Wees getrou aan God „wat sien wat verborge is”
„Bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.”—Mattheüs 6:6, NAV.
1, 2. Lig toe hoe oënskynlik private sake rugbaar kan word (1 Samuel 21:7; 22:9).
PAAR jaar gelede het een van Jehovah se Getuies haar broer in Long Island, New York, gebel. Aangesien hy tot ’n ander geloof behoort het, het sy hom vertel van God se belofte om goddeloosheid van die aarde te verwyder en paradystoestande te herstel. Toe haar broer aan die einde van die gesprek afbel, was sy verbaas om ’n stem te hoor sê: „Wag ’n bietjie, ek wil jou iets vra.”
2 Dit was die telefoniste. Ofskoon dit oneties en teen die maatskappy se beleid was, het sy ingeluister, iets wat destyds met die telefoontoerusting moontlik was. Die Getuie was bly dat haar woorde sulke belangstelling gewek het, en sy het reëlings vir ’n besoek getref, maar sy was verbaas dat haar gesprek nie privaat was nie. Ja, ander sien en hoor soms dinge wat ons dink verborge is.—Prediker 10:20.
3. In watter opsig word Christene altyd dopgehou?
3 Dit behoort nie groot probleme te skep vir ware Christene wat probeer om te alle tye aan God getrou te wees nie. Die apostel Paulus het gesê: „Ons het ’n skouspel geword vir die wêreld, vir die engele sowel as vir die mense” (1 Korinthiërs 4:9). Hy het verwys na ’n gebruik in die arena van die gladiators. Voor die laaste nommer het die Romeine diegene wat sou veg en waarskynlik sterf ongekleed vertoon. Christene word vandag ook deur ongelowige familielede, werkmaats, bure en skoolmaats dopgehou. Die waarnemers vorm ’n goeie of ’n slegte opinie van die Christelike godsdiens op grond van wat hulle in ons sien.—1 Petrus 2:12.
4. Watter uitwerking kan dit op ’n persoon hê as hy weet dat ander hom dophou?
4 Wanneer ons weet dat ander ons sien, is ons miskien geneig om te doen wat van ons verwag word, en voel soos Paulus: „Ons lê nie die minste hindernis in die weg nie, sodat die bediening nie beklad mag word nie” (2 Korinthiërs 6:3). Die wete dat ander ons sien, kan ons voorneme om te doen wat reg is, versterk. Maar gestel ons kom in ons privaat lewe voor ’n toets van Christenbeginsels te staan.
Hy sien verder as die uiterlike
5. Watter teenstelling was daar in die openbare en private lewens van Joodse leiers?
5 Baie Joodse godsdiensleiers in die eerste eeu was een soort persoon uiterlik en ’n ander soort persoon innerlik. Jesus het in die Bergpredikasie gewaarsku: „Pas op dat julle nie jul liefdadigheid voor die mense bewys om deur hulle gesien te word nie” (Mattheüs 6:1, 2). Die godsdiensleiers was soos bekers wat buite skoon, maar ,binnekant vol roof en onmatigheid’ was, soos „gewitte grafte wat van buite wel fraai lyk, maar van binne vol doodsbene en allerhande onreinheid is”.—Mattheüs 23:25-28; vergelyk Psalm 26:4.
6. Wat kan Jehovah omtrent ons sien?
6 Daardie woorde behoort ons te laat besef dat Jehovah in meer belangstel as wat moontlik deur ander mense gesien word. Jesus het vermaan: „As jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon” (Mattheüs 6:6, NAV). Ja, God kan ons gebede hoor wanneer ons afgesonder is van ander mense. Daar is niks wat hy nie kan sien nie. Hy kan die embrionale vorming van die persoon sien, en lees miskien die genetiese inligting wat later die individu se eienskappe sal vorm (Psalm 139:15, 16; Genesis 25:23). Hy kan selfs die geheime neigings van ons hart lees (1 Samuel 16:7; 1 Konings 8:39; Jeremia 17:10; Handelinge 1:24). Kom ons kyk hoe hierdie feite ons behoort te raak.
7. Waarin kan ’n Christen moontlik verbeter?
7 Om ware Christene te word, moes ons soos die vroeë Christene hard werk om ernstige foute en sondes te bowe te kom (1 Korinthiërs 6:9-11; Handelinge 26:20; 1 Petrus 4:1-4). Maar wat van foute waarvan ander mense nie weet nie? Die feit dat hierdie foute nie algemeen bekend is nie, maak hulle nie minder belangrik nie. Dit word aangedui deur Dawid se woorde: „Hy wat heimlik van sy naaste kwaad spreek, hom sal ek vernietig; hy wat hoog van oë is en trots van hart, hom verdra ek nie” (Psalm 101:5). Al word dit in die geheim gedoen, aan net een toehoorder, is laster verkeerd. Dawid het dus nie hierdie ,geheime’ sonde goedgekeur nie.
8. Hoe weet ons dat Jehovah verborge sonde raaksien?
8 Die oortreder moet homself ook nie mislei deur te dink dat God „wat sien wat verborge is” nie die fout sal raaksien nie. God het gewys dat hy daarin belangstel dat mense getrou is selfs wanneer hulle dade nie algemeen bekend is nie. Dink aan die geval van Agan. Die Israeliete moes Jerigo en sy inwoners, goddelose Kanaäniete, vernietig. Slegs die silwer, goud en koper is uitgesluit, daar dit bestem was vir die skat van God se heiligdom (Josua 6:17-19). Maar Agan het voor die versoeking geswig en ’n duur mantel, silwer en goud geneem. Hy het dit onder sy tent weggesteek, en moontlik gemeen dat niemand sou weet nie. Maar het hy die Een „wat sien wat verborge is”, bedrieg? Nee, God het toegesien dat Agan se sonde openbaar gemaak is, en dit het vir hom en sy huisgesin die dood beteken.—Josua 7:1, 16-26.
9. Wat moet ons doen om God se goedkeuring te verkry en te behou?
9 Elihu het hierdie insiggewende kommentaar oor Jehovah gemaak: „Want sy oë is op die weë van die mens, en Hy sien al sy voetstappe. Daar is geen duisternis en daar is geen diepe donkerheid waarin die werkers van ongeregtigheid hulle kan wegsteek nie” (Job 34:21, 22). As ons dan Jehovah God se goedkeuring wil verkry en behou, moet ons volgens sy beginsels probeer lewe wanneer ons weet dat ander ons sien asook wanneer ons gedrag skynbaar verborge is. Sy oë is te alle tye „op die weë van die mens”.
10. (a) Watter goeie voorbeeld het Paulus gestel waar dit by geheime gedrag kom? (b) Die moontlikheid van verborge foute op watter gebiede verdien ons aandag?
10 ’n Christen ondergaan dalk ’n toets wat verborge is vir mede-aanbidders. Dit het met Paulus gebeur terwyl hy in die tronk was. Die Jode het hom daarvan beskuldig dat hy „’n verwekker van oproer” is en ,die tempel probeer ontheilig’ het (Handelinge 24:1-6). Paulus het sy onskuld verdedig voor Romeinse goewerneur Felix, wat geskiedskrywers sê wreed en onsedelik was. Felix het Paulus in die tronk laat aanhou in die ,hoop dat Paulus aan hom geld sou gee’ (Handelinge 24:10-21, 26). Hoewel die apostel die Bybel se vermaning teen die gee of aanvaar van omkoopgeskenke om die reg te verdraai geken het, kon hy geredeneer het dat omkoopgeld ’n gerieflike manier sou wees om sy vryheid te verkry. Aangesien ander nie van die omkoopgeld sou weet nie, was dit nie vir Paulus nodig om hom te bekommer dat hy ander sou laat struikel nie (Exodus 23:8; Psalm 15:1, 5; Spreuke 17:23). Maar Paulus het nie so geredeneer nie. Baie van Jehovah se volk het in hedendaagse tye voor ander toetse te staan gekom, soos die in verband met God se wet op bloed, selfbevlekking en die misbruik van sterk drank. Kom ons kyk hoe jy of jou dierbares voor sulke toetse te staan kan kom.
Gehoorsaamheid ten opsigte van bloed
11. Wat is die grondslag vir die Christelike standpunt oor die gebruik van bloed?
11 God se wet op bloed is beslis nie nuut of onduidelik nie. Deur middel van ons gemeenskaplike voorouer Noag het Jehovah die hele mensdom beveel: „Net die vleis met sy siel, met sy bloed, mag julle nie eet nie” (Genesis 9:4). Die heiligheid van bloed, wat die lewe van God af verteenwoordig, is in die Mosaïese Wet beklemtoon. Bloed kon op die altaar gebruik word, maar andersins moes dit ,soos water op die grond uitgegooi word’ (Levitikus 17:11-14; Deuteronomium 12:23-25). Het hierdie verbod teen die behoud van lewe deur bloed van krag gebly nadat die Mosaïese Wet geëindig het? Beslis. By wat sommige die eerste Christelike raadsvergadering sou noem, het die apostels en ouere manne (wat die bestuursliggaam uitgemaak het) besluit dat Christene hulle moet ,onthou van afgodediens, van hoerery en van wat verwurg is [wat bloed in het] en van bloed’. Die misbruik van bloed was net so ’n ernstige sedemisdryf soos ongeoorloofde geslagsomgang.—Handelinge 15:20, 21, 28, 29.
12. Watter standpunt het die vroeë Christene ten opsigte van bloed ingeneem?
12 Die vroeë Christene het God se wet op bloed gehoorsaam. Ofskoon sommige mense destyds die bloed van gladiators as ’n „genesing” vir epilepsie gedrink het, het ware Christene dit nie gedoen nie. Hulle het ook nie voedsel geëet wat bloed bevat het nie, al het hulle weiering vir hulle en hulle kinders die dood beteken. Sedertdien het verskeie teoloë en ander erken dat Christene onder God se wet is wat mense verbied om die lewe deur die inname van bloed te onderhou.
13. Watter verkeerde beskouing het party dokters en beamptes wanneer dit by ons standpunt oor bloed kom?
13 In die afgelope tyd het bloedoortappings ’n gewilde mediese middel geword. Die Christen kan dus voor ’n toets in verband daarmee te staan kom. Dokters, verpleegsters en selfs familielede dring dalk by hom daarop aan om bloed te aanvaar. Ingeligte persone weet natuurlik dat oortappings op sigself groot gevaar inhou. Die tydskrif Time (5 November 1984) het gesê dat „ongeveer 100 000 Amerikaners elke jaar hepatitis deur middel van bloedoortappings opdoen”, hoofsaaklik weens „’n geheimsinnige virus wat slegs deur ’n uitskakelingsproses geïdentifiseer kan word”. Time het ook berig dat daar meer as 6 500 gevalle van VIGS (verworwe immuniteitsgebreksindroom) is, waarvan sommige „oortappingsverwante gevalle is”. Die berig het gesê: „Feitlik die helfte slagoffers het gesterf, ofskoon die uiteindelike sterftesyfer moontlik 90% of hoër sal wees.” Jehovah se Getuies se weiering berus natuurlik nie op die feit dat bloed slegte mediese behandeling is nie. AI kon dokters ons die versekering gee dat ’n oortapping heeltemal veilig sou wees, beveel God se Woord ons om ons ,van bloed te onthou’.—Handelinge 21:25.
14. (a) Waarom sal jy dalk voor ’n toets in verband met bloed te staan kom? (b) Watter hoofrede vir Christene se weiering van bloed moet ons in gedagte hou?
14 Gestel jy word vertel dat jy ’n oortapping dringend nodig het. Jy sal aan God se wet op bloed dink, nie waar nie? En jou besluit om God te gehoorsaam ongeag die onmiddellike gevolge hiervan, sal waarskynlik deur die teenwoordigheid van mede-Christene versterk word. (Vergelyk Daniël 3:13-18.) Maar gestel ’n dokter of ’n regter dring by jou daarop aan om bloed te neem en sê selfs vir jou dat hy die verantwoordelikheid voor God sal aanvaar?
15. Voor watter „geheime” toets met betrekking tot bloed sal jy dalk te staan kom?
15 Verslae uit verskeie lande toon dat dokters, hospitaalpersoneel en regters soms verkeerdelik dink dat Jehovah se Getuies in die openbaar teen bloedoortappings beswaar maak, maar heimlik of innerlik anders voel. In een geval het ’n regter eiemagtig besluit „dat die probleem nie [die pasiënt] se godsdiensoortuiginge was nie maar haar weiering om ’n vooraf opgestelde magtiging vir die oortapping van bloed te onderteken. Sy het nie daarteen beswaar gemaak om die betrokke behandeling te ontvang nie—maar sy sou nie die gebruik daarvan gelas nie.” Inteendeel, eerder as om slap te weier om ,magtiging tot bloed te onderteken’, is dit welbekend dat Jehovah se Getuies graag regsdokumente onderteken wat mediese personeel vryskeld van enige aanspreeklikheid as gevolg van die weiering van bloed.
16. Wat moet jy nie vergeet wanneer iemand jou in die stilligheid aanspoor om bloed te aanvaar nie?
16 Dokters en regters sal jou dalk probeer oorreed om bloed te aanvaar omdat hulle gesien het hoe mense van ander godsdienste teen die een of ander mediese behandeling beswaar maak maar dit dan agteraf aanvaar. Party beamptes het selfs beweer dat hulle van ’n Getuie weet wat tot ’n geheime oortapping ingestem het. As dit gebeur het, is dit waarskynlik iemand wat Jehovah se Getuies net ken. Toegewyde knegte van God weet goed dat hy sodanige vergelyk sal raaksien. Dink aan Dawid se sonde in verband met Batseba en Uria. Jehovah het alles gesien en Natan met die boodskap gestuur: „Jy [Dawid] het dit in die geheim gedoen, maar Ek sal hierdie ding doen voor die hele Israel en in die volle sonlig.” Soos God gesê het, het Dawid later die ongelukkige gevolge van sy ,geheime’ sonde ervaar.—2 Samuel 11:27-12:12; 16:21.
17. (a) Hoe kan dit probleme vir ander skep indien jy ’n bloedoortapping in die geheim aanvaar? (b) Verduidelik hoe een suster selfs privaat standvastig gebly het wat die bloedgeskil betref en wat die uiteinde hiervan was.
17 Liefde vir jou Christenbroers moet jou ook help om nie te swig voor druk om stilletjies in te stem om God se wet op bloed te skend nie. Waarom? Wel, as ’n dokter of ’n regter jou probeer dwing om bloed te aanvaar, selfs agteraf, moet jy dink aan hoeveel moeiliker dit dinge vir die volgende Getuie gaan maak. Let op hierdie ondervinding:
Suster Rodriguez is vir ’n infeksie behandel. Toe het sy baie siek geword; haar dokter het inwendige bloeding gediagnoseer en haar aangeraai om gou na ’n groot hospitaal te gaan. Suster Rodriguez het vir die personeel in die ongevalleafdeling gesê: „Ek kan onder geen omstandighede ’n bloedoortapping aanvaar nie.” Sy het hierby gebly toe verpleegsters later druk op haar uitgeoefen en beweer het dat sommige Getuies bloed geneem het. Hierdie suster het dae lank bloed verloor en swakker geword en is uiteindelik na die waakeenheid geneem. Toe het die hospitaal ’n regter van die staat se Appelhof ingeroep.
Etlike maande later het hierdie regter meer as 150 dokters in die hospitaal se amfiteater toegespreek oor die onderwerp „Wie se lewe is dit in elk geval?” Hy het gesê dat hy ook persone teëgekom het wat aanvanklik bloed geweier het, maar wat toegestem het wanneer ’n regter betrokke geraak het. Maar wat van suster Rodriguez? Hy het vertel dat hy haar privaat probeer oorreed het om hom ,die verantwoordelikheid te laat dra’ deur die oortapping onder ’n hofbevel te ontvang. Wat het sy gedoen? Die regter het vir die vergaderde dokters gesê dat mev. Rodriguez met al die krag wat sy kon inspan vir hom gesê het dat sy nie bloed gaan aanvaar nie en dat hy haar met rus moet laat en die vertrek moet verlaat. Die regter het verduidelik dat hy gevolglik geen rede gehad het om te beveel dat sy teen haar sin bloed gegee moet word nie.
18. Watter vasberadenheid ten opsigte van die bloedgeskil moet ons duidelik stel, en met watter moontlike gevolge?
18 Dit onderstreep die belangrikheid daarvan om dit absoluut duidelik te stel dat ons standpunt ten opsigte van bloed nie onderhandelbaar is nie. Die apostels het so ’n vasbeslote standpunt ingeneem en gesê: „Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense” (Handelinge 5:29). Suster Rodriguez se geval toon ook watter uitwerking dit op ander het as ’n Getuie ’n vergelyk aangaan. Hoewel sy siek en fisies swak was, moes sy ekstra druk die hoof bied net omdat iemand miskien vroeër heimlik God se wet verbreek het. Sodanige skending is natuurlik geensins verborge vir „die Regter van die ganse aarde” nie (Genesis 18:25). Gelukkig was suster Rodriguez net so onversetlik in haar private lewe as in die openbaar. En sy het later, toe sy gesond was, haar volgehoue vasbeslotenheid om getrou aan God te bly aan dieselfde mediese vergadering verklaar.
19. Watter feit moet ons te alle tye in gedagte hou?
19 Ons moet ook getrou wees, hetsy ons dade bekend is of nie. Jehovah skep behae in sulke getrouheid en sal dit beloon; hy sal tereg reageer op die werke—openlik of verborge—van diegene wat ontrou is aan sy standaarde (Psalm 51:8; Job 34:24). Ons gaan vervolgens bespreek hoe hy liefdevol volmaakte raad voorsien wat ons sal help om enige verborge foute wat ons het te bowe te kom.
Hoe sou jy antwoord?
◻ Watter vermoë het God wat ons dade behoort te beïnvloed?
◻ Watter noodsaaklike les moet ons uit Agan se ondervinding leer?
◻ Watter skade kan berokken word as ’n Christen God se wet op bloed in die stilligheid verbreek?
◻ Wat moet jy jou voorneem aangaande God se beskouing van bloed?
[Venster op bladsy 13]
God se wet op bloed steeds geldig
JOSEPH PRIESTLEY (1733-1804) is welbekend as die wetenskaplike wat suurstof ontdek het, maar hy was ook ’n teoloog. Hy het geskryf:
„Die verbod op die eet van bloed wat aan Noag gegee is, is skynbaar bindend op al sy afstammelinge.” Wat die bewering betref dat die Christelike verbod op bloed slegs tydelik was, het Priestley bygevoeg: „Daar is geen aanduiding daarvan dat dit tydelik sou wees, of enige melding van ’n tyd wanneer die verbod sou eindig nie. . . . As ons hierdie verbod van die apostels vertolk volgens die gebruik van die primitiewe Christene, wat nouliks die aard en omvang daarvan sou misverstaan het, kan ons nie anders as om tot die slotsom te kom dat dit bedoel was om absoluut en ewigdurend te wees nie.”
A Bloody Tenet Confuted, or, Blood Forbidden (moderne spelling) is in 1646 uitgegee. Op bladsy 8 het dit gesê: „Ons moet hierdie wrede gebruik laat vaar om die lewens van diere te eet, soos die gebruik dwarsoor Engeland is, in die vorm van ongewyde bloedwors, want dan sal ons toon dat ons genadig is en nie onmenslik nie; want ons wil nie ongehoorsaam wees aan God wat sulke duidelike voorskrifte betref nie, maar wil gehoorsaam wees aan sy wil en daders wees van daardie dinge wat reg is in sy oë, want dan sal ons God se goedkeuring geniet,. . . en sal ons nie onder ons volk uitgeroei word nie en sal God nie voortdurend teen ons gekant wees weens boosheid nie.”
Thomas Bartholin was ’n 17de-eeuse anatomieprofessor aan die Universiteit van Kopenhagen. Hy het oor ,die misbruik van bloed’ geskryf en gesê: .Diegene wat mensebloed in inwendige rate vir siektes gebruik, misbruik dit skynbaar en sondig ernstig. Kannibale word veroordeel. Waarom verafsku ons nie diegene wat hulle kele met mensebloed besmet nie? Dit geld ook vir die ontvangs van vreemde bloed uit ’n gesnyde aar, hetsy deur die mond of deur oortappingsinstrumente. Die bewerkers van hierdie operasie word in angs gehou deur die goddelike wet, wat die eet van bloed verbied.’
Revelation Examined with Candour (1745) het gehandel oor God se gebooie oor bloed. Dit het geredeneer: „’n Gebod wat deur God self aan Noag gegee is, aan Moses herhaal is, en deur die apostels van Jesus Christus bekragtig is; gegee onmiddellik na die vloed, toe die wêreld as ’t ware van nuuts af begin het; en die enigste een wat by daardie groot geleentheid gegee is; met ontsettende gewigtigheid herhaal aan daardie volk wat God van die res van die mensdom afgeskei het om vir hom heilig te wees; herhaal met verskriklike veroordelings van goddelike wraak, teen die Jood sowel as die vreemdeling wat dit sou waag om dit te oortree; en bekragtig deur die ernstigste en heiligste raad wat ooit op aarde vergader het; onder die regstreekse invloed van die Gees van God! van die heilige vergadering oorgedra aan die verskillende kerke van die naburige nasies deur niemand minder nie as twee biskoppe, en twee apostels . . . Sal enigiemand hierna dit durf waag om hierdie gebod te verag? Sal enigiemand met gesonde verstand ’n voorskrif wat so gegee, so herhaal en so bekragtig is deur God self as sinloos en onbelangrik verklaar?”
[Prent op bladsy 14]
Die gedrag van een Getuie kan dit vir die volgende een makliker maak om getrou aan God te wees