Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w89 5/15 bl. 3-7
  • Babilon die Grote—haar teregstelling

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Babilon die Grote—haar teregstelling
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die Christendom se onchristelike rekord
  • Nie-Christelike godsdienste—hulle rekord
  • Hoe valse godsdiens tot niet sal gaan
  • Teregstelling—Wanneer?
  • Die ware God en jou toekoms
    Die mensdom se soeke na God
  • Wat sal met godsdiens gebeur? – Wat die Bybel sê
    Nog onderwerpe
  • Wat is Babilon die Grote?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Babilon die Grote—geval en geoordeel
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
w89 5/15 bl. 3-7

Babilon die Grote—haar teregstelling

“Op haar voorhoof was ’n naam geskrywe, ’n verborgenheid: ‘Babilon die Grote, die moeder van die hoere en van die walglikhede van die aarde’.” “Haar plae [sal] op een dag kom: dood en droefheid en honger; en met vuur sal sy verbrand word, want sterk is die Here God wat haar oordeel.”—Openbaring 17:5, “NW”; 18:8.

ONS kan tereg wonder oor daardie woorde wat die apostel Johannes in die eerste eeu van ons Gewone Jaartelling geskryf het. Wie is hierdie ‘moeder van hoere’? Hoe het sy God so erg gekrenk dat hy haar so swaar oordeel? God se oordele teen die raaiselagtige hoer Babilon die Grote is ongetwyfeld verwoestend. En dit gee ons beslis rede om vas te stel wie hierdie hoer is en hoe haar lot ons sal raak.—Openbaring 18:21.

Wie of wat word deur Babilon die Grote afgebeeld? Die Bybel sê dat wêreldheersers met haar gehoereer het en dat handelaars met haar handel gedryf het (Openbaring 18:3). Sy kan dus nie die politiek of groot sake afbeeld nie. Maar dit laat die derde invloedryke element in die wêreld as die enigste kandidaat vir die titel ‘moeder van hoere’. Sy is niemand anders as Satan se wêreldryk van valse godsdiens nie!a

Nou bly hierdie vrae nog: Waarom, hoe en wanneer sal Babilon die Grote tereggestel word? Of om sake letterlik te stel: Waarom, hoe en wanneer sal valse godsdiens van hierdie aarde af verdwyn?

Die Christendom se onchristelike rekord

Wanneer ons valse godsdiens se rekord beskou, kan dit ons tereg herinner aan die eertydse profetiese uitspraak: “Want hulle saai wind, maar hulle sal storm maai” (Hosea 8:7). Dit stem ooreen met die beginsel wat die Christenapostel Paulus gemeld het: “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai” (Galasiërs 6:7). Wat het valse godsdiens dan op ’n wêreldskaal gesaai? En wat sal dit maai?

Jesus Christus het gesê dat sy volgelinge nie net hulle naaste nie, maar ook hulle vyande moet liefhê (Mattheüs 5:43, 44). Paulus het uit die Hebreeuse Geskrifte aangehaal en noukeurig omskryf hoe Christene hulle vyande moet behandel. Hy het gesê: “As jou vyand dan honger het, gee hom iets om te eet; as hy dors het, gee hom iets om te drink, want sodoende sal jy op sy hoof vurige kole ophoop. Laat jou nie deur die kwaad oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.”—Romeine 12:20, 21.

Maar die geskiedenis van die Christendom se godsdienste is vol haat en bloedvergieting. Eertydse en hedendaagse kruistogte wat roof, verkragting en die dood ingesluit het, is geseën en vergoelik. Fascistiese Italië se verkragting van Abessinië (1935) en Franco se “kruistog” in die Spaanse Burgeroorlog (1936-1939) is deur hooggeplaastes in die Katolieke Kerk geseën.

Teologiese geskille is besleg deur mense op die brandstapel te verbrand. Nadat hy sy vertaling van die “Nuwe Testament” in Engels gepubliseer het, is Bybelvertaler William Tyndale in 1536 op die brandstapel verwurg, waarna sy liggaam verbrand is. Vroeër het godsdiensowerhede, gedryf deur wraaksug, op bevel van pous Martin V die beendere van Bybelvertaler Wycliffe 44 jaar na sy dood opgegrawe sodat hulle die genoeë kon hê om dit te verbrand. Tydens die Katolieke Inkwisisie is duisende Jode en “ketters” hulle besittings ontneem, gemartel en op die brandstapel verbrand—alles kwansuis in die naam van Christus! Spaanse teoloog Michael Servetus, wat deur Rooms-Katolieke sowel as Protestante vervolg is, is op bevel van Protestant Johannes Calvyn op die brandstapel verbrand. In die twee wêreldoorloë van hierdie eeu is leërs deur “Christelike” geestelikes geseën en is soldate deur hulle nasionalistiese kapelane aangespoor om te moor.

Hoe verskil dit tog nie van die ware Christelike godsdiens nie! Die apostel Paulus het geskryf: “Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid. Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ’n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen. En beklee julle bo dit alles met die liefde wat die band van die volmaaktheid is.”—Kolossense 3:12-14.

Paulus het aan Christene in Rome geskryf: “Vergeld niemand kwaad vir kwaad nie; bedink wat goed is voor alle mense; as dit moontlik is, sover as dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense. Moenie julle wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die toorn; want daar is geskrywe: Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here” (Romeine 12:17-19). In die lig van Christelike beginsels het die Christendom dus gefaal. Sy het haat en geveinsdheid gesaai en sal vernietiging maai.

Nie-Christelike godsdienste—hulle rekord

Maar Babilon die Grote bestaan nie net uit die godsdienste van die Christendom nie. Al die vername godsdienste van hierdie wêreld deel in daardie berugte hoer se bloedskuld. Die fanatiese en sadistiese mentaliteit wat die Japannese leër in die Tweede Wêreldoorlog geopenbaar het, is byvoorbeeld deels die skuld van die Sjintogodsdiens van Japan. Geskiedskrywer Paul Johnson is van mening dat hulle dit nodig gevind het om “’n staatsgodsdiens en ’n heersende moraliteit, bekend as Sjinto en boeshido [die “weg van die krygsman”]”, te skep “om hulleself te versterk in ’n ongevoelige, mededingende wêreld” wat deur Europese gedragsreëls oorheers is. “Gereelde keiseraanbidding is ingestel, veral in die weermag, en sedert die twintigerjare is ’n nasionale etiese kode, kokoemin dotokoe, in al die skole geleer.” Wat was die gevolg? Teen 1941, toe Japan Pearl Harbor gebombardeer en dus tot die Tweede Wêreldoorlog toegetree het, was “Sjinto [reeds] . . . van ’n primitiewe, uitgediende en minderheidskultus omskep in ’n godsdiens wat deur ’n moderne, totalitêre staat gesteun is, en deur ’n besonder verfoeilike ironie is godsdiens, wat die sekulêre afgryse van die eeu moes bekamp, gevolglik gebruik om dit te heilig”.

Geskiedskrywer Johnson sê aangaande die verdeling van Indië in 1947, waarby godsdiensonenighede ’n faktor was: “Sowat 5 tot 6 miljoen mense het in alle rigtings gehardloop om die dood te ontkom. . . . Skattings van die dodetal het destyds van 1 tot 2 miljoen gewissel. Jonger berekeninge wissel van 200 000 tot 600 000.” Godsdienstig aangestigte moorde en vernedering duur tot vandag toe in Hindoegemeenskappe voort. Harijans, of verworpenes wat vroeër onaanraakbares genoem is, is dikwels die slagoffers van bendemoorde wat deur ryk landhere gereël word.

Hindoeïsme gaan gepaard met towery (Openbaring 18:23). Indiese skrywer Soedhir Kakar praat van die “gemiddelde Hindoe se intense belangstelling in en respek vir die okkulte en die beoefenaars daarvan” en voeg by: “Astroloë, waarsêers, heldersiendes asook sadhoes [asketiese “heilige” manne], fakirs [bedelmonnike wat towerkunste doen] en ander godmense word met groot agting bejeën omdat daar gemeen word dat hulle in noue aanraking met die hoër werklikheid is.”—India Today, 30 April 1988.

Boonop is daar voortdurend konflikte onder Hindoes, Sikhs en lede van ander Oosterse godsdienste. Elke godsdiens dra sy deel van haat, twis en moord tot hierdie konflikte by. Dit is net nog ’n aspek van die vrugte van Babilon die Grote.

Die hedendaagse geskiedenis van oorlog, slagting en verdrukking is ook nie juis ’n pluimpie vir Judaïsme nie. Die gewelddadige optrede van lidmate van die Gasidiese sekte van Judaïsme teenoor aanhangers van ander Joodse sektes en van nie-Joodse godsdienste is beswaarlik ’n aanbeveling in God se oë.

Wanneer ons die geskiedenis van die wêreldwye godsdiensryk bestudeer, kan ons maklik sien waarom die Opperregter rede het om Babilon die Grote tereg te stel. “En die bloed van profete en heiliges is in haar gevind, en van almal wat op die aarde gedood is” (Openbaring 18:24). Valse godsdiens se medepligtigheid aan streek- en wêreldoorloë het haar in God se oë skuldig gemaak aan die bloed van “almal wat op die aarde gedood is”.

Volgens die Bybelse aanklag is Babilon die Grote geoordeel en verdien sy vernietiging weens haar geskiedenis van geestelike hoerery met wêreldheersers, haar bloedskuld in oorloë en haar towery. Jehovah God het derhalwe geregtelik bepaal dat daar ’n einde aan Satan se wêreldryk van valse godsdiens gemaak moet word.—Openbaring 18:3, 23, 24.

Hoe valse godsdiens tot niet sal gaan

Die boek Openbaring beskryf die vernietiging van Babilon die Grote in hoogs simboliese taal. In Openbaring 17:16 lees ons: “Die tien horings wat jy op die dier gesien het, hulle sal die hoer haat en haar verlate maak en naak, en haar vlees eet en haar met vuur verbrand.” “Die tien horings” simboliseer al die politieke magte wat nou op die wêreldtoneel is en hul steun gee aan die Verenigde Volke, die “skarlakenrooi dier”, wat self die beeld van die Duiwel se bloedbevlekte politieke stelsel is.—Openbaring 16:2; 17:3.b

Volgens Bybelprofesie sal die politieke magte wat aan die Verenigde Volke verbonde is teen die wêreldryk van valse godsdiens draai en haar verwoes. Al die valse godsdienste sal geraak word. Sommige politieke stelsels het alreeds hulle afkeer van valse godsdiens se inmenging in politieke en maatskaplike aangeleenthede getoon. Sommige sosialistiese lande het voorstanders van ateïsme geword en godsdiens verlaag tot iets feitlik niksbeduidends, soos in Albanië, of tot ’n toegeeflike dienares, soos in Rusland en China. Elders toon politieke heersers ’n sterk afkeer van die vryheidsteologie van sommige Katolieke priesters in armer lande. Nog ander onderdruk godsdienste wat by rasse-aangeleenthede betrokke raak. Selfs in sogenaamd liberale lande grief geestelikes se inmenging in die politiek en in maatskaplike geskille sommige politici.

Ons sal moet sien presies watter verdere geskille die politieke elemente dwarsdeur die wêreld gaan beweeg om teen valse godsdiens op te tree. Maar een ding staan vas—die teregstelling van Babilon die Grote deur hierdie elemente sal nie net hulle wil wees nie, maar ook die wil van God. Openbaring 17:17 sê: “Want God het dit in hulle harte gegee om sy bedoeling uit te voer en een bedoeling uit te voer, en hulle heerskappy aan die dier te gee totdat die woord van God volbring is.”—Vergelyk Jeremia 51:12, 13.

Let wel. Die teregstelling van Babilon die Grote sal nie eenvoudig die uiting van politieke vyandigheid teenoor godsdienstige aanmatiging en inmenging wees nie. Die politieke heersers sal God se onwillekeurige werktuie wees vir die wêreldwye vernietiging van valse godsdiens. Ja, “haar sondes reik tot aan die hemel, en God het haar ongeregtighede onthou”.—Openbaring 18:5.

Jehovah het bepaal dat trotse valse godsdiens verneder moet word. Die profesie sê: “Namate sy haarself verheerlik het en weelderig geleef het, na dié mate moet julle haar pyniging en droefheid aandoen. Omdat sy in haar hart sê: Ek sit as ’n koningin en is geen weduwee nie, en droefheid sal ek nooit sien nie—daarom sal haar plae op een dag kom: dood en droefheid en honger; en met vuur sal sy verbrand word, want sterk is die Here God wat haar oordeel.”—Openbaring 18:7, 8.

Teregstelling—Wanneer?

Daardie “een dag”, of kort tydperk van vinnige teregstelling, is nou naby. Trouens, die vernietiging van Babilon die Grote lui die “dag van die wraak van onse God” in (Jesaja 61:2). Daarna sal God se regverdige oorlog van Armageddon uitbreek. Al die getuienis van wêreldgebeure sedert 1914 toon dat die tyd min raak vir Satan se stelsel van dinge. Die heerskappy van God se Koninkryk is derhalwe ophande.—Lukas 21:32-36; Openbaring 16:14-16.

Hoe sal ware aanbidders op die vernietiging van Babilon die Grote reageer? Openbaring sê: “Verbly jou oor haar, o hemel, en o heilige apostels en profete, omdat God julle oordeel aan haar voltrek het!” (Openbaring 18:20). Daar sal universele blydskap wees wanneer Jehovah se voorneme volbring word en sy naam verheerlik word. Die profesie sê: “Ná hierdie dinge het ek iets soos ’n groot stem van ’n groot menigte in die hemel gehoor wat sê: Halleluja, die heil en die heerlikheid en die eer en die krag aan die Here onse God! Want sy oordele is waaragtig en regverdig; want Hy het die groot hoer geoordeel wat die aarde met haar hoerery verderf het, en Hy het die bloed van sy diensknegte op haar gewreek.”—Openbaring 19:1, 2.

Die verwoesting van Babilon die Grote, wat deur God se teregstelling van die oorblywende elemente van Satan se stelsel gevolg word, sal eindelose seëninge inhou vir ware aanbidders van God, waaronder talle wat hier op aarde opgewek sal word. Jesus het al sulkes belowe: “As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels. En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.”—Johannes 8:31, 32; Openbaring 19:11-21.

Ware aanbidders is alreeds vry van valse godsdiensleerstellings wat God deur die eeue heen gesmaad het. In die beloofde nuwe wêreld van regverdigheid sal hulle vry wees en sonder vrees vir die dood lewe, want “God self sal by hulle wees as hulle God. En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan” (Openbaring 21:3, 4). Die eerste dinge wat verby sal wees, sal Babilon die Grote, Satan se wêreldryk van valse godsdiens, insluit.

[Voetnote]

a Kyk Die Wagtoring van 1 April 1989 vir uitvoeriger bewys wat Babilon die Grote identifiseer.

b Kyk die boek Openbaring—Sy groot klimaks is op hande!, uitgegee deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap, vir verduidelikings oor hierdie en ander simbole in Openbaring.

[Lokteks op bladsy 5]

“Deur ’n besonder verfoeilike ironie is godsdiens, wat die sekulêre afgryse van die eeu moes bekamp, gevolglik gebruik om dit te heilig”

[Prente op bladsy 4]

Wycliffe en Tyndale is vervolg omdat hulle die Bybel vertaal het

[Erkenning]

Van ’n ou gravure in die Bibliothèque Nationale

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel