Kan jy as ’n pionier jou gebied uitbrei?
JESUS CHRISTUS het eenkeer gesê: “Ek moet aan die ander stede ook die evangelie van die koninkryk van God bring, want daarvoor is Ek gestuur” (Lukas 4:43). Jesus was sonder twyfel die vernaamste Koninkryksverkondiger, ’n ware pionier in die heilige diens van Jehovah.
Die apostel Paulus was, soos Jesus, ’n voltydse bedienaar wat intens in die evangelisasie belanggestel het. Trouens, hy het ’n sterk begeerte gehad om sy gebied uit te brei.—Vergelyk Romeine 15:23, 24, NAV; 2 Korinthiërs 10:15, 16.
Talle van Jehovah se hedendaagse getuies het hulle ongetwyfeld met ’n soortgelyke gees beskikbaar gestel om as sendelinge in vreemde lande te dien. Ander Christenbedienaars dien waar daar hulp nodig is. En baie ander het gevind dat dit moontlik is om pioniers, voltydse predikers van die goeie nuus, te word.
Maar wat van jou? Kan jy, as jy nie nou as ’n pionier dien nie, as ’t ware jou gebied uitbrei deur so ’n voltydse Koninkryksverkondiger te word?
Voordele van die pionierdiens
Ywerige en bekwame pioniers word nie beweeg deur eiebelang nie, maar deur liefde vir God en die begeerte om ander te help. Sulke voltydse bedienaars is terdeë bewus van die nodigheid om God se Woord in hulle lewe toe te pas en is bly dat hulle die voltydse diens kan betree. En daar is voordele daaraan verbonde.
Een voordeel van die pionierdiens is dat jy ‘elke dag die goeie nuus van redding deur Jehovah kan vertel’ (Psalm 96:2, NW). Dit verskaf inderdaad genoegdoening om gereeld oor God en sy voornemens te praat, veral aangesien dit ander help om die weg tot die lewe te betree. “Niks verskaf groter vreugde as om die Bybel met iemand te bestudeer en te sien hoe hy ’n aanbidder van Jehovah word nie”, het ’n suster gesê wat al 46 jaar in die pionierdiens is.
’n Voordeel wat spruit uit die gereelde gebruik van die Bybel in die pionierdiens is dat jy ‘die swaard van die gees, God se woord’, met groter vaardigheid hanteer (Efesiërs 6:17). Baie pioniers voel soos volg: “Die pionierdiens het my nie net meer moed gegee nie, dit het my ook gehelp om vertroud te raak met talle Bybeltekste wat ek gememoriseer het, gereed vir gebruik.”
Die heilsame invloed van die pionierdiens kan ook in die gemeente waargeneem word. Een ouere man het hieromtrent geskryf: “Wat ’n verskil het dit tog gemaak! Die gemeente se pas het verander. Die neiging is om ons deelname aan Jehovah se diens al hoe meer uit te brei.” Ja, die ywerige voorbeeld van pioniers kan ander aanspoor.
Deelname aan die pionierdiens bring ook groter vertroue in Jehovah mee. Voltydse bedienaars moet natuurlik probleme te bowe kom. Maar een pionieregpaar het hulle vertroue soos volg uitgespreek: “Danksy Jehovah het ons nooit iets kortgekom nie. As pioniers het ons geleer om op Jehovah te steun en gesien hoe hy hulp verleen wanneer ons dit die nodigste het.”—Psalm 34:11; 37:25.
Die pionierdiens bring seëninge
‘Beproef My tog hierin of Ek nie die vensters van die hemel sal oopmaak en ’n seën op julle sal uitstort nie’, het Jehovah eeue gelede gesê (Maleagi 3:10). Gedurende die 1984-diensjaar was daar wêreldwyd gemiddeld 258 936 pioniers. En hoe het Jehovah tog nie hierdie voltydse bedienaars geseën nie!
Kyk byvoorbeeld na die seëninge wat pioniers in die Amasone-gebied van Brasilië ontvang. Bote word gewoonlik gebruik om die wydverspreide dorpies aan die rivieroewers te bereik. Sommige gehuggies is in die rivierbeddings geleë en die houthuise is op stelte gebou sodat hulle gedurende die vloedseisoen bo die water is. Hierdie huise word verbind deur ruwe houtbruggies, wat soms baie wankelrig is, veral vir swaar persone. Wanneer die water laag is, is dit moeilik om die huise deur die bosgasie of langs die modderige rivierbedding te bereik. Dit kan heel avontuurlik wees om met ligte kano’s te reis, want hulle slaan soms om. Voeg daarby die probleme weens malaria, ingewandskoors, parasitêre wurms, die ontsettende hitte en krioelende insekte. Ondanks hierdie moeilikhede help Jehovah se gees egter ons broers om die goeie nuus in sulke gebiede te verkondig.—Sagaria 4:6.
Een pioniersuster wat in die Amasone-gebied dien, het gesê: “Ons werk was uiters bevredigend.” Sy het ’n goeie ondervinding vertel van ’n herbesoek wat sy by ’n sekere man gedoen het wat voorheen van ons lektuur aanvaar het. Sy moes twee uur per boot reis, maar toe sy daar aankom, was die man besig om kassawemeel in ’n groot oond te rooster. Hy kon nie ophou nie anders kon die meel brand. Wat kon sy dus doen? Wel, die pionier het haar maat gevra om voort te gaan om die meel met die groot houtskep te roer. Die man kon dus aandagtig luister terwyl die pionier gedemonstreer het hoe om die publikasie wat hy bekom het te bestudeer.
Ons broers wat in hierdie gebied werk, staan dikwels voor dagbreek op om die mense se huise te bereik terwyl dit nog vroeg is. Die pioniers getuig dan dwarsdeur die dag. En hoe ryklik seën Jehovah hulle tog!—Spreuke 10:22.
Elders in Brasilië geniet pioniers ook talle seëninge in Jehovah se diens. Stel jou byvoorbeeld die vreugde voor van die pionier wat ’n prisonier kon help om die waarheid te leer. Hierdie man, wat eens gevrees is weens sy verskriklike humeur, het ’n lang tronkvonnis uitgedien. Toe hy die waarheid aanvaar het, het sy persoonlikheid egter so verander dat dit die tronkbeamptes beïndruk het en hulle hom toestemming verleen het om in die strafgevangenis te preek. Die man, wat nou gedoop is, is op proef en hou etlike tuisbybelstudies.
Hierdie pionier kon ook ander in dieselfde strafgevangenis help. Hy sê omtrent hierdie werk: “Dit verskaf my groot vreugde, want die saad wat ek kon saai, het reeds ontkiem en vrug gedra.” Minstens vier mans wat uit die tronk vrygelaat is, woon nou gereeld Christenvergaderinge by. Vier ander neem die waarheid ernstig op, en een van hulle berei hom vir doop voor.
Die gebied is groot
Die voortdurende vermeerdering in die geledere van Jehovah se aanbidders is tasbare bewys dat God nog baie mense dwarsdeur die wêreldwye gebied moet insamel. (Vergelyk Handelinge 18:9, 10.) Kan jy ’n groter aandeel in hierdie dissipelmaakwerk hê?
As jy nog nie ’n pionier is nie, kan jy gerus met diegene praat wat welslae in die voltydse diens behaal. Jy kan dalk ook ’n pionier wees. Miskien kan jy, nadat jy jou omstandighede biddend ondersoek het, as ’n pionier jou gebied uitbrei.
[Prent op bladsy 26]
Kano’s en groot roeibote is pioniers in die Amasonegebied se algemeenste vervoermiddel