Juiste kennis van God en sy Seun lei tot die lewe
“Dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.”—JOHANNES 17:3.
1. Waarom is juiste kennis van God en Jesus Christus so belangrik?
JUISTE kennis van God en sy Seun, Jesus Christus, is noodsaaklik vir diegene wat die ewige lewe wil hê. “[God] wil hê dat alle mense gered word en tot [juiste] kennis van die waarheid kom” (1 Timotheüs 2:4, vgl. NW). Sulke kennis van God se geïnspireerde Woord, die Bybel, sal ons toerus om te weet wie God is en wat ons verpligtinge teenoor hom is (2 Timotheüs 3:16, 17; 1 Johannes 2:17). Dit sal ons ook in staat stel om Jesus Christus en ons verhouding tot hom behoorlik te identifiseer.—Psalm 2:12; Filippense 2:5-11, vgl. NW.
2. Waartoe kan ’n gebrek aan juiste kennis lei?
2 Sonder juiste kennis kan ons verstrik raak in valse leerstellings wat bevorder word deur God se teenstander, Satan die Duiwel, wat “’n leuenaar en die vader van die leuen” is (Johannes 8:44, NAV). As ’n leerstelling in stryd met God se Woord is, as dit ’n leuen is, sal dit Jehovah derhalwe oneer aandoen en ons in opposisie met hom plaas as ons dit glo en verkondig. Ons moet dus die Skrif noukeurig ondersoek om tussen die waarheid en leuens te onderskei (Handelinge 17:11). Ons wil nie soos die wees wat “altyd leer en nooit tot die kennis van die waarheid kan kom nie”.—2 Timotheüs 3:1, 7.
3. Wat is die Bybel se duidelike leer oor God, Jesus Christus en die heilige gees?
3 Soos ons in die vorige artikel gesien het, is die leerstuk van die Drie-eenheid nie ’n Bybelleerstelling nie. In God se eie Woord vertel hy ons duidelik dat by die Skepper van alle dinge is, en dat sy eerste skepping in die hemel sy Seun was (Openbaring 4:11; Kolossense 1:15, 16). God het sy Seun as ’n mens aarde toe gestuur om die losprysoffer te voorsien wat die grondslag gebied het vir vergifnis van die mensdom se sondes, en om opregte persone verder omtrent God en sy voornemens in te lig (Mattheüs 20:28; Johannes 6:38). Maar die eenvoudige, duidelike leerstelling dat God en Christus twee afsonderlike persone is, en dat die heilige gees nie ’n persoon is nie, maar God se werkende krag, is deur die eeue heen verdraai. Die Drie-eenheidsleer het eerder die fundamentele leerstelling van die Christendom geword.
“Ek en die Vader is een”
4. Waarom is die bewering wat die kerke oor Johannes 10:30 maak nie waar nie?
4 Die kerke haal dikwels Johannes 10:30 aan om die Drie-eenheid te probeer staaf, hoewel ’n derde persoon glad nie in daardie vers gemeld word nie. Jesus het daar gesê: “Ek en die Vader is een.” Maar het Jesus bedoel dat hy God die Almagtige self was, net in ’n ander vorm? Nee, dit kan nie wees nie, aangesien Jesus altyd gesê het dat hy God se Seun, ondergeskik aan Hom en onderworpe aan Hom was. Wat het Jesus dan in Johannes 10:30 bedoel?
5, 6. (a) In watter sin het Jesus bedoel dat hy en sy Vader een was? (b) Hoe word dit in verband met Jesus se dissipels toegelig?
5 Jesus het bedoel dat hy een in gedagte en voorneme met sy Vader was. Dit kan in Johannes 17:21, 22 gesien word waar Jesus tot God gebid het dat sy dissipels “almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees . . . sodat hulle een kan wees, net soos Ons een is”. Het Jesus gebid dat al sy dissipels een persoon sou word? Nee, hy het gebid dat hulle eensgesind sou wees, verenig in gedagtes en voorneme, net soos Jesus en God was.
6 Dieselfde gedagte word in 1 Korinthiërs 1:10 weergegee waar Paulus sê dat Christene ‘almal eenstemmig moet wees, en dat daar geen skeuringe onder hulle moet wees nie, maar dat hulle verenig moet wees in dieselfde gesindheid en in dieselfde mening’. Toe Jesus dus gesê het dat hy en sy Vader een was, het hy nie bedoel dat hulle dieselfde persoon was nie, net soos hy nie bedoel het dat sy dissipels dieselfde persoon was toe hy gesê het dat hulle een moet word nie.
Wie was “die Woord”?
7. (a) Wat beweer die Christendom ten opsigte van Johannes 1:1? (b) Wat is daar in Johannes 1:1 wat dadelik toon dat dit nie van ’n Drie-eenheid praat nie?
7 Maar wat van Johannes 1:1 wat in die Afrikaanse Bybel lui: “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God”? Johannes 1:14 sê vir ons: “Die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon.” Die Christendom beweer dat hierdie “Woord” (Grieks, loʹgos) wat as Jesus Christus aarde toe gekom het God die Almagtige self was. Let egter daarop dat Johannes 1:1 selfs in die Afrikaanse Bybel sê: “Die Woord was by God.” Iemand wat by ’n ander persoon is, is nie dieselfde as daardie ander persoon nie. Selfs hierdie vertaling wys dus dat daar twee afsonderlike persoonlikhede is. En daar is glad geen melding van ’n derde persoon van ’n Drie-eenheid nie.
8. Hoe gee party ander vertalings van die Bybel die laaste deel van Johannes 1:1 weer?
8 Wat die laaste gedeelte van Johannes 1:1 betref waar die Afrikaanse Bybel sê die “Woord was God”, sê ander vertalings iets heeltemal anders. Party lui soos volg:
1808: “en die woord was ’n god.” The New Testament, in an Improved Version, Upon the Basis of Archbishop Newcome’s New Translation: With a Corrected Text, Londen.
1864: “en ’n god was die Woord.” The Emphatic Diaglott, deur Benjamin Wilson, New York en Londen.
1935: “en die Woord was goddelik.” The Bible—An American Translation, deur J. M. P. Smith en E. J. Goodspeed, Chicago.
1935: “die Logos was goddelik.” A New Translation of the Bible, deur James Moffatt, New York.
1975: “en ’n god (of, van ’n goddelike soort) was die Woord.” Das Evangelium nach Johannes, deur Siegfried Schulz, Göttingen, Duitsland.
1978: “en goddelike soort was die Logos.” Das Evangelium nach Johannes, deur Johannes Schneider, Berlyn.
1979: “en ’n god was die Logos.” Das Evangelium nach Johannes, deur Jurgen Becker, Würzburg, Duitsland.
En in 1950 het die New World Translation of the Christian Greek Scriptures, wat deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap uitgegee word, die sinsnede weergegee met “en die Woord was ’n god”.
9. Wat gaan in die Griekse teks die selfstandige naamwoord the·osʹ (god) vooraf waar dit die eerste keer in Johannes 1:1 voorkom wat toon dat dit van die almagtige God praat?
9 Stem sulke weergawes ooreen met die grammatikale konstruksie van Johannes 1:1 in Grieks? Ja. Die Griekse selfstandige naamwoord the·osʹ (god) kom twee keer in Johannes 1:1 voor. Die eerste keer slaan dit op die almagtige God, by wie die Woord was—“en die Woord [loʹgos] was by God [’n vorm van the·osʹ]”. Hierdie eerste the·osʹ word voorafgegaan deur ’n vorm van die Griekse bepalende lidwoord ho. Die selfstandige naamwoord the·osʹ met die bepalende lidwoord ho daarvoor wys op ’n afsonderlike identiteit, in hierdie geval die almagtige God—“en die Woord was by [die] God.”
10. Wat toon die feit dat die lidwoord ho weggelaat word waar the·osʹ die tweede keer in Johannes 1:1 voorkom?
10 Maar in die laaste deel van Johannes 1:1 gee vertalings soos dié wat in paragraaf 8 gemeld word die tweede the·osʹ (’n predikatiewe selfstandige naamwoord) weer met “goddelik” of “’n god” in plaas van “God”. Waarom? Omdat die tweede the·osʹ ’n enkelvoudige predikatiewe selfstandige naamwoord is wat voor die werkwoord en sonder die bepalende lidwoord ho in Grieks voorkom. In hierdie vers dui so ’n sinskonstruksie op ’n kenmerk of eienskap van die onderwerp. Dit beklemtoon die aard van die Woord, dat hy “goddelik”, “’n god”, was, maar nie die almagtige God nie. Dit strook met die talle tekste wat toon dat “die Woord” God se woordvoerder was wat deur God na die aarde gestuur is. Soos Johannes 1:18 sê: “Niemand het ooit God gesien nie; die eniggebore Seun [wat in die hemel deur die almagtige God geskape is] wat in die boesem van die Vader is, dié [het as die man Jesus aarde toe gekom en] het Hom [die almagtige God] verklaar.”
11. Watter Bybelvoorbeeld is daar waar die vertalers die lidwoord “’n” invoeg waar daar nie een in die Grieks is nie, en waarom word dit gedoen?
11 Daar is talle ander Bybelverse waar diegene wat uit die Grieks in ’n ander taal vertaal die lidwoord “’n” voor die predikatiewe selfstandige naamwoord invoeg hoewel daar geen lidwoord in die Griekse teks is nie. Hierdie invoeging van die lidwoord in die vertaling bring die kenmerk of eienskap van die selfstandige naamwoord na vore. In Markus 6:49 waar die dissipels Jesus op water sien loop het, sê die Afrikaanse Bybel byvoorbeeld: “Hulle [het] gemeen dat dit ’n spook (Grieks, phanʹta·sma) was.” Die New World Translation gee die sinsnede juister weer: “Hulle [het] gedink: ‘Dit is ’n verskyning!’” Net so toon die juiste vertaling van Johannes 1:1 dat die Woord nie “God” nie, maar “’n god” was.
12. Hoe word die onbepaalde lidwoord “’n” op soortgelyke wyse in Johannes 8:44 gebruik?
12 Twee soortgelyke voorbeelde word in Johannes hoofstuk 8, vers 44 (NW), aangetref. Daar praat Jesus van die Duiwel en sê: “Hy was ’n doodslaner van die begin of . . . Hy is ’n leuenaar en die vader van die leuen.” Net soos in Johannes 1:1 gaan die predikatiewe selfstandige naamwoord in die oorspronklike Grieks in albei hierdie uitdrukkings (“doodslaner”, “leuenaar”) die werkwoord vooraf en het dit geen bepalende lidwoord nie. In albei gevalle word ’n eienskap of kenmerk van die Duiwel beskryf en in talle vertalings in hedendaagse tale is dit nodig om die onbepaalde lidwoord (“’n”) in te voeg om dit weer te gee. Die Afrikaanse Bybel gee dus hierdie uitdrukkings soos volg weer: “Hy was ’n mensemoordenaar . . . hy [is] ’n leuenaar . . . en die vader daarvan.”—Kyk ook Markus 11:32; Johannes 4:19; 6:70; 9:17; 10:1, 13, 21; 12:6.
“My here en my God”
13, 14. Waarom kon Thomas Jesus “my God” noem sonder om te bedoel dat Jesus Jehovah was?
13 Trinitariërs haal ook Johannes 20:28 aan om hulle bewerings te staaf. Daar het Thomas vir Jesus gesê: “My Here en my God!” Soos hierbo getoon, is daar geen beswaar daarteen dat Thomas Jesus ’n god genoem het nie. Dit sou in ooreenstemming wees met die feit dat Jesus, in sy voormenslike bestaan, beslis ’n god was, dit wil sê, ’n magtige, goddelike persoon. En hy is dit beslis sedert sy dood en opstanding tot hemelse lewe. Jesus het selfs uit die Psalms aangehaal om te toon dat magtige mense as “gode” aangespreek is (Psalm 82:1-6; Johannes 10:34, 35). Die apostel Paulus het gesê dat daar “baie gode en baie here is” (1 Korinthiërs 8:5). Selfs Satan word “die god van hierdie wêreld” genoem.—2 Korinthiërs 4:4.
14 Christus beklee ’n baie hoër posisie as onvolmaakte mense, of Satan. As hulle “gode” genoem kan word, kan Jesus seer seker ’n god genoem word, en is hy ook so genoem. Vanweë sy unieke posisie in verhouding tot Jehovah is Jesus “die eniggebore god” (Johannes 1:18, NW), ’n “Sterke God” (Jesaja 9:5) en “’n god” (Johannes 1:1, NW) genoem. Daar was derhalwe niks daarmee verkeerd dat Thomas Jesus so genoem het nie. Thomas het gesê dat Jesus vir hom ’n god, ’n goddelike, kragtige persoon was. Maar hy het nie gesê dat Jesus Jehovah was nie, en dit is waarom Thomas “my” God en nie “die” God gesê het nie.
15. Hoe identifiseer vers 31 van Johannes hoofstuk 20 duidelik wie Jesus is?
15 Net drie verse later sê die Bybel in Johannes 20:31: “Maar hierdie is beskrywe, dat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God.” Enige twyfel oor wat Thomas dalk bedoel het, word hier uit die weg geruim. Die Bybelskrywer Johannes sê duidelik dat Jesus die Seun van God is, nie die almagtige God self nie.
Nie gelyk aan God nie
16. Watter bewering het die Jode gemaak, en hoe het Jesus dit weerlê?
16 Johannes 5:18 is nog ’n teks wat die kerke gebruik. Dit sê dat die Jode Jesus wou doodmaak omdat hy “ook God sy eie Vader genoem het en Hom met God gelykgestel het”. Wie het gesê dat Jesus hom met God gelykstel? Nie Jesus nie. Hy het dit sommer in die volgende vers (19) opgeklaar deur te sê: “Die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie.” Jesus het derhalwe nie beweer dat hy die almagtige God was of gelyk aan Hom was nie. Hy het vir die Jode getoon dat hulle dit mis gehad het, dat hy nie God was nie, maar dat hy die Seun van God was, en as God se Woordvoerder kon hy nie uit sy eie optree nie. Kan ons ons voorstel dat die almagtige God van die heelal sal sê dat hy niks uit sy eie kan doen nie? Die Jode het dus ’n aantyging gemaak en Jesus het dit weerlê.
17. (a) Wat is die duidelike getuienis uit God se eie geïnspireerde Woord oor die identiteit van Jehovah, Jesus Christus en die heilige gees? (b) Wat moet gedoen word met enige teks wat Trinitariërs dalk meld in ’n poging om hulle opvatting te probeer regverdig?
17 Uit die getuienis van God in sy eie geïnspireerde Woord, uit die getuienis van Jesus en uit die getuienis van die dissipels van Jesus toon die oorweldigende bewys dus duidelik dat die almagtige God en Jesus Christus twee afsonderlike persoonlikhede, Vader en Seun, is. Daardie bewys toon ook duidelik dat die heilige gees nie die derde persoon van ’n Drie-eenheid is nie, maar God se werkende krag. Dit is sinloos om tekste uit die verband te gebruik of hulle te probeer verdraai om die Drie-eenheid te ondersteun. Enige sodanige tekste moet in ooreenstemming met die res van die Bybel se duidelike getuienis gebring word.
Waarom het die Drie-eenheid ontstaan?
18. Waar kom die Drie-eenheidsleer vandaan?
18 As jy na “Geskiedkundige ontwikkeling van die Drie-eenheidsleer” op bladsy 18 kyk, sal jy sien dat die Drie-eenheid ’n heidense oorsprong het. Dit is nie ’n Bybelleerstelling nie, maar is in die vierde eeu deur die Christendom oorgeneem. Daar was egter lank voor daardie tyd drie-eenhede in eertydse Babilon, Egipte en ander plekke. Die Christendom het derhalwe ’n heidense begrip by sy leerstellings gevoeg. Dit is gedoen onder aansporing van Romeinse keiser Konstantyn, wat nie in die waarheid ten opsigte van hierdie kwessie belanggestel het nie, maar sy ryk wat uit heidene en afvallige Christene bestaan het, wou verstewig. In plaas van ’n ontwikkeling van ’n Christelike leerstelling te wees, was die Drie-eenheid bewys dat die Christendom afvallig geword het van die leerstellings van Christus en eerder heidense leerstellings aanvaar het.
19. Waarom het die Drie-eenheidsleer ontstaan?
19 Waarom sou so ’n leerstelling ontstaan? Die feit dat God, Sy Seun en Sy heilige gees verwarrend en misterieus voorgestel word, bevorder beslis nie God se belange nie. En dit bevorder nie die belange van mense as hulle verwar word nie. Inteendeel, hoe meer verwarring daar onder mense oor God en sy voornemens bestaan, des te beter pas dit Satan die Duiwel, God se teenstander, die “god van hierdie wêreld” wat daarop uit is om ‘die sinne van die ongelowiges te verblind’ (2 Korinthiërs 4:4). Aangesien so ’n leerstelling dit laat lyk asof slegs teoloë Bybelleerstellings kan verstaan, pas dit die godsdiensleiers van die Christendom ook. Dit help hulle om hulle houvas op die gewone mense te behou.
20. (a) Wat is die eenvoudige waarheid oor die Drie-eenheid? (b) Wat sal dit vir ons beteken as ons juiste kennis van bevrydende waarhede inneem?
20 Maar die waarheid omtrent hierdie saak is so eenvoudig dat ’n kind dit kan verstaan. ’n Seuntjie weet dat hy nie dieselfde as sy vader is nie, maar dat hulle twee afsonderlike individue is. Wanneer die Bybel sê dat Jesus Christus God se Seun is, is dit eweneens wat dit bedoel. Dit is die eenvoudige waarheid, terwyl die Drie-eenheidsleer nie die waarheid is nie. Dit is ’n leuen. Dit moet dus kom van die een “wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei” (Openbaring 12:9). Maar die eenvoudige, verfrissende waarhede omtrent God, sy Seun, Jesus Christus, en God se kragtige heilige gees bevry mense van slawerny aan valse leerstellings wat uit die heidendom voortspruit en waarvan Satan die bron is. Soos Jesus aan opregte waarheidsoekers gesê het: “Julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Johannes 8:32). Om juiste kennis van bevrydende waarhede in te neem, asook om daarvolgens op te tree, “beteken die ewige lewe”.—Johannes 17:3, NW.
Hoe sou jy antwoord?
◻ Waarom is juiste kennis van God en sy Seun so belangrik?
◻ Wat het Jesus bedoel toe hy gesê het: “Ek en die Vader is een”?
◻ Hoe onderskei Johannes 1:1 tussen die Woord en God?
◻ Waarom kon Thomas Jesus tereg “my God” noem?
◻ Hoe het die Drie-eenheidsleer ontstaan, en wie is die bron daarvan?
[Venster op bladsy 18]
Geskiedkundige ontwikkeling van die Drie-eenheidsleer
The New Encyclopædia Britannica, 1985, Micropædia, Deel 11, bladsy 928 sê onder die onderwerp Drie-eenheid: “Nòg die woord Drie-eenheid nòg die uitdruklike leerstelling kom in die Nuwe Testament voor, en Jesus en sy volgelinge het ook nie bedoel om die Sjema in die Ou Testament: ‘Hoor, Israel, die Here onse God is ’n enige Here’ te weerspreek nie (Deut. 6:4).” Hierdie ensiklopedie sê ook: “Die leerstelling het geleidelik oor etlike eeue heen en deur middel van talle geskille ontstaan . . . Die Konsilie van Nicea het in 325 die deurslaggewende formule vir daardie leerstelling uiteengesit in sy belydenis dat die Seun ‘van dieselfde wese . . . as die Vader’ is, hoewel dit bitter min oor die Heilige Gees gesê het. . . . Teen die einde van die 4de eeu . . . het die leerstuk van die Drie-eenheid wesenlik die vorm aangeneem wat dit sedertdien behou het.”
Die New Catholic Encyclopedia, 1967, Deel 14, bladsy 299, erken: “Die formulering ‘een God in drie Persone’ was nie voor die einde van die 4de eeu stewig gevestig nie en was beslis nie voor daardie tyd ten volle in die Christelike lewe en sy geloofsbelydenis opgeneem nie. . . . Onder die Apostoliese Vaders was daar niks wat in die minste met so ’n mentaliteit of perspektief ooreengekom het nie.”
Die Drie-eenheidsleer is dus nie Skriftuurlik nie, maar dit is in 325 G.J. by die Konsilie van Nicea amptelik aanvaar. Die leerstelling het ’n heidense idee oorgeneem wat lank tevore in eertydse Babilon en Egipte ontstaan en ook in ander lande bestaan het. Geskiedskrywer Will Durant het in The Story of Civilization: Part III, bladsy 595, gesê: “Die Christelike godsdiens het nie die heidendom vernietig nie; dit het dit oorgeneem. . . . Die idees van ’n goddelike Drie-eenheid het van Egipte gekom.”
In An Encyclopedia of Religion, geredigeer deur Vergilius Ferm, 1964, op bladsye 793 en 794, word die drie-eenhede van die Babiloniese, Boeddhistiese, Hindoeïstiese, Noorse, Taoïstiese en ander godsdienste, sowel as die van die Christendom, onder die woord “triade” aangegee. As ’n voorbeeld meld dit dat “die groot Triade [in Indië] Brahma, die Skepper, Wisjnoe, die Beskermer, en Siwa, die Vernietiger, insluit. Hulle verteenwoordig die bestaanskringloop, net soos die Babiloniese triade Anoe, Enlil en Ea die bestaanstowwe, lug, water, aarde, voorstel.”
Londen se Britse Museum bevat artefakte wat eertydse drie-eenhede, soos Egipte se Isis, Harpokrates en Nephtis, toon. ’n Publikasie van die Museum se Departement van Middeleeuse en Latere Oudhede meld die volgende inskripsie op antieke juweliersware: “Bokant, die Egiptiese gode Horus-Baït (met ’n valkkop), Buto-Akori (die slang) en Hathor (met ’n paddakop). Agterkant, die Griekse teks ‘Een Baït, een Hathor, een Akori; hulle krag is een. Heil, vader van die wêreld, heil, drievormige god!’ Die gode word dus geïdentifiseer as drie manifestasies van een krag, waarskynlik die songod.”
Die geskiedenis bevestig dat die Drie-eenheid van heidene oorgeneem is en eeue voor Jesus aarde toe gekom het, bestaan het. Lank na sy dood is dit bevorder deur diegene wat deur heidense filosofieë beïnvloed is en wat afvallig geword het van die ware aanbidding van God wat deur Jesus en die apostels verkondig is.
[Prent op bladsy 16]
Jesus het gebid dat sy dissipels een in gedagte en voorneme moet wees soos hy en sy Vader een was