Die einde van misdaad is nou naby!
SPEURDERS probeer misdade oplos deur leidrade te ondersoek wat die identiteit en motiewe van die skuldiges openbaar. Die metodes en vaardighede van die speurder is die onderwerp van romans wat wêreldwyd gewild is. Hoewel die speurder dalk uiteindelik daarin slaag om die misdadiger op te spoor, begin sy werk gewoonlik ná die gebeurtenis, nadat die misdaad gepleeg is.
Die toename in misdaad toon dat daar vir elke misdadiger wat gevang word baie ander is wat hulle tot misdaad wend. Om misdaad uit te skakel moet meer dus gedoen word as bloot om daardie oortredings wat reeds begaan is op te los. Wat sal voorkom dat mense misdadigers word?
Misdaad hou verband met sedes. Ons vind dit nie moeilik om te aanvaar dat moord, verkragting en ander gewelddade misdade is nie. Maar wat van kullery wanneer ’n belastingkortingvorm ingevul word? So ’n daad is ook krimineel, want dit is in stryd met die sedelike standaarde van eerlikheid. Die algehele beëindiging van misdaad vereis dat alle dade wat in stryd is met die fundamentele sedelikheid uitgeroei moet word.
Beskou drie Bybelvoorbeelde wat nie alleen toon wat die oorsaak van misdaad is nie, maar ook hoe dit uitgeskakel gaan word.
Godvrugtige vrees versus afguns
Let asseblief op die woorde van die psalmis Asaf: “Ek was afgunstig op die onsinniges toe ek die voorspoed van die goddelose mense sien” (Psalm 73:3). Ja, afguns op ’n misdadiger se welvaart en lewenstyl verlok talle om wettelose gebruike aan te neem. Die verheerliking van misdaad op die televisie en in die pers maak dit aanvaarbaarder, pleks dat dit ’n haat aanwakker vir wat kwaad is.
Die geïnspireerde skrywer van Spreuke maan nietemin: “Laat jou hart nie afgunstig wees op sondaars nie, maar wees die hele dag in die vrees van Jehovah.” Dit is ’n persoon se beweegrede en begeerte wat die probleem ten grondslag lê. Die doeltreffendste manier om dit in bedwang te hou, is deur ’n godvrugtige vrees om Jehovah God te mishaag aan te kweek. “In daardie geval sal daar vir jou ’n toekoms bestaan en jou eie hoop sal nie afgesny word nie.”—Spreuke 23:17, 18, NW.
Geloof versus hebsug
In die noordelike lente van 33 G.J. het Jesus deur die stad Jerigo gereis. Dit was die tuisstad van Saggeüs, wat deur die evangelieskrywer Lukas as “’n hoof van die tollenaars en ’n ryk man” beskryf word. Die vrugbare gebied om Jerigo was ’n vername gebied vir belastinginvordering, en soos Saggeüs se eie woorde toon, het sy bedrywigheid as hoof van die tollenaars hom geleenthede vir afpersing gebied. Maar Saggeüs het nie ’n misdadiger gebly nie.—Lukas 19:1-8.
Saggeüs het voor die skare uitgehardloop wat om Jesus saamgedrom het en ’n uitkykpunt gesoek deur in ’n wildevyeboom te klim omdat hy so klein van gestalte was. Jesus het hom opgemerk en vir Saggeüs gesê om af te klim, want Hy sou by hom bly terwyl Hy in Jerigo was. Later het Saggeüs se woorde ’n veranderde gesindheid getoon: “Die helfte van my goed gee ek vir die armes; en as ek van iemand iets afgepers het, gee ek dit vierdubbel terug.” Dit sou groot onkoste behels om die afgeperste bedrae geld terug te gee. Deur sy belofte om dit te doen, het Saggeüs sy geloof in Jesus bekend gemaak. Ja, sy veranderde beskouing het ’n tasbare gevolg gehad, ’n terugbetaling van wat onwettig geneem is plus nog drie maal daardie waarde, wat dit ’n viervoudige vergoeding gemaak het. Saggeüs het dus die onreg wat hy gepleeg het, herstel en selfs verder gegaan, wat die opregtheid van sy veranderde lewenswyse bewys het.—2 Korinthiërs 7:11.
Mense is belangriker as besittings
Die Romeinse goewerneur Pilatus het van die beskuldigde Jesus Christus gesê: “Ek vind geen misdaad in hierdie mens nie” (Lukas 23:4, NW). Pleks van die toevlug tot kriminele gedrag te neem om besittings te verkry, het Jesus dwarsdeur sy aardse bediening liefdevolle belangstelling in mense getoon. “Toe Hy die skare sien, het Hy innig jammer gevoel vir hulle, omdat hulle moeg en uitgeput was, soos skape wat geen herder het nie. Toe sê Hy vir sy dissipels: Die oes is wel groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here van die oes, dat Hy arbeiders in sy oes mag uitstuur” (Mattheüs 9:36-38). Jesus het klaarblyklik mense voor besittings, selfs voor sy eie gerief en belange, gestel. Ons sien dit ook uit sy bereidwilligheid om homself in te span om te sorg vir die dissipels en die skares wat hom opgesoek het vir onderrig en hulp (Mattheüs 8:20; 14:13-16). Jesus het hierin vir ons ’n voorbeeld nagelaat wat ons moet volg.—1 Petrus 2:21.
Is dit vandag vir mense moontlik om daardie voorbeeld te volg, om hulle medemens kosbaarder as materiële dinge te ag? Ons kan ja antwoord. Kyk na Jehovah se Getuies, wat nou meer as drie-en-’n-kwartmiljoen sterk is. Hulle streef daarna om die sin van Christus te hê en om prakties daaraan uiting te gee. Hulle werk voortdurend daaraan om die slegte begeertes wat baie ander tot misdaad lei uit hulle harte te verwyder. Voordat hulle Getuies geword het, is sommige van hulle wat misdadigers was, ten goede beïnvloed deur hulle studie van die Bybel en die liefde wat hulle vir God aangekweek het; dit het heelparty van hulle aangespoor om te vergoed vir die misdade wat hulle voorheen gepleeg het. Nee, sulke mense het dit nie vir publisiteit gedoen nie, maar sodat hulle ’n vreedsame verhouding met Jehovah God kan hê en derhalwe voordeel kan trek uit sy onverdiende goedheid wat hy deur die losprysoffer van Jesus Christus getoon het.—1 Korinthiërs 2:16; 6:11; 2 Korinthiërs 5:18-20.
Weens liefde vir hulle naaste ruim sulke Christene die tyd in om ander mense te besoek en te verduidelik hoe sulke gesinne kan uitsien na lewe in Paradystoestande onder God se Koninkryk. Jehovah se Getuies hou elke week gereelde vergaderinge by hulle Koninkryksale. Een persoon, wat self erken het dat hy ’n dief was, het ’n uitnodiging aanvaar om die vergaderinge by te woon om te sien wat dit behels. Hy vertel: “Ek was baie verbaas, om die minste te sê. Dit was glad nie oninteressant of vervelend soos ek verwag het nie. Die hartlikheid en liefde wat so duidelik was, was ongetwyfeld opreg. En die waardering wat al die Getuies vir geestelike dinge gehad het, was opvallend.” Hy was so beïndruk dat hy sy omgang voortgesit het, en dit het hom gehelp om sy lewe in orde te bring. Hetsy jy by misdaad betrokke was of nie, jy sal dieselfde opregte belangstelling in mense eerder as in besittings vind wanneer jy met God se knegte omgaan.—Mattheüs 22:39.
Misdaad—Reeds uitgeskakel?
Beteken dit dat mense volmaak is as hulle nie meer soos misdadigers optree nie? Glad nie! Jehovah se Getuies gaan, soos alle ander mense, gebuk onder sonde wat hulle van ons eerste mense-ouer, Adam, geërf het (Romeine 5:12; 1 Johannes 1:8). Maar hulle is nou verenig in hulle diens aan God, en dit word in hulle wêreldwye predikings- en onderrigtingswerk weerspieël. Dit is ’n kragtige getuienis van die vervulling van Jesaja se profesie: “Aan die einde van die dae sal die huis van die HERE vasstaan op die top van die berge . . . en al die nasies sal daarheen toestroom” (Jesaja 2:2). Miljoene stroom inderdaad na Jehovah se verhewe aanbidding en verlang onderrigting in sy weë. Jy kan een van diegene wees wat voordeel trek uit omgang met mense wat misdaad vermy.
Uitskakeling van misdaad—die vooruitsigte
Die toenemende misdaad van ons dag is in werklikheid bewys van die nabyheid van goddelike ingryping om alle goddeloses, waaronder alle misdadigers, uit die weg te ruim. “Want die kwaaddoeners sal uitgeroei word . . . Nog ’n klein rukkie en die goddelose sal daar nie wees nie; ja, jy sal ag gee op sy plek, maar hy sal daar nie wees nie” (Psalm 37:9, 10). Die einde van misdaad is inderdaad nou naby, want ons nader die tyd wanneer die oorspronklike misdadiger, Satan die Duiwel, gebind en in die afgrond gewerp sal word (Openbaring 20:1-3). Hoe wonderlik moet dit tog wees om te weet dat die vrees vir misdaad en die pyn wat deur die slagoffers daarvan verduur moet word spoedig iets van die verlede sal wees!
Maar wat van die miljoene mense wat in die opstanding na lewe op die aarde sal terugkeer? (Handelinge 24:15). Sal dit nie ’n nuwe vlaag van misdaad veroorsaak as hulle weier om hulle persoonlikheid en weë wat hulle voor hul dood gehad het te verander nie? So ’n vrees in ongegrond. Jesus het ’n dief ’n opstanding belowe en gesê: “Voorwaar ek sê vir jou vandag, jy sal saam met my in die Paradys wees” (Lukas 23:43, NW). Dit toon ongetwyfeld dat verresenes sal moet verander; anders sal die nuwe wêreld nie ’n paradys wees nie.
Net soos geharde misdadigers gerehabiliteer moet word voordat hulle hulle in die gemeenskap kan vestig sonder om probleme te veroorsaak, sal daar onder God se Koninkryk ’n uitgebreide onderrigtingsprogram wees om die onderdane te help om wetsgehoorsaam te wees (Openbaring 20:12, 13). Die verresenes sal behoorlik gekontroleerde ekonomiese toestande ervaar aangesien hulle die ooglopende voordeel sal geniet om omring te wees deur die inwoners van die Paradys, wat God se wette gehoorsaam (Jesaja 65:21-23). Daar sal regverdige heersers wees, en enige verstokte kwaaddoeners sal die lewe verloor (Jesaja 32:1; 65:20). Daar is dus volop redes om te vertrou dat misdaad uiteindelik sal ophou.
Hoewel ons steeds in ’n wêreld lewe wat deur misdaad gekenmerk word, kan jy met vrymoedigheid vertroue in Jehovah weerspieël, wat belowe dat hy sy getroue knegte met volmaakte lewe in die Paradys sal beloon. Doen dit deur nou gebruik te maak van die reëlings vir ’n gratis tuisbybelstudie wat Jehovah se Getuies aanbied (Johannes 17:3). Vra gerus om verdere besonderhede wanneer jy hulle weer teëkom. Of jy kan op bladsy 2 van hierdie tydskrif kyk watter adres naaste aan jou is en daarheen skryf. Dit is waarlik die moeite werd om ’n poging aan te wend, want die einde van misdaad is nou naby!
[Prent op bladsy 5]
Saggeüs se geloof het hom beweeg om terug te gee wat hy afgepers het
[Prent op bladsy 7]
’n Onderrigtingsprogram sal die onderdane van God se Koninkryk leer om wetsgehoorsaam te wees