Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w89 3/15 bl. 12-17
  • Wend jou tot Jehovah vir insig

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wend jou tot Jehovah vir insig
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat insig behels
  • Hoe Josua insig verkry het
  • Hoe Jehovah ons vandag insig gee
  • Wees waaksaam om nie jou insig te verloor nie
  • Insig wat Jehovah gegee het
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Tree met insig op en jy “sal suksesvol wees”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2026
  • “Wysheid dien as ’n beskerming”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Lei jou kind op om Jehovah te dien
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2015
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
w89 3/15 bl. 12-17

Wend jou tot Jehovah vir insig

“Ek sal jou insig skenk en jou onderrig in die weg wat jy moet gaan.”—PSALM 32:8, “NW”.

1. Wat is party van die faktore wat bepaal of besluite wat ons neem verstandig sal wees? (Vergelyk Deuteronomium 32:7, 29, NW.)

ONS kom elke dag voor besluite te staan—party oënskynlik gering, ander uiteraard belangrik. Sal ons besluite verstandig wees? Dit hang grotendeels daarvan of of ons impulsief is of andersyds dink voordat ons praat of optree. Daar is egter talle aangeleenthede waarin ons verder moet kan sien as dit wat voor die hand liggend is om verstandige besluite te kan neem. Dit vereis dalk dat ons weet wat die uitslag van huidige wêreldgebeure gaan wees of selfs dat ons bewus is van wat in die geesteryk plaasvind. Is dit vir ons moontlik? Is dit vir enige mens moontlik om dit te doen op ’n wyse wat nie bloot gissing is nie?

2. Watter hulp het ons nodig om ’n suksesvolle weg deur die lewe te baan, en waarom? (Spreuke 20:24, NAV).

2 Mense is toegerus met waarlik merkwaardige geestesvermoëns, maar hulle is nie gemaak met die vermoë om ’n suksesvolle weg deur die lewe te baan sonder dat hulle nederig hulp van God aanvaar nie. Soos die geïnspireerde profeet Jeremia geskryf het: “Ek weet, o HERE, dat aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan ’n man om te loop en sy voetstappe te rig nie.”—Jeremia 10:23.

3. Wat sal die gevolg wees as ons ons nie tot Jehovah wend vir leiding nie? (Vergelyk Genesis 3:4-6, 16-24.)

3 Wat is die gevolg as ons daardie feit ignoreer en òf op onsself òf op ander mense staatmaak vir beslissings oor wat verstandig of onverstandig, reg of verkeerd is? Omdat ons deur vleeslike denke gelei word, sal daar tye wees wanneer ons dinge wat God as sleg is moontlik as goed sal beskou, wanneer ons ’n weg wat God as dwaas bestempel moontlik as verstandig sal beskou (Jesaja 5:20). Selfs al doen ons dit nie opsetlik nie, kan ons vir ander ’n struikelblok word. (Vergelyk 1 Korinthiërs 8:9.) Aangaande die finale uitslag vir diegene wat aanhou versuim om hulle tot Jehovah te wend vir leiding, sê sy Woord: “Daar is ’n weg wat vir ’n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood.”—Spreuke 14:12.

4. Watter hulp beloof Jehovah gulhartig aan sy knegte? (Vergelyk Jeremia 10:21, NW.)

4 Wat het ons in die lig hiervan nodig? Kortom, ons het die hulp nodig wat Jehovah verleen. Bemoedigend sê hy: “Ek sal jou insig skenk en jou onderrig in die weg wat jy moet gaan. Ek sal raad gee met my oog op jou.”—Psalm 32:8, NW.

Wat insig behels

5. Wat is “insig”?

5 Presies wat is “insig” soos in die Skrif gebruik? Dit is die vermoë om in ’n situasie in te sien, om verder te kyk as wat voor die hand liggend is. Volgens die Theological Wordbook of the Old Testament hou die Hebreeuse uitdrukking wat met “insig” weergegee word verband met “intelligente kennis van die rede” vir dinge. Dit is die soort kennis wat ’n persoon in staat stel om verstandig op te tree en sukses te behaal. In ooreenstemming met daardie basiese betekenis en om die strekking van dieselfde Hebreeuse werkwoord oor te dra, gebruik die New World Translation, buiten die uitdrukking ‘insig hê’, uitdrukkings soos ‘diskreet optree’, ‘omsigtig optree’ en ‘sukses hê’.—Psalm 14:2, NW.

6. Waarom kan daar gesê word dat iemand wat “sy lippe in bedwang hou” diskreet, of met insig, optree?

6 Gevolglik word die persoon wat “sy lippe in bedwang hou”, beskryf as iemand wat ‘diskreet optree’, oftewel met insig (Spreuke 10:19, NW). Hy dink voordat hy praat en hou rekening met hoe ander die dinge wat hy sê, sal opneem, en ook of wat hy van ’n ander persoon sê verstandig, liefdevol of nodig sal wees (Spreuke 12:18; Jakobus 1:19). Omdat hy beweeg word deur liefde vir Jehovah se weë en ’n opregte begeerte om sy medemens te help, is wat hy sê opbouend vir ander.—Spreuke 16:23.

7. Wat het Dawid in staat gestel om die reputasie te verwerf dat hy ’n persoon is wat omsigtig optree?

7 Aangaande Dawid die seun van Isai staan daar geskryf: “Waar Saul hom ook al heen gestuur het, het hy omsigtig opgetree”, dit wil sê, met insig. Dawid het besef dat daar meer by sy werk betrokke was as ’n blote konflik tussen mensekrygers. Hy het besef dat hy en die manne saam met hom die oorloë van Jehovah gevoer het. Dawid het hom dus tot Jehovah gewend vir leiding en seën (1 Samuel 17:45; 18:5, NW; 2 Samuel 5:19). Gevolglik was Dawid se ekspedisies suksesvol.

8. Watter ander betekenisse bevat die werkwoord wat vertaal word met ‘insig hê’ in die Christelike Griekse Skrifte?

8 In die Christelike Griekse Skrifte word die werkwoord wat vertaal word met ‘insig hê’ ook weergegee met ‘begrip kry van’ en ‘insien’ (Romeine 3:11, NW; Mattheüs 13:13-15, NW; Efesiërs 5:17, NW). Dit is die vermoë om hierdie dinge te doen wat God aan sy knegte beloof. Maar hoe gee hy hulle sulke insig?

Hoe Josua insig verkry het

9. Hoe het Jehovah die mense in eertydse Israel insig gegee?

9 In eertydse Israel het Jehovah die Leviete beveel om die nasie in sy Wet te onderrig (Levitikus 10:11; Deuteronomium 33:8, 10). Die Wet is deur God geïnspireer, en Jehovah se gees was werksaam op die organisatoriese reëling wat die taak gehad het om dit aan ander te leer (Maleagi 2:7). Sodoende het Jehovah ‘die Israeliete omsigtig gemaak’, oftewel insig gegee, soos Nehemia 9:20 (NW) sê.

10, 11. (a) Wat sou Josua, volgens Josua 1:7, 8, in staat stel om met insig op te tree? (b) Watter voorsiening vir onderrig moes Josua erken? (c) Wat moes Josua ook self doen?

10 Maar sou individue in die nasie met insig handel? Om so te kon optree, moes hulle iets doen. Toe Josua die verantwoordelikheid toevertrou is om Israel in die Beloofde Land in te lei, het Jehovah vir hom gesê: “Wees net baie sterk en vol moed, om nougeset te handel volgens die hele wet wat Moses, my kneg, jou beveel het; wyk daarvan nie regs of links of nie, sodat jy met goeie gevolg kan handel, oral waar jy mag gaan. Hierdie wetboek mag nie uit jou mond wyk nie; maar bepeins dit dag en nag, sodat jy nougeset kan handel volgens alles wat daarin geskrywe staan; want dan sal jy in jou weë voorspoedig wees, en dan sal jy met goeie gevolg handel.” Die Hebreeuse woord wat hier weergegee word met die uitdrukking “met goeie gevolg handel”, beteken ook “met insig optree”.—Josua 1:7, 8.

11 Hoe sou Jehovah Josua sulke insig gee? Nie deur die een of ander wonderdadige inplanting nie. God se geskrewe Woord was die sleutel. Josua moes sy verstand en hart daarmee vul deur dit gereeld te lees en te bepeins. Josua het geweet dat God se Woord gesê het dat die Leviete uit die Wet sou onderrig. Daarom moes Josua hierdie feit erken en hom nie afsonder in die waan dat hy alles alleen kon uitredeneer aangesien hy ’n verantwoordelike posisie in die nasie beklee het nie (Spreuke 18:1). Dit was vir Josua belangrik om God se geskrewe Woord vlytig te bestudeer. As hy dit gedoen het, sonder om enige deel daarvan oor te sien, en as hy dit gehoorsaam het, dan sou hy met insig handel.—Vergelyk 1 Konings 2:3.

Hoe Jehovah ons vandag insig gee

12. Watter drie dinge word van ons vereis as ons wil baat vind by die insig wat Jehovah aan ons verskaf?

12 Jehovah het tot vandag toe voortgegaan om sy knegte die leiding te gee wat hulle nodig het om verstandig op te tree. Verskeie dinge word van ons as individue vereis as ons by daardie leiding wil baat vind: (1) Net soos Josua moet ons Jehovah se organisasie waardeer. In ons geval behels sulke waardering samewerking met die Christengemeente van gesalfdes, “die getroue en verstandige dienskneg” en sy Bestuursliggaam. (Mattheüs 24:45-47; vergelyk Handelinge 16:4.) En hierdie waardering behels gereelde vergaderingbywoning (Hebreërs 10:24, 25). (2) Ons moet God se Woord vlytig bestudeer, asook die publikasies wat deur die “dienskneg”-klas voorsien word en ons help om dit te verstaan. (3) Dit is ook belangrik dat ons tyd inruim om te peins oor hoe ons die dinge wat ons leer in ons eie lewe kan toepas en kan gebruik om ander te help.

13. Wat is die betekenis van die belofte wat in Jeremia 3:15 opgeteken is?

13 Aangaande die soort toesig en geestelike voeding wat hy in ons dag vir ons sou voorsien, het Jehovah in Jeremia 3:15 gesê: “Ek sal aan julle gee herders na my hart, wat julle sal oppas met kennis en verstand [“insig”, NW].” Hierdie geestelike voedingsprogram sou ons voorwaar ’n merkwaardige vermoë gee om na situasies te kyk en die weg wat tot sukses lei te onderskei. Wie is die bron van daardie insig? Jehovah God.

14. Waarom het die ‘getroue dienskneg’-klas insig?

14 Waarom het die ‘getroue dienskneg’-klas sulke insig? Omdat hulle opreg belangstel in God se Woord en die leiding daarvan volg. En omdat hulle hul aan Jehovah se leiding onderwerp het, het hy sy gees op hulle geplaas en gebruik hy hulle in ooreenstemming met sy voorneme (Lukas 12:43, 44; Handelinge 5:32). Dit is soos die geïnspireerde psalmis lank gelede geskryf het: “Meer insig as al my leraars het ek gekry, omdat u vermaninge my intense belangstelling geniet.”—Psalm 119:99, NW.

15. (a) Wat is die kern van die raad wat die “dienskneg”-klas ons voortdurend gee? (b) Hoe kon die “dienskneg”-klas baie jare gelede die nodige “kennis en insig” aangaande die Christelike beskouing van bloedoortappings voorsien?

15 In antwoord op navrae oor watter handelwyse reg sal wees, het “die getroue en verstandige dienskneg” nog altyd gemaan: ‘Pas die dinge wat in die Bybel geskryf is toe. Vertrou op Jehovah’ (Psalm 119:105; Spreuke 3:5, 6). Toe bloedoortappings as ’n standaard- mediese behandeling aanvaar is en ’n geskil geword het waarvoor Jehovah se Getuies te staan gekom het, het Die Wagtoring van 1 Desember 1945 die Christelike beskouing van die heiligheid van bloed uiteengesit. Dit het getoon dat die goddelike verbod van toepassing is op die bloed van diere sowel as mense (Genesis 9:3, 4; Handelinge 15:28, 29). Die artikel het nie fisiese newe-effekte bespreek nie; destyds was daar baie min daaroor bekend. Die ware geskil was, en is steeds, gehoorsaamheid aan God se wet. Vandag besef talle mense die praktiese wysheid daarvan om bloedoortappings te verwerp, en al hoe meer doen dit ook. Maar omdat hulle die Skepper vertrou, wat baie meer van bloed weet as enige mens, kon Jehovah se Getuies nog altyd met insig optree.

16. Waarom was die raad in Die Wagtoring oor aangeleenthede soos seksuele moraliteit, eenouergesinne en depressie presies wat nodig was?

16 Namate permissiewe gesindhede aangaande seksuele moraliteit al hoe algemener geword het, het Die Wagtoring gesonde Skriftuurlike leiding verskaf pleks van die gewilde lewenswyse voor te staan. Dit help talle om hulle kosbare verhouding met Jehovah te beskerm en om blywende geluk pleks van bloot kortstondige genot na te streef. Wagtoring-artikels wat gerig was tot eenouergesinne en diegene wat ’n stryd teen depressie voer, het insgelyks ’n insig weerspieël wat net moontlik is vir diegene vir wie Jehovah se gedagtes kosbaar is en wat in erns bid: “Leer my om u wil te doen, want U is my God.”—Psalm 143:10, NAV; 139:17.a

17. (a) Wat het Jehovah se knegte dekades voor die tyd aangaande 1914 geweet? (b) Hoewel God se volk na 1914 steeds vrae gehad het oor sekere besonderhede het hulle oor watter kennis beskik wat ’n heilsame invloed op hul lewens gehad het?

17 Deur middel van “die getroue en verstandige dienskneg” het Jehovah sy knegte ook gehelp om dekades voor die tyd te besef dat die Tye van die Nasies in 1914 sou eindig (Lukas 21:24). Toe hulle die tydvak na die Eerste Wêreldoorlog betree het, was daar natuurlik vrae wat hulle gekwel het. Maar wat hulle geweet het, was toereikend om verstandig te kon optree. Weens hul kennis van die Skrif het hulle geweet dat God se bestemde tyd vir die vernietiging van die ou stelsel ophande is; daarom sou dit dwaas wees om hulle hoop daarop te vestig of toe te laat dat die ou stelsel se materialistiese standaarde van sukses hul lewens reguleer. Hulle het ook geweet dat Jehovah se Koninkryk die ware oplossing is vir al die probleme wat die mensdom teister (Daniël 2:44; Mattheüs 6:33). Hulle het duidelik gesien dat dit die verantwoordelikheid van alle ware Christene is om Jehovah se gesalfde Koning, Jesus Christus, en Sy Koninkryk te adverteer (Jesaja 61:1, 2; Mattheüs 24:14). In 1925 is hulle deur die Wagtoring-artikel “Geboorte van die nasie” versterk met ’n duideliker begrip van Openbaring hoofstuk 12; daarom kon hulle nou verstaan wat, onsigbaar vir mense-oë, in die hemele gebeur het. Sulke insig het ’n heilsame invloed op hulle lewens gehad.

18. Watter voorreg en verantwoordelikheid het ons nou, en watter vraag moet ons ons afvra?

18 Die paar duisend wat Jehovah destyds as sy getuies gedien het, het in geloof opgetree en die voortou geneem om die verkondiging van die goeie nuus van God se opgerigte Koninkryk na alle wêrelddele uit te brei. Gevolglik het miljoene mense Jehovah leer ken en liefgekry en het hulle nou die vooruitsig op ewige lewe. Daar is aan ons almal wat die waarheid as gevolg van hulle liefdevolle arbeid ontvang het, getoon dat ons ook die voorreg en verantwoordelikheid het om aan die werk deel te neem deur ’n deeglike getuienis vir elkeen te gee wat ons kan bereik en daarmee aan te hou totdat Jehovah sê dat die werk afgehandel is. (Openbaring 22:17; vergelyk Handelinge 20:26, 27.) Bewys die manier waarop jy jou lewe gebruik dat jy die insig waardeer wat Jehovah deur sy organisasie gegee het?

19. (a) Meld ’n voorbeeld van iemand wie se lewe waardering weerspieël vir die insig wat Jehovah deur sy organisasie gee. (b) Wat kan ons uit daardie voorbeeld leer?

19 Die lewens van ’n groot menigte mense in alle dele van die aarde getuig dat die antwoord in hulle geval ja is. Beskou John Cutforth as voorbeeld. Sowat 48 jaar gelede het hy Skriftuurlike raad ter harte geneem waarop die ‘getroue dienskneg’-klas destyds, net soos vandag nog, die aandag gevestig het, naamlik: “Soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. Kwel julle dus nie oor môre nie” (Mattheüs 6:33, 34). Na jare se ondervinding in Jehovah se diens het broer Cutforth gesê: ‘Een van die dinge wat ’n kragtige indruk op my gemaak het, is dat Jehovah ’n organisasie op aarde het wat hy lei, dat ek as individu met daardie organisasie kon saamwerk en dat ek vrede, vergenoegdheid, bevrediging en talle vriende sowel as baie ander ryk seëninge sou ontvang as ek die riglyne en leiding daarvan heelhartig sou volg.’ Daardie oortuiging het herhaaldelik sterker geword terwyl hy ’n lewe vol geestelike seëninge in die Verenigde State, Kanada, Australië en Papoea Nieu-Guinee geniet het.b Die verstandige wag vir ons almal is inderdaad een wat waardering weerspieël vir die middele waardeur Jehovah sy volk insig gee.—Mattheüs 6:19-21.

Wees waaksaam om nie jou insig te verloor nie

20, 21. (a) Hoe het party mense die goddelike insig verloor wat hulle eens gehad het? (b) Wat sal help om ons teen ’n skadelike wag te beskerm?

20 Die insig wat Jehovah voorsien, is ’n skat wat gekoester moet word. Ons moet egter besef dat as ons nie voortgaan op die wag wat ons in staat gestel het om goddelike insig te verkry nie, ons dit kan verloor. Ongelukkig is dit presies wat met sommige gebeur het (Spreuke 21:16, NW; Daniël 11:35, NW). Omdat hulle dissipline verwerp het wat hulle persoonlik geraak het, het hulle hul dade probeer regverdig. Trots het vir hulle ’n strik geword. Hulle het dinge wat God se Woord toon sleg is as goed begin beskou, en hulle het Jehovah se organisasie verlaat. Hoe jammer tog!

21 Die omstandighede van so ’n persoon word in Psalm 36:1-3 (NW) beskryf, waar ons lees: “Die uitspraak van oortreding is vir die goddelose in die binneste van sy hart.” Dit wil se, sy eie selfsugtige gedagtes en begeertes lei hom in die oortreding in. “Daar is geen angs vir God voor sy oë nie”, sê die psalmis voorts. “Want in sy eie oë het hy te glad teenoor homself gehandel om sy dwaling te ontdek ten einde dit te haat. Die woorde van sy mond is skadelikheid en bedrog.” En wat is die gevolg vir hom? Hy ‘hou op om insig te hê om goed te doen’. Hy oortuig homself in werklikheid daarvan dat wat hy doen reg is, en hy verlei ander om hom te volg. Hoe noodsaaklik is dit dan tog dat ons nie alleen insig het nie, maar dit ook beskerm deur die middele te waardeer waardeur Jehovah ons in staat gestel het om dit te verkry!

[Voetnote]

a Kyk die Watch Tower Publications Index 1930-1985, onder “Marriage”, “Families”, “Moral Breakdown”, en “Depression (Mental)”.

b Kyk The Watchtower van 1 Junie 1958, bladsye 333-336.

Wat kan jy onthou?

◻ Wat sal ons help om verstandige besluite te neem?

◻ Wat behels “insig”?

◻ Hoe gee Jehovah sy knegte in ons dag insig?

◻ Wat word van ons vereis as ons ten volle wil baat vind by die insig wat Jehovah voorsien?

[Prent op bladsy 16]

Om te kan baat vind by die insig wat Jehovah gee, moet ons sy organisasie waardeer, vlytig persoonlike studie doen en peins oor hoe ons die dinge wat ons leer, kan toepas

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel