Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w89 7/15 bl. 26-29
  • Die uitdaging van die oudste gebied op aarde

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die uitdaging van die oudste gebied op aarde
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Onderhofies
  • Hoe die uitdaging aanvaar word
  • Koninkryksvrugte
  • Hoogtepunte in die oudste gebied
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
w89 7/15 bl. 26-29

Die uitdaging van die oudste gebied op aarde

“DIE koninkryk van die hemele het naby gekom.” Die verkondiging van daardie boodskap is van spesiale belang vir die 370 verkondigers van die “goeie nuus” in die hedendaagse staat Israel. Waarom? Want dit was hier waar Jesus Christus ongeveer 2 000 jaar gelede vir die eerste keer die Koninkryksboodskap verkondig het (Mattheüs 4:17; 24:14, NW). Dit maak Israel die oudste gebied op aarde waarin die goeie nuus verkondig word.

Die gebied was egter van die begin af ’n uitdaging. Hoewel talle belangstelling getoon het in Jesus se boodskap het min verder as dit gegaan (Johannes 6:2, 66). Vandag is die verskeidenheid van godsdienste, kulture en politieke beskouings die uitdaging.

Aan die een kant is daar 2,2 miljoen Arabiere. Onder hulle is nominale Christene, aktiewe of onaktiewe Moslems, lidmate van die Droese en verklaarde ateïste. Wat politieke opvattings betref, verskil hulle ook van mekaar. Sommige is ten gunste van die stigting van ’n onafhanklike Palestynse staat aan die westelike oewer en in die Gasastrook.

Aan die ander kant is daar die 3,5 miljoen Joodse Israeli’s, wat ook in talle opsigte verdeeld is. Sommige het van Marokko, Jemen, Irak en Sirië geïmmigreer. Ander het van Europa en Rusland gekom. Nog ander is van Indië, die Amerikas, Ethiopië, Suid-Afrika en elders. Hulle woon in gemeenskappe met hulle eie kultuur en tradisies, asook hulle unieke vertolking van Judaïsme en hoe om dit te beoefen.

Daar is byvoorbeeld ’n hoofrabbi vir die Askenasiese (Europese) Jode en een vir die Sefardiese (Midde-Oosterse) Jode. Hoewel die meeste intense belangstelling in politieke geskille toon, is daar diep godsdienstige Jode wat nie eens die bestaan van die staat Israel erken nie en weier om belasting te betaal. Dan is daar die oorlewendes van die Slagting deur die Nazi’s waarvan talle nog deur hulle vorige beproewing gefolter word en elkeen sy eie hartverskeurende ondervinding het om te vertel. Al hoe meer verklaar ook dat hulle ateïste is en hang ’n wye verskeidenheid persoonlike filosofieë aan. Die enkele draadjie wat die Joodse bevolking bymekaar hou, is hulle oorlewing as ’n volk en politieke entiteit.

Hoe die uitdaging aanvaar word

Na ’n onderbreking van meer as 1 800 jaar is die Koninkrykspredikingswerk in 1913 op klein skaal hier hervat. Destyds het ’n jongman wat in die Bybel belanggestel het Koninkryksaad in Ramallah, ongeveer 16 kilometer noord van Jerusalem, begin saai. Van daar af het die goeie nuus na die Arabiese inwoners van Beit-Jala en Haifa versprei. Kort na die Tweede Wêreldoorlog het twee Getuiesusters met ’n Joodse agtergrond die werk in die Tel Aviv/Jaffa-gebied hervat. Vandag is daar ses gemeentes en twee groepe van Jehovah se Getuies wat in Haifa, Tel Aviv, Betlehem, Ramallah, Lod en in die Berseba-gebied dien.

Soos 19 eeue gelede is die huis-tot-huisbediening steeds die doeltreffendste manier om diegene te vind wat in die goeie nuus belangstel. (Lukas 8:1; vergelyk Handelinge 5:42.) Trouens, vergeleke met party ander lande, is dit ’n plesier om op hierdie manier hier te getuig. Die mense is oor die algemeen nuuskierig oor ons boodskap en nooi die Koninkryksverkondigers in vir ’n bespreking. Weens hierdie nuuskierigheid neem hulle dikwels van ons tydskrifte en ander Bybellektuur. Baiemaal gaan sulke publikasies van die een buurman na die ander, wat daartoe lei dat sommige individue die Bybelwaarheid leer.

Hierdie selfde nuuskierigheid word egter dikwels ’n bedreiging vir die brose saadjie van waarheid in die harte van nuwelinge (Mattheüs 13:20, 21). Bure, vriende en veral godsdiensleiers doen hul bes om druk uit te oefen op diegene wat belangstelling in die Koninkryksboodskap toon, hulle te bespot, te intimideer en in sommige gevalle fisies leed aan te doen. Gevolglik het sommige hul werk verloor, terwyl ander heeltemal deur vriende en familie uitgesluit is. Diegene wat vasstaan en Getuies van Jehovah word, moet die vure van teenstand verduur.—Vergelyk Johannes 9:22.

Teenstand kom ook op ander maniere. Getuies met ’n Joodse agtergrond is al deur oproeriges aangeval. Die takkantoor en Koninkryksaal in Tel Aviv en die Koninkryksaal in Haifa was al teikens van brandstigters. Nou word daar groot druk op Arabiese sowel as Joodse Getuies uitgeoefen om kant te kies in die politieke geskil oor die stigting van ’n Palestynse staat. Die broers handhaaf ’n neutrale standpunt in sulke aangeleenthede en verduidelik taktvol dat geen mense-instansie die probleme van die siek mensdom kan oplos nie. Die Getuies volg eerder hul Leier, Jesus Christus, en wys op God se Koninkryk as die enigste oplossing.—Johannes 17:16; 18:36.

Koninkryksvrugte

Ondanks die uitdagings in hierdie oudste getuienisgebied bring diegene “wat die woord hoor en verstaan” Koninkryksvrugte in hierdie veld voort (Mattheüs 13:23). “Daar is mense wat na die waarheid dors, liefhebbers van geregtigheid, wat letterlik daarna soek”, het ’n ervare voltydse bedienaar gesê. “Hulle word nie beïnvloed deur menings of druk van ander nie. Wanneer die geleentheid om die waarheid te leer hom voordoen, gryp hulle dit gou aan.” Talle ondervindinge getuig hiervan.

Benvenida, wat in ’n klooster in Griekeland grootgemaak is, was diep beïndruk deur wat die Bybel sê oor “reine en onbesmette godsdiens”, naamlik, “om wese en weduwees in hulle verdrukking te besoek en jou vlekkeloos te bewaar van die wêreld” (Jakobus 1:27). As ’n jong Joodse meisie het sy, soos sy dit stel, niks anders as “katastrofe op katastrofe” ervaar nie. Sy het die ontbering van Nazi-besetting en ’n burgeroorlog, waarin sy haar man verloor het, deurgemaak. Maar haar hoop om eerlike en opregte mense te vind het nooit verflou nie.

Nadat Benvenida in 1949 na Israel geïmmigreer het, het sy tot haar aftrede in 1974 ’n loopbaan as ’n vroedvrou beoefen. Sy sê: “Ek het my gedurigdeur afgevra: ‘Waar is daardie goeie en eerlike mense wat deur die Bybel beskryf word? Waar is daar geregtigheid in hierdie wêreld?’” Sy het Judaïsme begin beoefen deur na ’n sinagoge te gaan en die sabbat en vakansiedae te hou. Maar die skinderpraatjies en gekibbel onder die lidmate van haar plaaslike gemeente het haar al hoe meer na “reine en onbesmette godsdiens” laat smag.

Uiteindelik, in 1985, tydens een van Benvenida se jaarlikse besoeke aan ’n gesondheidspa in Griekeland, het ’n Getuievrou wat daar behandeling ontvang het ’n gesprek met haar aangeknoop. ’n Lang bespreking het gevolg. Daardie selfde aand het Benvenida haar eerste vergadering by die plaaslike Koninkryksaal bygewoon, en sy is diep beïndruk deur die hartlikheid en opregtheid van die broers en susters.

Benvenida het haar studie voortgesit toe sy na Israel teruggekeer het, en ongeveer anderhalf jaar later is sy gedoop as simbool van haar toewyding aan die God van waarheid, Jehovah. “Uiteindelik”, het sy gesê, “het ek na al hierdie jare en op die ouderdom van 70 die beskeie en nederige mense gevind waarvan die Bybel praat, diegene wat my soos ’n mens behandel. Nou is elke dag van my lewe vreugdevol en doelgerig!”

Moshe was nog ’n waarheidsoeker wat net gewag het om ‘die goeie herder se stem te hoor’. (Vergelyk Johannes 10:14-16.) Hoewel Moshe altyd lief was vir die Skrif, het hy uit ’n eksemplaar van die “Nuwe Testament” wat sy broer wou weggooi van Jesus Christus geleer, en hy was diep beïndruk. Later het Moshe hom aangesluit by ’n werkmaat wat die Bybel saam met ’n Getuie gestudeer het, en hy het ’n toespraak bygewoon wat deur ’n besoekende spreker gehou is. “Dit is wat ek nog altyd wou hoor!” het hy na daardie eerste vergadering gesê.

Na ’n aanvanklike terugslag het Moshe vinnig gevorder. Hy is binne ses maande gedoop. Maar sy vordering het teenkanting van sy familie, veral van sy vrou, meegebring. Dit het ’n kritieke punt bereik toe hy, as die oudste seun in die familie, geweier het om aan die seremoniële gebede by sy vader se begrafnis deel te neem. Daarbenewens het vriende en familie vir sy vrou gesê dat sy ‘gou iets sou moes doen’ voordat hy alles aan die gemeente bemaak. “Ek het haar vrese gestil deur aan te bied om die woonstel op haar naam te sit”, het Moshe gesê. En deur sy tyd behoorlik te skeduleer, kon hy ’n gelukkige balans tussen sy gesins- en gemeentelike verantwoordelikhede handhaaf.

Maar nie alle familielede is teen die waarheid gekant nie. Nehai het wat sy uit die Bybel geleer het met haar man, Hanna, gedeel, wat toe baie aktief in politieke aangeleenthede was. Hulle albei het gou begin besef dat God se Koninkryk die enigste hoop vir die verdrukte mensdom is. Hulle het dus toegewyde knegte van Jehovah geword en het onder die Arabiese gesinne in Haifa en die omliggende dorpe begin getuig. Hulle het veral onder hulle eie uitgebreide familie, altesaam ongeveer 252 mense, getuig.

Was dit ’n uitdaging? Ja, want behalwe dat hulle anderhalf uur heen en weer na die Arabiese dorpies moes ry om die besoeke te doen, was baie geduld en volharding nodig. “Soms sê verskeie persone vir jou dat hulle niks meer wil hoor nie. Wanneer dit gebeur, sal jy moet ophou praat. Later, kan jy geleidelik die onderwerp weer taktvol aanroer. Dit is soos om by die voordeur uitgeskop te word en deur die venster terug te klim”, het Hanna gesê. Dit was alles die moeite werd. Tot dusver het 24 van sy 36 nabestaandes opregte belangstelling in die Skrif uitgespreek, en 13 van hulle studeer die Bybel saam met Hanna en ander Getuies. Tot op hede het vyf van sy nabestaandes asook sy eie kinders hulle lewe aan Jehovah toegewy, en nog drie maak vordering in hierdie rigting.

Hoogtepunte in die oudste gebied

Daar is al hoe meer sulke hartverblydende ondervindinge hier in Israel, en die vooruitsigte vir groei is uiters bemoedigend. In 1988 het die aantal Koninkryksverkondigers ’n hoogtepunt van 370 bereik. Die gemiddelde aantal Bybelstudies wat elke maand in die huise van belangstellendes gehou word, het van 89 in 1979 tot 301 in 1988 gestyg—’n vermeerdering van 240 persent!

Dit alles verskaf Jehovah se Getuies in hierdie ou land groot vreugde. Ons sien uit na selfs groter seëninge van ons God, Jehovah, terwyl ons voortgaan met die dissipelmaakwerk in die oudste gebied op aarde.

[Prente op bladsy 26, 27]

Bo: Tuingraf, Jerusalem

Links bo: Mark- en straattonele in Israel

Links onder: Takkantoor in Tel Aviv

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel