Jehovah verander die tye en die geleenthede in Roemenië
WINDE van verandering het in 1989 deur Oos-Europa gewaai. Binne die bestek van ’n paar maande het regerings wat eers soos onoorwinlike vestings was soos dominosteentjies omgetuimel. Tesame met politieke hervorming was daar veranderinge op sosiale, ekonomiese en, van die grootste belang vir Jehovah se Getuies, op godsdiensgebied. Jehovah se Getuies het in die een land na die ander amptelike erkenning ontvang, en hulle vryheid om voort te gaan met hulle godsdiensbedrywigheid is herstel.
Maar dit het gelyk asof dinge anders sou wees in Roemenië. Die regering het so ’n groot houvas op die mense gehad dat dit gelyk het asof die winde van verandering nie veel invloed sou hê nie. Toe Getuies van Jehovah daar gehoor het wat in die ander Oos-Europese lande gebeur, het hulle hulle afgevra: ‘Sal ons ooit voor Armageddon godsdiensvryheid geniet?’ Hulle harte het gesmag na die tyd wanneer hulle saam met hulle geestelike broers en susters by Christelike vergaderinge kan vergader, die goeie nuus in die openbaar kan verkondig en hulle Bybelpublikasies openlik kan bestudeer sonder om dit heeltyd te moet wegsteek. Dit het alles na ’n droom gelyk.
Toe is die droom bewaarheid! Dit het in Desember 1989 gebeur. Tot almal se verbasing het Ceauşescu se regering onverwags ineengestort. Skielik het daardie Christene verligting gevind. Op 9 April 1990 het Jehovah se Getuies in Roemenië wetlike erkenning as ’n godsdiensorganisasie ontvang. Jehovah het die tye en die geleenthede verander vir die 17 000 bedrywige Getuies daar.—Vergelyk Daniël 2:21.
’n Lang geskiedenis
In 1911 het Carol Szabo en Josif Kiss na Roemenië teruggekeer van die Verenigde State af, waar hulle die Bybelse waarheid leer ken het en hulle lewe aan Jehovah toegewy het om sy wil te doen. Hulle wou hulle landgenote van die goeie nuus vertel. Hulle het onmiddellik ná hulle aankoms in Roemenië begin preek. Toe die Eerste Wêreldoorlog uitbreek, is hulle gearresteer as gevolg van wat hulle gedoen het. Maar ten spyte daarvan het die Koninkryksaadjies wat hulle gesaai het resultate begin lewer. Teen 1920, toe die werk herorganiseer is, was daar ongeveer 1 800 Koninkryksverkondigers in Roemenië.
Teen daardie tyd het die revolusionêre gees wat in die Balkan geheers het al hoe meer in Roemenië voorgekom en was onluste aan die orde van die dag. Ten spyte van die moeilike tye het ons geestelike broers voortgegaan met die werk. In 1924 het die Wagtoringgenootskap ’n kantoor te Regina Maria-straat 26 in Cluj-Napoca geopen om na die werk in Roemenië, Hongarye, Bulgarye, Joego-Slawië en Albanië om te sien.
Maar die politieke situasie het baie gespanne geraak, en buiten moeilikheid van die owerheid was daar moeilikheid in die organisasie. Die 1930 Year Book berig: “Weens die afvalligheid van die een wat deur die Genootskap soontoe gestuur is, is die vriende uiteengedrywe en hulle vertroue grootliks geskud. Die Genootskap wag vir ’n geleentheid om weer die werk in daardie land te herstel, maar die plaaslike owerheid verbied alles, en ons moet wag totdat die Here ’n gunstiger weg baan.” Toe, in 1930, is Martin Magjarosi, ’n Roemeense Getuie wat in 1922 gedoop is, as die nuwe takkneg aangestel, en die kantoor is later na Crişanastraat 33, Boekarest, verskuif. Ná ’n lang stryd is die Genootskap uiteindelik in 1933 as ’n wetlike korporasie in Roemenië geregistreer.
Moeilikhede het voortgeduur
Die Getuies in Roemenië het steeds met moeilike beproewinge te kampe gehad. Die 1936 Year Book berig: “Dit is ongetwyfeld die geval dat die broeders nêrens anders op die aarde met groter moeilikhede te kampe het as die broeders in Roemenië nie.” Ten spyte van al die teenkanting het die diensrapporte vir 1937 75 gemeentes met 856 verkondigers in Roemenië gemeld. Die Gedenkmaal is deur 2 608 bygewoon.
Toe die Tweede Wêreldoorlog begin het, het Roemenië dit nie vrygespring nie. In September 1940 het generaal Ion Antonescu mag in die regering in hande geneem en ’n regering soortgelyk aan Hitler s’n ingestel. Terreurdade was aan die orde van die dag. Honderde van ons broers is gearresteer, geslaan en gemartel. Broer Magjarosi is in September 1942 gearresteer, maar hy kon steeds voortgaan om die werk vir Transsilvanië vanuit die tronk te koördineer.
Die vervolging het voortgeduur toe Hitler se troepe in 1944 deur die land getrek het. ’n Verslag uit Boekarest het die toestande onder die Nazi-bewind beskryf: “Jehovah se Getuies is in hierdie land verskriklik vervolg. Terwyl ons saam met Kommuniste gevange gehou is en die geestelikes wat Hitler ondersteun het ons daarvan beskuldig het dat ons erger as Kommuniste is, is talle van ons tronkstraf van 25 jaar, of lewenslange tronkstraf, of die doodstraf opgelê.”
Die oorlog het uiteindelik tot ’n einde gekom, en op 1 Junie 1945 het die Genootskap se kantoor in Boekarest sy bedrywighede hervat. Hoewel dit moeilik was om papier in die hande te kry, het toegewyde werkers meer as 860 000 boekies en meer as 85 000 eksemplare van Die Wagtoring in Roemeens en Hongaars gedruk. Jehovah het hulle harde werk ryklik geseën. Teen 1946 is ongeveer 1 630 nuwelinge gedoop. ’n Hoogtepunt van daardie jaar was die nasionale byeenkoms wat op 28 en 29 September in Boekarest gehou is. Die geestelikes het hulle bes gedoen om in te gryp en hierdie byeenkoms stop te sit, maar hulle het nie daarin geslaag nie, en ongeveer 15 000 mense het die openbare toespraak bygewoon. Dit was die eerste keer dat die broers in Roemenië so ’n byeenkoms kon hou.
Die Genootskap het broer Alfred Rütimann van die Switserse takkantoor na Roemenië gestuur. In Augustus 1947 kon hy met meer as 4 500 broers in 16 plekke praat en hulle opbou vir wat voorgelê het. Druk, wat hierdie keer van die Kommunistiese bewind gekom het, is spoedig weer op die Getuies uitgeoefen. In Februarie 1948 het die owerheid ons drukwerk en predikingsbedrywigheid verbied. Toe, in Augustus 1949, was daar ’n klopjag op die kantoor te Alionstraat 38. Gevolglik is baie broers, onder andere broer Magjarosi, gearresteer. Hierdie keer is hulle na tronke of arbeidskampe gestuur nadat hulle van imperialisme aangekla is. Die werk is vir die daaropvolgende 40 jaar verbied en Getuies van Jehovah het baie gely. Moeilikheid wat deur vyande in die organisasie veroorsaak is, het die bekommernis vererger. Ceauşescu se bewind het uiteindelik in 1989 ineengestort, en hulle was vry! Wat sou hulle nou met hulle vryheid doen?
Daar word weer openlik gepreek
Die Getuies het geen tyd verspil nie. Hulle het onmiddellik van huis tot huis begin preek. Maar dit was nie maklik vir diegene wat jare lank moedig deur informele getuieniswerk die werk ondergronds voortgesit het nie. Hulle was senuweeagtig omdat hulle nou openlik kon preek. Die meeste van hulle het dit nog nooit voorheen gedoen nie, en die laaste keer wat enige van hulle van huis tot huis gepreek het, was in die laat veertigerjare. Watter soort resultate het hulle? Laat ons sien.
’n Goeie plek om te begin is in die hoofstad, Boekarest, wat 2,5 miljoen inwoners het. Twee jaar gelede was daar net vier gemeentes in die stad. Nou is daar tien gemeentes, en meer as 2 100 het die Gedenkmaalviering vir 1992 bygewoon. ’n Paar nuwe gemeentes sal moontlik binnekort gestig word aangesien daar so baie progressiewe tuisbybelstudies gehou word.
Craiova is ’n stad in die suidwestelike deel van die land met ongeveer 300 000 inwoners. Tot 1990 was daar slegs ongeveer 80 Getuies in die hele stad. Toe het die pioniergees vlam gevat en die werk het vinnig vooruitgegaan. In 1992 alleen is 74 mense gedoop, en meer as 150 Bybelstudies word gehou. Met meer as 200 verkondigers soek hulle ywerig na ’n geskikte plek vir ’n Koninkryksaal.
In Tîrgu-Mureş het ’n Getuiesuster en twee broers die Ortodokse priester besoek om haar naam van die kerkrol te skrap. Toe die priester die doel van hulle besoek hoor, het hy hulle ingenooi, en hulle het ’n goeie bespreking gehad. Die priester het toe gesê: “Ek beny julle, maar nie op ’n lelike manier nie. Ons moet eintlik die werk doen wat julle doen. Dit is ’n groot jammerte dat die Ortodokse Kerk ’n slapende reus is”! Hy het die brosjure Moet jy aan die Drie-eenheid glo? en ’n eksemplaar van Die Wagtoring geneem. Die suster is verheug omdat sy nie meer ’n lid van die “slapende reus” is nie.—Openbaring 18:4.
Dit is opmerklik dat die meeste mense wat vandag die waarheid leer jongmense is. Waarom? Hulle het blykbaar baie verwag toe die regering verander het, maar hulle is ontnugter. Hulle is verheug om te leer dat net Jehovah se Koninkryk ’n blywende oplossing vir ons probleme kan bring.—Psalm 146:3-5.
Groot dinge vind in klein plekkies plaas
Ocoliş is ’n dorpie in noordelike Roemenië. In 1920 het ’n man met die naam Pintea Moise van die Russiese front teruggekeer, waar hy ’n krygsgevangene was. Hy was vroeër ’n Katoliek, maar voor sy terugkeer het hy ’n Baptis geword. Drie weke later het die Bybelstudente, soos Jehovah se Getuies toe bekend was, hom besoek. Ná daardie besoek het hy gesê: “Nou het ek die waarheid aangaande God gevind!” Teen 1924 was daar ’n groep van 35 in Ocoliş.
Vandag is daar, onder ’n plaaslike bevolking van 473, 170 Koninkryksverkondigers. Elke verkondiger het ongeveer twee huise wat sy toegewese gebied is, en hulle werk ook in die omliggende dorpies. Maar hulle is steeds optimisties. Hulle het so pas ’n pragtige Koninkryksaal gebou met sitplek vir 400. Al die werk is deur die plaaslike Getuies gedoen.
Valea Largă is waar broer Szabo en broer Kiss hulle in 1914 gevestig het. In 1991 was daar, onder die 3 700 inwoners, agt gemeentes en 582 Koninkryksverkondigers. By die Gedenkmaal vir 1992 was daar 1 082—amper 1 uit elke 3 mense in hierdie vallei.
Spesiale pioniers berei die weg
Spesiale pioniers speel ’n groot rol om die goeie nuus onder mense in die meer afgeleë gebiede te verkondig. Ionel Alban het net ná die verkryging van vryheid om te kan preek in twee stede begin werk en elke week twee dae in Orşova en vyf dae in Turnu-Severin deurgebring.
Daar was geen Getuies in Orşova toe Ionel daar aangekom het nie. Hy het die eerste week ’n Bybelstudie met ’n 14-jarige seun begin. Die seun het in twee maande so baie veranderinge in sy lewe aangebring dat ’n vriend en ’n buurman ook begin studeer het. Die buurman, Roland, wat ’n Katoliek was, het verbasend vinnig vordering gemaak. Ná slegs ’n maand en ’n half het hy Ionel in die predikingswerk vergesel, en binne vyf maande is hy gedoop. Hy het die voltydse diens onmiddellik betree. Sy ma het ook begin studeer en is by die “Ligdraers”-Streekbyeenkoms vir 1992 gedoop. Nou is daar tien verkondigers in Orşova, en hulle hou 30 tuisbybelstudies.
Die eerste een wat die waarheid in Turnu-Severin aanvaar het, was ’n ontvangsklerk by die hotel waar Ionel gebly het. Ná twee maande het die man ’n ongedoopte verkondiger geword, en binne drie maande is hy gedoop. Nou is hy een van 32 verkondigers daar wat altesaam 84 tuisbybelstudies hou.
’n Ander spesiale pionier, Gabriela Geica, het as ’n gewone pionier gedien selfs toe daar ’n verbod op ons werk was. Sy wou graag werk waar daar hulp nodig was. Sy het ’n groot gebied as haar toewysing ontvang. Partykeer het sy van 100 tot 160 kilometer ver gereis om belangstellendes te besoek. Een stad waar sy gewerk het, was Motru waar daar net vier Getuies was. “Weens die toenemende bedrywigheid in Motru het die priesters en ander godsdiensgroepe ons begin teëstaan”, sê sy. “Hulle het die burgemeester en die polisie beïnvloed om druk op die gesinne by wie ek gewoon het uit te oefen. Hulle het my gevra om te loop en ek moes dus omtrent elke maand na blyplek soek.”
Gabriela het ’n studie begin met ’n ateïs in Orşova wat gesê het dat sy nie in godsdiens of die Bybel belangstel nie. Maar nadat sy slegs vier maande lank gestudeer het, het die vrou die Bybel begin verdedig. Hoewel haar man haar snags uitgesluit het en gedreig het om van haar te skei of haar dood te maak, het sy in haar onkreukbaarheid volhard. Selfs voordat sy gedoop is, het sy tien Bybelstudies gehou.
Wonderlike vooruitsigte
In Augustus 1992 het Roemenië ’n hoogtepunt van 24 752 verkondigers in 286 gemeentes bereik. Die Gedenkmaalopkoms was meer as 66 000. By die klein takkantoor in Boekarest doen 17 werkers hulle bes om na die geestelike behoeftes van hulle broers om te sien. Hulle sien daarna uit om binnekort met die bou van ’n groter takkantoor te begin.
Jehovah se Getuies in Roemenië kan nie anders as om verbaas te wees oor al die veranderinge wat so vinnig in die afgelope paar jaar plaasgevind het nie. Hulle is dankbaar teenoor Jehovah God omdat hulle ’n deel is van die internasionale gemeente wat sy naam dra en mense tot juiste kennis aangaande hom en sy onveranderlike voorneme rig. Hoe dankbaar is hulle tog nie teenoor Jehovah nie dat hy ná soveel jare van ontberinge en vervolging die tye en die geleenthede in Roemenië verander het!
[Kaarte op bladsy 23]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
HONGARYE
ROEMENIË
Boekarest
Cluj-Napoca
Craiova
Tîrgu-Mureş
Orşova
Turnu -Severin
Motru
Turda
BULGARYE
[Prente op bladsy 24, 25]
1. Ongeveer 700 Getuies wat in 1947 in die woud vergader het
2. ’n Strooibiljet vir ’n openbare toespraak in 1946
3. ’n Byeenkoms in Alba Iulia in 1992
4. Getuieniswerk in Cluj-Napoca vandag
5. ’n Koninkryksaal naby Turda
6. Die Bethelgesin in Boekarest