Juwele uit Mattheüs se Evangelie
JEHOVAH GOD het die gewese tollenaar Mattheüs geïnspireer om ’n aangrypende verslag oor die geboorte, lewe, dood en opstanding van Jesus Christus te skryf. Naskrifte in ’n aantal manuskripte ná die tiende eeu sê dat hierdie Evangelie in ongeveer die agtste jaar na Jesus se hemelvaart geskryf is (c. 41 G.J.). Dit bots nie met die interne bewys nie, want die verslag eindig met Jesus se opdrag in 33 G.J. om dissipels te maak en sê niks van Jerusalem se vernietiging in 70 G.J. deur die Romeine nie.
In sy Historia Ecclesiastica (Kerkgeskiedenis) haal die vierde-eeuse geskiedskrywer Eusebius vir Papias en Ireneus van die tweede eeu en Origenes van die derde eeu aan, wat almal hierdie Evangelie aan Mattheüs toeskryf en sê dat hy dit in Hebreeus geskryf het. Was dit in werklikheid Aramees? Nie volgens dokumente waarna George Howard, professor in godsdiens aan die Universiteit van Georgia, verwys nie. Hy het geskryf: “Hierdie veronderstelling was hoofsaaklik toe te skryf aan die mening dat Hebreeus in Jesus se tyd nie meer in Palestina gebruik is nie maar deur Aramees vervang is. Die latere ontdekking van die Dooie See-rolle, waarvan baie in Hebreeus was, asook ander Hebreeuse dokumente uit Palestina wat uit Jesus se tyd dateer, toon nou dat Hebreeus in die eerste eeu nog ’n lewende taal was.” Mattheüs het klaarblyklik sy Evangelie tot voordeel van die Hebreeuse Christene geskryf, maar het dit moontlik ook in gewone Grieks vertaal.
Ons moedig jou aan om Mattheüs se Evangelie te lees. Let gerus op die agtergrond wat die verhaal duidelik maak terwyl ons nou na ’n paar van die juwele daarin kyk.
Geboorte en vroeë bediening
Mattheüs se Evangelie begin met die geslagsregister en geboorte van Jesus. Toe Maria se verloofde, Josef, uitvind dat sy swanger is, het hy hom “voorgeneem om in die geheim van haar te skei” (1:19). Maar hoe kon hy dit doen as hulle net verloof was? Wel, vir die Jode het ’n verloofde vrou dieselfde verpligtinge as ’n getroude vrou gehad. As sy geslagsgemeenskap met iemand gehad het, kon sy as ’n egbreekster gestenig word (Deuteronomium 22:23-29). Weens die bindende aard van ’n verlowing het Josef hom gevolglik voorgeneem om van Maria te skei, hoewel hulle deur geen plegtigheid in die eg verbind was nie.
Vroeë hoofstukke van Mattheüs se Evangelie bevat Jesus se Bergpredikasie. Daarin het Christus gewaarsku dat elkeen wat sy broer met “’n verfoeilike minagtigende woord” aanspreek voor “die Groot Raad” verantwoording sal moet doen (5:22, NW). Dit beteken eintlik dat hy sy broer ’n onnosele swaap noem.
Maar wat was “die Groot Raad”? Dit was die Sanhedrin in Jerusalem, wat uit 71 lede bestaan het. Wat was die toelatingsvereistes vir lede daarvan? McClintock en Strong se Cyclopedia sê: “Die aansoeker moes sedelik en liggaamlik onberispelik wees. Hy moes middeljarig, lank, aantreklik, ryk, geleerd . . . gewees het. Hy moes verskeie tale geken het . . . Hoogbejaarde mense, proseliete, eunugs en tempelbediendes was weens hulle eienaardighede onverkiesbaar; kinderlose kandidate kon ook nie verkies word nie, aangesien hulle nie met huislike sake medelyde kon betoon nie . . . ; ook nie diegene wat nie kon bewys dat hulle die wettige afstammeling van ’n priester, Leviet of Israeliet is nie. . . . ’n Kandidaat vir die Groot Sanhedrim moes, ten eerste, ’n regter in sy geboortedorp gewees het; daarvandaan na die Klein Sanhedrim oorgegaan het . . . , van daar af weer na die tweede Klein Sanhedrim gevorder het . . . alvorens hy as lid van die een-en-sewentig aangeneem kon word.”
Jesus het dus bedoel dat “wie sy broer met ’n verfoeilike minagtende woord aanspreek” skuld dra wat vergelyk kan word met die van iemand wat deur die Joodse Groot Raad veroordeel en die doodstraf opgelê is. Wat ’n waarskuwing om nie ons broers te belaster nie! Laat ons ons tong beteuel sodat ons nooit in die Hoogste Hof, voor Jehovah, “die Regter van die ganse aarde”, veroordeel word nie.—Genesis 18:25; Jakobus 3:2-12.
Jesus ’n goeie onderwyser
Hierdie Evangelie beskrywe Jesus ook as ’n onderwyser wat vrae bekwaam kon beantwoord. Hy het byvoorbeeld, in antwoord op ’n vraag, verduidelik waarom sy dissipels nie gevas het nie (9:14-17). Hulle het geen rede gehad om te vas terwyl hy gelewe het nie. Maar soos hy voorspel het, het hulle gevas en gerou toe hy dood is omdat hulle nie geweet het waarom sy dood toegelaat is nie. Nadat hulle egter die heilige gees op Pinkster ontvang het, het hulle verstaan en nie langer droewig gevas nie.
Oor dieselfde onderwerp het Jesus bygevoeg dat niemand ’n ou kleed lap met ’n stuk materiaal wat nog nie gekrimp het nie, want die krag daarvan vererger die skeur. Hy het ook gesê dat nuwe wyn nie in ou wynsakke gegooi word nie. ’n Wynsak, of leersak, was ’n gelooide dierevel wat heeltemal toegewerk is buiten miskien die opening waar die been was. Nuwe, gistende wyn stel kooldioksied vry wat genoeg druk uitoefen om ou, droë wynsakke te laat bars. Net so was die waarheid wat Jesus geleer het te kragtig vir ou, onbuigsame Judaïsme. Hy het boonop nie probeer om ’n uitgediende godsdiensstelsel met sy vasgebruike en ander rites te lap of te verewig nie. God het Jesus eerder gebruik om ’n nuwe stelsel van aanbidding in te stel. Ons moet dan gewis nie interkerklike bewegings steun of valse godsdiens verewig nie.
Gee ag op raad van God se Seun
Volgens Mattheüs se verslag oor die gedaantewisseling het God Jesus sy geliefde Seun genoem en gesê dat ons na hom moet luister (17:5). Ons moet dus ag gee op al Christus se raad, soos sy waarskuwing dat dit beter sal wees vir enigeen wat ’n gelowige laat struikel om met ’n meulsteen aan sy nek in die see weg te sink (18:6). Watter soort steen was dit? Dit was nie sommer ’n klippie nie, aangesien Jesus ’n boonste meulsteen met ’n deursnee van 1,2 tot 1,5 meter bedoel het. Dit het ’n dier se krag vereis om dit bo-op ’n groter steen te draai. Niemand kan met so ’n groot gewig aan sy nek in die see oorleef nie. Jesus het ons in werklikheid aangeraai om nie ’n struikelblok vir enige van sy volgelinge te wees nie. Die apostel Paulus het met soortgelyke bedoelinge geskryf: “Dit is goed om geen vleis te eet of wyn te drink of iets te doen waardeur jou broeder aanstoot neem of struikel . . . nie.”—Romeine 14:21.
God se Seun het indirekte raad gegee toe hy wee oor die skrifgeleerdes en die Fariseërs uitgespreek het en gesê het dat hulle net soos gewitte grafte lyk (23:27, 28). Dit was gebruiklik om grafte en grafkelders te wit sodat mense dit nie per ongeluk aanraak en onrein word nie. Deur op hierdie gebruik te sinspeel, het Jesus getoon dat die skrifgeleerdes en die Fariseërs uiterlik regverdig voorgekom het, maar “vol geveinsdheid en ongeregtigheid” was. As ons op hierdie indirekte raad ag slaan, sal ons valsheid vermy en met “ongeveinsde geloof” optree.—1 Timotheüs 1:5; Spreuke 3:32, NW; 2 Timotheüs 1:5.
Ons Voorbeeld ’n handhawer van onkreukbaarheid
Nadat Mattheüs Jesus se profesie oor ‘die teken van sy teenwoordigheid’ opgeteken het, vertel hy van die verraad teen Christus, sy inhegtenisneming, verhoor, dood en opstanding. Toe Jesus aan die paal was, het hy nie die mengsel van wyn en gal, wat ’n narkotiese uitwerking het, gedrink nie (27:34, NW). Vroue het gewoonlik sulke wyn aan misdadigers gegee om die pyn van ’n folterdood te verdoof. Markus 15:23 sê dat die wyn “met mirre gemeng” was, wat die smaak sou verbeter. Blykbaar was daar gal sowel as mirre in die wyn wat Christus van die hand gewys het. Noudat hy die hoogtepunt van sy aardse loopbaan genader het, wou hy nie bedwelm en verdoof wees nie. Jesus wou by sy volle positiewe wees ten einde getrou te bly tot die dood. Mag ons, net soos ons Voorbeeld, altyd daarop gesteld wees om ons onkreukbaarheid voor Jehovah God te handhaaf.—Psalm 26:1, 11.