Koninkryksverkondigers berig
Koninkrykswaarheid bloei in Sri Lanka
SRI LANKA, wat “Skitterende land” beteken, is die eertydse naam waaronder hierdie pragtige eiland nou weer bekendstaan, hoewel talle hom steeds by sy koloniale naam, “Ceylon”, ken. As gevolg van sy ligging in die Indiese Oseaan word hy ook die Traan van Indië genoem; maar weens die uitbreek van etniese geweld, wat wêreldwyd in die nuus gekom het, was die trane in die laaste tyd nie almal trane van vreugde nie.
Tog bloei Koninkrykswaarheid ook hier. Boeddhis, Hindoe, Moslem, Pars en naamchristen word geleer dat alleenlik Jehovah se Koninkryk in die hande van Christus Jesus blywende genesing kan bring vir die etniese en politiese wonde wat die gemeenskappe verdeel. Die volgende ondervindinge toon hoe Koninkrykswaarheid in hierdie “Skitterende land” bloei.
◻ Salimoon is van kleins af geleer om te glo dat die Koran God se Woord is. Maar hy kon dit nooit heeltemal aanvaar dat ’n allergenadige God mense in ’n brandende hel sou pynig nie. Eendag het Jehovah se Getuies hom na ’n vergadering genooi. Hy het onmiddellik besef dat dit die waarheid is en het nooit weer teruggekyk nie, en nou dien hy vreugdevol as ’n ouere man in die Christengemeente.
◻ Harry, ’n lewenslange Boeddhis wat sy godsdienstige geloof getoon het deur op gloeiende kole te loop, kon nie die beginsels nakom wat in die Boeddhisteleer van ’n agtvoudige weg bevat word nie, naamlik: (1) regte begrip; (2) regte denke; (3) regte spraak; (4) regte handeling; (5) regte lewenswyse; (6) regte inspanning; (7) regte bedagsaamheid; en (8) regte bepeinsing. Hierdie dinge moet elke deel van ’n mens se lewe vul. Hoewel hy homself as ’n goeie Boeddhis beskou het, het sy rokery, drinkery en ander onwelvoeglike gedrag probleme in sy gesin veroorsaak. Uiteindelik het hy besluit om die Bybel te bestudeer. Niemand het egter aangebied om met hom te studeer nie. Hy het gehoor dat Jehovah se Getuies dit dalk sou doen en het dus ’n vergadering by die Koninkryksaal bygewoon, waar ’n studie gereël is. Een van die getuies met ’n Moslemagtergrond het hom gehelp om te verstaan wat die Bybel leer. Nou het hy uiteindelik die krag van Jehovah gekry om ’n weg van regte beginsels suksesvol te volg. Hy is verheug om as ’n bedieningskneg te dien en probeer om sake so te reël dat hy die pionierdiens kan betree.
Koninkrykswaarheid bloei dus in Sri Lanka, en daar is nou 1 086 Getuies in hierdie pragtige land. Hierdie vermeerdering skep ’n behoefte aan groter takfasiliteite, en ’n geskikte plek word tans gesoek. Die broers bou ook nuwe Koninkryksale. In Puttalam het ’n gemeente wat uit tien gesinne bestaan, besluit om ’n Koninkryksaal te bou, maar dat dit ook groot genoeg vir kringbyeenkomste moes wees. Die saal was betyds klaar vir die kringbyeenkoms, wat deur 107 bygewoon is. Die gemeente het nou feitlik verdubbel, met ’n opkoms van meer as 75 by die vergaderinge wat in Tamil sowel as in Singalees gehou word. En daar is steeds baie plek vir verdere groei.
Bybelprofesieë wat reeds vervul is, wys op die feit dat elke traan van droefheid binnekort van alle oë afgevee sal word, soos God belowe het. Selfs gedagtes aan etniese geweld sal nie meer in die hart opkom nie (Openbaring 21:4; Jesaja 65:17). En op hierdie pragtige “traan”-eiland sal trane van vreugde gestort word wanneer die uitwerking van die vreedsame vrug van God se Koninkryk tot in alle ewigheid geniet word.