Insig wat Jehovah gegee het
“Wat diegene betref wat insig het onder die volk, hulle sal verstand verleen aan baie.”—DANIËL 11:33, “NW”.
1, 2. (a) Waarom het die Israeliete hulle weerspannig gedra ondanks die feit dat hulle God se goedertierenheid ervaar het? (b) Wat sal vir ons voordelig wees? (Jeremia 51:10).
DIE eertydse volk Israel het geweet dat Jehovah die enigste ware God is. Hulle is van sy handelinge met hulle voorvaders vertel, en hulle het sy goedertierenheid persoonlik ervaar. Maar by meer as een geleentheid het hulle met ’n ernstige gebrek aan insig opgetree. Hulle het hul “weerspannig gedra” teenoor Jehovah en sy verteenwoordigers. Waarom? Omdat hulle “nie onthou” het wat hy vir hulle gedoen het nie (Psalm 106:7, 13, NW). Dit was nie dat hulle onkundig omtrent hierdie dinge was nie; hulle het nie met waardering daaroor gemediteer nie. Gevolglik was hulle mense wat ‘begerig was na slegte dinge’.—1 Korinthiërs 10:6.
2 ’n Vername manier waarop Jehovah sy getuies in ons dag as ’n unieke volk afgeskei het, is deur die insig wat hy deur sy sigbare organisasie voorsien het. Ons eie waardering vir die manier waarop Jehovah sy volk lei, kan versterk word as ons ’n paar voorbeelde van sulke insig hersien. Een van hierdie voorbeelde behels die kern van ons geloof—die identiteit van God self.
Is God ’n Drie-eenheid?
3. Wat het Jehovah se knegte meer as honderd jaar gelede in staat gestel om die waarheid aangaande die identiteit van God te besef? (1 Korinthiërs 8:5, 6).
3 Die Christendom het een stryk deur volgehou dat diegene wat nie geloof in die Drie-eenheid bely nie ketters is. Maar pleks van hulle deur mense te laat intimideer, het Jehovah se Getuies besef dat dit die Heilige Skrif is wat die standaard stel om te onderskei wat die waarheid is, nie die tradisies en geloofsbelydenisse van ongeïnspireerde mense nie. Hierdie toegewyde Bybelstudente het op hierdie fondament gebou deur reeds in 1882 duidelik in die Watch Tower te sê: “Ons lesers is daarvan bewus dat hoewel ons in Jehovah God en Jesus en die heilige Gees glo, ons die leer dat hulle drie Gode in een persoon of, soos sommige dit stel, een God in drie persone is, as heeltemal onskriftuurlik verwerp.”—Johannes 5:19; 14:28; 20:17.
4. (a) Wat het Jehovah se knegte aangaande die grondslag van die Drie-eenheidsleer en die gevolg van so ’n leerstelling onderskei toe hulle onder die oppervlak gedelf het? (b) Waarom het Jehovah sy knegte sulke insig gegee?
4 Hierdie liefhebbers van Bybelwaarheid het onder die oppervlak gedelf en gesien dat die Drie-eenheidsleer in nie-Christelike gelowe gewortel is. Deur die Skrif noukeurig te bestudeer, het hulle ook besef dat wanneer sekere Bybeltekste skynbaar Trinitariese gedagtes steun, dit te wyte was aan die vooringenome beskouings van die vertalers, nie as gevolg van wat in die oudste grondteks staan nie. Hulle het besef dat hierdie leerstelling, wat Jesus oënskynlik eer, in werklikheid bots met wat hy geleer het en Jehovah oneer aandoen. Daarom het die voormelde nommer van die Watch Tower gesê: “Dit betaam ons as waarheidsoekers om eerlik te wees met onsself en oor ons Vader se Woord, wat ons waarlik wys kan maak. Laat ons dus, terwyl ons die tradisies en geloofsbelydenisse van ongeïnspireerde manne en verdorwe stelsels ignoreer, vashou aan die patroon van gesonde woorde wat ons van ons Heer en die Apostels ontvang het.” Omdat hulle die waarheid waarlik liefgehad het en nie net aandag geskenk het aan ’n paar geliefkoosde Bybelverse nie maar aan die hele Woord van God, het Jehovah hulle insig gegee wat hulle onmiskenbaar van die valse Christendom afgeskei het.—2 Timotheüs 3:16, 17; kyk die NW-naslaanuitgawe, bladsy 1580, deel 6B.
Die regmatige plek van God se naam
5. Wat het die neiging om God se persoonlike naam uit Bybelvertalings weg te laat ten grondslag gelê? (Openbaring 22:18, 19).
5 Beskou ’n tweede voorbeeld: Toe al hoe meer Bybelvertalings God se persoonlike naam verberg of heeltemal weggelaat het, het die Wagtoringgenootskap al hoe meer klem op die belangrikheid van daardie naam gelê. Die valse Christendom het aangevoer dat die weglating van die naam Jehovah die evangelie ’n meer universele trefkrag sou gee, maar Jehovah se gesalfde knegte het onderskei wie agter daardie plan gesit het om die allerbelangrikste naam uit die Heilige Skrif te verwyder. (Vergelyk Jeremia 23:27.) God se volk het besef dat die Duiwel dit aangestig het om die naam van die ware God uit mensegeheue uit te wis.
6. Wat het God se ware knegte in teenstelling met die valse Christendom gedoen om Sy naam te verheerlik? (Handelinge 15:14).
6 In teenstelling met die weg wat deur die valse Christendom bewandel is, het die Watch Tower sedert die heel eerste jaar wat dit verskyn het (1879), die goddelike naam, JEHOVAH, beklemtoon. In 1926 het hierdie tydskrif die artikel “Wie gaan Jehovah eer?” bevat (Psalm 135:21). In 1931 het die Bybelstudente verbonde aan die Wagtoringgenootskap die naam Jehovah se Getuies aangeneem (Jesaja 43:10-12, vgl. NW). Hulle het ook in groter mate besef hoe uiters belangrik die heiliging van Jehovah se naam is (Jesaja 12:4, 5, vgl. NW). In 1944 het hulle die American Standard Version begin publiseer, waarin die naam Jehovah meer as 6 800 keer voorkom. Maar wat die uitgee van die Bybel betref, was die New World Translation, wat sedert 1950 gedruk word, egter die belangrikste. Dit gee die goddelike naam sy behoorlike plek in beide die Hebreeuse en die Christelike Griekse Skrifte.
7. Hoe het die klem wat gelê is op God se naam en alles wat daarmee verband hou talle mense tot voordeel gestrek?
7 Die klem wat aldus op die persoonlike naam van God gelê is, het miljoene liefhebbers van geregtigheid rondom die aardbol verheug. Dit het hulle gehelp om die ware God as ’n Persoon te waardeer. En namate hulle sy weë leer ken het, kon hulle hulself met omsigtigheid, of met insig, gedra.—Miga 4:2, 5.
Is die mensesiel onsterflik?
8. Wat het Jehovah se Getuies vroeg in hulle hedendaagse geskiedenis aangaande die siel en die toestand van die dode geleer?
8 Nou, ’n derde voorbeeld: Vroeg in die hedendaagse geskiedenis van Jehovah se knegte het liefde vir God se Woord hulle oë vir ander belangrike waarhede geopen. Meer as ’n eeu gelede het “die getroue en verstandige dienskneg” reg verstaan dat die siel nie ’n intelligente en afskeibare gees is wat in mense woon nie, maar dat dit die persoon self is (Mattheüs 24:45-47). In 1880 het die Watch Tower die woorde in die oorspronklike tale wat as Sjeool en Hades in die Bybel getranslitereer word, ontleed en tot die slotsom gekom dat dit die graf aandui. Dit het ook daarop gewys dat mense wat Gehenna toe gaan, vernietig word, nie gefolter word nie.—Kyk ook die NW-naslaanuitgawe, bladsye 1573-1575.
9. Wat het die Watch Tower in 1894 gesê oor die oorsprong van die leerstelling dat mensesiele inherent onsterflik is?
9 In 1894 het die Watch Tower die vraag geopper: “Waar kom die algemene opvatting dan vandaan dat alle mensewesens ingeskape, inherente onsterflikheid besit?” Met insig het dit geantwoord: “Wanneer ons die bladsye van die geskiedenis ondersoek, vind ons dat, hoewel die leerstelling oor menslike onsterflikheid nie deur God se geïnspireerde getuies geleer word nie, dit die wese van alle heidense godsdienste is. . . . Dit is dus nie waar dat Sokrates en Plato die eerstes was wat die leerstelling verkondig het nie: dit het ’n vroeër, en ’n selfs bekwamer, leraar as enigeen van hulle gehad. Hulle het egter die leerstelling afgerond . . . en ’n filosofie daarvan gemaak en dit sodoende verleideliker en aanneemliker gemaak vir die beskaafde klas van hulle dag en sedertdien. Die eerste vermelding van hierdie valse leerstelling word aangetref in die oudste geskiedenis wat aan die mens bekend is—die Bybel. Die valse leraar was Satan.”a
10. Watter slegte gevolge het uit godsdiensleuens aangaande die siel en die toestand van die dode gespruit, maar wat is gedoen om redelike mense te help?
10 Deur die leuen te versprei dat alle mense ’n onsterflike siel het en dat die goddeloses vir ewig in die helse vuur gefolter gaan word, het Satan God verkeerd voorgestel en Sy naam gelaster. Die eerste redakteur van die Watch Tower, C. T. Russell, het dit besef. Hy het gesien dat intelligente mense die gedagte van ewige foltering verwerp, maar dat hulle, ongelukkig, ook die Bybel verwerp omdat hulle gemeen het dat dit die bron van daardie onredelike leerstelling is. Om die gedagtes van redelike mense van die newels van die duister Middeleeue te bevry, soos hy dit gestel het, het broer Russell die treffende openbare toespraak “Hel toe en terug. Wie daar is”, gehou.
11. (a) Watter waarskuwing het die ‘getroue dienskneg’-klas gerig toe spiritisme na vore gekom het? (b) Wie het baat gevind by hierdie waarskuwing, en hoe?
11 Dit was ’n tydperk waarin spiritisme na vore gekom het. Maar met die insig wat Jehovah deur middel van sy Woord moontlik gemaak het, het die ‘getroue dienskneg’-klas onderskei dat die sogenaamde geeste van die afgestorwenes waarmee mense kommunikeer die demone is. Kragtige Skriftuurlike argumente is in openbare toesprake en in publikasies aangevoer om regskapenes bewus te maak van die gevaar van betrokkenheid by spiritistiese gebruike (Deuteronomium 18:10-12; Jesaja 8:19). As gevolg van hierdie insig wat Jehovah aan sy knegte gegee het, is derduisende mense rondom die aardbol bevry van vrees vir die dode, van die beoefening van spiritisme en van die verderflike gewoontes wat met spiritisme gepaard gaan.
Christelike gedrag in ’n onstuimige wêreld
12, 13. (a) Verduidelik Daniël 11:32, 33. (b) Wat is party van die basiese Bybelwaarhede wat die grondslag uitmaak van die insig wat deur “die verstandiges” gegee word?
12 Die profeet Daniël het aangedui dat God se knegte insig sou openbaar ten opsigte van ’n vierde aangeleentheid, ’n lewensbelangrike geskil—neutraliteit. Na ’n breedvoerige beskrywing van die stryd tussen prominente politieke faksies van die wêreld, se Daniël 11:32, 33: “Die wat goddeloos handel teen die verbond, sal hy met vleiery afvallig maak.” Dit wil sê, die totalitêre koning van die noorde maak diegene afvallig wat bely dat hulle Christene is maar wat die wêreld liefhet en die goedkeuring daarvan wil wegdra en gevolglik Jehovah se verbond vir ’n Koninkryk waarin Jesus Christus oor die hele aarde sal regeer met veragting bejeën. “Maar”, gaan Daniël voort, “die volk wat hulle God ken, sal vashou en optree. En die verstandiges [“diegene . . . wat insig het”, NW] onder die volk sal baie tot insig bring.”
13 Die insig wat nodig is om verstandig op te tree onder die dikwels onstuimige toestande wat ons omring, is gegrond op ’n begrip van basiese Bybelwaarhede. Met Jehovah se leiding het ‘die getroue dienskneg’-klas hierdie waarhede onderskei. Een is onder meer die feit dat die onsigbare owerste van hierdie wêreld Satan die Duiwel is, net soos Jesus aangedui het (Lukas 4:5-8; Johannes 12:31). Ooreenkomstig hierdie waarheid voeg 1 Johannes 5:19 by dat nie net die een of ander faksie nie, maar “die hele wêreld [die hele mensdom buite die ware Christengemeente] in die mag van die Bose lê” (Openbaring 12:9). Aangesien Jesus gesê het dat sy volgelinge “nie van die wêreld” sou wees nie, verg dit Christelike neutraliteit van hulle kant.—Johannes 17:16.
14. (a) Op watter tydige aangeleenthede is die aandag van Jehovah se knegte in 1939 en 1941 gevestig? (b) Hoe het sulke insig Jehovah se Getuies gehelp om verstandig op te tree?
14 Toe die wolke van die Tweede Wêreldoorlog in Europa saamgepak het, was dit gevolglik tydig dat die geskil van Christelike neutraliteit in The Watchtower van 1 November 1939 in die soeklig gekom het. ’n Ander fundamentele waarheid hou verband met hierdie saak—die belangrikheid van die geskil van universele soewereiniteit en die rol van die Messiaanse Koninkryk om hierdie geskil te besleg. In 1941 is hierdie geskil gepas bespreek in ’n toespraak tydens ’n byeenkoms van Jehovah se Getuies in St. Louis, Missouri, VSA, en die volgende jaar in die boek The New World. Watter beskerming het sulke godvrugtige insig tog aan Jehovah se knegte in hierdie verdeelde en oorlogvoerende wêreld verleen! Hoewel godsdiensstelsels van die Christendom versplinter het omdat hulle toegelaat het dat hulle ingesleep word in internasionale tweedrag en guerrillabewegings om regerings omver te werp, het Jehovah se Getuies in alle lande eendragtig voortgegaan om hulle te wy aan die verkondiging van God se Koninkryk as die enigste hoop vir die mensdom. Hulle het bedrywig gebly in die lewensreddende werk wat Jesus Christus voorspel het toe hy gesê het: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.”—Mattheüs 24:14.
Die vervulling van Bybelprofesieë
15. Waarom het Jehovah se knegte insig gehad?
15 Waarom het Jehovah se knegte sulke insig gehad? Omdat hulle algehele vertroue in die geskrewe Woord van God het, hulle dit gehoorsaam en Jehovah se gees op hulle is. Dit het hulle ook in staat gestel om lewensbelangrike Bybelprofesieë te verstaan, en dit is die vyfde punt wat ons gaan bespreek.
16, 17. (a) Waarom verskil die jaartalle wat Jehovah se Getuies gebruik partymaal van dié wat deur sekulêre geskiedskrywers verstrek word? (b) Hoe het Jehovah se Getuies baat gevind by hulle vertroue in die Bybel wat die bepaling van Artasasta se 20ste jaar en die tyd van Jerusalem se vernietiging deur die Babiloniërs betref?
16 Sekulêre geskiedskrywers, wat staatmaak op hulle vertolking van wat in party gevalle fragmentariese tafels is wat deur argeoloë opgegrawe is, het tot die gevolgtrekking gekom dat 464 v.G.J. die eerste jaar van Artasasta Longimanus se koningskap was en dat 604 v.G.J. die eerste jaar van Nebukadnesar II se koningskap was. As dit waar was, sou die 20ste jaar van Artasasta in 445 v.G.J. begin het en sou die jaartal van Jerusalem se vernietiging deur die Babiloniërs (in Nebukadnesar se 18de regeringsjaar) 587 v.G.J. wees. Maar indien iemand wat die Bybel bestudeer daardie jaartalle gebruik wanneer hy die vervulling van profesie bereken, sal hy net verward raak.
17 Jehovah se Getuies stel belang in die bevindinge van argeoloë waar dit met die Bybel verband hou. Maar waar die vertolking van hierdie bevindinge bots met duidelike verklarings in die Bybel, aanvaar ons met vertroue wat die Heilige Skrif sê, hetsy oor sake rakende chronologie of enige ander onderwerp. Jehovah se knegte besef gevolglik al lank dat die profetiese tydperk wat in die 20ste jaar van Artasasta begin het vanaf 455 v.G.J. bereken moet word en dus dat Daniël 9:24-27 op betroubare wyse die noordelike herfs van die jaar 29 G.J. aangedui het as die tyd wanneer Jesus as die Messias gesalf sou word.b Om dieselfde rede het hulle besef dat die profesie in Daniël hoofstuk 4 aangaande die “sewe tydperke” vanaf 607-606 v.G.J. bereken moet word en dat dit die noordelike herfs van 1914 G.J. haarfyn aangedui het as die jaar waarin Christus as heersende Koning in die hemel op die troon geplaas is en hierdie wêreld sy tyd van die einde binnegegaan het.c Maar hulle sou nie hierdie aangrypende vervullings van profesie onderskei het as hulle vertroue in die inspirasie van die Heilige Skrif wankelrig was nie. Die insig wat hulle geopenbaar het, het gevolglik regstreeks verband gehou met hulle vertroue in God se Woord.
18. Wat beloof Jesaja 65:13, 14 aangaande die geestelike toestand van Jehovah se lojale knegte?
18 Waar Jehovah die geestelike toestand van sy lojale knegte vergelyk met dié van individue en groepe wat maklik die Skrif opsyskuif ten gunste van wat ook al op daardie oomblik gewild is, sê hy: “Kyk, my knegte sal eet, maar julle sal honger bly; kyk, my knegte sal drink, maar julle sal dors wees; kyk, my knegte sal bly wees, maar julle sal beskaamd staan. Kyk, my knegte sal jubel, omdat hulle hart vrolik is, maar julle sal skreeu van pyn in die hart en huil deur die verbreking van gees.”—Jesaja 65:13, 14.
19. (a) Wat is die vernaamste instrument waardeur “die getroue en verstandige dienskneg” uiteensettings van die Skrif gee? (b) Watter soort studieprogram sal ons in staat stel om ten volle baat te vind by geestelike voedsel?
19 Soos hierdie kort historiese oorsig getoon het, het Jehovah se “getroue en verstandige dienskneg” ons deur die kolomme van Die Wagtoring van uiteensettings van lewensbelangrike Skriftuurlike waarhede voorsien. Die Wagtoring is die vernaamste instrument wat deur die “dienskneg”-klas gebruik word om geestelike voedsel te gee. Vind jy ten volle baat daarby? Lees jy elke nommer, en is dit ’n deel van jou studieprogram om tekste na te slaan wat aangegee maar nie aangehaal word nie? Maak jy dit ook ’n gewoonte om te peins oor wat jy gestudeer het ten einde waardering daarvoor op te bou en te kyk hoe dit jou gesindheid, jou begeertes, jou daaglikse bedrywighede en jou lewensdoelwitte behoort te beïnvloed? Dit kan grootliks daartoe bydra dat jy besluite neem wat op die ware insig gegrond is wat net Jehovah gegee het.
[Voetnote]
a Satan het Eva wysgemaak dat sy vleeslik nooit son sterf nie (Genesis 3:1-5). Daarom was dit eers later wat hy die valse leerstelling laat onstaan het dat mense ’n onsterflike siel het wat voortleef na die dood van die liggaam.—Kyk The Watchtower, 15 September 1957, bladsy 575.
b Insight on the Scriptures, Deel 2, bladsye 614-616, 899-901.
c “Let Your Kingdom Come”, bladsye 186-189.
Wat onthou jy?
o Is God ’n Drie-eenheid, en waarom sê jy so?
o Wat is die regmatige plek van God se naam?
o Is die mensesiel onsterflik?
o Watter insig het Jehovah in verband met Christelike gedrag in ’n onstuimige wêreld voorsien?
o Watter insig in verband met die vervulling van Bybelprofesieë het Jehovah se Getuies ontvang?
[Prente op bladsy 18]
Deur middel van Die Wagtoring voorsien “die getroue en verstandige dienskneg” insig aangaande die betekenis van Bybelverse en die toepassing daarvan op ons dag