Ouere manne—Delegeer!
HY WAS ’n geduldige, nederige man met ’n vurige sin vir geregtigheid getemper deur sy lewenservaring. Daarom het meer as driemiljoen mans, vrouens en kinders met vertroue na hom opgesien vir raad. Hy het probeer om hulle nie teleur te stel nie. Hy het van die more tot die aand na hulle probleme geluister en hulle geduldig gehelp om te sien hoe God se wette op hulle situasie van toepassing is. Ja, vir ’n kort tydjie, ongeveer 3 500 jaar gelede, is die 12 stamme van Israel man-alleen deur Moses gerig.
Maar Jetro, Moses se skoonpa, was bekommerd. Hoe kon Moses ooit hoop om so ’n pas vol te hou? Daarom het Jetro gesê: “Die ding wat jy doen, is nie goed nie. Jy sal heeltemal uitgeput raak, jy sowel as hierdie volk wat by jou is. Want die saak is te swaar vir jou; jy kan dit nie alleen doen nie” (Exodus 18:17, 18). Die oplossing? Jetro het Moses aangeraai om van sy verantwoordelikhede aan ander te delegeer (Exodus 18:19-23). Goeie raad!
In die Christengemeente is daar vandag baie ouere manne wat, soos Moses, na meer dinge probeer omsien as wat hulle ooit alleen kan behartig. Hulle reël vergaderinge en berei ook programdele voor en bied dit dan op ’n ordelike, doeltreffende wyse aan (1 Korinthiërs 14:26, 33, 40; 1 Timotheüs 4:13). Ouere manne sien ook om na die behoeftes van indiwiduele lede van die gemeente (Galasiërs 6:1; 1 Thessalonicense 5:14; Jakobus 5:14). Hulle neem die leiding in die allerbelangrike werk om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig (Mattheüs 24:14; Hebreërs 13:7, NW). Hulle reël ook dat die gemeente ’n voorraad lektuur beskikbaar het om onder die publiek te versprei.
Daarbenewens word party ouere manne aangewys om dele op kring- en streekbyeenkomsprogramme te behartig. Hulle dien op byeenkomsorganisasies en hospitaalskakelkomitees. Party help met die bou van Koninkryksale. En dit alles buiten en behalwe hulle gesinsverantwoordelikhede en hulle behoefte om hulleself geestelik te voed. (Vergelyk Josua 1:8; Psalm 110:3; 1 Timotheüs 3:4, 5; 4:15, 16.) Hoe kry sulke Christenmanne alles gedoen? Soos Moses moet hulle hulp hê. Hulle moet leer om te delegeer. Trouens, iemand wat nie delegeer nie, is ’n swak organiseerder.
Die nut om ander op te lei
Daar is verdere redes waarom verantwoordelikhede gedelegeer moet word. In Jesus se illustrasie van die talente het die meester, voordat hy op ’n lang reis vertrek het, sy slawe byeengeroep en verskillende verantwoordelikhede aan hulle gedelegeer (Mattheüs 25:14, 15). Deur dit te doen, kon die meester verskeie doelwitte bereik. Eerstens het sy slawe in sy afwesigheid namens hom opgetree en noodsaaklike werk het nie tot stilstand gekom terwyl hy weg was nie. Tweedens kon die meester, aangesien daar baie myle tussen doen en sê lê, op die vermoëns en getrouheid van sy slawe let. Derdens het die meester sy slawe die geleentheid gegee om die ondervinding op te doen wat hulle baie nodig gehad het.
Hierdie illustrasie het betekenis vir ons dag. Toe Jesus die aarde verlaat het, het hy verantwoordelikhede aan sy gesalfde dissipels toevertrou. Die oorblyfsel van hierdie groep is steeds verantwoordelik vir die wêreldwye belange van die Koninkryk (Lukas 12:42). Gedurende die hedendaagse bestuurderskap van die gesalfdes was dit duidelik dat Jehovah se seën op sy organisasie is. Met die gevolg dat dit wonderlik uitgebrei het. Net in die laaste vyf jaar het ruim ’n miljoen nuwelinge hulle toewyding deur doop gesimboliseer! Dit het duisende nuwe gemeentes en honderde nuwe kringe tot gevolg gehad.
Net soos Jesus Christus verantwoordelikhede aan “die getroue en verstandige dienskneg” gedelegeer het, het hulle op hulle beurt gemeentelike verantwoordelikhede toegewys aan ouere manne en bedieningsknegte van die “ander skape” (Mattheüs 24:45-47; Johannes 10:16). Daar is nietemin nog toegewyde manne nodig om na die ontsaglike groei om te sien. Waar sal hulle vandaan kom? Ouere manne moet hulle oplei. Maar hoe kan ouere manne sulke manne oplei as hulle nie gepaste verantwoordelikhede aan veelbelowende indiwidue delegeer nie? Hoe anders het ouere manne die geleentheid om op die vermoëns en lojaliteit van jonger manne te let?
Wat beteken dit om te delegeer?
Vir sommige beteken “delegeer” om hulle verantwoordelikheid af te skuif, te ontduik, te versuim of daarvan afstand te doen. Maar wanneer dit op gepaste wyse gedoen word, is “delegeer” in werklikheid ’n manier om verantwoordelikhede na te kom. Die werkwoord “om te delegeer” word gedefinieer as “om aan iemand anders toe te vertrou; om [hom] as jou verteenwoordiger aan te stel; om verantwoordelikheid of gesag te gee”. Nogtans bly die persoon wat delegeer uiteindelik verantwoordelik vir dit wat gedoen word.
Party vermy dit dalk om te delegeer omdat hulle bang is dat hulle beheer sal verloor. Tog beteken delegasie nie dat jy beheer verloor nie. Hoewel hy onsigbaar is en uit die hemele regeer, is Christus Jesus heeltemal in beheer van die Christengemeente. Op sy beurt vertrou hy die gemeente toe aan die sorg van ervare manne.—Efesiërs 5:23-27; Kolossense 1:13.
Ander delegeer nie graag nie omdat hulle meen hulle self die werk vinniger kan doen. Maar Jesus het die nut daarin gesien om ander op te lei. Niemand op aarde het beter as Jesus onderrig nie (Johannes 7:46). Tog het hy, nadat hy instruksies aan 70 van sy dissipels gegee het, hulle in die predikingswerk uitgestuur. Hoewel hulle nie Jesus se onderrigtingsvermoë kon ewenaar nie, het hulle teruggekeer vol blydskap oor hulle sukses. Jesus het hom saam met hulle verheug en hy het hulle geprys omdat hy geweet het dat hulle lank nadat hy weg is met die werk sou voortgaan en uiteindelik meer sou uitrig as wat hy ooit alleen sou kon doen.—Lukas 10:1-24; Johannes 14:12.
Delegasie beteken ook om hulp met nodige besonderhede te verkry. Die dag voordat Jesus sou sterf, het hy Petrus en Johannes aangewys om die nodige reëlings te tref vir sy laaste Pasgamaal (Lukas 22:7-13). Jesus het nie nodig gehad om self ’n lam, wyn, ongesuurde brood en bitter kruie te koop nie; ook nie om gereedskap, brandhout, ensovoorts bymekaar te kry nie. Petrus en Johannes het vir hierdie besonderhede gesorg.
Ouere manne kan vandag soortgelyke voordele geniet as hulle Jesus se voorbeeld navolg. Die broer wat na die lektuur omsien, kan byvoorbeeld gevra word om die nodige voorraad vir ’n komende kampanje te bestel. Hy kan dalk gevra word om sy boeke te ontleed om vas te stel hoe soortgelyke lektuur in vorige kampanjes gebruik is. Hy kan ook die soort gebied wat die gemeente het in ag neem voordat hy die nodige bestelvorm invul. Dan sal hy die vorm vir die gemeentelike sekretaris gee om na te gaan. Wanneer die lektuurkneg vertroud is met sy werk behoort dit nie vir die sekretaris nodig te wees om vorige aantekeninge weer na te gaan nie solank die totale op die bestelvorm redelik is. Dit is duidelik dat hierdie eenvoudige delegasie ’n lektuurbestelling makliker en eenvoudiger sal maak vir almal wat daarby betrokke is.
Hoe kan ’n mens, met die oog op sulke potensiële voordele, doeltreffend delegeer?
Hoe om te delegeer
Definieer die taak. Maak allereers duidelik watter resultate verwag word. Die “man van hoë geboorte” in Jesus se illustrasie van die ponde het vir sy tien diensknegte gesê: “Dryf handel daarmee totdat ek kom” (Lukas 19:12, 13). Die meester het van die diensknegte verwag om winsgewend met sy pond handel te dryf en met sy terugkeer verslag te lewer van hulle wins. Hulle het geweet wat hulle moes doen. Hoe sal hierdie beginsel vandag van toepassing wees op ’n Koninkryksaalprojek? Die broer wat aangewys is om die dak reg te maak sal byvoorbeeld gewoonlik gesê word watter materiaal om te gebruik, waar hy dit kan kry en wanneer hy met die werk moet begin, as die weer dit toelaat. Sulke spesifieke riglyne dra by tot goeie organisasie.
Dit is belangrik om nie net die omvang van ’n taak te definieer nie maar ook watter besluite ’n persoon mag neem en watter sake hy met iemand anders moet bespreek. Moses het sy benoemdes aangesê om reg te spreek oor klein sake, maar hy sou moeilike sake behartig.—Exodus 18:22.
Maak seker dat twee persone se verantwoordelikheid nie oorvleuel nie. Wanneer meer as een persoon dieselfde taak aangewys word, lei dit tot verwarring. Stel jou voor wat by ’n groot byeenkoms van Jehovah se Getuies kan gebeur as die Skoonmaakafdeling en die Voedselafdeling albei die verantwoordelikheid gegee word om die kosstalletjies skoon te maak, of as die Saalwagtersafdeling en die Doopafdeling albei aangewys word om gedurende die doop die toeskouers te beheer.
Kies bekwame manne. Jetro het Moses aangeraai: “Maar kies jy uit die hele volk bekwame manne wat God vrees, betroubare manne wat onregverdige wins haat. En stel dié aan oor hulle” (Exodus 18:21). Dit is vanselfsprekend dat ’n man eers oor die geestelike bevoegdhede moet beskik. Om te bepaal of iemand “bekwaam” is vir die werk wat gedoen moet word, moet faktore soos persoonlikheidstrekke, ondervinding, opleiding en talente in ag geneem word. Daarom sal ’n Christen met ’n besonder innemende, aangename, hulpvaardige geaardheid waarskynlik goed vaar by die tydskriftoonbank of as ’n saalwagter. Net so, wanneer iemand gekies word om die gemeentelike sekretaris by te staan, is dit logies dat daar in ag geneem sal word hoe ordelik hy is. Skenk hy aandag aan besonderhede, is hy betroubaar en kan hy vertroulikheid handhaaf? (Lukas 16:10). Om bo en behalwe die noodsaaklike geestelike bevoegdhede ook aan sulke faktore aandag te skenk, sal help om die regte man vir die werk te kies.
Stel voldoende hulpmiddele beskikbaar. Die een wat aangewys is moet sekere hulpmiddele tot sy beskikking hê om die aangewese taak te voltooi. Dalk het hy toerusting, fondse of hulp nodig. Maak genoeg hulpmiddele beskikbaar. ’n Broer word dalk gevra om die een of ander noodsaaklike herstelwerk aan die Koninkryksaal te doen. Dit is vanselfsprekend dat daar vir hom gesê sal word wat gedoen moet word, maar hy sal ook miskien ’n bietjie geld nodig hê om bykomstige materiale te koop. Miskien sal hy hulp nodig hê. Daarom kan die ouere manne ander vra om hom te help, of iets in die gemeente aankondig soos: ‘Broer So-en-so sal die-en-daai werk aan die saal doen en hy kan dalk vir julle vra om te help.’ Sulke deurdagte optrede sal voorkom dat jy ’n taak aanwys sonder om voldoende hulpmiddele te voorsien. “Moenie half delegeer nie”, is hoe ’n bestuurskonsultant dit stel.
Wanneer jy aan ander verantwoordelikhede oordra, moet jy ander in kennis stel dat die persoon in jou plek optree. Die gesag om in jou plek op te tree is ook ’n hulpmiddel. Josua is voor “die hele vergadering” volmag gegee as die nuwe leier van Israel. Moses is beveel om ‘op hom van sy hoogheid te lê’ (Numeri 27:18-23). In die gemeentelike situasie kan dieselfde bereik word deur eenvoudig ’n lys van diegene wat pligte aangewys is op die kennisgewingbord aan te bring.
Ondersteun hulle besluite. Nou kan die een wat aangewys is met die werk begin. Maar onthou dat jy ’n ware bron van bemoediging kan wees as jy die goeie besluite ondersteun wat hy maak. As ouere man het jy dalk jou eie voorkeure oor waar die mikrofone en meubels op die Koninkryksaal se verhoog moet kom en miskien verskil dit effens van hoe die broer wat aangewys is dit doen. Maar as die broer wat omsien na die verhoog ’n bietjie vryheid in sy werk toegelaat word, sal hy waarskynlik vertroue en ondervinding opdoen. Daarbenewens kan hy dalk selfs sake verbeter. ’n Sakekonsultant het gesê: “Delegeer die taak, nie hoe dit gedoen word nie. . . . Dit laat dikwels skeppende talent na vore kom.”
Buitendien is die broer wat die werk, as ’t ware met sy hand aan die ploeg, doen dikwels nader aan ’n sekere situasie en kan hy dus die probleme daaraan verbonde beter verstaan. Hy sal waarskynlik oplossings vir probleme hê wat werklik werk. Hy het dalk ook met faktore te doen waarvan buitestanders nie bewus is nie. Gevolglik het ’n Christenopsiener van ’n ervare assistent gesê: “As hy sê dat daar probleme is, moet ek hom vertrou.”
Ja, ’n uiters waardevolle hulpmiddel wat vir Christen- ouere manne beskikbaar is, is toegewyde manne en vroue wat bereid en in staat is om te help op watter manier hulle ook al aangewys word. Ouere manne, maak gebruik van hierdie uitstekende hulpmiddel! Delegasie is ’n teken van beskeidenheid en dit kan stres en frustrasie grootliks verminder. Jy sal nie net meer kan doen nie, maar jy sal ook ander die geleentheid gee om die nodige ervaring op te doen.