Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w91 9/15 bl. 24-27
  • Die lande is wit vir die oes in Brasilië

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die lande is wit vir die oes in Brasilië
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Onderhofies
  • Pioniers help met die oesinsameling
  • Geestelikes beïnvloed die oes
  • Volgehoue pogings het seëninge meegebring
  • Lewens word verander
  • Neem ten volle deel aan die oes
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
w91 9/15 bl. 24-27

Die lande is wit vir die oes in Brasilië

“SLAAN julle oë op en aanskou die lande dat hulle al wit is vir die oes. En hy wat maai, ontvang loon en vergader vrug vir die ewige lewe” (Johannes 4:35, 36). Daardie profetiese woorde van Jesus Christus geld vandag in die uithoeke van die wyd uitgestrekte Suid-Amerikaanse land Brasilië.

Jehovah se Getuies in Brasilië verheug hulle al etlike jare lank in goeie vermeerdering. In April 1991 het ’n hoogtepunt van 308 973 Koninkryksmaaiers meer as 401 574 tuisbybelstudies gehou. Op 30 Maart 1991 het altesaam 897 739 mense byeengekom om die dood van Jesus te herdenk, die een wat met die oeswerk begin het.

Ondanks hierdie goeie resultate is daar nog dele van die land wat wag om geoes te word. Meer as vyfmiljoen mense woon in dele van Brasilië waar daar weinig of geen predikingswerk deur Jehovah se Getuies gedoen word nie. Wat word gedoen om die oes ook in hierdie gebiede ingesamel te kry?

Pioniers help met die oesinsameling

Die takkantoor van die Wagtoringgenootskap in Brasilië het gedurende ’n onlangse tydperk van ses maande voltydse Koninkryksverkondigers—100 tydelike spesiale pioniers en 97 gewone pioniers—na 97 dorpe gestuur, wat hoofsaaklik in die digter bevolkte oostelike deel van die land geleë is. Koninkryksverkondigers van verskeie gemeentes het ook aangebied om vir korter tydperke in hierdie gebiede te gaan werk. Ten spyte van die probleme wat te bowe gekom moes word, was die resultate uiters bemoedigend.

In São João da Ponte, in die staat Minas Gerais, het die pioniers byvoorbeeld die godsdiensonderwyser van die plaaslike skool besoek. Nadat hy die boodskap gehoor het, het hy 50 eksemplare van die boek Jou jeug—Hoe om dit ten beste te benut vir sy katkisasieklas bestel. ’n Ander onderwyser het met hulle vertrek aan die pioniers gesê: “Julle moenie gaan nie, want julle doen so ’n goeie werk hier. Julle is die enigstes wat die Bybel behoorlik kan verduidelik.”

Nie almal was ingenome met hierdie goeie werk nie. Neem byvoorbeeld ’n brief wat in ’n plaaslike koerant (Diário de Montes Claros) onder die voorbladopskrif “Priester word beskuldig van aanhitsing tot geweld en van diskriminasie” gepubliseer is. Die brief het gesê: “In die kerk het [die priester] die gewoonte om mense te veroordeel wat ander sektes en gelowe volg, hoewel die plaaslike geestelikes nie voldoende Katolieke en Christelike leiding oor die Evangelie aan die getroues verskaf nie. Gedurende die Mis het hy te velde getrek teen die bedienaars van Jehovah se Getuies wat in die dorp is, al behandel hulle Katolieke nie sleg nie.” Die skrywer van die artikel (’n teoloog) was die Getuies nie so vyandiggesind nie en het die Bybeltoespraak bygewoon wat deur die pioniers gehou is en het ander belangstellendes met hom saamgebring. Hulle almal het die vergadering geniet.

Vier broers van Fortaleza het per vliegtuig gereis na die eiland Fernando de Noronha, 400 kilometer van die vasteland af. Die eiland se 1 500 bewoners het meer as 15 jaar laas ’n goeie getuienis ontvang. In tien dae het die broers 50 boeke en 245 tydskrifte en brosjures versprei en het hulle 15 tuisbybelstudies begin. Twaalf mense het die herdenking van Christus se dood, wat tydens hulle besoek geval het, bygewoon. Die pioniers hoop dat die werk met Jehovah se hulp eerlank daar goed gevestig sal word. Sommige broers het al daaraan gedink om na die eiland toe te trek.

Geestelikes beïnvloed die oes

’n Groep Koninkryksverkondigers van die Arpoador-gemeente in Rio de Janeiro het aangebied om twee weke lank in verskeie dorpe in die staat Minas Gerais, ongeveer 200 kilometer daarvandaan, te preek. Tot hulle vreugde het hulle die plaaslike inwoners uiters gasvry en vriendelik gevind. Die mans het die gewoonte gehad om elke keer hulle hoed te lig as God of sy naam, Jehovah, genoem is. Vanweë hulle eerbied vir God is hulle egter maklik deur die geestelikes beïnvloed.

In een dorp het die priester die mense gewaarsku om nie na Jehovah se Getuies te luister of hulle voorgenome vergadering by te woon nie. Hy het ook ’n spesiale Mis gereël op dieselfde tyd as wat die vergadering gehou is en het die Mis so hard as moontlik oor die luidspreker buitekant sy kerk laat weergalm. In weerwil van sy poging het 29 plaaslike inwoners, benewens die besoekers, nietemin die vergadering bygewoon.

In ’n naburige dorp was dinge heeltemal anders. Daar het die priester vir die mense gesê om te luister wanneer die Getuies hulle besoek. Die gevolg was dat 168 die eerste vergadering bygewoon het. Later het hy aan hulle gesê om daarop te let hoe Jehovah se Getuies die Gedenkmaal vier, want, soos hy gesê het, “hulle doen dit op die regte manier”. Gedurende die twee weke van Koninkryksprediking in daardie gebied is daar 1 014 boeke en 1 052 tydskrifte en brosjures versprei.

Volgehoue pogings het seëninge meegebring

’n Maand later het 34 Koninkryksverkondigers teruggekeer om na die Bybelstudies om te sien wat gedurende die eerste besoek begin is. Die Christen- ouere man wat die leiding geneem het, het geskryf: “Dit was ontroerend om te sien hoe die belangstellendes ons met dankbaarheid en vreugdetrane in hulle oë terug verwelkom het.” Een suster vertel hoe ’n vrou haar en ander Getuies in ’n eetplekkie genader het en “ons met trane in haar oë gesoebat het om te kom en saam met haar te studeer”. ’n Ander vrou het drie studies gehad gedurende die week wat die Getuies daar was. Sy het haar les elke keer voorberei en gewag vir die studie. Die vrou het gesê dat sy tot die ware God, Jehovah, begin bid het. “Dít is waarvoor ek nog altyd in my hart gewag het”, het sy bygevoeg.

Later is twee pioniers daarheen gestuur om na die belangstellendes in daardie gebied om te sien. Soos in die eerste eeu G.J., het “almal wat die regte gesindheid vir die ewige lewe gehad het . . . gelowiges geword” (Handelinge 13:48, NW). En soos die Samaritaanse vrou vir wie Jesus by die fontein van Jakob getuig het, het hulle met ander begin praat oor die dinge wat hulle geleer het (Johannes 4:5-30). Vandag het die 2 pioniers 6 ander wat saam met hulle dien, en gemiddeld 20 mense woon die weeklikse vergaderinge by.

Die welslae van hierdie spesiale werk het 29 verkondigers van die Arpoador-gemeente só aangevuur dat hulle gaan preek het in die dorp Mutum, ongeveer 500 kilometer daarvandaan. “Die ontvangs was werklik wonderlik”, het die ouere man gesê wat die groep gelei het. “Die meeste mense het met soveel aandag en belangstelling geluister dat 170 Bybelstudies begin is, en ons dink dat baie van hulle sal aanhou.” Binne twee weke het die verkondigers gemiddeld 90 uur elk aan die predikingswerk bestee en bykans 1 100 stukke lektuur by die mense gelaat. ’n Rekordgetal van 181 het die openbare toesprake bygewoon wat deur die broers gehou is.

’n Paar maande later het die gemeente ’n gerieflike huis in die hartjie van Mutum gehuur om as ’n Koninkryksaal en ’n pionierhuis te gebruik. Die eerste rapport wat die twee pioniersusters wat daar aangewys is aan die Genootskap gestuur het, het gedeeltelik gelui: “Met so baie studies wat reeds begin is, het ons meer pioniers nodig. Selfs met die hulp van die broers van Rio de Janeiro een maal per maand, is daar nog ontsaglik baie werk. Nege uit tien huisbewoners met wie ons praat, vra dat ons hulle weer moet besoek. Ons het ook hulp nodig om die vergaderinge te hou.” Nog ’n pionier het nou by hulle aangesluit.

Lewens word verander

Dit was baie bemoedigend om te sien hoe die waarheid posvat en goeie vrugte voortbring. Een belangstellende het geskryf: “Hierdie kennis van die Bybel wat ek opgedoen het, is die beste ding wat ooit met my gebeur het. My lewe het ten goede verander, en ek hoef nie meer kalmeerpille te drink nie. . . . Mag Jehovah julle beloon vir alles wat julle vir my gedoen het.”

’n Ander vrou het gesê: “Ek verwonder my oor die wyse waarop Jehovah my oë geopen het. Hoewel ek hierdie week my ouma verloor het, het ek nou die hoop om haar weer te sien. Ek hoop om gedoop te word, maar ek wil my eers goed daarvoor voorberei. Mag Jehovah julle seën omdat julle hierheen gekom het om aan ons die smal weg te toon wat na die ewige lewe lei.” Nog ’n ander vrou het gesê: “Ek wil hê julle moet weet dat ek ’n maand gelede opgehou rook het. Ek is baie bly oor die tydskrif wat julle vir my gestuur het. Dit het talle goeie dinge bevat wat my gehelp het om dit te doen.” Die oes verskaf beslis goeie rede tot vreugde.

Maar hierdie seëninge het nie sonder ’n stryd gekom nie. Toe een vrou en haar dogter byvoorbeeld begin studeer het, het die plaaslike priester hulle gewaarsku dat hy hulle uit die kerk sou ban as hulle na die vergaderinge van die Getuies sou gaan. Hulle het die dreigement geïgnoreer en na die vergaderinge gegaan. Toe het voormalige vriende hulle verstoot, en van die vriende het gesê hulle is besig om kranksinnig te raak, want “daardie Jehovah” kom nie in die Katolieke Bybel voor nie. Aangesien die vrou nie Jehovah se naam in haar Katolieke Bybel kon vind nie, het sy die bure genooi om haar te besoek op die dag van haar studie saam met die pioniers. Een vrou het gekom met haar Katolieke Paulinas-vertaling van die Bybel. Toe sy God se naam in die voetnoot oor Exodus 6:3 lees, het sy ’n Bybelstudie in haar huis aanvaar.

Neem ten volle deel aan die oes

Watter uitwerking het dit op die werkers self gehad wat gaan dien het in die gebied wat selde gewerk word? Een Koninkryksverkondiger het gesê: “Hierdie bedrywigheid het gedien om ons geloof en ons verhouding met Jehovah te versterk en het ons gehelp om ons prioriteite te hersien.” ’n Ander verkondiger het gesê: “Daardie tydperk van 14 dae het my liefde laat toeneem vir my broers wat soos een familie met een doelwit dien: om nog sagmoediges te soek. Dit het my ’n groter liefde gegee vir diegene wat ons boodskap aanneem, dikwels met trane in hulle oë wat wys dat hulle waarlik dors na die waarheid. En bowenal het ek Jehovah se liefde ervaar deurdat hy aan ons die voorreg gegee het om hom te dien.”

’n Ouere man wat deelgeneem het aan die predikingswerk in die gebied wat selde gewerk word, het gewys op die kontras tussen die lewe dáár en die lewe in groot stede. Hy het gesê: “Ek kan nie help om te dink hoe die lewe van baie broers verryk kan word as hulle na die binneland sou trek nie. Hier word feitlik geen geweld aangetref nie. Die lewe in klein en middelslag dorpies is sodanig dat dit ons nie net die geleentheid bied om goedkoper te lewe nie, maar ook om meer omgang met ons broers te hê en meer tyd aan geestelike bedrywighede te wy. Kan meer broers wat afgetree het, jongmense met min gesinsverpligtinge, of broers wie se werk hulle toelaat om te verhuis hierdie unieke voorreg aangryp en vir hulleself, vir Jehovah en vir hulle naaste vreugde bring?”

Hierdie verslag oor gebied wat selde in Brasilië gewerk word, bewys dat die lande wit is vir die oes. Binne slegs twee jaar het die werk in hierdie gebied 191 nuwe gemeentes en afgesonderde groepe opgelewer. Daar is nog baie om te doen, maar Jehovah sal ongetwyfeld aanhou om sy seën te gee namate meer Koninkryksverkondigers aan die vrugbare oes deelneem. Kan jy ’n groter aandeel daaraan hê?

[Kaart/Prent op bladsy 25]

Gelukkige Getuies van Rio de Janeiro neem deel aan die oes

[Kaart]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

BRASILIË

[Prent op bladsy 26]

Getuieniswerk op die platteland in Minas Gerais

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel