Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w95 8/15 bl. 4-7
  • Wanneer sal vrees tot ’n einde kom?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wanneer sal vrees tot ’n einde kom?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Veiligheid in God se nuwe wêreld
  • ’n Wêreld sonder diewe
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Hoe jy misdaad in ’n chaotiese wêreld die hoof kan bied
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Ons kan “volhard tot die einde toe”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Die einde van misdaad is nou naby!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
w95 8/15 bl. 4-7

Wanneer sal vrees tot ’n einde kom?

SAL dit jou verbaas om te weet dat ware veiligheid verband hou met iemand wat 2 000 jaar gelede geleef het? Jesus Christus het getoon hoe belangrik liefde is deur ’n uitsonderlike gelykenis te vertel: “’n Sekere man het van Jerusalem na Jerigo afgegaan en in die hande van rowers geval, wat hom uitgetrek sowel as slae toegedien het, en hulle het weggegaan en hom halfdood agtergelaat.” Hoewel twee reisigers die slagoffer geïgnoreer het, het ’n goedhartige Samaritaan hom barmhartigheid bewys. Maar wie gee vandag vir misdaadslagoffers om? Watter bevryding van vrees kan ons verwag?—Lukas 10:30-37.

Hoewel baie sê dat hulle in God glo, dink hulle dat die mens reg en orde moet handhaaf. Maar sal swaarder tronkstrawwe of meer en beter besoldigde polisiemanne ’n einde aan gewelddadige misdaad maak? Glo jy werklik dat wetstoepassingsinstansies, ondanks opregte pogings om ’n mate van veiligheid te voorsien, dinge soos dwelmmisbruik, georganiseerde misdaad en armoede uit die weg sal ruim? Ons honger en dors na regverdigheid hoef egter nie tevergeefs te wees nie.—Matteus 5:6.

Psalm 46:2 sê: “God is vir ons ’n toevlug en sterkte; as hulp in benoudhede is Hy in hoë mate beproef.” Ons sal sien dat hierdie woorde nie bloot pragtige poësie is nie.

Soos jy weet, berig die nuusmedia daagliks oor die onverskillige bloedvergieting in burgeroorloë en terroristeaanvalle. In party wêrelddele het dit iets alledaags geword om verstote jongmense of ooggetuies van kant te maak. Waarom word daar so min waarde aan die lewe geheg? Hoewel sulke geweld verskeie oorsake kan hê, is daar een rede wat ons nie oor die hoof moet sien nie.

Volgens God se Woord, die Bybel, ‘lê die hele wêreld in die mag van die bose’ (1 Johannes 5:19). Trouens, Jesus Christus het Satan die Duiwel nie net as ’n leuenaar nie, maar as “’n mensemoordenaar” geïdentifiseer (Johannes 8:44). Deur die mensdom op verskeie maniere te beïnvloed, bevorder hierdie magtige geesskepsel die hedendaagse toename in geweld. “Wee die aarde en die see, want die Duiwel het na julle toe neergedaal en het groot toorn, omdat hy weet dat hy ’n kort tydperk het”, sê Openbaring 12:12. Maar gelukkig gaan hierdie goddelose stelsel vervang word met “nuwe hemele en ’n nuwe aarde . . . , en in hulle sal regverdigheid woon”.—2 Petrus 3:13.

Watter hulp het ons nou benewens hierdie wonderlike hoop op ’n nuwe wêreld?

Voordat ons na die positiewe antwoord daarop kyk, is dit goed om in gedagte te hou dat selfs ware Christene geen waarborg het dat hulle teen misdaad beskerm sal word nie. Die apostel Paulus het party van die gevare beskryf waarvoor hy persoonlik te staan gekom het. Hy was “in gevare van riviere, in gevare van struikrowers, in gevare van [sy] eie ras, in gevare van die nasies, in gevare in die stad, in gevare in die wildernis, in gevare op see” (2 Korintiërs 11:26). Tog het Paulus hierdie gevare oorleef. Dit is vandag ook die geval; deur versigtig te wees, kan ons steeds ons verpligtinge op die normaalste manier moontlik nakom. Kom ons beskou ’n paar dinge wat sal help.

As ’n mens in ’n gevaarlike buurt woon, kan goeie gedrag ’n beskerming wees aangesien mense ander fyn dophou. Al beplan en pleeg rowers misdade, beskou baie hulleself as gewone mense. Moenie kritiseer wat hulle doen nie, en moenie probeer uitvind waarby hulle betrokke is nie. Sodoende kan jy die moontlikheid verklein dat jy ’n slagoffer van weerwraak sal word. Hou in gedagte dat diewe probeer uitvind wie iets nuuts gekoop het of wie met vakansie gaan en dus nie by die huis sal wees nie, en daarom moet jy versigtig wees wat jy vir ander vertel.

Baie Getuies van Jehovah het gevind dat hulle reputasie as bedienaars hulle ’n groot mate van beskerming bied. Misdadigers het al dikwels getoon dat hulle sulke Christene respekteer wat onbevooroordeeld van hulleself gee om mense in die gemeenskap te help. Die Getuies self is nie moordenaars of diewe of ‘mense wat hulle met ander se sake bemoei nie’ en is dus nie ’n bedreiging nie.—1 Petrus 4:15.

Veiligheid in God se nuwe wêreld

Ons betreur “die toename in wetteloosheid” wat deur Jesus Christus voorspel is, maar in plaas van oorangstig te wees, kan ons die vertroue hê dat God binnekort hierdie goddelose stelsel gaan vernietig. Jesus het nie net ’n wêreldwye verkondiging van “hierdie goeie nuus van die koninkryk” voorspel nie, maar het ook sy volgelinge herinner: “Wie tot die einde toe volhard het, hy sal gered word.”—Matteus 24:12-14.

Ons kan daarvan seker wees dat diegene uitgeroei gaan word wat ander, soms met ongelooflike wreedheid, skade berokken. Spreuke 22:22, 23 sê: “Beroof die arme nie, omdat hy arm is, en verbrysel die ellendige nie in die poort nie. Want die HERE sal hulle saak verdedig en hulle berowers van die lewe berowe.” Jehovah gaan kwaaddoeners soos rowers, moordenaars en seksperverte uitroei. Daarbenewens sal hy nie die slagoffers van sulke misdade ignoreer nie. Hy gaan hulle verliese ongedaan maak en hulle gesondheid ten volle herstel.

Diegene wat ‘afwyk van wat kwaad is en doen wat goed is’, sal inderdaad die ewige lewe verkry deur die komende groot verdrukking te oorleef of deur uit die dood opgewek te word. “Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon” (Psalm 37:27-29). Sulke voordele sal danksy Jesus se losprysofferande beskikbaar wees (Johannes 3:16). Maar hoe sal die lewe in die herstelde Paradys wees?

Die lewe onder God se Koninkryk sal waarlik ’n genot wees. Jehovah voorspel: “My volk sal woon in ’n plek van vrede en in veilige wonings en in plekke van ongestoorde rus” (Jesaja 32:18). Almal wat die ewige lewe verkry, sal hulle persoonlikheid verander het. Niemand sal boos of onregverdig wees nie, en niemand sal ’n moontlike slagoffer van so iemand wees nie. Die profeet Miga sê: “Hulle sal sit elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom, sonder dat iemand hulle verskrik” (Miga 4:4; Esegiël 34:28). Wat ’n teenstelling vorm dit tog met vandag se gevaarlike buurte!

[Venster/Prente op bladsy 6]

WEES VERSIGTIG

Baie misdadigers werk voltyds en maak misdaad hulle beroep. Hulle werk moontlik in groepe van twee of drie, al rig net een ’n vuurwapen op jou. Dit word al hoe duideliker dat hoe jonger die misdadiger is, des te gevaarliker is hy. Wat kan jy doen as jy ’n slagoffer word?

Bly kalm sodat jy die dief nie senuweeagtig maak nie—sy onervarenheid kan tot jou dood lei. As jy een van Jehovah se Getuies is, moet jy jou as sodanig identifiseer. Maar wees gereed om te oorhandig wat die dief wil hê. As jy talm, word die gevaar groter. Later kan jy, as jy meen dat dit veilig is, vra dat jou identiteitsdokument of busgeld teruggegee word.

Jy kan dikwels nie sien wie ’n misdadiger is nie. Party diewe is dwelmslawe of beroepsmisdadigers, en ander is net honger. Moet in elk geval nie baie geld by jou hou nie. Moenie met juweliersware, goue ringe of duur horlosies pronk nie. Stap en reis normaalweg sonder om vrees te toon. Moenie mense stip aankyk asof jy hulle wil identifiseer nie. In geval van ’n straatskietery moet jy plat val; klere kan agterna skoongemaak word.—’n Gewese polisieman in Rio de Janeiro.

[Prent op bladsy 5]

Bly kalm en oorhandig wat die dief wil hê. As jy talm, word die gevaar groter

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel