“Nederigheid gaan heerlikheid vooraf”
’N SEKERE jongman was in ’n Egiptiese tronk op ’n valse aanklag. Hy het baie vernedering verduur en daar was skynbaar geen hoop op vrylating uit die tronk nie. Toe is hy beveel om voor Farao te verskyn. Tronkbewaarders het hom sonder versuim uitgebring. Hy het geskeer, skoon mantels aangetrek en toe voor die heerser verskyn.
’n Verrassing het op Josef gewag. Met Jehovah se hulp het Josef twee van Farao se drome reg uitgelê. Farao het gesê: “Kyk, ek stel jou aan oor die hele Egipteland” (Genesis 41:41). Wat ’n ongelooflike ondervinding—van tronk tot paleis in een dag! Josef se ondervinding kan toelig wat koning Salomo later geïnspireer is om te skryf: “Want daardie een het uit die gevangenis uitgegaan om koning te word.” Salomo het gepas twee keer geskryf: “Nederigheid gaan heerlikheid vooraf.”—Prediker 4:14; Spreuke 15:33, NW; 18:12, NW.
As jy by daardie goddelike waarheid baat wil vind, moet jy jou afvra: Wat het Josef gedurende sy vernederende ondervinding onderskraag? Hoe het hierdie getroue kneg van Jehovah die valse aanklag wat hom in die tronk laat beland het, verwerk? Watter heerlikheid het Jehovah vir Josef in gedagte gehad? Watter soort heerlikheid wag vir diegene wat vervolging en vernedering deur die eeue heen getrou en moedig verduur het? Wat kan ons bowenal help om ’n gebalanseerde gesindheid te behou wanneer ons vernedering verduur?
Josef moes dikwels gemediteer het oor die twee vroeëre profetiese drome wat gewys het dat sy broers en selfs sy ouers voor hom sou “neerbuig”. Trouens, toe sy broers van die eerste droom gehoor het, het hulle gesê: “Wil jy miskien oor ons regeer?”—Genesis 37:8-10.
Josef se jaloerse broers het hom amper vermoor! Maar onder Jehovah se leiding is die 17-jarige seun aan reisende handelaars verkoop, wat hom weer op hulle beurt aan Potifar, hoof van Farao se lyfwag, verkoop het.
Josef het uiteindelik bestuurder van die huishouding van Potifar geword, wie se vrou die aantreklike jongman probeer verlei het. Maar Josef was lojaal teenoor Jehovah en het gevlug. Die listige vrou het Josef valslik beskuldig dat hy haar probeer verkrag het, en omdat Potifar haar geglo het, is arme Josef in die tronk gesit.
Hy het egter lojaal teenoor Jehovah gebly wat, soos alreeds gemeld is, gereël het dat hy na Farao geneem word om drome uit te lê. Farao het Josef daarna die heerlike voorreg gegee om Egipte se voedselvoorraad te organiseer. Toe ’n hongersnood na Kanaän versprei het, het Josef se broers wel voor hom neergebuig om voedsel vir die familie te kry.
Ander wat van ‘nederigheid tot heerlikheid’ gegaan het
Moses was ’n ander getroue kneg van Jehovah wie se lewenspatroon die goddelike waarheid dat ‘nederigheid heerlikheid voorafgaan’, gestaaf het. Moses is aan die weelderige hof van Farao grootgemaak en het ’n belowende toekoms gehad. Toe neem gebeure oënskynlik ’n ongunstige wending. Moses het uit geloof in Jehovah en liefdevolle besorgdheid oor sy volk opgetree en moes gevolglik vir sy lewe vlug van ’n woedende Farao. Hy het heeltemal alleen na Midian gereis. Hy het sy nederigheid 40 jaar lank bewys deur ’n eenvoudige lewe as ’n veewagter te lei en sy skoonvader Jetro te dien. Hoe bemoedigend moes dit tog vir Moses gedurende sy 40 jaar van persoonlikheidsvorming gewees het om na te dink oor die manier waarop Jehovah hom nederigheid geleer het en te peins oor wat hy dalk nog te wagte kon wees!
Toe kom heerlikheid. Jehovah het Moses as Sy boodskapper na Farao gestuur en hom aangestel om Sy volk uit Egipte te bring. Watter heerlike voorregte het Moses tog gehad toe hy regstreeks by die tien plae betrokke was en Israel deur die Rooi See gelei het! Later het Jehovah vir Moses die Wet op die berg Sinai gegee. Toe hy afklim, kon die volk ‘nie die oë op die aangesig van Moses vestig nie vanwee die heerlikheid van sy aangesig’.—2 Korinthiërs 3:7.
Beskou ook Job, die belangrikste van al die Oosterlinge. Hy was “’n man vroom en opreg, godvresend en wat afwyk van die kwaad” (Job 1:2, 3, 8). Toe verloor hy skielik sy tien kinders en al sy duisende skape, kamele, beeste en eselinne.
Dit was nie al nie. Job was totaal oortrek van kwaadaardige swere sodat hy fisies weersinwekkend was. Sy eie vrou het hom gespot: “Bly jy nog steeds vroom? Vervloek God en sterf!” (Job 2:9, NAV). Job is erg beproef en verneder, maar hy was heeltemal onbewus van die hemelse konfrontasie tussen Jehovah en die aartsrebel, Satan. Die omslagtige bespreking met Job se drie “vriende” het die situasie nie verbeter nie. Job het egter sy onkreukbaarheid behou. Hy het selfs die wyse raad van Elihu—’n baie jonger man as hy—nederig aanvaar.—Job 32:4.
Is Job beloon? Ja. Jehovah het Job genees, sy kuddes verdubbel en aan hom sewe seuns en drie dogters—die mooiste in die hele land—gegee. Wat ’n heerlike gevolg van Job se nederigheid! Hoe waar het dit geblyk—“nederigheid gaan heerlikheid vooraf”.—Job 42:12-15.
Verskillende soorte heerlikheid
Daar is vanselfsprekend baie verskillende soorte heerlikheid—van die heerlikheid van ’n vrou se hare tot die heerlikheid van Moses se gesig toe hy van die berg Sinai afgekom het (1 Korinthiërs 11:15, NW; 2 Korinthiërs 3:7). Skouspelagtige sonsondergange het ’n manjifieke heerlikheid en sterre het ’n ander heerlikheid.—1 Korinthiërs 15:41.
Verskillende vorme van die woord “heerlikheid” word honderde kere in die Bybel gebruik. Wanneer hierdie verwysings en hulle teksverband ondersoek word, is dit duidelik dat Jehovah die bron van alle heerlikheid is. Sy getroue knegte en sy skeppingsmeesterwerke kan maar net hierdie heerlikheid op talle maniere en in verskillende mate weerspieël.
In ons 20ste eeu het ons baie getuienis van die vernederinge wat diegene met die heerlike hoop op hemelse lewe moet verduur. Gedurende die Eerste Wêreldoorlog is vername lede van die Wagtoringgenootskap in Brooklyn, New York, op valse aanklagte tot 20 jaar gevangenisstraf gevonnis. Omtrent dieselfde tyd het vervolging op baie plekke uitgebreek. J. B. Siebenlist is byvoorbeeld drie dae sonder ’n lasbrief en sonder kos, behalwe drie stukkies bederfde mieliemeelbrood, opgesluit. Hy is deur die gepeupel uit die tronk geneem, van sy klere gestroop, met warm teer gesmeer en met ’n sweep, wat ’n draad aan die punt gehad het, geslaan. Tydens een verhoor het die aanklaer gesê: “Na die duiwel met jou Bybel; jy behoort met ’n gebreekte rug in die hel te wees; jy behoort gehang te word.”
Sommige van Jehovah se getroue knegte het gedurende die Tweede Wêreldoorlog verskriklik in Nazi-konsentrasiekampe gely. Martin Poetzinger, ’n gesalfde Getuie wat dit oorleef het en ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies geword het, was een van hulle. Hy het Dachau as ’n “malhuis van demone” beskryf. In die kamp by Mauthausen het die “Gestapo alles in hulle vermoë gedoen om ons ons geloof in Jehovah te laat prysgee. Hulle het hongerdiëte, bedrieglike vriendskappe, wreedhede probeer, hulle het ons dae aaneen in ’n raam laat staan, aan ’n paal [sowat drie meter hoog] aan die gewrigte, wat agter vasgemaak is, gehang, geslaan—dit alles en nog meer . . . het hulle probeer.”
Wat het hierdie getroue Christene onderskraag?
Hulle is onder sulke betreurenswaardige en vernederende toestande gehelp om staande te bly deur hulle geloof in die eindresultaat, waaronder die vooruitsig van die heerlike toekoms vir diegene wat hulle onkreukbaarheid handhaaf. Vir die “klein kuddetjie” gesalfde Getuies is dit ’n hemelse erfenis (Lukas 12:32). Vir ander getroue mense word ’n besondere soort heerlikheid op aarde voorgehou. Party van hulle, soos Josef en Moses, word in Hebreërs hoofstuk 11 gemeld. Lees asseblief verse 32-40 en peins oor die vernederinge wat sommige van hierdie getroues moes verduur. Verder dien “’n groot menigte” Jehovah vandag op aarde (Openbaring 7:9, 15). Wat hou die toekoms vir hulle in?
’n Ryk toekoms wag op hulle. Die hemelse regering onder Jesus Christus sal aardse verteenwoordigers hê wat die opgetekende instruksies in die boekrolle, waarvan Openbaring 20:12 praat, sal toepas. Sulke persone sal heerlike voorregte hê, nie as konings nie, maar “as vorste in die hele land”, en saam met hulle sal tallose nederige, getroue mense, verresenes, inkluis, ewige lewe in ’n heerlike paradysaarde verkry.—Psalm 45:17.
Vandag is daar miljoene wat hulle nederigheid bewys het deur valse godsdiens te verlaat en deur blymoedig aan die predikingswerk deel te neem wat Jehovah se Getuies van huis tot huis doen. Baie van hierdie persone is deur gesinslede en vriende bespot, maar hulle het aan ware aanbidding vasgehou. Hulle het teregwysing en dissipline nederig aanvaar sodat hulle die ware God, Jehovah, kan dien. Hulle hoop is om in die herstelde Paradys te lewe, wanneer ‘die aarde vol sal wees met die kennis van die heerlikheid van Jehovah soos die waters die seebodem oordek’.—Habakuk 2:14.
Dit is nou ’n tyd van beproewing vir Jehovah se volk. Dit is amper asof ons vreemdelinge in ’n vreemde land is. Die kloof tussen ware en valse aanbidding word wyer en dieper. Ons verduur almal in sekere mate vernedering. Maar net soos Jesus bemoedig en versterk is deur die vreugde wat hom voorgehou is, kan ons toetse te bowe kom deur die eindresultaat in gedagte te hou.
Die Bybel raai ons aan: “Verneder julle voor die Here, en Hy sal julle verhoog” (Jakobus 4:10). Wanneer jy ook al aan ’n strawwe toets onderwerp word, moet jy aan hierdie woorde dink: “Nederigheid gaan heerlikheid vooraf.” Onthou ook dat Jehovah nie kan faal nie!