Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w88 9/1 bl. 4-7
  • Satanaanbidding in ons dag

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Satanaanbidding in ons dag
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Toordery, spiritisme en duiwelskunste
  • Satanisme en musiek
  • Nie bloot ’n gier nie
  • Die Duiwel se invloed in ’n wêreld vol haat
  • Die jeug van vandag—’n Maklike prooi vir Satanisme?
    Ontwaak!—1994
  • Die opkoms en val van Satanisme
    Ontwaak!—1994
  • Satan—Bestaan hy werklik?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Wat sit agter heksery?
    Ontwaak!—1999
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
w88 9/1 bl. 4-7

Satanaanbidding in ons dag

DIT ly geen twyfel dat Satan aanbid wil word nie. Toe hy Jesus versoek het, het hy aangebied om hom ’n groot beloning te gee, maar op een voorwaarde: “As U neerval en my aanbid” (Mattheüs 4:9). Jesus het natuurlik geweier, maar nie almal het sy voorbeeld gevolg nie. Satanaanbidding is iets algemeens in ons hedendaagse wêreld.

In Kanada het The Calgary Herald byvoorbeeld ’n reeks artikels onder die opskrif “Die Duiwel se dissipels” gepubliseer. Die koerant het ’n polisiespeurder se verslag aangehaal en gesê: “Tydens onderhoude het ek agtergekom dat Satanisme nie tot enige besondere groep in die samelewing beperk is nie. Inligting wat deur die Calgary-polisiediens en die Koninklike Kanadese Berede Polisie ingewin is, toon dat daar in Calgary alleen vermoedelik 5 000 belydende Sataniste is.”

Ander persberigte toon dat verskillende vorme van die Satankultus oral in die Verenigde State en Europa kop uitsteek. Selfs die polisie stel belang in Satanisme. Waarom? Omdat hulle in talle gevalle skakels tussen misdade en sataniese kultusse vind. Volgens berig het een speurder onlangs gesê: “Ons het hier te doen met ’n godsdiens en mense wat daarin glo soos wat ander in die Christelike godsdiens, Judaïsme of Islam glo. Wat jy sien, is nie misdade weeps blote misdadigheid nie, maar misdade ter wille van ’n godsdiens.”

Een uitsonderlike voorbeeld was die moorde deur die Manson-groep in 1969 in Kalifornië. Volgens ’n professor in die geskiedenis, Jeffrey Russell, het “Manson beweer dat hy Christus sowel as Satan is. . . . Toe Manson se volgeling Tex Watson gekom het om Sharon Tate te vermoor, het hy gesê: ‘Ek is die duiwel; Ek is hier om die duiwel se werk te doen.’” Maar Satanisme word nie altyd só openlik beoefen nie.

Toordery, spiritisme en duiwelskunste

Satanaanbidding is inderdaad nie beperk tot regstreekse en openlike aanbidding van Satan nie. Die apostel Paulus het gewaarsku: “Die nasies [offer] die dinge wat hulle offer aan demone” (1 Korinthiërs 10:20, NW). En demonaanbidding is in werklikheid dieselfde as Satanaanbidding, aangesien Satan “die heerser van die demone” genoem word (Markus 3:22, NW). Watter gebruike van “die nasies” kan as demonaanbidding of aanbidding van Satan geïdentifiseer word? God se woorde aan Israel gee ons ’n paar voorbeelde: “Daar mag niemand by jou gevind word . . . wat met waarsêery, goëlery of met verklaring van voortekens of towery omgaan nie, of wat met besweringe omgaan, of wat ’n gees van ’n afgestorwene vra of ’n gees wat waarsê, of wat die dooies raadpleeg nie. Want elkeen wat hierdie dinge doen, is vir die HERE ’n gruwel.”—Deuteronomium 18:10-12.

Ons word dus gewaarsku teen die bloedoffer en omgang met die geeste, wat algemene gebruike van die voedoepriesters in Brasilië en die houngans en mambos van Haïti is. En ons word gewaarsku teen die soortgelyke gebruike van Santeria, wat deur sommige verbanne Kubane in die Verenigde State beoefen word. Ons word ook teen towenaars gewaarsku wat beweer dat hulle met dooie siele kommunikeer om vrees by die lewendes in te boesem.—Vergelyk 1 Samuel 28:3-20.

Toordery is baie algemeen in verskillende dele van Afrika. In Suid-Afrika oefen toordokters byvoorbeeld groot mag uit en heg mense groot waarde aan wat hulle sê. Die pers het onlangs verslag gedoen oor gevalle waar bendes mense lewendig verbrand het wat kwansuis daarvoor verantwoordelik was dat hulle dorpsgenote deur weerlig getref is! Die plaaslike toordokters het onskuldige slagoffers die skuld vir hierdie “onnatuurlike” dade gegee en hulle toe aan ’n boom vasgemaak om verbrand te word. Sodanige geloof in die toorkuns is eweneens ’n aanbidding van demone.

Maar toordery is nie tot Afrika beperk nie. In 1985 het die streekhof van Virginië se Oostelike Distrik Herbert D. Dettmer, wat ’n vonnis in ’n verbeteringsentrum in Virginië, VSA, uitgedien het, die reg toegestaan om sekere klere en artikels te hê sodat hy sy godsdiens in die gevangenis kon beoefen. En wat was sy godsdiens? Volgens die hofverslag was hy ’n lid van “die Kerk van Wicca (algemener bekend as ‘witchcraft’)”. Dettmer het gevolglik die wetlike reg gehad om swael, seesout of ongejodeerde sout; kerse; wierook; ’n wekker en ’n wit kleed in sy aanbidding te gebruik.

Ja, volgens aanduiding word toordery algemeen in die Weste beoefen. Die Britse koerant Manchester Guardian Weekly het berig: “Volgens skatting was daar vyf jaar gelede sowat 60 000 hekse in Brittanje: vandag [1985] meen party hekse dat die getal toegeneem het tot 80 000. Prediction, die maandblad vir astrologie en okkultisme, het ’n sirkulasie van 32 000.”

Satanisme en musiek

In sy boek Mephistopheles—The Devil in the Modern World vestig professor Russell ons aandag op nog ’n manier waarop die oogmerke van Satan bevorder word. Hy skryf: “Na die sewentigerjare het openlike Satanisme vinnig afgeneem, maar elemente van kulturele Satanisme het tot in die tagtigerjare voortbestaan in die vorm van ‘heavy metal’-rockmusiek waarin die Duiwel soms by name aangeroep word sowel as in aansienlike eerbied vir die Sataniese waardes van wreedheid, dwelms, lelikheid, depressie, genotsug, geweld, geraas en verwarring, en vreugdeloosheid.”—Ons kursiveer.

Die musikante wat elemente van Satanisme in hulle musiek opgeneem het, het dit dalk nie ernstig bedoel nie. Dalk het hulle net probeer om te skok of om uitheems te wees. Party mense wat vatbaar vir indrukke is, is nietemin ernstig beïnvloed. Professor Russell sê dat die “voortdurende, halfernstige propaganda vir boosheid ’n verrottende uitwerking op eenvoudige en swak verstande gehad het. Een gevolg was ’n vlaag van die afgryslikste gruweldade, met inbegrip van die verkragting van kinders en die verminking van diere.”

’n Onlangse geval het New Yorkers geskok. Volgens ’n koerantberig het ’n 14-jarige seun, wat “behep was met Satanisme”, sy ma doodgesteek en daarna selfmoord gepleeg. Soos aangehaal in die tydskrif Maclean’s, het ’n Kanadese gesinsraadgewer gesê dat al hoe meer bekommerde tieners erken het dat hulle “satanisme, dikwels gepaard met dwelms en die beklemmender soorte ‘heavy metal’-rockmusiek”, beoefen.

Nie bloot ’n gier nie

’n Gier wat tans orals in die Verenigde State posvat, word kanalisering genoem. Mense betaal dikwels etlike honderde rande om aan sessies deel te neem waartydens ’n “kanaal”, oftewel ’n medium (kanale is meestal vroue), glo met die gees van ’n persoon wat lank gelede gesterf het in aanraking kom. Die pers het berig dat een kanaal se sessies “periodiek deur middel van ’n televisiesatellietverbinding na duisende mense in ’n stuk of ses stede tegelyk herlei word”. Hierdie tendens is blatante ongehoorsaamheid aan die Bybel se raad dat iemand wat ’n gees van ’n afgestorwene raadpleeg of ’n gees wat waarsê vermy moet word. Hierdie soort aanbidding kan gevolglik as demonaanbidding geïdentifiseer word. En soos alle vorme van spiritisme, berus dit op die sataniese leuen dat die mensesiel onsterflik is.—Prediker 9:5; Esegiël 18:4, 20.

Die Duiwel se invloed in ’n wêreld vol haat

Die skokkende situasie van die mensdom in hierdie 20ste eeu laat ons wonder of Satan se invloed nie selfs verreikender is nie. Professor Russell roer hierdie saak aan wanneer hy sê: “Ten spyte van arsenale wat na skatting sewentig maal soveel kernwapens bevat as wat nodig is om elke lewende vertebraat op aarde te dood, tref ons tans hardnekkig voorbereidings vir ’n oorlog wat geen individu, volk of ideologie sal baat nie, maar duisendmiljoene tot ’n aaklige dood sal doem. Watter krag dryf ons aan op ’n weg wat elke dag gevaarliker is? Wie sal by die kernvernietiging van die planeet baat vind? Alleen daardie krag wat die vernietiging van die heelal van die begin af met oneindige wreedheid en kwaadwilligheid begeer het.”

Wie of wat is daardie krag? Die professor gee sy eie antwoord met hierdie woorde: “Die Duiwel is al gedefinieer as die gees wat alles in sy vermoë sal doen om God se heelal te ondermyn en te verwoes. Is die krag wat ons aanspoor om kernwapens te ontplooi nie dalk dieselfde krag wat nog altyd die lewe self ondermyn het nie? In hierdie grootste krisis van ons planeet kan ons daardie moontlikheid nie ignoreer nie.” Christene ignoreer beslis nie die moontlikheid nie! Jesus self het getoon watter groot invloed Satan op hierdie wêreld uitoefen toe Hy hom “die owerste van hierdie wêreld” genoem het (Johannes 12:31). Die boek Openbaring beskryf Satan se huidige gesindheid en sê dat hy “groot woede [het], omdat hy weet dat hy min tyd het” (Openbaring 12:12). Waar dit beskryf wat Satan in ons tyd probeer bewerkstellig, sê daardie selfde boek dat hy demoniese propaganda gebruik om die heersers van hierdie wêreld “te versamel vir die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” (Openbaring 16:14). Nee, ons kan die invloed van Satan die Duiwel nie buite beskouing laat as ons die rede vir die mensdom se sinnelose, selfvernietigende weg wil verstaan nie.

Die apostel Paulus het Satan “die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk” en “die god van hierdie wêreld” genoem (Efesiërs 2:2; 2 Korinthiërs 4:4). Dit is dus geen wonder nie dat talle vra of al die wreedhede van hierdie “verligte” wetenskaplike eeu—twee wêreldoorloë, volkslagtings in Europa en Kampuchea, polities veroorsaakte hongersnood in Afrika, ernstige godsdiens- en rasseverdeeldhede dwarsdeur die wêreld, haat, moord, stelselmatige marteling, misdadige verderwing van die mensdom deur middel van dwelms, om maar ’n paar te noem—nie dalk deel uitmaak van die hoofplan van die een of ander magtige, bose krag wat daarop uit is om die mensdom van God of weg en moontlik selfs tot wêreldselfmoord te dryf nie.

Wie is Satan dan? Wat voer by werklik in die mou? Wat kan ons as individue daaromtrent doen? Ons nooi jou om die volgende twee artikels waarin hierdie vrae bespreek word, te ondersoek.

[Prent op bladsy 7]

God se volk vermy sataniese musiek en geniet eerder heilsame vermaak

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel