Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w88 9/15 bl. 4-7
  • Waar is ons afgestorwe geliefdes nou?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waar is ons afgestorwe geliefdes nou?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waar of wat is Limbus?
  • Waarheen gaan mense wanneer hulle sterf?
  • Is die dood die einde van alles?
  • Gaan enige goeie mense hemel toe?
  • Goeie mense sal op die aarde woon
  • Die waarheid oor sonde
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • Moet babas gedoop word?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Ware hoop vir jou geliefdes wat gesterf het
    Wat leer die Bybel werklik?
  • Gaan alle goeie mense hemel toe?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
w88 9/15 bl. 4-7

Waar is ons afgestorwe geliefdes nou?

“WAAR is die knapie nou?” Die hartseer moeder (wat in die vorige artikel gemeld is) het aangehou wonder waarheen haar afgestorwe baba gegaan het. Was hy in die hemel of êrens anders?

Andrew se moeder het gou ’n antwoord gekry. Toe haar oudste kind, ook ’n Rooms-Katoliek, van die tragedie hoor, het sy geantwoord: “Andrew is in Limbus.” Maar was hy?

Waar of wat is Limbus?

The Concise Oxford Dictionary sê Limbus is ’n “gebied wat aan die hel grens, die vermoedelike woning van voorchristelike regverdiges en ongedoopte babas; . . . die toestand van verwaarlosing of vergetelheid”. Wat Limbus betref, sê die New Catholic Encyclopedia: “Vandag word die term deur teoloë gebruik om die toestand en plek aan te dui van òf die siele wat nie die hel en die ewige straf daarvan verdien nie, maar nie voor die Verlossing hemel toe kan gaan nie (die vaders se Limbus), of die siele wat vir ewig vanweë erfsonde alleen van die Godsaanskouing uitgesluit word (die kinders se Limbus).”

Maar dieselfde ensiklopedie sê ook: “Die lot van babas wat sterf voordat hulle gedoop is, is inderdaad ’n uiters komplekse probleem. . . . Die Limbus-kwessie is steeds een van die onuitgemaakte sake van die teologie. Die Kerk het nog nooit die bestaan van Limbus amptelik onderskryf nie.” Ter bevestiging hiervan sê The New Encyclopædia Britannica: “Omdat die Rooms-Katolieke Kerk nooit amptelik die leerstelling van limbus onderskryf het as ’n bestaande toestand of plek nie, bly die limbus-begrip ’n onuitgemaakte saak.”

Talle toegewyde Katolieke aanvaar nieteenstaande die Limbus-begrip. Maar dink asseblief goed na oor hierdie gedagte: Waarom moet babas veroordeel word om tot in alle ewigheid in ’n geheimsinnige, onverstaanbare plek te bestaan bloot omdat hulle nie gedoop is nie?

Maak die Bybel melding van Limbus? Nee, God se Woord meld dit nooit nie. Dit laat dus die belangrike vraag ontstaan: Waarheen gaan mense, babas inkluis, wanneer hulle sterf?

Waarheen gaan mense wanneer hulle sterf?

’n Algemene beskouing onder kerkgangers van die Christendom is dat mense òf hemel toe òf hel toe gaan wanneer hulle sterf. Maar wat sê die Bybel hieroor? Dit sê: “Want die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie” (Prediker 9:5). Die dooies weet dus niks nie. Hulle woon nie iewers nie, maar is letterlik en heeltemal dood. Hulle is van niks bewus nie.

Hierdie feit word bevestig deur die volgende verklarings in die Bybelboek Psalms: “Die dode en almal wat na die stilte neerdaal, sal die HERE nie loof nie” (Psalm 115:17). “Vertrou nie op prinse, op die mensekind, by wie geen heil is nie. Sy gees gaan uit, by keer terug na sy aarde toe; op daardie dag is dit met sy planne gedaan.”—Psalm 146:3, 4.

Maar wat van die siel? Is dit nie onsterflik nie? Nee. In teenstelling met wat die meeste mense glo, is die siel nie onsterflik nie. Hierdie feit word duidelik gestel in die Bybel, wat sê: “Die siel wat sondig, dié moet sterwe” (Esegiël 18:4, 20). Verdere bevestiging hiervan word in Handelinge 3:23 gevind, wat lui: “En elke siel wat nie na die Profeet [Jesus] luister nie, sal . . . uitgeroei word.”

Is die dood die einde van alles?

Die dood is nie noodwendig die einde van alles nie. Die opstanding van die afgestorwenes word duidelik in die Skrif geleer. Jesus het gesê: “Moenie julle hieroor verwonder nie. Want daar kom ’n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor en sal uitgaan, die wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe, en die wat kwaad gedoen het, tot die opstanding van die veroordeling” (Johannes 5:28, 29). Buitendien het Jesus sekere persone gedurende sy bediening op aarde opgewek. Die verstommendste geval was die van Jesus se vriend Lasarus. Hy was al vier dae dood. Maar toe Jesus uitgeroep het: “Lasarus, kom uit!” het die oorledene gereageer deur uit die graf te kom. Hoe aangrypend was dit tog vir die skare wat dit aanskou het! En wat ’n vreugdevolle gebeurtenis was dit tog vir Maria en Martha, Lasarus se susters!—Johannes 11:38-45.

Waar was Lasarus tydens daardie vier dae? In die hemel? In Limbus? Nee. Die Bybel se nie so iets of gee nie so iets te kenne nie. As Lasarus iewers in ’n bewuste toestand was, sou hy ander sekerlik hiervan vertel het. Maar soos die Bybel sê: “Die dooies weet glad niks nie.”—Prediker 9:5.

Nog ’n hartverblydende voorval het by die stad Nain plaasgevind. Toe Jesus die stadspoort nader, het hy ’n begrafnisstoet teëgekom. Die afgestorwene was “die enigste seun van sy moeder”, wat ’n weduwee was. Sy het vanselfsprekend bitterlik geween. Dit het Jesus se goedhartige, liefdevolle hart geroer. Hy het nader gegaan, die stoet gestop en gesê: “Jongman, Ek sê vir jou, staan op!” En die dooie man het! Kan jy jou die blydskap van die moeder en die verbasing van die toeskouers voorstel?—Lukas 7:11-17.

Het hierdie jongman enigsins gesê dat hy in die hemel of Limbus was? Nee. Hoe kon hy? “Die dooies weet glad niks nie.” Die Bybel vergelyk ook die dood met ’n diep slaap. Dawid het gesê: “Verhoor my, HERE, my God! Verlig my oë, sodat ek nie in die dood inslaap nie” (Psalm 13:4). Boonop het Jesus die dood met slaap vergelyk kort voor hy Lasarus opgewek het.—Johannes 11:11-14.

Nou ontstaan ’n ander vraag.

Gaan enige goeie mense hemel toe?

Ja, sommige goeie mense gaan wel hemel toe. ’n Hoogs interessante feit omtrent goeie mense, of ware Christene, wat vir die meeste kerkgangers onbekend is, is dat daar twee groepe is. ’n Klein minderheid gaan hemel toe om saam met Jesus Christus te heers, terwyl die meerderheid ewige lewe op aarde sal geniet. Dit verbaas jou miskien. Laat ons derhalwe kyk wat die Bybel oor hierdie interessante onderwerp sê.

Wat was God se oorspronklike voorneme met die mens? Was dit, toe hy Adam en Eva geskep het, sy voorneme dat hulle die lewe ’n rukkie lank in die tuin van Eden moes geniet en dan sterf om hemel toe te gaan? Nee. God het hulle ’n spesiale werk in verband met die aarde gegee en gesê: “Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip” (Genesis 1:28). En Jehovah verander nie sy vasgestelde voorneme nie. Hy verklaar in Psalm 89:35: “Wat oor my lippe gegaan het, sal Ek nie verander nie.” Die Edeniese Paradys moet dus herstel en deur getroue knegte van Jehovah geniet word—die meerderheidsgroep wat hierbo gemeld word.

Die minderheidsgroep ontvang ’n buitengewone voorreg, die voorreg om saam met Christus in die hemel te heers. Met ander woorde, hulle sal saam met Jesus regeer oor diegene wat op die aarde woon. Dit is die Koninkryksregering waarvoor Christene in die Onse Vader bid. Interessant genoeg, ons sê in daardie einste gebed: “Laat a wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde.”—Mattheüs 6:9, 10.

Toon die Bybel hoeveel mense die groot voorreg gaan geniet om saam met Christus in die hemel te heers? Ja, die Bybel toon dit wel. Openbaring hoofstuk 14, vers 1, sê: “Ek het gesien, en kyk, die Lam staan op die berg Sion, en saam met hom honderdvier-en-veertigduisend met sy Naam en die Naam van sy Vader op hulle voorhoofde geskrywe.” Hou in gedagte dat Openbaring talle simbole, of “tekens”, gebruik soos die openingsvers, Openbaring 1:1 (vgl. NW), toon. “Die Lam” is Jesus Christus. (Vergelyk Johannes 1:29.) En die berg Sion slaan nie op die politieke hoofstad van Israel nie, maar op “hemelse Jerusalem”.—Hebreërs 12:22.

Openbaring hoofstuk 7 verskaf inligting oor die hemelse groep sowel as die aardse groep wat ons gemeld het. Vers 4-8 meld die 144 000 “verseëldes uit al die stamme van die kinders van Israel”. Dit is nog ’n voorbeeld van simbolisme en beteken geestelike Israel, of “die Israel van God” (Galasiërs 6:16). Romeine 2:29 lui: “Hy is ’n Jood wat dit in die verborgene is, en besnydenis is dié van die hart, in die gees.” Openbaring 7:9 beskryf vervolgens die aardse groep en sê: “Kyk, daar was ’n groot menigte wat niemand kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale.”

Goeie mense sal op die aarde woon

Duisendmiljoene goeie mense sal op ’n paradysaarde woon (Lukas 23:43, vgl. NW). Sal jy graag onder hulle wil wees? Natuurlik sal jy. Wat ’n voorreg sal dit tog wees om op ’n gereinigde aarde te woon waar daar geen besoedeling, hongersnood, misdadigheid, siekte, lyding en die afgryslike vooruitsig van kernoorlog is nie! Voorspel die Bybel dit werklik? Ja, inderdaad. Dit sê: “Die kwaaddoeners sal uitgeroei word; maar die wat die HERE verwag, hulle sal die aarde besit. . . . Die ootmoediges daarenteen sal die aarde besit en hulle verlustig oor groot vrede. Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon.”—Psalm 37:9, 11, 29; vergelyk Mattheüs 5:5.

Wat gebeur dan met babas wat gesterf het? Sal hulle ook op die Paradysaarde wees? Hulle gaan nie Limbus toe nie wat glad nie bestaan nie. Maar kinders wat in God se geheue is, sal tydens die opstanding van die dode terugkom—een van die wonderlike beloftes in God se Woord, soos ons reeds gesien het (Johannes 5:28, 29; Handelinge 24:15). Miskien het jy geliefdes aan die dood afgestaan en wonder jy dikwels waar hulle nou is. Uit die Skrif is dit duidelik dat hulle slaap en op die opstanding wag. Sal jy graag meer inligting oor hierdie wonderlike hoop op lewe op ’n paradysaarde wil hê? Indien wel, kan jy hierdie aangeleenthede met Jehovah se Getuies bespreek wanneer hulle weer by jou huis besoek aflê.

[Lokteks op bladsy 6]

Party goeie mense gaan wel hemel toe. Wie is hulle?

[Prent op bladsy 5]

Waar was Lasarus terwyl hy dood was?

[Foto-erkenning op bladsy 7]

Foto geneem by Brooklyn se botaniese tuin

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel