Insig in die nuus
’n Sleutel tot geluk?
“Twee jaar van swaarkry, geluk vir ewig.” Dit is, volgens die Japannese koerant Jomjoeri Sjimboen, die huidige slagwoord onder Chinese studente in Japan. Met verwagtinge om ryk te word, leen hierdie studente geld om na Japan te kom, waar hulle meen geld sommer uit die hemel reën. Hulle hoop dat hulle tweemiljoen jen (ongeveer R39 200) sal kan spaar deur twee jaar lank deeltyds te werk terwyl hulle universiteit toe gaan, en dat hulle dan sal kan terugkeer huis toe en altyd gelukkig sal wees.
Sulke vertroue in geld as ’n sleutel tot geluk kom wêreldwyd voor. ’n Onlangse opname wat onder jeugdiges in 11 lande gedoen is, het getoon dat “‘geld’” in 9 lande “bo-aan die lys” van hulle kommernisse was, sê die Asahi Evening News.
Sal vertroue in rykdom werklik die deur na geluk oopsluit? Wyse koning Salomo het gewaarsku: “Hy wat geld liefhet, kry nie genoeg van geld nie” (Prediker 5:9; 7:12). Dit lei nie tot ware bevrediging as geld eerste gestel word nie en dit verseker ook nie toekomstige sekuriteit nie. Die Bybel sê byvoorbeeld: “Hulle silwer of hulle goud sal nie in staat wees om hulle op die dag van die grimmigheid van die HERE te red nie” (Sefanja 1:18). In teenstelling daarmee het die psalmis Dawid egter geskryf: “Welgeluksalig is die man wat sy vertroue in die HERE stel.” Vertroue in Jehovah, nie in geld nie, is die sleutel tot blywende geluk.—Psalm 40:5; Jesaja 30:18.
Doopdilemma
Twee probleme in verband met die doop van babas het onlangs in die Anglikaanse Kerk opgeduik. Die eerste het betrekking op “onoordeelkundige” doop, wat een geestelike as ’n soort “geestelike inenting” beskryf het. Die tweede is dat al hoe meer geestelikes weier om babas te doop wie se ouers die Anglikaanse Kerk nie daadwerklik steun nie.
Talle geestelikes besef dat ouers glad nie kerk toe wil gaan nie en ook nie wil hê dat hulle kinders moet gaan nie. Waarom laat hulle hul babas dan doop? “Hulle wil hê dat hulle babas gedoop moet word”, sê The Times, “net soos hulle verjaarsdaggeskenke wil gee of ontvang, hulle huise tydens Kersfees wil versier . . . Dit is deel van hulle kultuur: daar hoef nie ’n rede daarvoor te wees nie.”
Een geestelike het uit sy amp bedank omdat hy tot die gevolgtrekking gekom het dat babas nie gedoop moet word nie. Hy het gesê: “Die enigste mens wat daardie verbintenis met Christus kan aangaan, is die persoon self.” Hy kon bygevoeg het dat Jesus Christus 30 jaar oud was toe hy gedoop is en dat die Griekse woord vir doop, ba·ptiʹzo, indompel of onderdompel beteken. Nadat Jesus in die Jordaanrivier gedoop is, het hy ‘uit die water opgekom’ (Markus 1:10; Mattheüs 3:13, 16). Die Bybel sê nêrens dat water op babas gesprinkel moet word nie. Aangesien doop ’n simbool van ’n mens se toewyding aan God as ’n voetstapnavolger van Christus is, is dit nie ’n besluit wat ’n baba kan neem nie.
Voorbehoedmiddels en Katolieke
Die Katolieke Kerk se teenstand teen geboortebeperking is deur Johannes Paulus II bevestig by die Tweede Internasionale Kongres oor Moraalteologie wat verlede November in Rome gehou is. Volgens die Vatikaanstad se koerant, L’Osservatore Romano, het hy gesê: “Dit is nie ’n leerstelling wat deur die mens uitgevind is nie. Dit is deur die skeppende hand van God in die natuur van die mens neergeskryf. Om daaraan te twyfel is dieselfde as om te weier om God met ons intelligensie te gehoorsaam”, en daarom, voeg hy by, “kan dit nie deur die Katolieke teoloog bevraagteken word nie.”
Maar die ensikliek Humanae Vitae waarna pous Johannes Paulus verwys het en wat sowat 20 jaar gelede deur Paulus VI geskryf is, “is onmiddellik deur ’n groot aantal teoloë bevraagteken”, sê die Italiaanse koerant La Stampa, en deur “die meeste Katolieke” geïgnoreer.
Die kerk se onversetlikheid oor die kwessie van geboortebeperking het teoloë klaarblyklik verdeel en opregte Katolieke erg ontstel. Die voortgesette verdeeldheid oor die gebruik van enige soort voorbehoedmiddel het pous Johannes Paulus selfs beweeg om teoloë te maan om almal “dieselfde taal te praat”. Maar in teenstelling met die pous se bewering dat die kerk se standpunt oor geboortebeperking ‘deur die skeppende hand van God neergeskryf is’, sê die Italiaanse koerant La Repubblica dat “geen vers uit die Evangelies of die Ou Testament aangehaal is om die leerstelling te staaf nie”.
Die Bybel bespreek nêrens die gebruik van voorbehoedmiddels of geboortebeperking in die huwelik nie, en dit sê ook nie dat Christene verplig is om kinders voort te bring nie. God se Woord laat die kwessie van gesinsbeplanning aan die gewete van elke Christenegpaar oor. Deur sy beslissing oor geboortebeperking aan sy lidmate op te lê, leer die Katolieke Kerk “bo wat geskrywe is”.—1 Korinthiërs 4:6.