Vrae van lesers
Aangesien Christene nie geld verwed nie, mag hulle dan kaartjies aanvaar of aan loterye deelneem waardeur hulle pryse kan wen?
Dit is ’n vraag wat al van tyd tot tyd opgeduik het en daarom is dit reeds in ons publikasies bespreek. In sommige tale het ons indekse van ons lektuur beskikbaar gestel, soos die Watch Tower Publications Index 1930-1985 (en ’n soortgelyke een wat die jare 1986-1990 dek). As ’n Christen sulke indekse in sy taal het, kan dit baie nuttig wees om vinnig bevredigende antwoorde te kry.
Die vraag wat hierbo gevra word, is ’n voorbeeld hiervan. As ’n mens in die Index vir 1930-1985 onder die opskrif “Questions From Readers” kyk, kry jy die tussenhofie “‘drawings,’ may Christian accept ticket for?” Die leser word verwys na die deel “Questions From Readers” in The Watchtower van 15 Februarie 1973, bladsy 127.a Baie Getuies het die gebonde bundel (of afsonderlike nommers) van Die Wagtoring vir 1973, of hulle kan dit in die biblioteek van talle Koninkryksale raadpleeg.
Die bespreking wat in 1973 gepubliseer is, het daarop gewys dat Christene tereg enige sweepstakes of loterye moet vermy wat behels dat ’n persoon kanse koop (soos loterykaartjies) of geld gee vir ’n kans om die een of ander prys te wen. Eenvoudig gestel: Ons vermy dobbelary wat ’n vorm van hebsug is.—1 Korinthiërs 5:11; 6:10; Efesiërs 4:19; 5:3, 5.
Maar ’n winkel of ’n sakeonderneming gebruik dalk loterye as ’n vorm van reklame. ’n Persoon hoef net sy naam in te gee of ’n vorm of kaartjie in te stuur sonder om enigiets te koop. Die lotery is ’n deel van die reklameveldtog; dit is ontwerp as ’n onpartydige metode om te besluit vir wie die prys of pryse gegee sal word. Party Christene meen dalk dat hulle die prys kan aanvaar in ’n lotery wat nie dobbelary behels het nie, net soos hulle gratis monsters of ander geskenke kan aanvaar wat ’n sakeonderneming of ’n winkel dalk in hulle reklameprogram gebruik.
Party Christene sal egter enigiets van hierdie aard vermy, omdat hulle nie ander wil laat struikel of verwar nie en ook omdat hulle ver weg wil bly van enige versoeking om op die sogenaamde geluksgodin te vertrou. Soos Jesaja 65:11 toon, verbind God se knegte hulle nie met “die geluksgod” of “godin van die noodlot” nie. Hulle voel dalk ook dat hulle nie deel wil hê aan enige publisiteit waarby die wenners betrokke moet wees nie. Diegene wat so oor die saak voel, moet beslis nie krities wees teenoor ’n Christen of Christene wie se gewete hulle toelaat om by sulke loterye betrokke te raak nie.—Vergelyk Romeine 14:1-4.
[Voetnoot]
a Dieselfde materiaal is in die indeks opgeneem onder die opskrifte “Advertising”, “Business” en “Gambling”, sodat die veelsydigheid van die Index ’n mens help om die inligting op te spoor.