Jesus Christus—God se geliefde Seun
“En daar kom ’n stem uit die hemele wat sê: Dit is my geliefde Seun in wie Ek ’n welbehae het.”—MATTHEÜS 3:17.
1, 2. (a) Watter eenvoudige waarheid leer die Bybel aangaande die almagtige God en Jesus Christus? (b) Wat leer die godsdienste van die Christendom?
JESUS CHRISTUS is op die ouderdom van 30 gedoop deur onder die water gedompel te word. Toe hy uit die water opkom, het ’n stem uit die hemel gesê: “Dit is my geliefde Seun in wie Ek ’n welbehae het” (Mattheüs 3:17). Daardie stem was God se stem. By ’n ander geleentheid het Jesus in gebed tot God gesê: “Vader, verheerlik u Naam!” En toe Jesus dit gesê het, het God se “stem uit die hemel gekom: Ek hét dit verheerlik, en Ek sal dit weer verheerlik.”—Johannes 12:28.
2 Uit hierdie verslae kan selfs ’n kind verstaan dat die verhouding tussen die almagtige God en Jesus Christus die van ’n vader en sy geliefde seun, twee verskillende individue, was. En tog loën die godsdienste van die Christendom hierdie eenvoudige Bybelwaarheid. Hulle hou vol dat Jesus Christus God die Almagtige self, die tweede persoon van ’n Drie-eenheid, is waarvan die derde persoon die heilige gees is.
3. Hoe word verwarring oor die Drie-eenheidsleer getoon?
3 Daardie leerstelling het groot verwarring onder die mense van die Christendom se godsdienste veroorsaak, en dit is een rede waarom die New Catholic Encyclopedia die Drie-eenheid ’n verborgenheid noem. Dit veroorsaak inderdaad verwarring selfs onder die geestelikes, want daardie ensiklopedie sê ook: “Daar is min leraars van die Drie-eenheidsleer in Rooms-Katolieke seminare wat nie op die een of ander tyd lastig geval is met die vraag: ‘Maar hoe verkondig ’n mens die Drie-eenheid?’ nie. En as die vraag ’n uitvloeisel is van verwarring onder die studente, is dit miskien ewe veel ’n uitvloeisel van soortgelyke verwarring onder hulle professore.”
4. Wat is die amptelike leer van die kerke aangaande die Drie-eenheid?
4 Daardie verwarrende leerstelling is die sentrale opvatting van Katolieke en Protestantse godsdienste. The Catholic Encyclopedia sê: “Die Drie-eenheid is die term wat gebruik word om die sentrale leerstelling van die Christelike godsdiens aan te dui . . . Gevolglik, in die woorde van die Athanasiaanse Geloofsbelydenis: ‘die Vader is God, die Seun is God, en die Heilige Gees is God, en tog is daar nie drie Gode nie maar een God.’” In ’n hofsaak waarby Jehovah se Getuies in Griekeland betrokke was, het die Grieks-Ortodokse Kerk eweneens gesê: “Die fundamentele leerstelling van die Christelike godsdiens, waarin alle Christene geloof bely . . . ongeag sekte of dogma, is . . . die Drie-eenheid, dat God Een in drie persone is.” Die Grieks-Ortodokse Kerk het ook gesê: “Christene is diegene wat Christus as God aanvaar.” Dit het gesê dat diegene wat nie die Drie-eenheid aanvaar nie, nie Christene is nie, maar ketters.
5, 6. Waarom is dit belangrik om te weet wat die waarheid omtrent hierdie saak is?
5 Maar as hierdie “fundamentele” Drie-eenheidsleer van die Christendom nie waar is nie, as dit ’n leuen is, sou die teenoorgestelde die geval wees. Ware Christene sou dit verwerp. Diegene wat van die Christelike godsdiens afvallig geword het, sou daaraan vashou. Met watter gevolge vir laasgenoemde groep? In die laaste boek van die Bybel, ’n “openbaring van Jesus Christus wat God Hom gegee het”, lees ons aangaande diegene wat vir ewige lewe in God se Koninkryk gediskwalifiseer word: “Buite is die honde en die towenaars en die hoereerders en die moordenaars en die afgodedienaars en elkeen wat leuens liefhet en doen.”—Openbaring 1:1; 22:15.
6 Omdat dit so belangrik is, moet ons weet waar hierdie Drie-eenheidsbegrip ontstaan het, en waarom dit ontstaan het. Wie sit werklik daaragter? Wat sê hedendaagse Bybelgeleerdes daaroor? Maar kom ons kyk verder wat God se geinspireerde Woord sê voor ons hierdie sake bespreek.—2 Timotheüs 3:16, 17.
Nie ‘God die Seun’ nie, maar “die Seun van God”
7. Wat openbaar ’n onbevooroordeelde studie van die Bybel omtrent Jesus?
7 Jesus het nooit beweer dat hy die almagtige God self is nie. As die Bybel sonder ’n vooropgesette mening oor die Drie-eenheid en op ’n onbevooroordeelde wyse gelees word, word dit bevestig. In Johannes 3:16 het Jesus byvoorbeeld gesê: “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het.” Net twee verse later het Jesus weer gesê dat hy “die eniggebore Seun van God” is (Johannes 3:18). Toe die Jode Jesus van godslastering beskuldig het, het hy geantwoord: “Sê julle vir Hom wat die Vader geheilig en in die wêreld gestuur het: U spreek godslasterlik—omdat Ek gesê het: Ek is die Seun van God?” (Johannes 10:36). Jesus het nie gesê dat hy ‘God die Seun’ is nie, maar dat hy “die Seun van God” is.
8. Watter getuienis het ’n hoofman en diegene wat saam met hom was, gelewer?
8 Toe Jesus gesterf het, het selfs die Romeinse soldate wat bygestaan het, geweet dat Jesus nie God was nie: “Toe die hoofman oor honderd en die wat saam met hom Jesus bewaak het, die aardbewing sien en die dinge wat daar gebeur, het hulle baie bevrees geword en gesê: Waarlik, Hy was die Seun van God” (Mattheüs 27:54). Hulle het nie gesê ‘hy was God’ of ‘hy was God die Seun’ nie, want Jesus en sy dissipels het verkondig dat Jesus die Seun van God is, nie God die Almagtige in menslike gedaante nie.
9, 10. Watter kragtige getuienis word in die Evangelies oor die verhouding tussen God en Jesus gelewer?
9 God self het getuig dat Jesus sy geliefde Seun was, soos die Bybelskrywer Mattheüs getoon het toe Jesus gedoop is (Mattheüs 3:17). Ander Bybelskrywers het dieselfde getoon. Markus het geskryf: “Daar het ’n stem uit die hemele gekom: U is my geliefde Seun in wie Ek ’n welbehae het” (Markus 1:11). Lukas het gesê: “’n Stem het uit die hemel gekom wat sê: U is my geliefde Seun; in U het Ek ’n welbehae” (Lukas 3:22). En Johannes die Doper, deur wie Jesus gedoop is, het getuig: “Ek het . . . getuig dat Hy [Jesus] die Seun van God is” (Johannes 1:34). God self, al vier Evangelieskrywers en Johannes die Doper sê dus duidelik dat Jesus die Seun van God was. En ’n ruk later, tydens die verheerliking van Jesus, het iets soortgelyks gebeur: “Daar kom ’n stem [God s’n] uit die wolk wat sê: Dit is my geliefde Seun; luister na Hom!”—Lukas 9:35.
10 Het God in hierdie verslae gesê dat hy sy eie seun is, dat hy homself gestuur het en dat hy ’n welbehae in homself het? Nee, God die Vader, die Skepper, het gesê dat hy sy Seun Jesus, ’n afsonderlike individu, gestuur het om God se werk te doen. Derhalwe word die uitdrukking “die Seun van God” dwarsdeur die Griekse Skrifte met betrekking tot Jesus gebruik. Maar ons sien nie een keer die uitdrukking ‘God die Seun’ nie, want Jesus was nie die almagtige God nie. Hy was die Seun van God. Hulle is twee verskillende persone, en geen teologiese “verborgenheid” kan daardie waarheid verander nie.
Die Vader is die Seun se meerdere
11. Hoe het Jesus getoon dat God hoër as hy was?
11 Jesus het geweet dat hy nie sy Vader se gelyke was nie, maar in elke opsig in ’n ondergeskikte posisie verkeer het. Hy het geweet dat hy ’n geliefde Seun was, wat innige liefde vir sy Vader het. Dit is waarom Jesus keer op keer stellings soos die volgende gemaak het: “Die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie” (Johannes 5:19). “Ek het uit die hemel neergedaal, nie om my wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het” (Johannes 6:38). “My leer is nie myne nie, maar van Hom wat My gestuur het” (Johannes 7:16). “Ek ken Hom [God], omdat Ek van Hom kom en Hy My gestuur het” (Johannes 7:29). Die een wat uitstuur, is die meerdere. Die een wat gestuur word, is die mindere, die kneg. God is die een wat uitstuur. Jesus is die een wat gestuur word. Hulle is nie dieselfde nie. Soos Jesus dit gestel het: “’n Dienskneg is nie groter as sy heer nie, en ’n gesant is ook nie groter as die een wat hom gestuur het nie.”—Johannes 13:16.
12. Watter gelykenis lig Jesus se ondergeskiktheid aan die Vader toe?
12 Dit word ook duidelik getoon in ’n gelykenis wat Jesus gegee het. Hy het sy Vader, Jehovah God, vergelyk met die eienaar van ’n wingerd wat op reis gegaan en die wingerd oorgelaat het aan die toesig van landbouers—wat uiteraard die Joodse geestelikes afbeeld. Later het die eienaar ’n dienskneg gestuur om van die vrug van die wingerd te kry, maar die landbouers het die dienskneg geslaan en hom met leë hande weggestuur. Die eienaar het toe ’n tweede dienskneg gestuur, en dieselfde ding het gebeur. Hy het ’n derde dienskneg gestuur, wat dieselfde behandeling ontvang het. Toe het die eienaar (God) gesê: “Ek sal my geliefde seun [Jesus] stuur; miskien sal hulle ontsag hê as hulle hom sien.” Maar die verdorwe landbouers het gesê: “Dit is die erfgenaam; kom laat ons hom doodmaak, sodat die erfdeel ons s’n kan wees. En hulle het hom uit die wingerd gewerp en hom doodgemaak” (Lukas 20:9-16). Dit maak dit weer eens duidelik dat Jesus aan die Vader onderworpe is, dat hy deur die Vader gestuur is om die Vader se wil te doen.
13. Watter duidelike Bybelstellings toon dat God Jesus se meerdere was?
13 Jesus self het gesê: “My Vader [is] groter . . . as Ek” (Johannes 14:28). Ons moet Jesus glo, want hy het beslis geweet wat die waarheid omtrent sy verhouding tot sy Vader is. Die apostel Paulus het ook geweet dat God hoër as Jesus was en hy het gesê: “Die Seun [Jesus] self [sal] Hom onderwerp aan . . . God” (1 Korinthiërs 15:28). Dit blyk verder uit Paulus se stelling in 1 Korinthiërs 11:3: “God [is] die hoof van Christus.” Jesus het erken dat hy ’n hoër God het toe hy aan sy dissipels gesê het: “Ek vaar op na my Vader en julle Vader, en my God en julle God.”—Johannes 20:17.
14. Watter ander tekste toon dat Jesus nie God die Almagtige was nie?
14 Jesus het melding gemaak van God se superioriteit toe die moeder van twee van die dissipels gevra het dat haar een seun aan die regter- en die ander aan die linkerhand van Jesus mag sit wanneer hy sy Koninkryk ontvang. Hy het geantwoord: “Om te sit aan my regter- en aan my linkerhand berus nie by My om te gee nie” (Mattheüs 20:23). As Jesus die almagtige God was, sou dit by hom berus het om dit te gee. Maar dit het nie. Dit het by sy Vader berus om dit te gee. Toe hy sy profesie oor die einde van hierdie stelsel gegee het, het Jesus eweneens gesê: “Van daardie dag en die uur weet niemand nie, ook nie die engele in die hemel of die Senn nie, maar net die Vader” (Markus 13:32). As Jesus God die Almagtige was, sou hy van daardie dag en die uur geweet het. Maar hy het nie geweet nie, want hy was nie die alwetende God nie. Hy was God se Seun, en het nie alles geweet wat sy Vader geweet het nie.
15. Hoe het Jesus kort voor sy dood sy onderworpenheid aan God getoon?
15 Net voor Jesus gesterf het, het hy onderworpenheid aan sy Vader getoon deur te bid: “Vader, as U tog maar hierdie beker van My wil wegneem! Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied!” (Lukas 22:42). Tot wie het Jesus gebid? Tot homself? Nee, hy het tot sy Vader in die hemel gebid. Dit blyk uit sy woorde: “Laat . . . nie my wil nie, maar u wil geskied!” En by sy dood het Jesus uitgeroep: “My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Markus 15:34). Wie het Jesus aangeroep? Homself? Nee, hy het sy Vader wat in die hemel was, aangeroep.
16. Hoe toon die dood en opstanding van Jesus dat hy nie die almagtige God self kon gewees het nie?
16 Na Jesus se dood was hy ongeveer drie dae in die graf. Wie het hom opgewek? Aangesien hy dood was, kon hy homself nie opwek nie. En as hy nie werklik dood was nie, kon hy nie die losprys vir Adam se sonde betaal het nie. Maar hy het gesterf, en het ongeveer drie dae nie bestaan nie. Die apostel Petrus vertel ons wie Jesus opgewek het: “Hom het God opgewek, nadat Hy die smarte van die dood ontbind het” (Handelinge 2:24). Die meerdere, God die Almagtige, het die mindere, sy geliefde Seun, Jesus, uit die dood opgewek. Ter toeligting: Wie was groter toe Jesus Lasarus uit die dood opgewek het? Jesus was groter aangesien hy Lasarus uit die dood kon terugbring (Johannes 11:41-44). Dit was dieselfde toe God Jesus opgewek het. God was groter aangesien hy Jesus uit die dood kon terugbring.
17. Watter ander getuienis is daar dat Jesus nie God was nie?
17 Jesus kan onmoontlik God self wees, want Jesus is deur God geskape. Let op wat Openbaring hoofstuk 3 vers 14 sê: “Dít sê die Amen, die getroue en waaragtige Getuie [Jesus], die begin van die skepping van God.” Kolossense 1:15, 16 sê eweneens van Jesus: “Hy is die Beeld van die onsienlike God, die Eersgeborene van die hele skepping; want in Hom [“deur middel van hom”, NW] is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is . . . alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape.” In die hemel het die almagtige God dus sy Seun regstreeks geskape en toe “deur middel van hom” of “deur hom” ander dinge geskape, net soos ’n bedrewe vakman ’n opgeleide werknemer vir hom werk kan laat doen. Daardie dinge wat “deur middel van hom” geskape is, het nie Jesus self ingesluit nie, want God het hom reeds geskape. Hy word dus die “Eersgeborene”, die ‘eniggeborene’ genoem. Wanneer ’n kind die eersgeborene, die eniggeborene, is, beteken dit nooit dat die kind dieselfde as die vader is nie. Dit beteken altyd dat daar twee verskillende persoonlikhede is, vader en kind.
Die heilige gees—’n Persoon of ’n werkende krag?
18. Wat leer die Bybel aangaande die heilige gees?
18 Wat van die sogenaamde derde persoon van die Drie-eenheid, die heilige gees, wat glo aan die Vader en die Seun gelyk is wat mag, wese en ewigheid betref? Die Bybel meld nooit die heilige gees saam met God en Christus as hulle gelyke nie. Markus 1:10 toon byvoorbeeld dat die heilige gees ten tyde van Jesus se doop “soos ’n duif”, nie in ’n menslike gedaante nie, op Jesus neergedaal het. Die heilige gees was nie ’n persoon wat oor Jesus gekom het nie, maar was God se werkende krag. Daardie krag van God het Jesus in staat gestel om die siekes te genees en die dooies op te wek. Soos Lukas 5:17 sê: “Deur God se krag het Jesus baie mense gesond gemaak” (Die Lewende Bybel). Later, by Pinkster, is die apostels ook die krag van God gegee om mense te genees en die dode op te wek. Het dit hulle ’n deel van die een of ander “godheid” gemaak? Nee, hulle is bloot deur Christus krag van God gegee om te doen wat mense gewoonlik nie kan doen nie.
19. Waarom kan die heilige gees onmoontlik die derde persoon van ’n Drie-eenheid wees?
19 Daardie selfde werkende krag word in Efesiërs 5:18 gemeld waar Paulus vermaan: “Word met die Gees vervul.” Handelinge 7:55 sê eweneens dat Stefanus “vol van die Heilige Gees” was. En by Pinkster is die volgelinge van Jesus “almal vervul met die Heilige Gees” (Handelinge 2:4). Kan ’n mens met ’n ander persoon vervul word? Nee, maar hy kan vervul word met die krag wat van God kom. Daardie heilige gees is dieselfde krag wat God gebruik het om die heelal te skep. Soos Genesis 1:2 (NW) sê: “God se werkende krag het heen en weer oor die oppervlak van die water beweeg.”
20. Watter gesig het Stefanus gesien wat verder toon dat die Drie-eenheid nie die waarheid is nie?
20 Na Jesus opgewek is, het Stefanus ’n gesig van die hemel gehad en “die heerlikheid van God gesien en Jesus wat staan aan die regterhand van God” (Handelinge 7:55). Twee afsonderlike persone was dus in die hemel te sien: (1) God en (2) die verrese Jesus Christus. Geen heilige gees is in hierdie gesig gemeld nie, want dit was nie ’n derde persoon van ’n Drie-eenheid nie. Aangesien die heilige gees God se werkende krag is, sou dit van God uitgaan, maar nie as ’n afsonderlike wese nie. Dit is waarom Stefanus slegs twee persone, nie drie nie, gesien het.
21, 22. (a) Wat erken ’n godsdiensensiklopedie oor die heilige gees? (b) Watter punte sal ons volgende artikel insluit?
21 Die New Catholic Encyclopedia erken aangaande die heilige gees: “Dit is duidelik dat die O[u] T[estament] nie God se gees as ’n persoon beskou nie, nie in die streng filosofiese sin of in die Semitiese sin nie. God se gees is bloot God se krag. As dit soms vir ons voorgestel word as afsonderlik van God, is dit omdat die asem van Jahweh uiterlik optree.” Dit sê ook: “Die meeste tekste in die N[uwe] T[estament] openbaar God se gees as iets, nie as iemand nie; dit word veral gesien in die parallelisme tussen die gees en die krag van God.”
22 In die lig van al hierdie feite kan hierdie “fundamentele” Drie-eenheidsleer van die Christendom nie waar wees nie. God se eie Woord weerlê daardie bewering. Dit toon duidelik dat Jehovah God die liefdevolle Vader is, en dat Jesus Christus sy geliefde Seun is, ’n Seun wat sy Vader so liefgehad het dat hy bereid was om tot die dood toe gehoorsaam te wees. Party voer egter aan dat daar tekste is wat die Drie-eenheid skynbaar ondersteun, en daarom sal ons party daarvan in ons volgende artikel bespreek. Ons sal ook bespreek waarom hierdie leerstelling so ’n belangrike deel van die Christendom geword het, en waar dit ontstaan het.
Hoe sou jy antwoord?
◻ Wat leer die Bybel oor God en oor Jesus?
◻ Hoe toon die Skrif die verhouding tussen die Vader en die Seun?
◻ Meld enkele tekste wat toon dat God groter as Jesus is.
◻ Waarom kan die heilige gees nie deel van ’n Drie-eenheid wees nie?
[Prent op bladsy 13]
Jesus het gesê: ‘My Vader is groter as Ek’