Deel 6—Die sesde wêreldmoondheid—Rome
Die Romeinse ryk het geheers toe die Christelike godsdiens begin het. ’n Beter kennis van eertydse Rome sal jou help om te verstaan onder watter omstandighede Jesus gepreek en watter klimaat geheers het terwyl sy vroeë volgelinge die Christelike geloof dwarsdeur die destyds bekende wêreld versprei het.
ROME, die sesde wêreldmoondheid van Bybelgeskiedenis, het geheers toe Jesus gebore is en toe sy apostels gepreek het. Griekeland, die voorafgaande wêreldmoondheid, het ’n internasionale taal voorsien waarmee die Christelike leer dwarsdeur daardie deel van die wêreld verkondig kon word—die Koine-, of gewone, Grieks. Toe het Rome die paaie voorsien wat tot die vinnige verspreiding van Christelike waarheid bygedra het.
Rome, wat eens ’n stadjie in Latium, Italië, was, het gegroei en het die aanvoerder van die grootste wêreldryk van Bybeltye geword. Vereers het dit uitgebrei en die Italiaanse skiereiland beheer. Dit het magtige Carthago aan die noordkus van Afrika verslaan. Spanje, Macedonië en Griekeland het onder sy beheer gekom. Toe het hy Jerusalem in 63 v.G.J. verower en Egipte in 30 v.G.J. ’n Romeinse provinsie gemaak. Hierdie magtige ryk het op sy hoogtepunt gestrek van Brittanje tot by Egipte en van Portugal tot by Mesopotamië, die land van eertydse Babilon, aan die oorkant. Die Middellandse See, wat Mare Nostrum (Ons See) genoem is, is geheel en al daardeur omring.
Talle Romeinse ruïnes kan steeds dwarsdeur die hele gebied besoek word wat deur daardie wydgestrekte ryk beslaan is. Jy kan Hadrianus se Muur in Brittanje, die manjifieke akwaduk by Segovia in Spanje, die Romeinse teater by Orange en die arena in Arles (beide in Suid-Frankryk) sien. Jy kan deur die stil ruïnes van Ostia Antica, naby Rome, loop en jou oor eertydse Pompeji, suid van Napels, verwonder. In Rome kan jy jou die opgewonde skares in die Kolosseum voorstel en die Titusboog sien wat as gedenkteken dien van hoe hy Jerusalem en sy tempel in 70 G.J. vernietig het, soos meer as 35 jaar vooruit deur Jesus voorspel is.
In eertydse Rome het die welgesteldes groot huise gehad, en soms honderde slawe. Die armes was saamgedring in huiseenhede met talle verdiepings wat langs vuil, krom strate gestaan het. Baie min mense kon middelklas genoem word. Die Staat het ’n graantoelaag en vermaak gratis voorsien om te verhoed dat die armes oproerig raak. Belasting wat op die provinsies gehef is, het hierdie uitgawes betaal.
Die Romeinse leër
Die beroemde Romeinse leër het uit ’n aantal legioene bestaan. Elke legioen, wat uit 4 500 tot 7 000 man saamgestel was, was op sigself ’n volledige leër. Die bevelhebber daarvan was alleenlik teenoor die keiser aanspreeklik. ’n Legioen is in 60 centurieë verdeel wat gewoonlik uit honderd man elk saamgestel is. Die centurie was onder die aanvoering van ’n centurio, wat in die Afrikaanse Bybel ’n “hoofman oor honderd” genoem word. Dit was ’n centurio wat bevel gevoer het oor die vier soldate wat Jesus doodgemaak het en wat gesê het, nadat hy die omstandighede en wonderdadige verskynsels aanskou het wat met Jesus se dood gepaard gegaan het: “Waarlik, Hy was die Seun van God” (Mattheüs 27:54; Johannes 19:23). Dit was ook ’n centurio, Cornelius, wat die eerste onbesnede nie-Jood was wat ’n Christen geword het.—Handelinge 10:22.
Die legioene het vaandels gehad, waarskynlik beelde of simbole van hout of metaal, wat ’n soortgelyke doel gehad het as die hedendaagse vlae. Hulle is as heilig beskou, en mense het dit met hulle lewens bewaak. Die Encyclopædia Britannica sê: “Die Romeinse vaandels is met godsdienstige verering in die tempels van Rome bewaak. Dit was nie buitengewoon dat ’n generaal die bevel sou gee dat ’n vaandel onder die geledere van die vyand ingegooi moet word nie, om die ywer van die soldate aan te vuur deur hulle aan te spoor om wat vir hulle die heiligste ding op aarde was, te herwin.”
Romeinse paaie en titels
Rome het sy onderhorige nasies tot ’n wêreldryk saamgesmee. Dit het paaie voorsien om alle dele van hierdie ryk bereikbaar te maak. En die mense het gereis! Kyk net na die lys van plekke waarvandaan mense gekom het wat in 33 G.J. vir die Pinksterfees na Jerusalem gekom het. Hulle was van Medië in die verre noordooste, van Rome en Noord-Afrika in die verre weste, en van talle plekke tussenin.—Handelinge 2:9-11.
Talle van die weë wat deur Romeinse padbouers aangelê is, word vandag steeds gebruik. Jy kan, suid van Rome, met die eertydse Appiese Weg langs ry, waarlangs die apostel Paulus self Rome binnegegaan het (Handelinge 28:15, 16). Daar is gesê dat die Romeinse paaie “fasiliteite vir landreise voorsien het wat nie oortref is tot die koms van die treinspoor nie”.—The Westminster Historical Atlas to the Bible.
Wat die bestuur van hulle wydgestrekte ryk betref, het die Romeine dikwels plaaslike gewoontes behou. Gevolglik het owerhede in verskillende gebiede baie verskillende name of titels gehad. In Modern Discovery and the Bible sê A. Rendle Short dat selfs “die erkende Romeinse geskiedskrywers” nie sou probeer om “al hierdie burgery hulle korrekte name te gee nie”. Maar hy sê dat die Bybelskrywer Lukas wat dit betref “altyd daarin slaag om volmaak akkuraat te wees”. Lukas noem Herodes byvoorbeeld ’n “tetrarg”, Herodes Agrippa ’n “koning”, Thessaliese amptenare “politarge” en Sergius Paulus, goewerneur van Ciprus, “prokonsul”. (Lukas 3:1; Handelinge 25:13; Handelinge 17:6; Handelinge 13:7; kyk voetnote in NW-naslaanuitgawe.) Soms was dit net ’n muntstuk of inskripsie wat hier of daar gevind is wat bevestig het dat hierdie Bybelskrywer die regte titel op die regte tyd gebruik het. Sulke sorg en akkuraatheid is ’n bykomende bewys van die getrouheid waarmee die Bybel die geskiedkundige feite oor die lewe en tye van Jesus Christus weergee.a
Die ryk en die Christelike godsdiens
’n Florerende Christengemeente het in Rome bestaan. Dit is waarskynlik gestig deur diegene wat na Rome teruggekeer het nadat hulle die Christelike godsdiens op Pinkster 33 G.J. in Jerusalem aanvaar het (Handelinge 2:10). Die Bybelboek Romeine is om en by 56 G.J. aan hierdie gemeente geskryf. Paulus het later as ’n gevangene na Rome gekom, en hy het twee jaar lank deeglik getuig vir mense wat sy huis van bewaring besoek het. Sodoende het lede van die keiserlike lyfwag die Koninkryksboodskap gehoor, en selfs lede van “die keiserlike huis” het Christene geword.—Filippense 1:12, 13; 4:22.
Gewoontes, wette en regulasies van die Romeinse ryk word dikwels in die Bybel gemeld. Augustus se bevel het Josef en Maria na Betlehem laat gaan, waar Jesus gebore is. Jesus het bevestig dat dit gepas is om die belasting te betaal wat die keiser geëis het. Joodse priesters het voorgegee dat hulle lojaal aan die keiser is sodat hulle Jesus kon laat doodmaak. En onder die Romeinse wet het die Christenapostel Paulus hom op die keiser beroep.—Lukas 2:1-6; 20:22-25; Johannes 19:12, 15; Handelinge 25:11, 12.
’n Romeinse soldaat se wapenrusting—sy helm, borsplaat, skild, geskoeide voete en swaard—is gebruik om die waarde te illustreer van waarheid, die hoop op verlossing, geregtigheid, geloof, die verkondiging van die goeie nuus en God se Woord as verweermiddele wat ons help om staande te bly teen Satan se aanvalle (Efesiërs 6:10-18; 1 Thessalonicense 5:8). Paulus het die voorbeeld van ’n goedgedissiplineerde Romeinse soldaat gebruik toe hy vir Timotheüs gesê het dat hy “’n goeie krygsman van Jesus Christus” moet wees (2 Timotheüs 2:3, 4). Maar die Christen se oorlogvoering was geestelik, nie vleeslik nie. Vroeë Christene het dus geweier om in die Romeinse leër te dien. Justinus Martyr (110-165 G.J.) het gesê dat die Christelike godsdiens “ons oorlogswapens verander het—ons swaarde in ploegskare en ons spiese in landbougereedskap”. Talle Christene het hulle lewe verloor omdat hulle geweier het om militêre diens te doen.
Die keisers
Rome het die hoogtepunt van sy glorie onder die keisers, of Caesars, bereik. Dit sal goed wees om sleutelfeite oor ’n paar van hulle te hersien, aangesien hulle by Bybelgeskiedenis betrokke was.
In 44 v.G.J. is Julius Caesar vermoor. Oktavianus het uiteindelik alleenheerser geword. In 30 v.G.J. het Oktavianus Egipte onderwerp, en sodoende ’n einde gemaak aan die Grieks-Ptolemeïese koninkryk aldaar. Dit het die Griekse wêreldmoondheid wat sedert die tyd van Alexander die Grote, 300 jaar tevore, bestaan het finaal tot ’n val gebring.b
In 27 v.G.J. het Oktavianus keiser geword. Hy het die titel “Augustus” aangeneem wat “verhewe, heilig” beteken. Hy het ’n maand na homself hernoem en ’n dag van Februarie geleen sodat Augustus soveel dae sou hê soos die maand wat na Julius Caesar vernoem is. Augustus was keiser toe Jesus gebore is, en hy het tot 14 G.J. geheers.—Lukas 2:1.
Tiberius, Augustus se opvolger, het vanaf 14 tot 37 G.J. geheers. In die 15de jaar van Tiberius se heerskappy het Johannes die Doper begin preek. Dit was ook gedurende sy heerskappy dat Jesus gedoop is, sy bediening van drie en ’n half jaar uitgevoer en sy lewe as ’n losprys geoffer het. Hy het steeds geheers toe Jesus se volgelinge begin het om die Christelike godsdiens dwarsdeur die destyds bekende wêreld te verkondig.—Lukas 3:1-3, 23.
Gaius, wat die bynaam Kaligula gekry het, het van 37 tot 41 G.J. geheers. Claudius (41-54 G.J.) het hom opgevolg en die Jode uit Rome verdryf, soos Handelinge 18:1, 2 meld. Hy is later deur sy vrou vergiftig, en haar jong seun Nero het die troon bestyg. ’n Groot brand het in Julie 64 G.J. dwarsdeur Rome gewoed en ongeveer ’n kwart van die stad vernietig. Die geskiedskrywer Takitus sê dat Nero, om hom van enige verdenking te onthef, die blaam vir die vuur op die Christene gewerp het, en hulle is toe “deur honde verskeur en doodgemaak” en “tot die vlamme gedoem en verbrand om snags wanneer die son ondergegaan het, lig te voorsien. Nero het sy tuine vir hierdie skouspel aangebied.” Gedurende hierdie vervolging is Paulus, wat van Jerusalem tot in Rome en miskien selfs tot in Spanje gepreek het, weer gevange geneem. Hy is waarskynlik omstreeks 66 G.J. deur Nero om die lewe gebring.
Ander Romeinse keisers in wie ons belangstel, is onder meer Vespasianus (69-79 G.J.) tydens wie se bewind Titus Jerusalem vernietig het, Titus self (79-81 G.J.) en Titus se broer Domitianus (81-96 G.J.), wat die amptelike vervolging van Christene laat herleef het. Volgens oorlewering was dit gedurende hierdie vervolging dat die bejaarde apostel Johannes na die strafeiland Patmos verban is. Daar het hy die opwindende gesig ontvang oor die einde van hierdie goddelose mensestelsels en hulle vervanging deur God se regverdige, hemelse Koninkryk, wat Johannes in die Bybelboek Openbaring opgeteken het (Openbaring 1:9). Johannes is blykbaar gedurende die bewind van die volgende keiser, Nerva, 96-98 G.J., vrygelaat, en sy evangelie en drie briewe is voltooi nadat Trajanus (98-117 G.J.) begin heers het.
Verval van die Romeinse ryk
In die vierde eeu het keiser Konstantyn besluit om die volk onder een “Katolieke”, of universele, godsdiens te verenig. Heidense gewoontes en feesvieringe het “Christelike” name gekry, maar dieselfde ou verdorwenheid het voortgeduur. In 325 G.J. was Konstantyn voorsitter by die Konsilie van Nicea en het hy ten gunste van die Drie-eenheidsleerstelling besluit. Konstantyn, wat allesbehalwe ’n ware Christen was, het spoedig ’n rede gevind om sy oudste seun, Crispus, en sy eie vrou, Fausta, te vermoor.
Konstantyn het sy regering na Bisantium verskuif, wat hy eers Nuwe Rome en later Konstantinopel (Stad van Konstantyn) genoem het. Hierdie stad aan die Bosporus, waar Europa en Asië bymekaarkom, het 11 eeue lank die hoofstad van die Romeinse Ryk in die ooste gebly, totdat dit in 1453 deur die Ottomaanse Turke verower is.
In Rome het die westelike vleuel van die Romeinse Ryk in 476 G.J. geval, toe die keiser deur koning Odoaker, ’n generaal van Duitse afkoms, onttroon is, en die troon is onbeset gelaat. Karel die Grote het later probeer om die westelike ryk te herstel, en hy is in die jaar 800 G.J. deur pous Leo III as keiser gekroon. Toe, in 962 G.J., het pous Johannes XII Otto I as keiser van die Heilige Romeinse Ryk van die Duitse nasie gekroon—’n titel wat eers in 1806 verwerp is.
Maar teen daardie tyd het ’n sewende en laaste wêreldmoondheid van Bybelgeskiedenis begin verrys. Soos voorspel is, sou dit ook verbygaan en deur ’n permanente regering, God se hemelse Koninkryk, vervang word.—Openbaring 17:10; Daniël 2:44.
[Voetnote]
a Kyk “All Scripture Is Inspired of God and Beneficial”, bladsye 340, 341.
b Die engel kon gevolglik gedurende Rome se heerskappy van hierdie wêreldmoondhede sê: “En hulle is sewe konings: vyf het geval [Egipte, Assirië, Babilon, Medo-Persië en Griekeland], en een is [Rome]; die ander een [Anglo-Amerika] het nog nie gekom nie.”—Openbaring 17:10.
[Kaart op bladsy 26]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Die omvang van die Romeinse ryk
Atlantiese Oseaan
BRITTANNIA
GALLIË
SPANJE
ITALIË
Rome
GRIEKELAND
Middellandse See
Swart See
Kaspiese See
EGIPTE
Jerusalem
Tigris
Eufraat
[Prent op bladsy 28]
Die Appiese weg waarlangs Paulus op pad na Rome gereis het