Hoe Christus se gedaanteverandering jou raak
Vier mans het so pas vantevore ’n hoë berg geklim. Op daardie hoogtes het daar iets verbasends gebeur. Terwyl drie verskrikte dissipels van Jesus Christus toegekyk het, het hy voor hulle oë ’n verandering ondergaan. Luister terwyl die Evangelieskrywer Markus hierdie aangrypende gebeurtenis vertel:
“JESUS [het] vir Petrus en Jakobus en Johannes saamgeneem en hulle alleen op ’n hoë berg in die eensaamheid geneem; en Hy het voor hulle van gedaante verander, en sy klere het blink geword, baie wit soos sneeu, wit soos geen bleiker op aarde dit kan maak nie. En daar het aan hulle verskyn Elia saam met Moses, en hulle was in gesprek met Jesus. Toe spreek Petrus en sê vir Jesus: Rabbi, dit is goed dat ons hier is. Laat ons dan drie hutte maak: vir U een en vir Moses een en vir Elia een. Want hy het nie geweet wat om te sê nie, want hulle was heeltemal verskrik. En daar kom ’n wolk wat hulle oordek; en uit die wolk kom ’n stem wat sê: Dit is my geliefde Seun, luister na Hom! En meteens kyk hulle rond en sien niemand meer by hulle nie, behalwe Jesus alleen.”—Markus 9:2-8.
Dink net! Jesus se aangesig het geblink soos die son (Mattheüs 17:2). Sy klere het geblink, “wit soos geen bleiker op aarde dit kan maak nie”. Daar was die geluid van God se eie kragtige stem wat woorde oor sy Seun geuiter het. Wat ’n wonderbaarlike gebeurtenis!
Die Griekse woord wat hier met “van gedaante verander” vertaal word, beteken “om in ’n ander vorm te verander”. Dit kom ook in Romeine 12:2 voor waar Christene aangeraai word om te “verander” deur hulle gemoed te vernuwe.—An Expository Dictionary of New Testament Words, deur W. E. Vine, Deel IV, bladsy 148.
Ja, ’n dramatiese gebeurtenis het plaasgevind toe Jesus een of ander tyd ná die Pasgaviering van 32 G.J. van gedaante verander het. Wat het tot hierdie wonderwerk aanleiding gegee? Het dit ’n spesiale doel? Waarom was Moses en Elia daarby betrokke? En hoe raak Christus se gedaanteverandering jou?
Voorafgaande gebeurtenisse
Voordat Jesus en sy dissipels op die berg geklim het, was hulle in die omgewing van Cesarea-Filippi. Aangesien hierdie stad ongeveer 25 kilometer suidwes van die berg Hermon was, het die gedaanteverandering moontlik op een van sy hoë uitlopers plaasgevind.
Terwyl hulle na die “hoë berg” geloop het, het Jesus sy dissipels gevra: “Wie sê die mense is Ek?” Hulle het geantwoord: “Johannes die Doper, en ander: Elia, en ander: Een van die profete.” Toe het Christus gevra: “Maar julle, wie sê julle is Ek?” Petrus het geantwoord: “U is die Christus.” Toe het Jesus “hulle streng beveel om niemand van Hom te vertel nie. Toe het hy hulle begin leer dat die Seun van die mens baie moet ly en verwerp word deur die ouderlinge en owerpriesters en skrifgeleerdes en gedood word en ná drie dae opstaan.”—Markus 8:27-31.
Jesus het verder hierdie belofte gedoen: “Voorwaar Ek sê vir julle, daar is sommige van die wat hier staan, wat die dood sekerlik nie sal smaak voordat hulle die koninkryk van God met krag sien kom het nie” (Markus 9:1; Mattheüs 16:28). Hierdie belofte is “ná ses dae” vervul toe Jesus gebid en voor Petrus, Jakobus en Johannes van gedaante verander het. Lukas sê dit het “agt dae” daarna plaasgevind, blykbaar omdat hy die dag waarop die belofte gedoen is en die dag waarop dit vervul is daarby ingesluit het.—Mattheüs 17:1, 2; Markus 9:2; Lukas 9:28.
Geen droom of onwerklikheid nie
Jesus se gedaanteverandering was nie ’n droom nie. Die drie apostels sou nie dieselfde droom gehad het nie, en Jesus het dit ’n “gesig” genoem. Dit dui nie op ’n onwerklikheid nie, want die Griekse woord wat in Mattheüs 17:9 gebruik word, word elders ook as “gesig” weergegee (Handelinge 7:31). Die waarnemers was dus heeltemal wakker, en met hulle oë en ore het hulle werklik gesien en gehoor wat gebeur het.—Lukas 9:32.
Wawyd wakker maar sonder dat hy geweet het wat om te sê, het Petrus voorgestel dat hulle drie hutte—een vir Jesus, een vir Moses en een vir Elia—oprig (Lukas 9:33). Die wolk wat gevorm het terwyl Petrus gepraat het, het klaarblyklik God se teenwoordigheid op die berg aangedui, soos by Israel se tent van samekoms in die woestyn (Exodus 40:34-38; Lukas 9:34). En die apostels sou sekerlik nie geslaap het toe “God die Vader” gesê het nie: “Dit is my geliefde Seun; luister na Hom!”—2 Petrus 1:17, 18; Lukas 9:35.
Waarom Moses gesien is
Toe die gedaanteverandering plaasgevind het, het Moses ‘glad niks geweet nie’, want hy het eeue tevore gesterf (Prediker 9:5, 10). Hy is, soos Dawid, nie opgewek nie en daarom was hy nie persoonlik teenwoordig nie (Handelinge 2:29-31). Maar waarom is Moses saam met Christus in hierdie gesig gesien?
God het vir Moses gesê: “’n Profeet sal Ek vir hulle verwek uit die midde van hulle broers, soos jy is, en Ek sal my woorde in sy mond lê, en Hy sal aan hulle sê alles wat Ek Hom beveel” (Deuteronomium 18:18). Petrus het hierdie profesie spesifiek op Jesus Christus toegepas (Handelinge 3:20-23). Buiten Jesus was Moses die grootste profeet wat God na die nasie Israel gestuur het.
Daar bestaan ooreenkomste tussen Moses en die Grotere Moses, Jesus Christus. Byvoorbeeld, toe hulle babas was, is albei se lewe deur tirannieke heersers in gevaar gestel, maar God het toegesien dat die babas gespaar is (Exodus 1:20–2:10; Mattheüs 2:7-23). Al twee het aan die begin van hulle loopbaan as Jehovah se spesiale diensknegte 40 dae lank gevas (Exodus 24:18; 34:28; Deuteronomium 9:18, 25; Mattheüs 4:1, 2). En Moses sowel as Jesus het wonderwerke deur God se krag verrig.—Exodus 14:21-31; 16:11-36; Psalm 78:12-54; Markus 4:41; Lukas 7:18-23; Johannes 14:11.
God het Moses gebruik om Israel van slawerny uit Egipte te bevry, net soos Jesus ’n geestelike bevryding bewerkstellig (Exodus 12:37–14:31; Johannes 8:31, 32). Moses was bevoorreg om as middelaar van die Wetsverbond tussen God en die Israeliete op te tree, terwyl Jesus die Middelaar van die nuwe verbond is (Exodus 19:3-9; 34:3-7; Jeremia 31:31-34; Lukas 22:20; Hebreërs 8:3-6; 9:15). Jehovah het Moses ook gebruik om ’n naam vir Homself voor die Israeliete, die Egiptenaars en ander te maak, net soos Jesus Christus Jehovah se heilige naam verheerlik het (Exodus 9:13-17; 1 Samuel 6:6; Johannes 12:28-30; 17:5, 6, 25, 26). Deurdat God Moses saam met die verheerlikte Jesus laat verskyn het, het hy getoon dat Christus op veel groter skaal in hierdie hoedanighede sou dien.
Waarom Elia verskyn het
Hoewel die afgestorwe profeet Elia nie opgewek is nie, was dit gepas dat hy in die gesig tydens die gedaanteverandering moes verskyn. Elia het goeie werk gedoen om reine aanbidding te herstel en Jehovah se naam onder die Israeliete te heilig. Jesus Christus het dieselfde gedoen terwyl hy op aarde was en sal selfs meer doen om reine godsdiens te herstel en sy hemelse Vader deur middel van die Messiaanse Koninkryk te regverdig.
Die profeet Maleagi het getoon dat Elia se werk toekomstige bedrywigheid voorafgeskadu het. God het deur Maleagi gesê: “Kyk, Ek stuur julle die profeet Elia voordat die groot en vreeslike dag van die HERE aanbreek. En hy sal die hart van die vaders terugbring tot die kinders, en die hart van die kinders tot hulle vaders, sodat Ek nie hoef te kom en die land met die banvloek tref nie.”—Maleagi 4:5, 6.
Hierdie profesie het sy kleinere vervulling in die werk van Johannes die Doper gehad. Jesus het daarop gewys ná die gedaanteverandering toe sy dissipels gevra het waarom die skrifgeleerdes gesê het dat Elia eers moet kom—vóór die Messias se verskyning. Jesus het gesê: “Dis waar, Elia kom eers en sal alles herstel; maar Ek sê vir julle dat Elia al gekom het, en hulle het hom nie erken nie, maar aan hom alles gedoen wat hulle wou. So sal die Seun van die mens ook deur hulle ly.” Die verslag sê verder: “Toe verstaan die dissipels dat Hy met hulle van Johannes die Doper gespreek het.”—Mattheüs 17:10-13.
Johannes het ’n werk soortgelyk aan dié van Elia gedoen toe hy Jode gedoop het wat hulle van hulle sondes teen die Wetsverbond bekeer het. Nog belangriker, Johannes was die Messias se voorloper en het Jesus Christus bekend gestel (Mattheüs 11:11-15; Lukas 1:11-17; Johannes 1:29). Maar waarom was Johannes se werk net ’n kleinere vervulling van Maleagi se profesie?
In hierdie visioen is Elia gesien waar hy met Jesus praat. Dit was ná die dood van Johannes die Doper, wat dus daarop dui dat ’n werk soos dié van Elia in die toekoms gedoen sou word. Die profesie het verder getoon dat hierdie werk gedoen sou word voor “die groot en vreeslike dag van die HERE”. Daardie vinnig naderende gebeurtenis sluit “die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” by Armageddon in (Openbaring 16:14-16). Dit het beteken dat die oprigting van God se hemelse Koninkryk wat toe nog in die toekoms was deur ’n werk voorafgegaan sou word wat met die werk van Elia en sy opvolger, Elisa, ooreenstem. En Jehovah se hedendaagse Getuies doen al meer as ’n eeu lank ’n werk wat die herstelling van reine aanbidding en die verheerliking van God se naam behels.—Psalm 145:9-13; Mattheüs 24:14.
Die doel daarvan
Die gedaanteverandering moes Jesus versterk het vir die lyding en dood wat hy kort daarna sou moes ondergaan. Toe hy sy hemelse Vader van hom hoor praat het as Sy Seun wat hy goedgekeur het, moes dit Jesus se geloof versterk het. Maar wat het die gedaanteverandering vir ander beteken?
Jesus se gedaanteverandering het ook die waarnemers se geloof versterk. Dit het hulle laat besef dat Jesus Christus God se Seun is. Aangesien Jehovah se Hoofwoordvoerder, die Woord, inderdaad in hulle midde was, het hulle God se eie stem hoor verklaar: “Dit is my geliefde Seun in wie Ek ’n welbehae het.” Hoewel Jehovah soortgelyke getuienis gelewer het toe Jesus gedoop is, het God tydens die gedaanteverandering bygevoeg dat die dissipels na Sy Seun moet luister.—Mattheüs 3:13-17; 17:5; Johannes 1:1-3, 14.
Die gedaanteverandering het geloof op nog ’n manier versterk. Tydens die gesig het Jesus, “Moses” en “Elia” van Christus se “uitgang gespreek wat [Hy] in Jerusalem sou volbring” (Lukas 9:31). “Uitgang” word vertaal van ’n vorm van die Griekse woord eʹxo·dos. Hierdie eksodus, of uitgang, het klaarblyklik te doen gehad met Jesus se dood sowel as sy opstanding deur God tot geeslewe (1 Petrus 3:18). Die gedaanteverandering het dus geloof in Christus se opstanding versterk. Dit het veral geloof opgebou deur oortuigende bewys te lewer dat Jesus die Koning van God se Messiaanse Koninkryk sou wees. Die gesig het verder getoon dat die Koninkryk glorieryk sou wees.
Die gedaanteverandering het ook die geloof in skriftuurlike profesie versterk. Sowat 32 jaar later (ongeveer 64 G.J.) het Petrus steeds hierdie ondervinding onthou en geskryf: “Ons het nie kunstig verdigte fabels nagevolg toe ons julle die krag en koms van onse Here Jesus Christus bekend gemaak het nie, maar ons was aanskouers van sy majesteit; want Hy het van God die Vader eer en heerlikheid ontvang toe hierdie stem uit die luisterryke heerlikheid tot Hom gekom het: Dit is my geliefde Seun in wie Ek ’n welbehae het. En hierdie stem het ons uit die hemel hoor kom toe ons saam met Hom op die heilige berg was. En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ’n lamp wat in ’n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte.”—2 Petrus 1:16-19.
Wat dit vir jou beteken
Ja, Petrus het Jesus se gedaanteverandering as ’n kragtige bevestiging van God se profetiese woord beskou. Die apostel Johannes het moontlik ook op hierdie gesig gesinspeel toe hy gesê het: “Die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, ’n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid” (Johannes 1:14). Die gedaanteverandering kan jou geloof in Jehovah se profetiese woord op soortgelyke wyse opbou.
Die gedaanteverandering en verwante gebeure kan jou geloof versterk dat Jesus Christus God se Seun en die beloofde Messias is. Dit kan jou geloof versterk in Jesus se opstanding tot geeslewe in die hemel. Hierdie verstommende gesig behoort ook jou geloof in God se regering te vergroot, want die gedaanteverandering was ’n voorskou van Christus se glorie in Koninkryksmag.
Dit is veral geloofversterkend om te weet dat Christus se gedaanteverandering op ons dag heengewys het, wanneer Jesus se teenwoordigheid ’n werklikheid sou wees (Mattheüs 24:3-14). Sedert 1914 regeer hy as God se aangestelde Koning in die hemele. Sy godgegewe gesag en mag sal binnekort uitgeoefen word teen alle vyande van goddelike heerskappy, wat die weg sal open vir ’n nuwe wêreld (2 Petrus 3:13). Jy kan eindelose seëninge geniet as jy geloof beoefen in die wonderlike dinge wat uitgebeeld word in Jesus Christus se gedaanteverandering.