Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w93 6/15 bl. 28-31
  • Respekteer jy jou plek van aanbidding?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Respekteer jy jou plek van aanbidding?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Vroeë plekke waar Christene aanbid het
  • Gebruik ons plek van aanbidding op ’n gepaste wyse
  • ’n Bepaalde tyd en plek om Jehovah te aanbid
  • Manne wat die voorbeeld stel
  • Reëlings vir plekke van aanbidding
    Georganiseer om Jehovah se wil te doen
  • Dit is ons plek van aanbidding
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2015
  • Toon jy respek vir julle Koninkryksaal?
    Ons Koninkryksbediening—1989
  • Laat ons ons plek van aanbidding in ’n goeie toestand hou
    Ons Koninkryksbediening—2003
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
w93 6/15 bl. 28-31

Respekteer jy jou plek van aanbidding?

“Reg van die beginstadium van die evangelie het die Christene altyd hulle vaste en bepaalde plek van Goddelike aanbidding gehad.”—“Primitive Christianity” deur William Cave.

GOD se volk het dit nog altyd geniet om vir aanbidding bymekaar te kom. Dit was in die eerste eeu net so waar soos wat dit vandag is. Vroeë skrywers en teoloë, soos Lucianus, Clemens, Justinus die Martelaar en Tertullianus stem almal saam dat Christene spesifieke plekke gehad het waar hulle gereeld bymekaargekom het om te aanbid.

Die Bybel bevestig dieselfde punt en verwys tallose kere na gereelde vergaderinge wat deur groepe Christene gehou is. Hierdie groepe het as gemeentes bekend gestaan. Dit was gepas, want in die oorspronklike Bybeltale het die woord “gemeente” op ’n groep mense gedui wat vir ’n spesifieke doel of aktiwiteit bymekaargekom het.

Vroeë plekke waar Christene aanbid het

Wat het die Christene van die eerste eeu gedoen wanneer hulle bymekaargekom het? Die Bybel beskryf ’n hele paar sulke vergaderinge en toon dat onderrigting ’n belangrike kenmerk was (Handelinge 2:42; 11:26; 1 Korinthiërs 14:19, 26). Opvoedkundige programme is gereël waar toesprake gehou is, bemoedigende ondervindinge vertel is en briewe, wat hulle van die bestuursliggaam in Jerusalem of van ’n apostel ontvang het, noukeurig bestudeer is.

In Handelinge 15:22-35 lees ons nadat een so ’n brief aan ’n groep Christene in Antiochië gelees is, het Judas en Silas “die broeders met baie woorde bemoedig en versterk”. ’n Ander verslag sê toe Paulus en Barnabas in Antiochië aangekom “en die gemeente saamgeroep het, het hulle verslag gedoen van al die dinge wat God met hulle gedoen het”. Gebed tot Jehovah was ook ’n belangrike kenmerk van Christelike vergaderinge.—Handelinge 14:27.

Die plekke waar gemeentes van die eerste eeu vir aanbidding bymekaargekom het, was nie indrukwekkende geboue soos baie van die Christendom se kerke van vandag nie. In die meeste gevalle het die vroeë Christene in huise bymekaargekom (Romeine 16:5; 1 Korinthiërs 16:19; Kolossense 4:15; Filemon 2). Hulle het dikwels die dakkamer of die bovertrek van ’n huis gebruik. Dit was in ’n bovertrek dat die Here se Aandmaal gehou is. Dit was ook in ’n bovertrek dat die 120 dissipels tydens Pinkster met die heilige gees gesalf is.—Lukas 22:11, 12, 19, 20; Handelinge 1:13, 14; 2:1-4; 20:7, 9.

Jehovah se Getuies volg vandag die voorbeeld wat die apostels gestel het. Hulle gebruik vergaderplekke wat as Koninkryksale bekend staan. Daar word hulle opgelei as verkondigers van die goeie nuus van God se Koninkryk (Mattheüs 24:14, NW). By die Koninkryksaal bestudeer hulle ook die Skrif, bid hulle en moedig hulle mekaar aan. Dit is in ooreenstemming met die Bybel se vermaning in Hebreërs 10:24, 25: “Laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar [“aanmoedig”, NW], en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.”

Gebruik ons plek van aanbidding op ’n gepaste wyse

Onthou jy die apostel Paulus se woorde: “God is nie ’n God van wanorde nie, maar van vrede”, en “Laat alles welvoeglik en ordelik toegaan”? As jy die teksverband van hierdie woorde ondersoek, sal jy sien dat Paulus die manier bespreek het waarop Christelike vergaderinge gehou behoort te word. Soos in die apostoliese era, maak Christene van vandag seker dat hulle vergaderinge ordelik en goed georganiseerd is.—1 Korinthiërs 14:26-40.

Die Wagtoring van 15 Maart 1970 het gesê: “Die geestelike stemming in die Koninkryksaal is eg en spruit uit ’n werklike belangstelling in ware aanbidding en Bybelonderrigting. En die ligte, natuurlike atmosfeer in die saal moedig die aanwesiges aan om op hulle gemak en vriendelik te wees en nie deur ’n geheimsinnige selfopgelegde plegtigheid teruggehou te word nie.” Daar word natuurlik sorg aan die dag gelê om die Koninkryksaal altyd op ’n manier te gebruik wat respek en waardigheid weerspieël.

In hierdie opsig het die Christendom ’n growwe gebrek aan respek geopenbaar. Party godsdiensorganisasies gebruik hulle plekke van aanbidding as gemeenskapsentrums vir vermaak. Hulle hou godsdienstige rockmusiekkonserte en het vertrekke vir gewigoptel, biljarttafels, kleuterskole en binnenshuise bioskope. Een kerk het ’n stoeigeveg as deel van hulle program aangebied. Dit sal nouliks in ooreenstemming wees met die voorbeeld wat die apostels gestel het.

Wanneer enige gemeente in die eerste eeu onbehoorlik opgetree het, was regstelling gepas. Party in die Christengemeente van Korinthe het byvoorbeeld die viering van die Here se Aandmaal as ’n geleentheid gebruik om te eet en te drink. Hulle het hulle aandete saamgebring om voor of gedurende die vergadering te eet, en party het hulle selfs ooreet en te veel gedrink. Dit was waarlik onvanpas. Die apostel Paulus het aan hulle geskryf: “Het julle dan geen huise om in te eet en te drink nie?”—1 Korinthiërs 11:20-29.

In ooreenstemming met Paulus se raad probeer Jehovah se Getuies eerder by die huis of elders na persoonlike sake omsien as om dit by die Koninkryksaal te doen. Ons gereelde vergaderinge bied weliswaar ’n gerieflike geleentheid om ’n hele paar vriende tegelykertyd te sien. Die Koninkryksaal is egter aan Jehovah toegewy, daarom moet dit uitsluitlik vir sy aanbidding gebruik word. Ons maak nie van ons bywoning misbruik deur sekulêre sake te doen of na persoonlike finansiële transaksies om te sien nie.

Verder gebruik die gemeente nie die Koninkryksaal vir ontspanningsprogramme, fondsinsamelings-aktiwiteite of gemeenskapsdienste, soos kindersorg, nie. Daar is ander plekke waar ’n mens sulke persoonlike sake en sakebedrywighede kan doen.

Die ouere manne in een Koninkryksaal het opgemerk dat gemeentelede ’n gewoonte daarvan maak om artikels by vergaderinge te leen en geleende artikels terug te besorg. Hulle het ook ’n gewoonte daarvan gemaak om videokasette by die Koninkryksaal uit te ruil. Hoewel hierdie bedrywighede nie kommersieel van aard was nie, het die ouere manne hulle gehelp om te sien dat dit verstandig is om waar moontlik tuis na hierdie dinge om te sien.

Om enige situasies te vermy wat ’n verkeerde indruk kan skep en om seker te maak dat die Koninkryksaal op ’n gepaste manier gebruik word, moet elkeen hom afvra: ‘Is daar enige persoonlike sake waarna ek by die Koninkryksaal omsien wat by die huis gedoen kan word?’ Sal dit nie beter wees om, wanneer ons byvoorbeeld uitstappies of ander gesellighede reël, sulke reëlings tuis te bespreek nie? Kan ons die telefoon gebruik of diegene met wie ons in aanraking wil kom by hulle huis besoek? Om Paulus se woorde te gebruik, kan ons sê: ‘Het ons dan geen huise waar ons sulke sake kan reël nie?’

’n Bepaalde tyd en plek om Jehovah te aanbid

In Prediker 3:1 sê die Bybel: “Alles het sy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar ’n tyd.” Wanneer ons vergaderinge by die Koninkryksaal bywoon, kan ons ons ten volle in bedrywighede verdiep wat met die Christelike bediening verband hou. Dit is ’n bepaalde tyd om Jehovah te aanbid.

Jesus se halfbroer, Jakobus, het ons teen partydigheid in die Christengemeente vermaan (Jakobus 2:1-9). Hoe kan ons hierdie raad in ons Koninkryksale toepas? Dit kan ’n indruk van partydigheid skep as geskrewe uitnodigings na ’n sosiale geleentheid opsigtelik by die Koninkryksaal uitgedeel word. In een gemeente was dit die gebruik om sulke uitnodigings in die boeketas of Bybel van diegene teenwoordig te plaas. Dit is weliswaar geriefliker as om die uitnodigings te pos of by elke huis af te lewer. Maar hoe voel diegene wat nie ’n uitnodiging kry nie nadat hulle gesien het dat uitnodigings aan ander uitgedeel word? Kan dit die indruk van partydigheid skep?

Dit is natuurlik nie nodig om ’n streng reël toe te pas dat niemand ’n persoonlike boodskap of pakkie aan ’n ander mag gee terwyl hy by die Koninkryksaal is nie; dit is ook nie verkeerd om by die Koninkryksaal oor daaglikse bedrywighede te praat, iemand na jou huis te nooi of iemand te vra om saam met jou aan die een of ander vorm van ontspanning deel te neem nie. Maar hierdie gevalle moet terloops wees en op ’n oordeelkundige en onopvallende manier geskied. Persoonlike reëlings moet nooit aan die ware doel van ons samekoms by die Koninkryksaal, naamlik om geestelik opgebou te word, afbreuk doen nie.—Mattheüs 6:33; Filippense 1:10.

Manne wat die voorbeeld stel

Ouere manne en bedieningsknegte stel ywerig die voorbeeld in hulle betoning van respek vir die Koninkryksaal. Daar is gewoonlik een of twee ouere manne en bedieningsknegte wat aangewys is om sake in verband met die instandhouding van die Koninkryksaal te behartig. Waar meer as een gemeente dieselfde saal gebruik, sien ’n komitee van ouere manne na hierdie sake om.

Hoewel sekeres spesifiek aangewys word om na sulke pligte om te sien, moet alle bedieningsknegte en ouere manne ’n opregte belangstelling in die saal toon. Hulle besef dat die Koninkryksaal aan Jehovah toegewy is en vir sy aanbidding gebruik word.

Ouere manne moet nie sloer as herstelwerk nodig is nie (2 Kronieke 24:5, 13; 29:3; 34:8; Nehemia 10:39; 13:11). In sommige gemeentes word gereelde inspeksies van die Koninkryksaal gehou sodat daar onmiddellik na enige nodige herstelwerk omgesien kan word. Inventarisse word gehou om seker te maak dat nodige voorrade byderhand en toeganklik is. As daar ’n aangewese plek is waar voorrade, gereedskap en skoonmaaktoerusting gebêre word, moet alle ouere manne en bedieningsknegte belangstel in die toestand daarvan en seker maak dat dit netjies gehou word. Diegene wat by die lektuur- en tydskriftoonbank werk, kan hulle belangstelling toon deur toe te sien dat leë kartondose nie in die saal rondlê nie.

Deur ’n voorbeeld te stel, kan ouere manne en bedieningsknegte die res van die gemeente help om ywer vir die Koninkryksaal te openbaar (Hebreërs 13:7). Almal kan behoorlike respek toon deur te help om die saal skoon te maak en deur ’n opregte belangstelling in die algemene voorkoms daarvan te toon.

Jesus het in Mattheüs 18:20 gesê: “Waar twee of drie in my Naam vergader, daar is Ek in hul midde.” Ja, Jesus stel belang in wat ons doen wanneer ons bymekaarkom om Jehovah te aanbid. Dit sluit alle vergaderinge in huise en groot vergaderinge soos streek- en kringbyeenkomste in.

Vir miljoene Getuies van Jehovah is daar nie nog ’n plek so na aan hulle hart soos hulle gereelde plek van aanbidding, die Koninkryksaal, nie. Hulle toon gepaste respek vir daardie plek van aanbidding. Hulle openbaar ’n ywerige gees deur daarvoor te sorg, en hulle probeer dit altyd op ’n gepaste wyse gebruik. Mag jy ook die vermaning wat Jehovah self gee, ter harte neem: “Gee ag op jou voet as jy na die huis van God gaan.”—Prediker 4:17.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel