Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w91 12/1 bl. 6-8
  • Is enige godsdiens goed genoeg?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Is enige godsdiens goed genoeg?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Belangrike onderskeid
  • Dit is nodig om ’n keuse te maak
  • Hoe om die regte godsdiens te kies
  • Waarheid en vrugte
  • Ware godsdiens word vandag beoefen
  • Hoe valse godsdiens mense die verkeerde idee van God gee
    Geniet die lewe vir ewig! – Bybellesse wat jou kan help
  • Die einde van valse godsdiens is op hande!
    Die einde van valse godsdiens is op hande!
  • Waarom in ander godsdienste belangstel?
    Die mensdom se soeke na God
  • Maak jou los van valse godsdiens
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
w91 12/1 bl. 6-8

Is enige godsdiens goed genoeg?

“Die lot van ons tyd is tragies. Ons het ’n godsdiens nodig, maar ons vind nêrens ’n God wat daarby pas nie.”—Lucian Blaga, Roemeense digter en filosoof

“Godsdiens en die geestelikes was, en sal miskien vir ’n lang tyd nog, van die grootste vyande van vooruitgang en vryheid wees.”—Khristo Botev, Bulgaarse digter

DIE bygaande aanhalings weerspieël die dilemma waarin talle opregte mense hulle bevind. In hulle diepste wese voel hulle die behoefte aan godsdiens, maar die misterieuse God wat die geestelikes verkondig, is nie ’n God wat hulle kan verstaan en liefhê nie. Bowendien besef hulle dat die geestelikes en hulle godsdienste baie daartoe bygedra het om die mens se vooruitgang en vryheid te belemmer. Ja, hoewel die behoefte aan godsdiens al hoe meer erken word, sal opregte mense nie sommer met enige godsdiens tevrede wees nie.

’n Belangrike onderskeid

Godsdiens speel ’n sleutelrol in die mensdom se samestelling en geskiedenis. The New Encyclopædia Britannica praat van godsdiens “as ’n feit in die mens se ondervinding, kultuur en geskiedenis” en voeg by: “Bewyse van godsdienstige gesindhede en lojaliteite kom voor in elke sektor van die mens se lewe.” Maar die geskiedenis toon dat nie een van die wêreld se vernaamste godsdienste ’n seën vir die mensdom was nie.

Indiese staatsman Jawaharlal Nehru het eenkeer opgemerk: “Die skouspel van dit wat godsdiens genoem word, of ten minste georganiseerde godsdiens, in Indië en elders, vul ons met afgryse.” Kan jy, as jy nadink oor die oorloë wat gevoer is en die misdaad wat in die naam van godsdiens gepleeg is, eerlik met hom verskil?

In die 18de eeu het die Franse filosoof Voltaire ’n interessante onderskeid getref. Hy het geskryf: “Godsdiens, sê julle, het tallose skandelike dade opgelewer. Julle moet eerder sê bygeloof, die bygeloof wat oor ons droewige aardbol heers. Bygeloof is die wreedste vyand van die suiwer aanbidding wat ons aan die Opperwese verskuldig is.” Voltaire het die godsdiensonverdraagsaamheid van sy dag beveg, maar hy het sy geloof in God as die Skepper van die heelal behou. Hy het ’n onderskeid tussen ware en valse godsdiens gesien.

Dit is nodig om ’n keuse te maak

Nie almal stem met Voltaire saam nie. Sommige beweer dat hulle iets goeds in alle godsdienste sien; hulle het derhalwe geen behoefte daaraan om die ware godsdiens te soek nie. Sulke mense moet ag slaan op die waarskuwing wat deur die profeet Jesaja gegee is: “Wee hulle wat sleg goed noem en goed sleg, wat die duisternis lig maak en die lig duisternis, wat bitter soet maak en soet bitter” (Jesaja 5:20). Valse godsdiens het slegte dinge vir die mensdom voortgebring. Dit het geestelike duisternis veroorsaak en ’n bitter nasmaak in die monde van opregte mense gelaat.

Die keuse is gevolglik nie tussen ateïsme en geloof in enige godsdiens nie. Dit is nie so eenvoudig nie. Wanneer iemand eers besef het dat hy ’n behoefte aan God het, moet hy die ware godsdiens soek. Soos navorser Émile Poulat dit gepas gestel het in Le Grand Atlas des Religions (Die groot atlas van godsdienste): “Die dinge wat [godsdienste] leer en vereis, is so uiteenlopend dat dit onmoontlik is om dit alles te glo.” In ooreenstemming hiermee sê die Franse Encyclopædia Universalis (Universele ensiklopedie): “As die 21ste eeu tot godsdiens terugkeer, . . . sal die mens moet besluit of die heilige dinge wat hy aangebied word waar of vals is.”

Hoe om die regte godsdiens te kies

Wat sal ons help om die regte godsdiens te kies? Die Encyclopædia Universalis is korrek wanneer dit die belangrikheid van waarheid beklemtoon. ’n Godsdiens wat leuens verkondig, kan nie die ware godsdiens wees nie. Die grootste profeet wat ooit op die aarde was, het gesê: “God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.”—Johannes 4:24.

Daardie profeet was Jesus Christus, en hy het ook duidelik gesê: “Waak teen valse godsdiensleraars, wat na julle toe kom in skaapsklere maar wat in werklikheid hebsugtige wolwe is. Julle kan hulle aan hulle vrugte uitken. . . . Elke goeie boom dra goeie vrugte, maar ’n slegte boom dra slegte vrugte” (Mattheüs 7:15-17, Phillips). Wanneer hulle die slegte vrugte sien van die wêreld se “vername” godsdienste, en selfs van die sektes en kultusse wat ontstaan het, begin talle opregte mense hulle almal as ‘slegte bome’ beskou, as eenvoudig nie goed genoeg nie. Maar hoe kan hulle die ware godsdiens vind?

Dit sal vanselfsprekend onmoontlik wees om al die duisende godsdienste binne en buite die Christendom te ondersoek voordat ’n mens ’n keuse doen. Maar as ons—soos Jesus gesê het—waarheid en vrugte as toetsstene gebruik, is dit moontlik om die ware godsdiens te identifiseer.

Waarheid en vrugte

Jesus het van waarheid gepraat. Watter groep gelowiges verwerp wat dit betref die godsdiensleuens wat uit die eertydse mitologie en Griekse filosofie kom en waarvan die meeste godsdienste deurtrek is? Een so ’n leuen is die leerstelling dat die mens se siel inherent onsterflik is.a Hierdie leerstelling het aanleiding gegee tot die godonterende leerstelling van die helse vuur.

Jesus het ook vrugte genoem. Wat dit betref, ken jy ’n godsdiens wat ’n ware internasionale broederskap opgelewer het waar rasse-, taal-, en nasionalistiese grense oorbrug word deur liefde en wedersydse begrip? Ken jy ’n wêreldwye godsdiensgemeenskap wie se lede eerder vervolg sal word as om toe te laat dat politici of godsdiensleiers hulle tot haat vir hulle broers en susters aanhits sodat hulle hulle in die naam van nasionalisme of godsdiens doodmaak? ’n Godsdiens wat sulke godsdiensleuens verwerp het en sulke vrugte voortgebring het, sal kragtige bewys lewer dat dit die ware godsdiens is, nie waar nie?

Ware godsdiens word vandag beoefen

Is daar so ’n godsdiens? Ja, daar is. Maar jy moet erken dat dit nie een van die vernaamste godsdienste van die wêreld is nie. Behoort dit ons te verbaas? Nee. In sy bekende Bergpredikasie het Jesus gesê: “Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind.”—Mattheüs 7:13, 14.

Waar kan die ware godsdiens dan gevind word? In alle nederigheid en eerlikheid moet ons sê dat Jehovah se Getuies ’n internasionale gemeenskap vorm wat op hierdie ‘nou en smal pad’ wandel. Die hoofstroomgodsdienste noem Jehovah se Getuies weliswaar minagtend ’n sekte. Maar dit is presies wat die afvallige godsdiensleiers in die eerste eeu G.J. die vroeë Christene genoem het.—Handelinge 24:1-14.

Waarom is Jehovah se Getuies oortuig dat hulle die ware godsdiens het? Wel, hulle vorm ’n internasionale broederskap in meer as 200 lande en hulle oorbrug die grense van nasionaliteit, ras, taal en sosiale stand. En hulle weier om leerstellings te glo—hoewel dit baie oud is—wat duidelik weerspreek wat die Bybel sê. Maar hoe het hulle so ’n benydenswaardige posisie verkry? En wat behels dit om die ware godsdiens te beoefen? Hierdie en ander vrae oor godsdiens sal in die volgende twee artikels bespreek word.

[Voetnoot]

a Sien die boek Die mensdom se soeke na God, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., bladsye 52-7, vir goed gedokumenteerde bewyse van die mitiese oorsprong van hierdie leerstelling.

[Prent op bladsy 7]

Die Kruistogte was deel van valse godsdiens se slegte vrugte

[Erkenning]

Bibliothèque Nationale, Paris

[Prent op bladsy 8]

Ware godsdiens bring goeie vrugte voort

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel