Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w89 5/15 bl. 8-9
  • Lasarus word opgewek

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Lasarus word opgewek
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Soortgelyke materiaal
  • Lasarus word opgewek
    Die grootste mens wat nog geleef het
  • Lasarus word opgewek
    Jesus – Die weg, die waarheid, die lewe
  • Die hoëpriester wat Jesus veroordeel het
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Jesus word na Annas en dan na Kajafas geneem
    Jesus – Die weg, die waarheid, die lewe
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
w89 5/15 bl. 8-9

Jesus se lewe en bediening

Lasarus word opgewek

JESUS, saam met die wat hom vergesel, kom nou by Lasarus se graf aan. Dit is eintlik ’n grot met ’n steen voor die ingang. “Neem die steen weg”, sê Jesus.

Martha protesteer, want sy verstaan nog nie wat Jesus van plan is om te doen nie. “Here”, sê sy, “hy ruik al, want hy is al vier dae dood.”

Maar Jesus vra: “Het Ek nie vir jou gesê, as jy glo, sal jy die heerlikheid van God sien nie?”

Die steen word dus weggeneem. Dan slaan Jesus sy oë op en bid: “Vader, Ek dank U dat U my verhoor het; en Ek het geweet dat U My altyd verhoor, maar ter wille van die skare wat rondom staan, het ek dit gesê, sodat hulle kan glo dat U My gestuur het.” Jesus bid hardop sodat die mense kan besef dat wat hy nou gaan doen, uitgevoer sal word deur krag wat hy van God ontvang. Dan roep hy met ’n harde stem uit: “Lasarus, kom uit!”

Daarop kom Lasarus uit. Sy hande en voete is nog met grafdoeke gebind en sy gesig is met ’n doek toegedraai. “Maak hom los en laat hom gaan”, sê Jesus.

Toe hulle die wonderwerk sien, het baie van die Jode wat gekom het om Maria en Martha te troos, geloof in Jesus gestel. Ander gaan egter na die Fariseërs om vir hulle te vertel wat gebeur het. Hulle en die owerpriesters reël dadelik ’n vergadering van die Joodse hooggeregshof, die Sanhedrin.

Die Sanhedrin sluit Fariseërs en Sadduseërs, owerpriesters, die huidige hoëpriester Kajafas en voormalige hoëpriesters in. Hulle weeklaag: “Wat sal ons doen?—want hierdie man doen baie tekens. As ons Hom so laat begaan, sal almal in Hom glo; en die Romeine sal kom en ons land en ons nasie albei afneem.”

Hoewel die godsdiensleiers erken dat Jesus “baie tekens doen”, is hulle net oor hulle eie posisie en gesag bekommerd. Die opwekking van Lasarus is veral vir die Sadduseërs ’n groot terugslag, aangesien hulle nie in die opstanding glo nie.

Kajafas, wat moontlik ’n Sadduseër is, praat nou en sê: “Julle weet niks nie en dink nie daaraan dat dit vir ons voordelig is dat een man vir die volk sterwe en nie die hele nasie omkom nie.”

God het Kajafas beïnvloed om dit te sê, want die apostel Johannes het later geskryf: “En dit het [Kajafas] nie uit homself gesê nie.” Wat Kajafas regtig bedoel het, was dat Jesus doodgemaak moes word om te voorkom dat Hy hulle posisies van gesag en invloed verder ondermyn. Maar volgens Johannes het Kajafas ‘geprofeteer dat Jesus nie alleen vir die volk sou sterf nie, maar ook om die verstrooide kinders van God tot ’n eenheid saam te voeg’. En dit is inderdaad God se voorneme dat sy Seun as ’n losprys vir almal sterf.

Kajafas oorreed nou die Sanhedrin om planne te beraam om Jesus dood te maak. Maar Jesus, wat moontlik van hierdie planne te hore kom deur Nikodemus, ’n lid van die Sanhedrin wat hom goedgesind is, gaan daarvandaan weg. Johannes 11:38-54.

◆ Waarom bid Jesus hardop voordat hy vir Lasarus opwek?

◆ Hoe reageer diegene wat die opstanding sien?

◆ Wat toon hoe sleg die lede van die Sanhedrin is?

◆ Wat was Kajafas se plan, maar wat het God deur middel van hom geprofeteer?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel