Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w92 10/15 bl. 24-27
  • Waarheid deurdrenk die dorp van baie waters

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarheid deurdrenk die dorp van baie waters
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Onderhofies
  • Rahbeh—’n kombinasie van die verlede en die hede
  • Waters van waarheid bereik Rahbeh
  • Vooruitgang bring teenkanting
  • Waarheid deurdrenk Rahbeh
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
w92 10/15 bl. 24-27

Waarheid deurdrenk die dorp van baie waters

HOE vreemd! Dat ’n land wat bekend is vir sy baie water dors is! Dat ’n waterryke streek in werklikheid dor en uitgeput is! Dit is ’n dors wat net met die waters van waarheid uit God se Woord, die Bybel, geles kan word. Dit is die verhaal van Rahbeh, ’n klein dorpie met 2 200 inwoners wat ongeveer 130 kilometer van Beiroet af knus in die berge van Noord-Libanon geleë is.

In Arabies beteken die naam Rahbeh “’n ruim plek”, en dit kom van ’n Semitiese grondwoord wat “uitgestrek, uitgesprei” beteken. Heel gepas strek die dorp hom oor twee groot heuwels uit wat sowat 600 meter bo seevlak is. Gedurende die winter en lente kan ’n mens sneeu hoog op die berge in die ooste sien, wat ’n tikkie prag aan die omgewing verleen. Maar Rahbeh is bowenal ’n dorp met baie water. Daar is 360 fonteine, groot sowel as klein, in die gebied, en dit voorsien kosbare water aan die vrugbare landbougrond in die omliggende valleie waar koring, appelkose, pere, perskes en druiwe verbou word.

Rahbeh—’n kombinasie van die verlede en die hede

In baie opsigte het dinge in Rahbeh sedert Bybeltye dieselfde gebly. Huise in die dorp staan dig teen mekaar. Die strate is nou, kronkelend en dra druk verkeer—donkies en koeie. Hoewel daar ’n paar motorvoertuie is, geniet die diere hier voorrang. Hulle eienaars laai dikwels vragte op hulle in die landery en stuur hulle dan alleen huis toe. Hulle volg die nou strate en sukkel self deur al die gewoel om terug te kom by die huis. Kan dit dalk wees waaraan Jesaja gedink het toe hy gesê het: “’n Os ken sy besitter en ’n esel die krip van sy eienaar”?—Jesaja 1:3.

Rahbeh is ook ’n plek met kontraste. Hier sal jy mense vind met ’n universiteitsgraad sowel as eenvoudige boere wat nog nooit in ’n stad was nie. Daar is villas wat deur tuine omring word, en daar is hutjies waar vee vry rondloop. Bykans elke huis het elektriese toestelle, maar elektrisiteit is nie altyd beskikbaar nie. As gevolg hiervan het baie huise ’n kragopwekker. Die hoofstrate van die dorp is geplavei, maar die meeste paadjies wat na die landerye lei, is ongeplavei en hobbelrig. Daarom is pakdiere die enigste manier om die oes van die landerye af te vervoer. Jy sien dalk selfs ’n donkie wat ’n kragopwekker na die landerye toe dra om plaasmasjiene, wat saam met die trekdiere in die landerye gebruik word, van krag te voorsien.

Die lewe in die dorp het ook nie juis veel verander nie. As jy in die dorp oornag, kan die hane jou twee- of drie-uur die oggend wakker kraai. Die daaglikse roetine begin vroeg; moet derhalwe nie verbaas wees as jy hoor hoe mense in die donker na mekaar roep terwyl hulle die diere gereed kry nie. Teen dagbreek kan jy baie van die dorpsbewoners sien wat met hulle gelaaide diere op pad is na die landerye of die markte waar hulle hulle ware verkoop.

Later in die dag kom seuntjies en dogtertjies uit om in die strate en pleine te speel. Hulle uitroepe en gelag vul die lug, soortgelyk aan die profeet Sagaria se beskrywing van hoe dit in eertydse Jerusalem was: “Die pleine van die stad sal vol wees van seuntjies en dogtertjies wat op die pleine daarvan speel” (Sagaria 8:5). Jy sal ook vind dat die dorpsbewoners baie vriendelik en nuuskierig is. Daar word van jou verwag om elke dorpenaar wat jy teëkom te groet, aangesien hulle wil weet wie jy is, waar jy vandaan kom, waarom jy daar is en waarheen jy op pad is. Daar leer almal mekaar baie goed ken.

Waters van waarheid bereik Rahbeh

In so ’n hegte gemeenskap versprei nuus vinnig. Dit is wat gebeur het toe Asaad Younis in 1923 van die Verenigde State na Rahbeh teruggekeer het. Sy vriend Abdallah Blal, wat graag wou weet of Asaad ryk geword het in Amerika, het hom gaan besoek. Pleks van oor geld te praat, het Asaad hom ’n eksemplaar van die boek Die harp van God gegee en vir hom gesê: “Hier is ware rykdom.” Abdallah, ’n gewese Protestant, het hierdie Bybelse publikasie gelees en was baie beïndruk. Hoewel Asaad nie juis ag geslaan het op die informasie nie, was Abdallah opgewonde oor wat hy geleer het en het hy openlik erken dat hy die waarheid gevind het.

’n Ruk later het Abdallah na Tripoli, die grootste stad in Noord-Libanon, verhuis. Daar kon hy in aanraking kom met verskeie Bybelstudente, soos Jehovah se Getuies destyds bekend gestaan het, en het hy gevorder met sy Bybelstudie. Hy het later teruggetrek Rahbeh toe om die goeie nuus wat hy geleer het daar te versprei. Hy het die mense van sy dorp betrek by besprekings oor onderwerpe soos die Drie-eenheid, die vraag of die mens ’n onsterflike siel het, die helse vuur, die priesteramp, die Mis en die gebruik van beelde, en dan het hy vir hulle gewys wat die Bybel werklik leer.

Sommige dorpsbewoners het belangstelling getoon. Drie of vier van hulle het begin om saam met Abdallah predikingswerk te doen. Daarna het hulle begin om Sondagvergaderinge te hou. Die vergaderinge het bestaan uit preke wat op ’n grammofoon gespeel is of uit ’n voorlesing uit die Bybel, waarna almal die informasie bespreek het wat hulle pas gehoor het. Later het hulle Bybelstudiehulpe gebruik, waaronder die boeke Die harp van God, Rykdom en “Laat God waaragtig wees”. Hoogstens tien het die vergaderinge bygewoon, en die meeste was meer nuuskierig as belangstellend. Party het blykbaar hoofsaaklik gekom vir die ete wat aan die einde van elke vergadering voorgesit is.

In die veertigerjare het Abdallah Blal die verantwoordelikheid gekry om na die groep in Rahbeh om te sien. Hy was ’n ywerige en getroue kneg van Jehovah wat ’n pragtige voorbeeld vir die ander gestel het. Een van hulle, broer Mattar, onthou nog hoe hulle hulle predikingswerk gedoen het: “Aangesien daar nie motors in daardie dae was nie, het ek en broer Blal na die nabygeleë dorpe geloop om daar te gaan preek. Ek het die grammofoon gedra, terwyl broer Blal die praatwerk gedoen het. Ons het gewoonlik twee of drie dae gewerk voordat ons teruggekeer het huis toe.” Broer Blal het Jehovah getrou gedien tot hy in 1979 op die ouderdom van 98 oorlede is.

Vooruitgang bring teenkanting

Namate die werk gevorder het, het die broers teenkanting begin ondervind. In 1950 is daar op aanstigting van die dorp se priester ’n vervolgingsveldtog teen die broers in Rahbeh begin. Die priester het die broers daarvan beskuldig dat hulle die kerk ontheilig het en heiligskennis gepleeg het. Party dorpenaars het so woedend geword dat hulle die broers met klippe gegooi het, en sommige broers is gearresteer en in die tronk gegooi. Die daaropvolgende ondersoek het egter getoon dat die beskuldigings vals was. Nogtans is die broers etlike dae in die tronk gehou.

’n Ander teenstander het die dorpsbewoners, waarvan party waarskynlik nie behoorlik kon lees nie, probeer oorhaal om ’n dokument te onderteken waarin die broers van baie dinge beskuldig is, onder andere dat hulle die mense steur deur hulle gedurig by hulle huis te besoek. Om meer mense te oorreed om die dokument te teken, het hy vir hulle gesê dat dit ’n versoek is dat ’n sekere werker terugverplaas word na die dorp. Toe die mense uitvind dat dit in werklikheid ’n aanklag teen die Getuies is, het hulle hulle handtekening doodgetrek. Voorvalle soos hierdie het gehelp om baie amptenare in die omgewing ’n goeie getuienis te gee.

Behalwe sulke regstreekse teenstand het die broers voor nog ’n hindernis te staan gekom. In ’n klein dorpie waar almal mekaar ken, ‘span die vrees vir die mens ’n strik’, soos die Bybel in Spreuke 29:25 sê. Dit verg moed van die broers om te getuig vir hulle bure, vriende en familielede wat hulle voortdurend kritiseer en spot. Jesus se woorde in Mattheüs 10:36 neem dus ware betekenis aan: “’n Mens se huisgenote sal sy vyande wees.” Maar soos die spreuk verder sê: “Hy wat op die HERE vertrou, sal beskut word.” Die geloof en volharding van die broers het besonder goeie resultate opgelewer.

Waarheid deurdrenk Rahbeh

Deur die jare heen het die dorpsbewoners die goeie gedrag van Jehovah se Getuies raakgesien en het baie die waarheid aangeneem. Die broers was verheug toe ’n tweede gemeente in 1969 in Rahbeh gevorm is. Hulle het aangehou om baie hard te werk. Baie het die voltydse bediening betree, en sommige het selfs verhuis om in ander gebiede, waaronder die stad Beiroet, te gaan dien. Jehovah het hulle harde werk geseën, en in 1983 is ’n derde gemeente in Rahbeh gevorm. Intussen het meer broers geëmigreer of na die stede getrek om daar te gaan woon. Maar die groei het voortgeduur en ’n vierde gemeente is in 1989 in Rahbeh gevorm, gevolg deur ’n vyfde in 1990.

Teen dié tyd het byna elke gesin in die dorp ’n familielid of ’n vriend gehad wat ’n Getuie is. Die vyandigheid van vroeër het verdwyn. Mense het die Getuies beter leer ken. Trouens, die uitdrukkings “ouere man”, “pionier”, “kringopsiener”, “byeenkoms” en “Armageddon” het deel van die dorpenaars se woordeskat geword. By spesiale geleenthede, soos die besoek van die kringopsiener of die Gedenkmaal, is die strate leeg en die Koninkryksale stampvol. Sommige gemeentes sit selfs ter wille van die bure luidsprekers op die balkon.

Daar is nou meer as 250 Koninkryksverkondigers in Rahbeh. Dit beteken dat daar 1 Getuie vir ongeveer 8 mense in die dorp is! Een gemeente, wat uit 51 verkondigers bestaan, het ’n gebied van 76 huise, en hulle dek dit elke week. Stel jou net voor wat verlede jaar gedurende Maart en April gebeur het toe daar, bo en behalwe die 13 gewone pioniers in Rahbeh, 98 van die 250 verkondigers was wat aan die hulppionierdiens deelgeneem het. Die gebied is etlike kere per week gedek. Dit was nie ongewoon as twee of drie pare verkondigers een huis op dieselfde dag of selfs tegelyk besoek het nie. Die meeste dorpsbewoners het al gewoond geraak aan die besoeke. Maar toe ’n man daaroor gekla het, het ’n verkondiger geantwoord: “As jy ons aanbod van ’n Bybelstudie aanvaar, sal jy net een keer per week besoek word.” Hulle praat ook met almal wat hulle op die landerye teëkom—mense wat ploeg, saai, die landerye natlei of op ’n donkie iewers heen ry.

Bybelwaarheid het ongetwyfeld Rahbeh, die dorp van baie waters, deurdrenk. Dit is nie al nie. Net soos Rahbeh vir baie van die omliggende dorpe die bron van vars water is, voorsien dit hulle ook van lewegewende waters van Bybelwaarheid. Verkondigers uit Rahbeh besoek mense in nabygeleë dorpe te voet en organiseer motorgroepe wat vir die dag in verder geleë dorpe gaan preek. Party verkondigers verhuis na ander stede om daar te gaan dien. Met Jehovah se seën sal daar selfs ’n verdere vermeerdering wees, wat die hemelse Vader, Jehovah God, nog groter eer sal bring.

[Prent op bladsy 26]

’n Straattoneel in Rahbeh

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel