs hulle huis laat verloor, en sataniese invloede ondermyn pogings om kinders op te voed in die weg wat hulle behoort te volg.

2 Maar dit is moontlik die grootste tragedie wanneer ongesteldheid, siekte of ouderdom mense se kragte geleidelik laat kwyn en hulle van hul waardigheid beroof terwyl hulle agteruitgaan en uiteindelik net ’n skaduwee is van wat hulle was. Die verskriklike pyn en lyding, wat dikwels weke, maande en partymaal selfs jare duur, maak harte seer en laat trane in strome loop. Wat ’n droewe beskrywing van die lewe! ’n Eertydse wyse koning het aangaande die verknorsing van die mens gesê: “Al sy dae is smarte, en sy bemoeienis is verdriet” (Prediker 2:23; 4:1). Vandag is die lewe beslis nie wat God hom oorspronklik voorgeneem het dit moet wees nie!—Genesis 2:8, 9.

3. Met watter potensiaal het God die mens geskep, en hoe word dit tans in beperkte mate verwesenlik?

3 Jehovah God het die mens volmaak geskep, met die potensiaal om waarlik die lewe te geniet (Deuteronomium 32:4, 5, vgl. NW). Dink net aan die genot wat dit verskaf om goeie kos te proe, aangename skoon lug in te asem of na ’n pragtige sonsondergang te kyk! “Ek het die taak gesien wat God aan die mensekinders gegee het om hulle [besig te hou]”, het dieselfde eertydse wyse koning gesê. “Alles het Hy mooi gemaak op sy tyd; . . . so het ek dan ingesien dat daar niks beters onder hulle is nie as om bly te wees en om goed te doen in die lewe. En ook—dat elke mens eet en drink en die goeie geniet by al sy moeitevolle arbeid; dit is ’n gawe van God.”—Prediker 3:10-13, vgl. NW.

4. (a) Wat is die droewe situasie van baie mense, soos Jesus se ondervindinge toelig? (b) Watter bemoedigende uitnodiging het Jesus aan almal gerig, en watter vrae laat dit ontstaan?

4 Maar hoe min is daar tog wat die goeie dinge kan geniet wat God vir ons in gedagte gehad het! Jesus Christus was bewus van die ellendige, patetiese toestand van die mensdom. Die Bybel sê dat “groot menigtes” na hom gekom het “met kreupeles, blindes, stommes, gebreklikes en baie ander by hulle, en hulle het dié by die voete van Jesus neergesit”. Hoe jammer was Jesus tog vir sulke ongelukkige individue! (Mattheüs 9:36; 15:30). By een geleentheid het hy hierdie bemoedigende uitnodiging aan almal gerig: “Kom na my, almal wat swoeg en swaar belaai is, en ek sal julle verkwik. Neem my juk op julle en leer van my, want ek is sagaardig en ootmoedig van hart, en julle sal verkwikking vind vir julle siel” (Mattheüs 11:28, 29, NW). Hierdie woorde gee ons inderdaad hoop! Maar van watter verkwikking het Jesus gepraat? En hoe kan ons dit vind?

Die waarheid wat verkwik

5. Hoe het Jesus die weg tot ware vryheid en verkwikking vir ons siel aangewys?

5 Toe Jesus ongeveer ses maande voor sy dood die Huttefees bygewoon het, het hy die aandag gevestig op die manier waarop ’n mens vry kan word en sodoende ware verkwikking kan ontvang. Hy het vir diegene wat geloof in hom gestel het, gesê: “As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels. En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Johannes 8:31, 32). Van watter waarheid het Jesus gepraat? Waarvan sal dit ons vrymaak? In watter opsig was sy luisteraars slawe?

6. (a) Watter beswaar het godsdiensteenstanders geopper, en waarom? (b) In watter opsig is ons almal slawe?

6 Godsdiensteenstanders het Jesus in die rede geval en beweer: “Ons is die geslag van Abraham en het nog nooit vir iemand slawediens verrig nie; hoe sê U dan: Julle sal vry word?” Daardie Joodse teenstanders was trots op hulle herkoms. Selfs al het die nasie dikwels onder vreemde oorheersing gekom, het die Jode geweier om slawe genoem te word. Maar Jesus het getoon in watter opsig hulle slawe was deur te sê: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle dat elkeen wat die sonde doen, ’n dienskneg van die sonde is.” Ja, al sy luisteraars het ‘sonde gedoen’, net soos ons almal vandag doen. Dit is omdat ons almal sonde van ons eerste ouers geërf het. Maar Jesus het beloof: “As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees.”—Johannes 8:33-36; Romeine 5:12.

7. Hoe kan ware vryheid verkry word, en wat is die waarheid wat ons vrymaak?

7 Ware vryheid kan dus alleenlik verkry word deur middel van God se Seun, Jesus Christus, wat sy volmaakte menselewe as ’n losprysofferande gegee het. Dit is hierdie offerande wat ons bevry van dodelike sonde en dit vir ons moontlik maak om die ewige lewe in volmaakte gesondheid en geluk in God se regverdige nuwe wêreld te geniet (Johannes 3:16; 1 Johannes 4:10). Die waarheid wat ons vrymaak, is dus die waarheid aangaande Jesus Christus en sy rol in die vervulling van God se voornemens. Dit is die Koninkryk, met Christus as Koning, wat God se wil vir die aarde sal volbring, en Jesus het voortdurend aangaande hierdie waarheid getuig.—Johannes 18:37.

Hoe die waarheid verkwik

8. Hoe kan die manier waarop die waarheid verkwikking verskaf, geïllustreer word?

8 Die manier waarop die waarheid verkwikking verskaf, kan geïllustreer word met ’n vrou wat meegedeel is dat sy ’n vinnig verspreidende vorm van kanker het. Die las van daardie kennis druk baie swaar op haar wanneer sy aan die pynlike, potensieel vernietigende gevolge dink. Maar mettertyd raadpleeg sy ’n ander dokter en ondergaan sy verdere toetse. Jy kan jou haar wonderlike gevoel van verligting voorstel wanneer die uitslae van die toetse toon dat òf die eerste diagnose verkeerd was òf dat sy merkwaardig herstel het. Hoe verkwikkend is dit tog vir haar siel!

9. Hoe het Jesus verligting voorsien deur mense die waarheid te leer?

9 Toe Jesus na die aarde gekom het, het die mense eweneens gebuk gegaan onder die nuttelose tradisiestelsels van daardie tyd. Jesus het die volgende van die skrifgeleerdes en Fariseërs gesê wat die verantwoordelikheid daarvoor gedra het: “Hulle bind pakke saam wat swaar en moeilik is om te dra, en sit dit op die skouers van die mense, maar self wil hulle dit nie met hulle vinger verroer nie” (Mattheüs 23:4; Markus 7:2-5). Wat ’n verligting was dit tog toe Jesus die mense van die waarheid voorsien het wat hulle van sulke verslawende tradisies vrygemaak het! (Mattheüs 15:1-9). Vandag is dit presies dieselfde.

10. Watter vreugderowende laste het talle gedra, en hoe voel ’n persoon moontlik wanneer dit verwyder word omdat hy die waarheid leer?

10 Dalk was jy iemand wat, weens die swaar las van valse godsdiensleerstellings, in vrees geleef het dat jy na jou dood in ’n helse vuur of vaevuur gepynig gaan word. Of jy was dalk heeltemal verslae toe ’n geliefde gesterf het en jy deur ’n geestelike meegedeel is dat God jou dierbare baba geneem het omdat Hy nog ’n engel nodig gehad het—asof God jou kind nodiger gehad het as jy. Partykeer vertel geestelikes mense wat aan die een of ander siekte ly ook dat dit ’n vloek van God is. Is dit nie waarlik verkwikkend om die Bybelwaarhede te leer wat ’n mens van sulke drukkende godsdiensonwaarhede bevry nie? Wat ’n gevoel van verligting bring dit tog nie!—Prediker 9:5, 10; Esegiël 18:4; Johannes 9:2, 3.

11. (a) Wat is een van die grootste laste, en hoe kan dit verwyder word? (b) Watter verkwikking het Jesus vir sondaars gebring toe hy op aarde was?

11 Een van die grootste laste om te dra is ’n skuldgevoel vanweë die sondes wat ons gepleeg het. Dit is ’n verligting om te weet dat hierdie sondes uitgewis kan word op grond van die waarde van Christus se losprysofferande. ‘Die bloed van Jesus reinig ons van alle sonde’, verseker die Bybel ons (1 Johannes 1:7). As ons ons waarlik bekeer het en die regte weg ingeslaan het, kan ons ondanks enige afskuwelike dinge wat ons dalk gedoen het die verkwikkende verligting van ’n rein gewete geniet, asook die versekering dat God nie meer aan ons sondes sal dink nie (Psalm 103:8-14; 1 Korinthiërs 6:9-11; Hebreërs 10:21, 22). Watter verkwikking het Jesus tog vir diegene wat onder sondes gebuk gegaan het, soos hoere en tollenaars soos Saggeüs, gebring! Jesus het hulle met Bybelwaarhede vertroos terwyl hy saam met hulle geëet het.—Lukas 5:27-32; 7:36-50; 19:1-10.

12. (a) In watter ellendige situasies was die mense vir wie Jesus verkwikking gebring het? (b) Vir wie het Jesus in die eerste eeu op ’n skouspelagtige manier getoon dat hy “die weg en die waarheid en die lewe” is?

12 Baie ander dra die swaar laste van ongesteldheid en siekte, ernstige depressie en die geweldige droefheid wat deur die dood van ’n geliefde veroorsaak word. Jesus het egter verkwikking gebring vir al sulke mense wat ‘geswoeg het en swaar belaai was’ (Mattheüs 4:24; 11:28, 29, NW). Hy het een vrou gesond gemaak wat 18 jaar lank tevergeefs by dokters hulp gesoek het. Jesus het ook ’n man genees wat 38 jaar lank siek was, en ’n ander wat blind gebore is. Kan jy jou hulle verligting voorstel toe Jesus hulle genees het? (Lukas 13:10-17; Johannes 5:5-9; 9:1-7). Feit is dat almal wat in geloof na Jesus gekom het na die bron van waarheid, ware verkwikking en lewe gekom het. Jesus het inderdaad vir die weduwee wat haar enigste seun uit die dood terugontvang het en vir die ouers wie se 12-jarige dogter lewend aan hulle teruggegee is op ’n skouspelagtige manier bewys dat hy “die weg en die waarheid en die lewe” is.—Johannes 14:6; 17:3; Lukas 7:11-17; 8:49-56.

13. Tot wie het Jesus ons geleer om ons vir hulp te wend, en wat gebeur as ons sy raad toepas?

13 Daar is ongetwyfeld tye wanneer jy voor probleme te staan kom wat groter is as wat jy op jou eie te bowe kan kom. Jesus het ons geleer om ons, net soos hy, tot Jehovah te wend vir hulp (Lukas 22:41-44; Hebreërs 5:7). Wanneer ons ons gereeld in gebed tot God wend, deel ons mettertyd die gevoelens van die psalmis wat gesê het: “Geseënd is Jehovah, wat daagliks die vrag vir ons dra, die ware God van ons redding” (Psalm 55:23; 68:19, NW). Ja, kennis van die waarheid verskaf waarlik verkwikking. Dit bring ons nader aan Jehovah en help ons om te besef dat dit met sy hulp moontlik is om selfs die moeilikste situasies in die lewe die hoof te bied.

Verkwik deur die Koninkrykshoop

14. Wat het Jesus tydens sy beproewinge onderskraag, en wat is noodsaaklik as ons verkwikking vir ons siel wil vind?

14 Ons moet ’n sterk hoop hê as ons verkwikking vir ons siel wil vind. Dit was hoop wat Jesus onderskraag het. Die Bybel sê: “Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die [folterpaal] verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God” (Hebreërs 12:2, NAV). Die vreugdevolle hoop wat Jesus onderskraag het, was dat hy kon help om sy Vader se naam te heilig deur sy onkreukbaarheid te handhaaf sowel as dat hy kon bewys dat hy waardig is om as Koning van God se Koninkryk te regeer. As ons ’n duidelike beeld van ons hoop behou, hetsy as ’n medeheerser met Christus in die hemel of as een van sy onderdane wat op die Paradysaarde lewe, sal dit ons ook in God se diens onderskraag. Trouens, daardie hoop is noodsaaklik as ons verkwikking vir ons siel wil vind.—Romeine 12:12.

15. Wat is ons lewensvooruitsigte sonder die Koninkrykshoop?

15 Dink net wat ons lewensvooruitsigte sonder die Koninkrykshoop sou wees. ’n Tipiese lewensduur is net 70 of moontlik 80 jaar. En daardie dae gaan alte vinnig verby, soos enigiemand van gevorderde jare vir jou sal sê! Ja, die Bybel is reg wanneer dit van die lewe sê: “Gou gaan dit verby, en ons vlieg daarheen” (Psalm 90:10). Maar ons wil hê dat ons lewensdae moet aanhou. Ons wil lewe. Daar is soveel wat ’n mens kan doen en geniet.

16. Wat moet ons doen om verkwikking vir ons siel te vind?

16 Hoe belangrik is dit dus dat ons in geloof na “Jesus Christus, ons Hoop” kom! (1 Timotheüs 1:1). Soos hy gesê het: “Dit is die wil van Hom wat My gestuur het, dat elkeen wat die Seun aanskou en in Hom glo, die ewige lewe mag hê” (Johannes 6:40, 51). Glo ons dit? As ons verkwikking vir ons siel wil vind, is dit noodsaaklik dat ons dit glo. Dit is onontbeerlik. Ja, ons moet “as helm die hoop op die saligheid” opsit. (1 Thessalonicense 5:8; vergelyk Hebreërs 6:19.) Daardie hoop moet ons verstand, ons denke, beskerm. Anders sal laste en moeilikhede so swaar op ons begin druk dat ons sal tou opgooi en die ewige lewe sal verbeur. As jy verkwikking vir jou siel wil geniet, moet jy dus sorg dat jy jou Koninkrykshoop sterk hou.

Vind verkwikking deur God se werk te doen

17. (a) Wat is nodig om verkwikking te verkry, en waarom is dit nie te moeilik vir ons nie? (b) Wat behels aanvaardig van Christus se juk?

17 Maar om verkwikking te verkry, is meer nodig as om bloot na Jesus te kom. Hy het bygevoeg: “Neem my juk op julle [of, “Kom met my onder my juk”] en leer van my, want ek is sagaardig en ootmoedig van hart, en julle sal verkwikking vind vir julle siel. Want my juk is sag en my vrag is lig” (Mattheüs 11:29, 30, voetnoot in die NW-naslaanuitgawe). Om ’n juk op te neem, beteken werk. Maar let op dat Jesus ons nie vra om die juk op onsself te neem en al die werk alleen te doen nie. Ons moet saam met hom onder die juk klim. In hierdie geval behels aanvaarding van die juk wat Christus aanbied dat ’n mens jou aan God toewy, dit deur waterdoop simboliseer en dan die verantwoordelikheid om ’n dissipel van Christus te wees aanvaar. Maar hoe kan so ’n juk van dissipelskap verkwikking bring?

18. (a) Waarom bring aanvaarding van Christus se juk verkwikking? (b) Hoe verskaf die predikingswerk ons vreugde en verkwikking?

18 Die aanvaarding van Christus se juk bring verkwikking omdat Jesus sagaardig en ootmoedig van hart is. Aangesien hy nie onredelik is nie, is dit verkwikkend om saam met hom onder dieselfde juk te werk. Hy neem ons beperkinge en swakhede in aanmerking. Soos hy gesê het: “My juk is sag.” Die juk van dissipelskap behels weliswaar werk, dieselfde predikings- en onderrigtingswerk wat Jesus gedoen het en waarvoor hy sy vroeë volgelinge opgelei het (Mattheüs 28:19; Handelinge 1:8). Maar wat ’n verkwikkende werk is dit tog om ander van ons liefdevolle God, sy Seun en die Koninkryk te vertel! Hoe verkwikkend is dit tog om vir mense te vertel hoe hulle vir ewig in die Paradys kan lewe! En hoe groot word ons vreugde tog wanneer hulle gehoor gee aan die lewegewende Koninkryksboodskap en hulle hul by ons skaar om Jehovah God te dien!—1 Timotheüs 4:16.

19. Waarom is die raad van Moses se skoonvader vandag vir gemeentelike ouere manne van belang?

19 In die laaste jare het miljoene wat hulp nodig het om Christus se juk te aanvaar na Jehovah se organisasie gekom, en dit vergroot die arbeidslas van Koninkryksverkondigers en diegene wat as hulle herders dien. Die raad wat die profeet Moses van sy skoonvader ontvang het, is van belang vir sulke geestelike herders. Hy het Moses hierdie advies gegee: “Die ding wat jy doen, is nie goed nie. Jy sal heeltemal uitgeput raak, jy sowel as hierdie volk wat by jou is. Want die saak is te swaar vir jou; jy kan dit nie alleen doen nie.” Daarom het hy Moses aangeraai om ander bekwame manne te kies wat kon help met die werk om die volk as herders te lei. Dit het goeie resultate voortgebring toe hierdie raad gevolg is (Exodus 18:17-27). Vandag sal voortgesette opleiding talle bekwame manne voortbring, sogenoemde “gawes in mense”, wat kan help om die kudde as herders te lei sodat gemeentelike ouere manne nie uitgeput raak nie.—Efesiërs 4:8, 16, vgl. NW.

20. Wat vereis Jesus Christus en sy Vader van ons?

20 Hoewel Christus sy volgelinge gemaan het om hulle kragtig in te span, vereis nòg hy nòg sy Vader dat enigeen van ons meer doen as wat redelik is. Toe party mense Maria, die suster van Lasarus, by een geleentheid gekritiseer het vir haar weldade teenoor Jesus het hy hulle bestraf en gesê: “Laat haar staan . . . Wat sy kon, het sy gedoen” (Markus 14:6-8; Lukas 13:24). En dit is al wat van ons verwag word—om te doen wat ons kan. Sulke Christelike bedrywigheid is nie ’n las nie, maar ’n verkwikking. Waarom? Omdat dit nou ware bevrediging verskaf, asook die gewisse hoop van ewigdurende voordele in die toekoms.

21. (a) Wat is Christus se ligte vrag, en wat maak die predikingswerk dikwels moeilik? (b) Wat moet ons vaste voorneme wees, en wat is die gewisse vooruitsig?

21 Satan sal weliswaar sorg dat ons vervolg word, net soos Jesus Christus, wat saam met ons in die juk trek, vervolg is (Johannes 15:20; 2 Timotheüs 3:12). Maar onthou dat dit nie Christus se ligte vrag is wat swaar op ons druk nie. Dit is eerder die teenstand van Satan en sy agente wat ons werk dikwels so moeilik maak. Christus se vrag bestaan eenvoudig daaruit dat ons God se vereistes moet nakom, en hulle is nie swaar nie (1 Johannes 5:3). Mag ons dus saam met Jesus Christus onder sy juk bly en ons inspan in die predikings- en onderrigtingswerk, net soos hy hom ingespan het. Sodoende sal ons, soos hy beloof het, ‘verkwikking vind vir ons siel’.

Hoe sou jy antwoord?

◻ In watter situasie bevind die mensdom hom volgens Romeine 8:22?

◻ Op watter maniere bring kennis van die waarheid verkwikking?

◻ Waarom is die Koninkrykshoop so verkwikkend?

◻ Wat is Jesus se juk, en waarom is dit sag?

◻ Watter vrag sal vir ons verkwikking bring?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel