Gaan alle goeie mense hemel toe?
“Die begrafnis was verby, maar nie die yskoue skok nie. . . . Dit het ongelooflik gelyk dat my seuntjie net ’n paar weke gelede sy eerste treetjies gegee het, terwyl sy gesiggie gegloei het met ’n glimlag van louter vreugde. Maar nou was Andrew dood! . . .
“Ek het by die venster bly staan en in die donker na die hemel gekyk. ‘Waar is die knapie nou?’ het ek gewonder. ‘Is hy iewers daarbo in die hemel tussen die sterre?’”
DIE dood van ’n lieflingskind is seker die traumatiesste ondervinding wat ouers kan hê. ‘Waar is ons kind nou?’ wonder hulle. ‘In die hemel of êrens anders?’ Die meeste godsdienste leer dat babas wat sterf hemel toe gaan. In Johannesburg lui die grafskrif op een grafsteen: “God wou ’n ontluikende blommetjie hê, sy engel het een van ons s’n geneem.” Maar ’n mens wonder dalk: ‘Waarom sal God “’n ontluikende blommetjie” wil hê wanneer hy reeds, volgens algemene opinie, soveel het?’ En tallose mense wonder . . .
‘Hoe is dit in die hemel?’
Die meeste mense het net ’n vae begrip van die hemel. Sommige praat van “die hemelse saligheid beërwe”. Maar wat sê die Bybel? Die heel eerste vers in die Bybel sê: “In die begin het God die hemel en die aarde geskape” (Genesis 1:1). Dit praat hier van die fisiese hemele, die glorieryke versameling sterre en galaktiese stelsels (Deuteronomium 4:19). Maar daar is ook geestelike hemele. Die Bybel praat dus van Jehovah se “heilige en verhewe woning”.—Jesaja 63:15, NAV.
Wie was die eerste wat na hierdie “verhewe woning” van ons hemelse Vader opgevaar het? Sy geliefde Seun, Jesus Christus. Hy het gesê: “Niemand het opgevaar in die hemel nie, behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, naamlik die Seun van die mens wat in die hemel is” (Johannes 3:13). Dit toon duidelik dat geen menseskepsele hemel toe gegaan het nie. Maar Jesus het belowe dat party mense hemel toe sou gaan. Net voor hy na die hemel opgevaar het, het hy aan sy getroue dissipels gesê: “Ek gaan om vir julle plek te berei . . . en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.”—Johannes 14:2, 3.
Dit is dus duidelik dat sommige goeie mense hemel toe gaan. Maar gaan alle goeie mense hemel toe? Wat van die mens se tuiste—die aarde? Gaan dit deur kernoorlog vernietig word en ’n uitgebrande stuk steenkool word wat in die ruimte rondsweef? Beslis nie. Die Bybel sê: “Die een geslag gaan, en die ander geslag kom, en die aarde bly vir ewig staan” (Prediker 1:4). En waarom moet die Skepper hierdie pragtige aarde vernietig, selfs al is dele daarvan deur selfsugtige mense besoedel? God se Woord belowe: “Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon.”—Psalm 37:29.
Dit is derhalwe duidelik dat die aarde ’n interessante toekoms het. In sy bekende Bergpredikasie het Jesus voorspel: “Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe” (Mattheüs 5:5). Verder dui die laaste Bybelboek, Openbaring, aan dat die aarde ’n paradys sal word en sê dit aangaande gehoorsame mensê: “God self sal by hulle wees as hulle God. En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie.”—Openbaring 21:3, 4.
Ons kan uit bogenoemde sien dat sommige goeie mense hemel toe gaan, terwyl ander lewe op aarde sal geniet. Dit beteken dat daar twee afsonderlike groepe mense is. Hoe is dit moontlik? Boonop bekommer talle, soos Andrew se moeder, hulle oor wat met hulle babas gebeur wat sterf voordat hulle gedoop is. Rooms-Katolieke word geleer dat hulle na ’n plek gaan wat Limbus genoem word. Is daar so ’n plek? Gaan babas daarheen? Bevredigende en vertroostende antwoorde word in die volgende artikel gegee.