Satan—Bestaan hy werklik?
GLO jy dat Satan bestaan? Dan behoort jy blykbaar tot ’n krimpende minderheid. “Teen die tagtigerjare het geloof aan die duiwel verdwyn, behalwe onder konserwatiewe Katolieke, charismatiese persone, konserwatiewe Protestante, lidmate van die Oosters-Ortodokse Kerk, Moslems—en ’n paar okkultiste.” So sê die boek Mephistopheles—The Devil in the Modern World, deur Jeffrey Burton Russell.
Maar daar is nog mense wat aan die bestaan van Satan glo. “Die duiwel is steeds lewend en bedrywig in die wêreld”, het pous Johannes Paulus II in ’n onlangse toespraak in Italië gesê.
Het die pous gelyk? Indien wel, is Satan in ’n goeie posisie om te doen wat hy wil in die wêreld. As mense nie aan sy bestaan glo nie, sal hulle hom nie teenstaan nie. Dit is geen wonder nie dat kardinaal Ratzinger, ’n vername Vatikaanse gesaghebbende op die gebied van kerkleer, gesê het: “Die duiwel kan agter sy gunstelingset, naamlik naamloosheid, skuil.”
Bestaan Satan werklik? As ons die Bybel glo, moet ons ja antwoord. Satan word baiekeer by name in daardie geïnspireerde verslag genoem. Toe die Bybelskrywer Paulus teen “valse apostels” en “bedrieglike arbeiders” in die geledere van die Christengemeente gewaarsku het, het by byvoorbeeld geskryf: “En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ’n engel van die lig.” Paulus het Satan as ’n intelligente, misleidende persoon beskou.—2 Korinthiërs 11:13, 14.
Waarom beskou die meeste mense Satan se bestaan vandag nie in ’n ernstige lig nie? Dit is waarskynlik ’n weerspieëling van die gees van die eeu. Ons lewe in wat sommige al die nachristelike tydperk genoem het, met die gevolg dat ateïsme, hedonisme, materialisme en kommunisme godsdiensgeloof in talle gemeenskappe vervang het. Miljoene mense glo nie meer aan God nie en beskou sy bestaan as onnodig vir hulle persoonlike filosofieë. En hulle het Satan saam met God verwerp. Hoewel hulle beweer dat hulle aan God glo, meen sommige godsdienstige mense in die Christendom dat geloof aan Satan in hierdie 20ste eeu uit die mode is.
Dit is egter opmerklik dat dit geensins iets nuuts is om God te verwerp nie. Die Hebreeuse digter Dawid het sowat 3 000 jaar gelede geskryf: “Die dwaas sê in sy hart: Daar is geen God nie. Sleg, afskuwelik maak hulle hul dade” (Psalm 14:1; 53:2). Elders het hy gesê: “Die goddelose stel in sy verwaandheid geen ondersoek in nie; al sy gedagtes is: ‘Daar is geen God nie’” (Psalm 10:4, NW). Mense het selfs toe al opgetree asof God nie bestaan nie. En die logiese gevolgtrekking was klaarblyklik dat as daar nie ’n God is nie daar geen Satan kan wees nie.
Sommige glo steeds
Maar soos reeds gemeld is, is daar steeds sommige wat aan ’n letterlike Duiwel glo. Daar is diegene wat die ou Zoroastristiese leer van dualisme aanhang en sê dat goed en kwaad, God en die Duiwel, altyd sy aan sy moes bestaan het. Ander sê selfs dat goed sowel as kwaad fasette van die Godheid is. En daar is steeds talle in die Christendom en Islam wat aan Satan se bestaan glo. Baie van hulle beskou hom in werklikheid steeds as ’n gevleuelde geeswese met horings en ’n stert wat die lot beskik van daardie “onsterflike siele” wat tot die “helse vuur” verdoem is, soortgelyk aan wat in die beroemde Franse illustreerder Gustave Doré se werke uitgebeeld word.
Trouens, sommige se geloof aan Satan strek selfs verder. Hulle aanbid hom—hetsy deur hom aan te roep of deur middel van sataniese of demoniese rites. Toordery en duiwelskunste word al duisende jare lank met Satanaanbidding geïdentifiseer. Selfs in ons moderne, skeptiese eeu, floreer Satanisme nog steeds. Kom ons beskou dus ’n paar feite aangaande hedendaagse Satanisme alvorens ons bespreek wat die Bybel oor Satan self sê.
[Prent op bladsy 3]
’n Boeddhistiese voorstelling van ’n sataniese “hel”