Doop “in die naam in”
’NSTUDIE van die duisende antieke, sekulêre papirusgeskrifte wat aan die begin van hierdie eeu in die sand van Egipte gevind is, werp dikwels interessante lig op die Christelike Griekse Geskrifte. Hoe? Deur te kyk na die manier waarop sekere woorde gebruik is, kom ons tot ’n akkurater begrip van die woorde in hulle skriftuurlike konteks.
Een voorbeeld is Jesus se gebruik van “in die Naam van” toe hy voor sy hemelvaart sy dissipels beveel het: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.” Wat het Jesus bedoel?—Mattheüs 28:19.
Geleerdes het ontdek dat die uitdrukking “in die Naam van” of “in die naam in” (Kingdom Interlinear) in sekulêre werke gebruik is met verwysing na betalings “aan iemand se rekening”. Dr. G. Adolf Deissmann, professor in die teologie, glo dat, in die lig van die papirus se getuienis, “die onderliggende idee . . . die uitdrukkings om in die Naam van die Here in gedoop te word of om in die naam van die Seun van God in te glo, is dat die doop of geloof deel is van die feit dat ons aan God of aan die Seun van God behoort”.—Deissmann kursiveer.
Interessant genoeg is ’n soortgelyke uitdrukking deur die Jode van Jesus se dag gebruik, soos verduidelik in die Theological Dictionary of the New Testament: “Die besnyding van ’n proseliet is gedoen . . . ‘in die naam van die proseliet’ om hom in Judaïsme in te ontvang. Hierdie besnydenis vind plaas . . . ‘in die naam van die verbond’ om hom in die verbond in te ontvang.” ’n Verhouding word daardeur tot stand gebring en die nie-Jood word ’n proseliet onder die gesag van die verbond.
Vir die Christen bring die doop wat op toewyding volg dus ’n intieme verhouding met Jehovah God, sy Seun Jesus Christus en die heilige gees tot stand. Die bekeerling erken elkeen se gesag in sy nuwe lewenswyse. Kyk hoe dit waar is in die geval van elk van die drie wat genoem is.
Deur God se gesag te erken, kom ons na aan hom en gaan ons ’n verhouding met hom aan (Hebreërs 12:9; Jakobus 4:7, 8). Ons word as God se slawe, sy eiendom, gekoop met Jesus Christus se losprysoffer (1 Korinthiërs 3:23; 6:20). Die apostel Paulus het ook aan eerste-eeuse Christene gesê dat hulle aan Jesus Christus behoort, nie aan enige van die manne wat dalk die waarheid aan hulle gebring het nie. (1 Korinthiërs 1:12, 13; 7:23; vergelyk Mattheüs 16:24.) Doop in die Naam van die Seun gee te kenne dat ons hierdie feit erken, dat ons Jesus aanneem as “die weg en die waarheid en die lewe”.—Johannes 14:6.
Die heilige gees is ook onontbeerlik as ons ’n goeie verhouding met Jehovah en Jesus Christus wil geniet. Doop in die Naam van die heilige gees toon dat ons die rol van die gees in God se handelinge met ons erken. Ons neem ons voor om die leiding daarvan te volg, dit nie te verontagsaam of in teenstelling daarmee op te tree nie, wat sal verhinder dat dit deur ons werk (Efesiërs 4:30; 1 Thessalonicense 5:19). Die onpersoonlike aard van die gees skep geen probleme in die gebruik en betekenis daarvan nie, net so min soos die gebruik van “in die naam van die verbond” probleme in Judaïsme geskep het.
Daarom moet ons, wanneer ons ons toewy en laat doop, biddend oorweeg wat ons nuwe verhouding alles behels. Dit vereis dat ons ons deur middel van die heilige gees aan die wil van God onderwerp, soos wat Jesus Christus se voorbeeld en losprysvoorsiening getoon het, terwyl die heilige gees al God se knegte wêreldwyd in liefde en eenheid rig.