Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w89 5/15 bl. 10-15
  • Toon liefde en respek as man

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Toon liefde en respek as man
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Christus—die verkwikkende voorbeeld
  • Hoe om verkwikkende mans en vaders te wees
  • Leef saam ooreenkomstig kennis
  • Bewys eer aan jou vrou
  • Twee sleutels tot ’n blywende huwelik
    Die geheim van gesinsgeluk
  • Moenie skei wat God onder een juk saamgevoeg het nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Wyse raad vir egpare
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Mans, toon selfopofferende liefde
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
w89 5/15 bl. 10-15

Toon liefde en respek as man

“Laat . . . elkeen van julle afsonderlik sy vrou so liefhê soos homself.”—EFESIËRS 5:33, “NW”.

1, 2. (a) In watter mate is egskeiding vandag’n probleem in die wêreld? (b) Watter ander situasie vorm ’n kontras hiermee?

IN DIE middel-tagtigerjare het Psychology Today berig: “Daar is nou elke jaar meer as ’n miljoen egpare [in die VSA] wie se verwagtinge van geluk op egskeiding uitloop; die gemiddelde duur van ’n huwelik in die Verenigde State is 9,4 jaar. . . . Partykeer lyk dit waarlik asof niemand gelukkig getroud is nie” (Junie 1985). As ’n mens die volwassenes sowel as die kinders in aanmerking neem, beteken dit dat ten minste 3 000 000 mense in net een land jaarliks deur ’n gebroke huwelik geraak word. Maar egskeiding is ’n wêreldprobleem, wat toon dat liefde en respek in miljoene huwelike ontbreek.

2 Daarenteen is daar “’n ander groep [wat] dikwels oor die hoof gesien word: daardie egpare wat dit op die een of ander manier regkry om bymekaar te bly, wat nie toelaat dat enigiets minder as die dood hulle skei nie” (Psychology Today). Daar is dus ook miljoene egpare wat hulle inspan om hulle huwelik te bewaar.

3. Watter vrae kan ons ons afvra?

3 Watter soort huwelik het jy? Is daar ’n innige gevoel van liefde en respek tussen man en vrou? Is daar sulke liefde tussen ouers en kinders in julle gesin? Of bevind julle jul partymaal op die kruitvat van wrewel en wantroue? Aangesien geeneen van ons volmaak is nie, kan moeilike situasies in enige huisgesin ontstaan, selfs waar almal Christelik probeer optree, want “almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God”.—Romeine 3:23.

4. Hoe toon Paulus en Petrus wie die sleutelrol in ’n gelukkige gesin het?

4 Wie het die sleutelrol om die gesin se vrede en harmonie te bewaar, aangesien probleme in enige huisgesin kan ontstaan? Die apostels Paulus en Petrus verstrek die antwoord in die reguit raad wat in hulle briewe opgeteken is. Paulus het geskryf: “Ek wil hê dat julle moet weet dat Christus die hoof is van elke man, en die man die hoof van die vrou, en God die hoof van Christus.” Hy het ook gesê: “[Wees] aan mekaar onderdanig . . . in die vrees van God. Vroue, wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here. Want die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente” (1 Korinthiërs 11:3; Efesiërs 5:21-23). Petrus het insgelyks geskryf: “Net so [deur die voorbeeld van Christus te volg] moet julle, vroue, aan jul eie mans onderdanig wees.”—1 Petrus 2:21-3:1.

Christus—die verkwikkende voorbeeld

5, 6. Hoe is Jesus Christus ’n voorbeeld wat die uitoefening van hoofskap betref?

5 Ooreenkomstig die voorgaande raad is die man die skriftuurlike hoof van die gesin. Maar in watter sin is hy die hoof? Hoe moet hoofskap uitgeoefen word? Party mans vind dit dalk maklik om respek te eis deur daarop aan te dring dat hulle ‘die hoof van die huis is en die Bybel so sê’. Maar hoe vergelyk dit met Christus se voorbeeld? Het Christus trots geëis dat sy volgelinge hom respekteer? Kan ons enige geleentheid vind waar hy hoogmoedig gesê het: “Wie’s nou eintlik die Seun van God hier? Julle móét my respekteer!” Inteendeel, Jesus het respek verdien. Hoe? Deur sy goeie voorbeeld ten opsigte van gedrag, spraak en die barmhartige manier waarop hy ander behandel het.—Markus 6:30-34.

6 Navolging van Jesus Christus se voorbeeld is dus die sleutel tot die korrekte uitoefening van hoofskap deur ’n man of vader. Al was Jesus nooit getroud nie, is die manier waarop hy sy dissipels behandel het die model wat mans moet volg. Dit bied beslis ’n uitdaging vir elke man, want Jesus is ’n volmaakte model (Hebreërs 4:15; 12:1-3). Maar hoe noukeuriger ’n man Christus se voorbeeld navolg, hoe groter sal die liefde en respek wees wat hy ontvang. Kom ons stel dus nadere ondersoek in na watter soort persoon Jesus was.—Efesiërs 5:25-29; 1 Petrus 2:21, 22.

7. Wat het Jesus sy volgelinge aangebied, en uit watter bron?

7 By een geleentheid het Jesus vir ’n skare gesê: “Kom na my, almal wat swoeg en swaar belaai is, en ek sal julle verkwik. Neem my juk op julle en leer van my, want ek is sagaardig en ootmoedig van hart, en julle sal verkwikking vind vir julle siel. Want my juk is sag en my las is lig.” Wat het Jesus sy luisteraars dus aangebied? Geestelike verkwikking! Maar uit watter bron sou die verkwikking kom? Hy het net voor dit gesê: “Ook ken niemand die Vader volledig nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun hom wil openbaar.” Dit het getoon dat Jesus geestelike verkwikking sou bied deur sy Vader aan sy ware volgelinge te openbaar. Maar Jesus se woorde het ook geïmpliseer dat verkwikking uit omgang met hom sou voortvloei, aangesien hy “sagaardig en ootmoedig van hart” was.—Mattheüs 11:25-30, NW.

Hoe om verkwikkende mans en vaders te wees

8. Op watter maniere moet ’n eggenoot en vader verkwikkend wees?

8 Jesus se woorde help ons om te besef dat ’n Christenman op geestelike sowel as persoonlike maniere vir sy gesin verkwikkend moet wees. Hy moet sy gesin deur sy sagaardige voorbeeld en onderrig help om die hemelse Vader beter te leer ken. Sy gedrag moet die denke en dade van God se Seun weerspieël (Johannes 15:8-10; 1 Korinthiërs 2:16). Dit is verkwikkend vir almal in die gesin om met so ’n man om te gaan, want hy is ’n liefdevolle eggenoot, vader en vriend. Hy moet genaakbaar wees en nooit so besig dat ander hom nie kan raadpleeg nie. Trouens, hy moet weet hoe om te luister, nie net hoor nie.—Jakobus 1:19.

9. Met watter probleem het ouere manne in die gemeente soms te kampe?

9 Dit laat ons dink aan ’n probleem waarmee gemeentelike ouere manne en hulle gesinne partymaal te kampe het. ’n Ouere man word gewoonlik besig gehou omdat hy in die gemeente se geestelike behoeftes moet voorsien. Hy moet ’n goeie voorbeeld stel wat Christenvergaderinge, die bediening en herderswerk betref (Hebreërs 13:7, 17). Maar party ouere manne het hulle in werklikheid uitgebrand vir die gemeente. Hulle het hulle gesinne in die proses verwaarloos, partymaal met pynlike gevolge. In een geval was ’n ouere man te besig om met sy eie seun te studeer. Hy het gereël dat iemand anders dit doen!

10. Hoe kan ouere manne gebalanseerd wees in hulle uitoefening van hoofskap in die gemeente en by die huis?

10 Wat beklemtoon hierdie voorbeeld? Dat dit noodsaaklik vir ’n man is om ’n balans te handhaaf tussen gemeentelike pligte en dié teenoor sy vrou en gesin. Na vergaderinge is die ouere manne byvoorbeeld dikwels besig met probleme en besprekings. Sal dit nie, indien dit moontlik en prakties is, verkwikkend wees as so ’n ouere man reël dat iemand sy vrou en kinders huis toe neem pleks van hulle ure lank in die Koninkryksaal te laat wag nie? In ooreenstemming met Bybelse vereistes kan daar gesê word dat herderswerk tuis begin. As ’n ouere man sy gesin verwaarloos, kan hy sy diensvoorreg in gevaar stel. Ouere manne, wees dus bedagsaam en neem die emosionele, geestelike en ander behoeftes van julle gesin in aanmerking.—1 Timotheüs 3:4, 5; Titus 1:5, 6.

11, 12. Hoe kan ’n Christeneggenoot die ondersteuning van sy gesin kry, en watter vrae kan elke getroude man hom afvra?

11 ’n Verkwikkende Christeneggenoot sal ook nie despoties of tiranniek wees en besluite neem sonder dat hy sy gesin raadpleeg nie. Dalk moet ’n besluit geneem word oor ’n verandering van werk of woonplek of selfs ’n eenvoudige ding soos gesinsontspanning. Sal dit nie verstandig en liefdevol wees om elke gesinslid te raadpleeg aangesien almal daardeur geraak gaan word nie? Hulle opinies kan hom help om ’n verstandiger, bedagsamer besluit te neem. Dan sal dit vir almal in die gesin makliker wees om hom te ondersteun.—Vergelyk Spreuke 15:22.

12 Uit die voorgaande is dit duidelik dat ’n Christenman en -vader nie net ’n dissiplinêre figuur in die huis is nie. Hy moet ook verkwikkend wees. Mans en vaders, is julle soos Christus? Is julle verkwikkend vir julle gesin?—Efesiërs 6:4; Kolossense 3:21.

Leef saam ooreenkomstig kennis

13. Watter goeie raad gee Petrus aan mans?

13 Soos reeds getoon, het beide Petrus en Paulus getroude pare goeie raad gegee. Aangesien hy self ’n getroude man was, het Petrus ’n dubbele voordeel gehad toe hy raad gegee het—ondervinding en die leiding van die heilige gees (Mattheüs 8:14). Hy het alle getroude mans reguit raad gegee en gesê: “Net so moet julle, manne, verstandig [“ooreenkomstig kennis”, NW] met hulle saamlewe en aan die vroulike geslag, as die swakkere, eer bewys.” Die geparafraseerde vertaling deur J. W. C. Wand lui: “Mans moet insgelyks Christelike beginsels met intelligensie op hulle verhouding met hul vrouens toepas.”—1 Petrus 3:7.

14. Watter vrae ontstaan nou?

14 Maar wat beteken dit om “ooreenkomstig kennis” met ’n vrou saam te lewe of om ‘Christelike beginsels met intelligensie toe te pas’? Hoe kan ’n man aan sy vrou eer bewys? Trouens, hoe moet ’n Christeneggenoot Petrus se raad verstaan?

15. (a) Waarom misluk party huwelike? (b) Wat is die eintlike uitdaging in ’n huwelik?

15 Talle huwelike is bloot op fisiese faktore en seksuele aantrekkingskrag gegrond. Maar skoonheid alleen is geen waarborg vir ’n blywende huwelik nie, want skoonheid vergaan. Grys hare en plooie is tog maar die uiteindelike lot van diegene wat al jare lank getroud is. Hou egter in gedagte dat die huwelik die samesmelting van twee verstande, twee persoonlikhede, twee agtergronde en stelle geestelike waardes en van twee tonge is. Dit bied ’n groot uitdaging! Maar dit is onontbeerlik vir ’n gelukkige huwelik om dit te verstaan.—Spreuke 17:1; 21:9.

16. Wat behels dit om ‘ooreenkomstig kennis met haar saam te lewe’?

16 As ’n Christenman “ooreenkomstig kennis” met sy vrou wil saamlewe, beteken dit vir eers dat hy werklik haar behoeftes moet verstaan. Dit behels nie net haar fisiese behoeftes nie maar, selfs belangriker, haar emosionele, sielkundige en geestelike behoeftes. As hy ‘ooreenkomstig kennis met haar saamlewe’, sal hy sy godgegewe rol verstaan. Dit sal ook beteken dat hy haar vroulike waardigheid respekteer. Hierdie beskouing is heel anders as die van party Gnostici in Petrus se dag, onder wie “vroue as laer, dierlike en onrein wesens verag is” (The Anchor Bible). ’n Moderne Spaanse vertaling gee Petrus se woorde as volg weer: “Aangaande mans: openbaar takt in julle lewe saam, neem die vrou in ag, want sy het ’n delikater gestel” (Nueva Biblia Española). Dit beklemtoon ’n belangrike gedagte wat mans partymaal vergeet.

17. (a) Wat maak deel uit van die “delikate gestel” van die ‘swakker vroulike geslag’? (b) Wat is een manier waarop ’n man respek vir sy vrou se waardigheid kan toon?

17 Waarom het die vrou “’n delikater gestel”? Een van die redes is haar gawe van voortplanting. Haar voortplantingslewe is onderhewig aan maandelikse siklusse wat onder andere ’n tydperk van etlike dae behels wanneer sy dalk ietwat beperk of gespanne voel. As die man dit nie in aanmerking neem nie en elke dag van die maand dieselfde eise aan sy vrou stel, sal hy nie haar waardigheid respekteer nie. In daardie geval sal hy toon dat hy ooreenkomstig selfsugtige onkunde, pleks van kennis, met haar saamlewe.—Levitikus 18:19; 1 Korinthiërs 7:5.

Bewys eer aan jou vrou

18. (a) In watter slegte gewoonte verval party huweliksmaats? (b) Hoe moet ’n Christenman optree?

18 Nog ’n manier waarop ’n man liefde en respek vir sy vrou kan toon, is deur haar te wys en te vertel dat hy haar en haar eienskappe waardeer. ’n Man kan in die gewoonte verval om neerhalende aanmerkings oor sy vrou te maak of kan haar die skyf van sy grappe maak. So ’n man dink dalk dat dit help om hom in ’n gunstiger lig te stel. Maar dit het in werklikheid die teenoorgestelde uitwerking, want as hy sy vrou voortdurend dom laat lyk, ontstaan die logiese vraag: Waarom het hy met so ’n dom vrou getrou? Om die waarheid te sê, dit wil voorkom asof net ’n man wat onseker voel sulke taktiek sal gebruik. ’n Liefdevolle man respekteer sy vrou.—Spreuke 12:18; 1 Korinthiërs 13:4-8.

19. Waarom is dit onbetaamlik vir ’n man om sy vrou te kleineer?

19 In party lande het mans selfs die gewoonte om hulle vrou te kleineer as ’n vorm van oënskynlike beskeidenheid. ’n Japannese man sal sy vrou byvoorbeeld voorstel met die woord “Goesai”; wat ‘dwase of dom vrou’ beteken. Die bedoeling hiervan is dat die ander persoon hiervoor vergoed met ’n kompliment oor die vrou. Bewys ’n Christenman werklik “eer” aan sy vrou, soos Petrus gemaan het, as hy haar so aan ander voorstel? Of as die saak uit ’n ander oogpunt beskou word, vertel hy sy naaste werklik die waarheid? Glo hy werklik dat sy vrou dom is?—Efesiërs 4:15, 25; 5:28, 29.

20. (a) Watter inkonsekwente situasie kan tussen ’n man en vrou ontstaan? (b) Hoe kan dit voorkom word?

20 Partymaal sal ’n man ’n gebrek aan liefde en respek toon bloot omdat hy vergeet dat sy vrou ook sy Christensuster is, nie net in die Koninkryksaal nie, maar ook tuis en by elke ander geleentheid. Dit is alte maklik om vriendelik en beleef by die saal te wees en ongeskik en kortaf by die huis! Hoe gepas is Paulus se raad tog nie! Hy het geskryf: “Laat ons dan najaag wat tot vrede en onderlinge stigting dien.” “Elkeen van ons moet die naaste behaag met die oog op wat goed is tot stigting” (Romeine 14:19; 15:2). Daar is geen intiemer naaste as jou man of vrou nie.

21. Wat kan mans doen om hulle vrouens aan te moedig?

21 ’n Liefdevolle Christenman sal gevolglik deur woord en daad waardering vir sy vrou toon. Soos ’n anonieme digter dit gestel het:

“Al sou gesinstwis jou frustreer,

Jou werk of baas jou irriteer,

As jy jou vrou opreg waardeer—

Vertel haar dit! . . .

Jy behoort aan haar alleen,

En weet sy min geen ander een;

Te laat sê jy dit op haar steen—

Vertel haar nou!”

Hierdie siening word duidelik deur eertydse koning Lemuel se moeder onderskryf. Haar beskrywing van die ideale vrou lui ten dele: “Haar seuns tree op en noem haar gelukkig, haar man ook, en hy prys haar: Baie dogters het hulle knap gedra, maar jy oortref hulle almal” (Spreuke 31:1, 28, 29). Mans, prys julle jul vrouens gereeld, of was dit net iets vir julle hofmakery?

22, 23. Waarop is ’n suksesvolle huwelik gebaseer?

22 Uit hierdie kort bespreking is dit duidelik dat ’n man meer moet doen as bloot geld huis toe bring as hy liefde en respek in sy huwelik wil toon. ’n Suksesvolle huwelik is gebaseer op ’n liefdevolle, lojale en bedagsame verhouding (1 Petrus 3:8, 9). Met die verloop van die jare behoort hierdie verhouding intiemer te word namate die man en vrou mekaar se deug en goeie eienskappe waardeer en leer om mekaar se swakhede oor die hoof te sien en te vergewe.—Efesiërs 4:32; Kolossense 3:12-14.

23 As die man die voortou neem om liefde en respek te toon, sal die hele gesin geseën word. Maar watter rol moet die Christenvrou in ’n gelukkige gesin speel? Die volgende artikel sal hierdie en verwante vrae bespreek.

Onthou jy?

◻ Wie het die sleutelrol in ’n gelukkige huwelik, en waarom?

◻ Hoe kan mans Christus se verkwikkende voorbeeld navolg?

◻ Watter balans tussen gemeentelike en gesinsverantwoordelikhede is nodig?

◻ Hoe kan ’n man ‘ooreenkomstig kennis met sy vrou saamlewe’?

◻ Wat beteken dit om ‘aan jou vrou eer te bewys as die swakkere geslag’?

[Prent op bladsy 11]

’n Gebalanseerde ouere man besef dat herderswerk tuis begin

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel