Jehovah verlaat nie sy knegte nie
Soos vertel deur Matsoeë Isjii
EK IS byna ’n jaar lank in Sendai, Japan, in eensame opsluiting gehou in ’n baie klein, smerige tronkselletjie wat van die vlooie vervuil was. Gedurende daardie hele tydperk is ek nie toegelaat om te stort of te bad nie. My liggaam was vol sere soos ek deur weeluise gebyt is. My rumatiek was so erg dat ek nie kon sit of staan nie. Ek was net vel en been en het minder as 30 kilogram geweeg, en ek was na aan die dood.
Maar waarom was ek daar? Waarom het die polisie op 21 Junie 1939, om vyfuur die oggend op my deur gehamer en my in hegtenis geneem? Wat het ek gedoen? Daardie tye, byna 50 jaar gelede, was moeilike tye in Japan. Laat ek jou daarvan vertel en van die omstandighede wat my in die tronk laat beland het en hoe ek dit oorleef het.
My jong dae
Ek is in 1909 in die stad Koere, Japan, net 25 kilometer van Hirosjima af, gebore. My ouers het ’n rys- en kimonowinkel bestuur. Ek was nege toe die Spaanse griep ons gebied getref het, en doodskiste met lyke daarin is spoedig rondom die krematorium opgestapel. Ek en my oudste suster het die siekte opgedoen, en ’n week later het sy gesterf. Toe sy so skielik sterf, het ek begin wonder: ‘Waarom sterf mense? Wat gebeur met hulle wanneer hulle doodgaan?’
Vader was ’n ywerige Boeddhis, en ek het die antwoord probeer vind deur na verskeie Boeddhistetempels te gaan. Ek het vir die monnike daar gevra: “Waarom gaan mense dood?”
“Jy hoef nie oor sulke dinge te dink nie”, het hulle geantwoord. “As jy altyd op Boeddha vertrou en jou mantras opsê, sal jy gewis Nirwana bereik en die paradys binnegaan.”
Toe ek 17 was, het ek gehoor van ’n boek wat die Bybel genoem word. Ek het een aangeskaf, maar ek kon dit nie verstaan nie. Later het ek na ’n “Christelike” kerk in die stad Koere begin gaan. Toe ek hoor dat die mens se dood die gevolg van Adam se sonde was, het dit vir my sin gehad, en ek het ’n ywerige kerklidmaat geword.
Destyds het mense in plattelandse dorpe dikwels die mening geuiter: “Yaso-godsdiens [Christelike godsdiens] sal die land verderf”. Aangesien ek die eerste ywerige “Christen” in ons gebied was, het die dorpsmense my daarvan beskuldig dat ek skande oor die dorp bring en my so goed as verplig om die dorp te verlaat. My ouers was baie kwaad vir my.
Ek leer die Bybelwaarheid
In ’n poging om my van my geloof te laat afsien, het Vader gereël dat ek met ’n volslae vreemdeling, Jizo Isjii, ’n ywerige Boeddhis, trou. Sy oudste broer was ’n hoofpriester van ’n Boeddhistetempel. Ek is meegedeel dat Jizo, hoewel hy nie ’n Christen was nie, baie begrip sou toon vir my geloof. Ek het dus na Osaka getrek en op 19-jarige ouderdom met Jizo, wat ’n kleremaker was, getrou. Maar in stryd met wat my vader gesê het, het Jizo my nie toegelaat om kerk toe te gaan nie.
Agter ons huis in Tojo-tsjo, Osaka, was daar ’n huis met ’n uithangbord: “Osaka-tak van die Internasionale Bybelstudentevereniging.” Ek het aangeneem dat dit ’n Christelike groep was en na die huis gegaan.
“Glo jy in die tweede koms van die Here?” het ek die jongman gevra wat na die deur gekom het.
“Christus se tweede koms het in 1914 plaasgevind”, het hy geantwoord.
Ek het verbaas vir hom gesê dat dit onmoontlik was. “Jy moet hierdie boek lees”, het hy gesê en Die harp van God vir my gegee.
Ek het die boek in ’n strooisak vol houtskool weggesteek sodat my man dit nie kon sien nie en het dit gelees wanneer ek ook al kon. Elke feit het my soos ’n weerligstraal getref—net 144 000 gaan hemel toe; Christus is nie deel van ’n Drie-eenheid nie, maar is die eniggebore Seun van Jehovah, die almagtige God; ons leef in die tyd van die einde; en die Spaanse griep wat my suster se dood veroorsaak het, was ’n deel van die vervulling van Bybelprofesie. Ek was daarvan oortuig dat dit die waarheid was waarna ek gesoek het.
My man het uiteindelik uitgevind dat ek ’n Christelike boek lees. Maar toe ek ’n onversetlike standpunt vir my geloof inneem, het by begin wonder of iets bale belangriks hierby betrokke was, en hy het Die harp van God dus self gelees. Ek is die daaropvolgende jaar, op 23 Maart 1929, gedoop, en my man is kort daarna gedoop.
Ons dien as kolporteurs
Ons het die snyerswinkel toegemaak en die werkers ontslaan. Ons het vreugdevol begin om in Osaka van huis tot huis te getuig. In September 1929 het ek Japan se tweede kolporteur, soos voltydse bedienaars toe genoem is, geword, en my man het later ook ’n kolporteur geword. Ons het saam driekwart van Japan gedek, waaronder Osaka, Kioto, Nagoja, Tokio, Sendai, Sapporo, Okajama en die eiland Sjikokoe. Ons het ongeveer ses maande lank in elke plek gebly, ’n woonstel gehuur en ons daarop toegelê om lektuur te versprei.
Ons het lektuur gebruik wat in Japannees beskikbaar was, soos die boeke Die harp van God, Verlossing, Creation, Reconciliation en Government, asook The Golden Age (nou Ontwaak!) en Die Wagtoring. As kolporteurs het ons 180 uur per maand daaraan bestee om van huis tot huis te gaan. Hoewel dit liggaamlik uitputtend was, het dit ons groot vreugde verskaf om Jehovah te dien.
Japannese kolporteurs is destyds nie vir hulle uitgawes vergoed nie, maar het die helfte van die geld wat uit lektuurverspreiding verkry is, as lewensonderhoud ontvang. Dit was nie ’n maklike lewe nie. ’n Medekolporteur het aan disenterie gesterf. Terwyl ek die pasiënt verpleeg het, het ek ook die siekte opgedoen en is ek in die hospitaal opgeneem. Toe ons in Nagoja gedien het, het ’n vuur net langsaan ons woonplek uitgebreek. Ons het net met die klere wat ons aangehad het met die trap van die tweede vloer af gehardloop en nouliks lewendig daarvan afgekom. Die paar besittings wat ons gehad het en die lektuur vir verspreiding het alles in rook opgegaan, en ons is platsak gelaat.
Toe ons in Okojama gedien het, het my man dae lank ’n hoë koors gehad, en daar is vasgestel dat hy longtering het. Tering was toe gewoonlik ’n noodlottige siekte. As die dood onvermydelik was, wou ons na Sapporo op die noordelikste eiland, Hokkaido, gaan om te getuig waar die predikingswerk nog nooit gedoen is nie.
In September 1930 het ons na Hokkaido getrek, waar ek verwag het dat my man sou sterf. Hier was die lug vars en melk en aartappels goedkoop, en my man se gesondheid het geleidelik verbeter. Jehovah het ons nooit verlaat nie, maar het ons met baie vreugde in ons bediening geseën.
Toe ons die eerste keer in Sendai gewerk het, het mnr. Inoue, die president van Tohokoe se Keiserlike Universiteit, my ’n persoonlike onderhoud toegestaan. Hy het die boeke wat ek by my gehad het, aanvaar en het my toe na die ingang vergesel om my te groet. Terwyl ek van huis tot huis getuig het, het ek Bansoei Doi ook ontmoet, ’n bekende letterkundige, wat Homerus se Ilias en Odyssee in Japannees vertaal het. Hy het die boek Creation aanvaar.
Onder diegene wat ons boodskap met waardering aanvaar het, was die Mioera-gesin van Isjinomori. Hagino, die vrou, was 17 jaar oud toe sy ons huis in Sendai besoek het. Nadat ons die hele nag lank die Bybel bespreek het, was sy oortuig daarvan dat ons die waarheid het. Die hele gesin het kort daarna na Tokio getrek, waar Hagino en haar man, Katsoeö, as kolporteurs gedien het. Katsoeö het as ’n getroue Getuie gesterf en Hagino dien Jehovah steeds getrou. Hulle seun, Tsoetomoe, is jare lank al ’n vertaler by die Wagtoringgenootskap se tak in Japan.
Tydelike Betheldiens
In die dertigerjare het ek en my man elke jaar ’n paar maande by die Bethel in Ogikoebo, Tokio, gedien. Destyds het ongeveer 20 mense daar gewerk. Twee raserige drukperse het The Golden Age gedruk. Ek en Jizo het in die Klere-afdeling gewerk. Gedurende die seisoensverandering het kolporteurs beskadigde klere na Bethel gestuur. Ons het dit gewas, reggemaak en gestryk en dan na hulle teruggestuur. Ons het selfs nuwe klere vir kolporteurs gemaak. Wanneer hierdie werk voltooi was, het ons self tot die kolporteurwerk teruggekeer.
Een van my gekoesterde herinneringe van Bethel hou verband met die geskiedkundige streekbyeenkoms in 1931 in Columbus, Ohio, VSA. ’n Broer het ’n kortgolfradio gebou om buitelandse uitsendings op te vang. Ons het die hele dag en die hele nag aan die instemknoppie gestel en desperaat probeer om die byeenkomsprogram op te vang. In die middel van die nag is die stem van die Wagtoringgenootskap se president, J. F. Rutherford, met volle sterkte oorgesein. ’n Broer het onmiddellik begin vertaal. Sodoende het ons die resolusie vir die aanvaarding van die nuwe naam “Jehovah se Getuies” en ook die dawerende applous van goedkeuring gehoor. Hier ver in die Japannese Bethel het ons eenstemmig saam met ons broers in Amerika van vreugde gejuig. ’n Paar minute later het die radioontvangs versleg en kon ons niks meer hoor nie. Maar Jehovah het toegelaat dat ons in hierdie geskiedkundige oomblik deel.
Ons getuig ondanks teenstand
Gedurende die wêreldwye depressie na die Eerste Wêreldoorlog is Japan vinnig deur nasionalisme en militarisme meegesleur. Die keiser is as ’n lewende god beskou teenoor wie alle inwoners onkreukbaarheid moes toon. Maar ons het vir mense gesê: “Daar is net een God.”
“Sê julle dat die keiser nie God is nie?” het hulle geantwoord.
“God se Koninkryk sal ’n wonderlike toekoms bewerkstellig”, het ons verduidelik.
“Wil julle ’n ander heerskappy as dié van die keiser hê?” het hulle gevra. Wat ons ook al gesê het, ons woorde is verdraai, en ons is verraaiers genoem. Die regering het hulle sensuur op ons lektuur verskerp, en ons is meer dikwels deur speurders in burgerdrag agtervolg.
’n Openbare toespraak is gewoonlik een keer per jaar gehou. Hoewel daar slegs ongeveer 20 Getuies in Tokio was, het sowat 500 die toespraak “Die val van die Christelike beskawing” in die stad se Jodobasji-Openbare Saal bygewoon. Polisiemanne het die spreker op die verhoog omring, en as hy iets gesê het wat nie hulle goedkeuring weggedra het nie, het ’n stem gebulder: “Spreker, bly stil!” Dan het die spreker taktvol ’n teks gemeld en dit gelees. Aangesien die Bybel nie verbied was nie, is hy toegelaat om voort te gaan.
Arrestasie en opsluiting
Ongeveer tien jaar nadat ons met die kolporteurwerk begin het, is Jehovah se Getuies op groot skaal in Japan in hegtenis geneem. Op daardie noodlottige oggend van 21 Junie 1939 is ek na die polisiekantoor in Isjinomaki geneem en in ’n donker gevangekamer gesit waar roet van die plafon afgehang het. Ek is kort daarna na Sendai oorgeplaas en in eensame opsluiting geplaas. My man is ook in hegtenis geneem, en ek was tot na die oorlog glad nie met hom in aanraking nie.
Ek het amper ’n jaar lank in daardie smerige sel gelê en het byna gesterf. Ek het later verneem dat die polisie Joenzo Akasji, die opsiener van die Japannese tak, gedurende daardie tydperk ondervra het. Uiteindelik het my ondervraging begin. “Gooi die Bybel op die vloer en trap daarop”, het ’n smalende ondervraer my beveel. Toe het hy vir my Akasji se ondersoekverslag getoon. Ek het eers gedink dat dit ’n skelmstreek was.
“Glo jy in Akasji?” het die ondervraer gevra.
“Akasji is net ’n onvolmaakte mens”, het ek geantwoord. “Solank soos Akasji Bybelbeginsels gevolg het, is Akasji as ’n kneg van God gebruik. Maar aangesien sy verklarings van die Bybel afgewyk het, is hy nie meer my broer nie.” Helaas, Akasji het inderdaad die waarheid verlaat!
Ek is uiteindelik gevonnis en in die Sendai-vrouetronk opgesluit. Ek is weer eens in eensame opsluiting geplaas. Etes, hoewel dit skraps was, is voorsien. Ek is toegelaat om elke oggend 30 minute lank onder toesig van ’n bewaarster te gaan stap. ’n Bewaarster het eenkeer vir my gesê: “As tye beter was, sou jy ons kon leer. Aangesien ons in slegte tye leef, moet jy asseblief geduldig wees.” Haar woorde het my bemoedig.
Japan het intussen oorlog verklaar teen die Verenigde State, en die wêreldtoneel is daardeur oorheers. Aan die einde van 1944, vyf en ’n half jaar na my arrestasie, is ek vrygelaat. In Augustus 1945 is atoombomme op Hirosjima en Nagasaki gegooi, en Japan het die oorlog verloor.
Vanuit duisternis tot in die lig
Ek en my man het na die stad Koere teruggekeer en in die na-oorlogse chaos ’n sukkelbestaan gemaak deur ’n snyerswinkel te bestuur. Voormalige metgeselle was wyd en syd verstrooi, en ons het feitlik heeltemal voeling met hulle verloor. Maar ongeveer vier jaar na die oorlog het ons gehoor dat sendelinge van die Verenigde State af sou kom en dat die Koninkrykswerk in Japan hervat sou word.
My man het ons sesjarige seuntjie, wat ons na die oorlog aangeneem het, saam met hom geneem en die eerste naoorlogse byeenkoms bygewoon, wat in Taroemi, Kobe, gehou is. Dit het vanaf die einde van Desember 1949 tot in die nuwe jaar 1950, geduur. Sedert 1939 het die Koninkrykswerk in Japan ’n duistere tydperk deurgemaak, maar ons is uiteindelik tot in die lig oorgeplaas!
In 1951 het ons gehoor dat Nathan H. Knorr, wat toe die president van die Wagtoringgenootskap was, Japan sou besoek, maar ons het nie die datum geweet nie. Op 27 April 1951, terwyl ons tot middernag toe klere gemaak het, het ons die laaste radionuus vir die dag gehoor. “Mnr. N. H. Knorr, president van die Wagtoring, sal Japan besoek en in die Kijoritsoe-gehoorsaal ’n toespraak hou”, het die omroeper gesê. Die volgende dag het ek op ’n trein geklim en te midde van chaotiese naoorlogse armoede die 900 kilometer na Tokio gereis. Op 29 April het ek na broer Knorr gesit en luister.
Ek was verheug om die aankondiging te hoor dat Die Wagtoring in Japannees weer vir die eerste keer na die oorlog gedruk is. Ek het met die nuwe nommer van 1 Mei 1951 huis toe gegaan. Ek kan aan geen tyd in my hele lewe dink wat ek gelukkiger was nie. “Nou is die werk in Japan amptelik hervat”, het ek gedink, “en net soos voorspel is, sal Jehovah se werk vermeerder, een sal duisend word.”
Ons het sedertdien volle omgang met Jehovah se organisasie geniet. In Augustus 1951 het broer Adrian Thompson ons vir die eerste keer as kringopsiener besoek. Vergaderinge is begin, en die eerste twee spesiale pionierbroers in Japan is na die stad Koere aangewys. Die gemeente het geleidelik gegroei, en my man het as gemeentekneg gedien.
Wat het met die sowat 130 Getuies in vooroorlogse Japan gebeur? Die slegte voorbeeld van Joenzo Akasji, die takopsiener, het ’n traumatiese uitwerking op talle gehad. ’n Paar het hom gevolg, ander is wyd en syd verstrooi, en sommige het klaarblyklik gedurende die vervolging gesterf. Ongeveer twaalf het bedrywig in Jehovah se diens gebly, en sommige is steeds met ’n mate van gesondheid geseënd en dien Jehovah ywerig.
Namate my gesondheid verbeter het, het ek ’n paar jaar lank as ’n gewone pionier gedien. Toe my man 71 jaar oud was, het hy ’n ontsaglike hoeveelheid bloed opgebring en is hy inderhaas na die hospitaal geneem. Die dokters het gelukkig sy besluit om nie ’n bloedoortapping te aanvaar nie eerbiedig. Hoewel hy aansienlik herstel het, het hy ses maande later gesterf. Ons aangenome seun, Kozo, was jare lank ’n spesiale pionier en is nou ’n Christen- ouere man.
As ek terugkyk, lyk dit vir my asof die meeste van diegene wat ten opsigte van vermoë en intellek voor die oorlog uitgeblink het God se organisasie verlaat het toe groot druk op hulle uitgeoefen is. Miskien het hulle op hulle eie vermoëns staatgemaak. Diegene wat getrou gebly het, het geen uitsonderlike vermoëns gehad nie en was onopvallend. Ons almal moet gewis altyd met ons hele hart op Jehovah vertrou.—Spreuke 3:5.
Uiteindelik sal die “groot verdrukking” gewis aanbreek (Mattheüs 24:21). Ons sal moontlik dan voor beproewinge te staan kom wat die voriges nietig sal laat lyk. Dit sal miskien nie so maklik wees om hulle te verduur as wat ons dink nie. Maar as ons werklik op Jehovah vertrou, hom waarlik liefhet en in ons hart om sy hulp roep, sal hy, net soos hy my nie verlaat het nie, sy knegte wat daarna streef om hom getrou te dien, nie verlaat nie.—Psalm 37:25.
[Prent op bladsy 23]
Ek het met Jizo lsjii, wat vir my ’n volslae vreemdeling was, getrou
[Prent op bladsy 25]
Toe broer Knorr Japan in 1951 besoek het, het hy sendelinge en byeenkomste in Tokio, Nagoja en Kobe (hierbo) bedien