Ons dien God as ’n gesin
Soos vertel deur Otto Rittenbach
EK EN Carol is in November 1951 getroud. Ons eerste kind, Brenda, is die volgende jaar gebore. In die daaropvolgende ses jaar het ons nog vyf kinders gehad—Rick in Julie 1954, Rhonda in Junie 1955, JoDene in Mei 1956, Wayne in Junie 1957, en Kenan in Julie 1958. Teen daardie tyd was ek maar net 27 en Carol slegs 23. Dit was inderdaad swaar gesinsverantwoordelikhede vir ’n jong egpaar!
Vandag is ons dankbaar dat ons almal verenig is in God se diens. Rick dien by Bethel, die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn, New York. Ek en Carol, saam met ons twee jonger seuns, Wayne en Kenan, is by Watchtower Farms omtrent 150 kilometer noord van Brooklyn. En Brenda, Rhonda en JoDene het almal uit die Wagtoring-Bybelskool Gilead gegradueer en is nou sendelinge—Brenda in die Midde-Ooste en Rhonda en JoDene in Colombia, Suid-Amerika.
Ons het nooit in ons wildste drome gedink dat ons hele gesin hierdie wonderlike diensvoorregte sou geniet nie. Ons was maar net ’n jong egpaar met ’n klomp kinders wat ons bes gedoen het om te hou by die leiding wat ons van God deur sy Woord en sigbare organisasie ontvang het. Dit was nie altyd maklik nie. Daar was moeilike tye. Maar ons is dit almal eens dat die feit dat God se diens voorkeur in ons lewens geniet het ons sinvolle en lonende lewens laat lei het. Laat my kortliks iets omtrent ons agtergrond en die grootmaak van ons gesin vertel.
Ons leer Bybelwaarheid
Ek is in 1930 as die 13de van 14 kinders op ’n plaas op die grasvlakte van Noord-Dakota gebore. Die Nylens, ’n ander boeregesin, het sowat ses kilometer van ons af gewoon. Hulle het in die gemeenskap bekendgestaan as Jehovah se Getuies, ofskoon hulle nie gedoop was nie en nie gereeld gemeentevergaderinge bygewoon het nie.
As gevolg van my werk op die plaas het ek hulle plaas dikwels besoek en Carol Nylen leer ken. Ons verhouding het gegroei en ons is getroud kort nadat Carol gematrikuleer het. Ek is twee maande later, vroeg in 1952, opgeroep en was twee jaar lank in die leër, onder meer 14 maande in Duitsland.
Na my terugkeer uit Duitsland het ons ’n plaas sowat ’n halwe kilometer van die Nylens af gehuur. Ons het feitlik geen geld gehad nie en moes dus ’n lening by ’n boerevereniging aangaan om ’n kudde melkkoeie en plaasmasjinerie te koop. Boerdery was destyds uiters tydrowend. Maar met die aansporing van Carol en my skoonfamilie, wat teen daardie tyd bedrywige Getuies was, het ek ’n tuisbybelstudie aanvaar. Carol se broer Roland het getrou met my gestudeer. Met die bykomende geestelike hulp van kringopsieners en ander Getuies het ek my uiteindelik aan Jehovah toegewy en is ek in Augustus 1956 gedoop.
’n Hardwerkende metgesel
Daar was destyds min moderne geriewe op die plaas. Daar was byvoorbeeld nie water of ’n toilet in ons gehuurde plaashuis nie, gevolglik moes ons al die water van die put af aandra en die kleinhuisie buite gebruik. Ons het min huisraad gehad, maar het klaargekom met wat ons gehad het en wat vir ons gegee is. Carol het so ’n bedrewe huisversierster geword dat selfs die eienaars gesê het dat die plek soos ’n poppehuis lyk. Sy het ook al die kinders se klere gemaak, hoofsaaklik uit ou klere wat vir haar gegee is. En sy het my dikwels met die plaaswerkies buite gehelp, onder meer om die koeie te melk, iets wat ons met die hand gedoen het.
Gedurende daardie jare het Carol, wie se moeder ’n onderwyseres was, haar goed gekwyt van die taak om die kinders te onderrig. Daarbenewens het ons met die lees van die Bybel en Wagtoring-publikasies besef hoe belangrik dit is om ons kinders van kleins af te onderrig (2 Timotheüs 3:15). Die een kant van ons kombuisie het dus gereeld elke oggend van omstreeks 9:30 tot 11-uur ’n skool geword. Van die kinders se vroegste herinneringe is hoe hulle in rooi stoeltjies in ’n halfsirkel om ’n skryfbord gesit het. Vandag is hierdie onderrigsessies aangename herinneringe vir die kinders. Die wat nog babas was, het geleer om tot ’n uur lank met gevoude hande stil te sit. Daarna was hulle gereed vir hulle gereelde middagslapie.
Teen die tyd dat die kinders ’n anderhalf jaar oud was, het hulle deelgeneem. Carol het tuisgemaakte flitskaarte gebruik om hulle die alfabet te leer en te leer lees en skryf. Sy het hulle ook gehelp om belangrike Bybeltekste asook die name van die apostels te onthou, en het vir hulle Bybelverhale vertel sowel as die praktiese lesse wat dit ons leer. Dit was interessant om te sien hoe maklik en hoe baie ons kinders op ’n vroeë ouderdom kon leer. Miskien is dit vir party moeilik om te glo, maar teen die tyd dat hulle ’n anderhalf jaar oud was, kon hulle die name van al 66 boeke van die Bybel opsê, en teen die ouderdom van twee of drie kon hulle almal lees.
Daarbenewens het ons ’n gereelde gesinstudie gehad waartydens ons saam met die kinders die lesse voorberei het wat ons by ons gereelde gemeentevergaderinge sou studeer. Ons moes natuurlik die materiaal vereenvoudig sodat hulle dit kon verstaan, veral toe ons die boek „Laat u wil geskied op aarde” en later „Laat u Naam geheilig word” bestudeer het, asook lesse in Die Wagtoring. Hierdie opleiding het die kinders nie net gehelp om geestelik vooruitgang te maak nie, maar ook om op skool uit te blink.
Die hantering van probleme
Maar ondanks al ons pogings het alles nie so glad verloop soos wat ons wou gehad het nie. Toe Brenda byvoorbeeld na haar eerste dag by die skool tuisgekom het, het ons haar opgewonde oor haar dag uitgevra. Een van ons vrae was oor die vlagsaluering. Sy het geantwoord: „O nee, ek het nie die vlag gesalueer nie; ek het net trou gesweer.” Ons onderrig het duidelik êrens te kort geskiet!
Dan was daar die keer toe ’n kalkoen-ete net voor die Dankseggingsvakansie in die skool se kafeteria bedien is. Rick, wat toe in graad een was, het geweier om dit te eet. Dit was eers na ’n oproep aan Carol, dat Rick se gewete hom toegelaat het om daardie ete te nuttig.
Daar was ook ander soort probleme, probleme wat ons skaars kon glo sou ontstaan, maar wat die weerspannigheid van die jeug toelig (Genesis 8:21; Spreuke 22: 15). In standerd een was Rhonda skynbaar vasbeslote om ’n gekoopte jas te hê. Sy het dus die storie versin dat haar onderwyseres gesê het dat sy teen 1 Mei een moes hê! Sy het ons amper oortuig.
Dan was daar die kwessie van diefstal. Toe Wayne en Kenan in graad twee en graad een was, het hulle lekkergoed uit die onderwyseres se lessenaar geneem. Toe ons hiervan te hore gekom het, het ons met hulle geredeneer en probeer uitvind wat hulle beweeg het om hierdie slegte ding te doen. Ons het hulle laat vergoed deur hulle lekkers te laat koop en dit vir die onderwyseres te gee en vir haar te vertel wat hulle gedoen het. Sodra ons bewus geword het van slegte begeertes het ons dit uit ons kinders se harte probeer uitroei en dit deur goeie en rein beweegredes probeer vervang deur met hulle te redeneer.
Onverdeelde aandag nodig
Ons het vroeg reeds besef dat die grootmaak van ’n gesin in Jehovah se diens ’n loopbaan is wat onverdeelde aandag vereis. Ons het gevind dat kinders besig gehou en ordelikheid en goeie tydbesteding geleer moet word. Hulle moet weet wanneer om soggens op te staan, wanneer dit slaaptyd is, wanneer dit tyd is om te eet, ensovoorts. Dit alles moet van kleins af by hulle ingeskerp word en deurgevoer en aangevul word namate hulle ouer word.
Ons het ons kinders van kleins af gehoorsaamheid geleer. Wanneer ons hulle gevra het om iets te doen, al was dit so eenvoudig soos „Vou jou hande” of „Sit”, het ons onmiddellike inskiklikheid verwag en gekry. Ons het seker gemaak dat elke bevel uitgevoer word. Opbouende beheer en leiding van kleins af tot in volwassenheid voorkom talle probleme op ’n latere stadium. Toe hulle klein was, het ons ons kinders stewig toegedraai wanneer dit tyd was vir hulle om te gaan slaap, net soos Jesus as baba toegedraai is (Lukas 2:7). Dit het hulle veilig laat voel en feitlik onmiddellik aan die slaap laat raak.
Ons het ons kinders ook van ’n baie vroeë ouderdom af geleer om te werk. Onder my vrou se waaksame oog het hulle geleer om dinge op te tel, skottelgoed te was en klere op te vou. Later het hulle geleer om sokkies te stop, knope aan te werk, brood te bak, dinge in die tuin te plant en onkruid uit te trek, en om te help met die inlê en die bevriesing van die tuin se opbrengs. Die seuns sowel as die meisies het al hierdie dinge geleer. Hulle het ook geleer om dingetjies in die huis reg te maak, te verf en die erf netjies te hou. Ons het hulle geleer om alles wat hulle doen deeglik te doen, en ons het toegesien dat hulle dit doen. Dit het tyd geverg, maar het in latere jare werklik vrugte afgewerp.
Ons het ook die nodigheid vir ontspanning besef. Maar dit het selde televisie ingesluit. Trouens, ons gesin het ’n eenstemmige besluit geneem om NIE een te hê nie. Ons ontspanning het hoofsaaklik daaruit bestaan om dinge saam te doen—speletjies, pieknieks, gemeentebedrywighede en die bywoning van byeenkomste. Ons het dikwels gereël om op pad na byeenkomste by interessante plekke vakansie te hou.
Ons het altyd voorkeur gegee aan geestelike bedrywighede. Ons moes aanvanklik 90 kilometer na die Koninkryksaal toe ry, en Noord-Dakota se winters kan baie koud wees. Maar deur redelike voorsorgmaatreëls te tref en aangesien ons baie gesond was, het ons selde ’n vergadering misgeloop. Kringbyeenkomste was ware hoogtepunte in ons lewens. Dit het soms beteken dat ons 400 kilometer moes ry om destyds ’n driedaagse program by te woon.
Ons het gereeld elke naweek aan die veldbediening deelgeneem, ondanks temperature van -29 grade Celsius. Party mense dink dalk dat dit verregaande is om klein kindertjies in sulke weer uit te neem, maar dit het gehelp om dit by hulle in te skerp dat niks in die pad van ons diens aan Jehovah moet staan nie.
Koninkryksbelange moet altyd die belangrikste wees
In 1961 het ons voor ’n groot besluit te staan gekom toe die plaas wat ons gehuur het te koop aangebied is. Moes ek die plaas koop of moes ek ander werk soek? Die plaaslewe was goed vir die kinders, en wanneer die seuns groot is, kon hulle ’n bestaan daaruit maak. Maar dit sou die meeste van ons tyd in beslag neem om reg aan die boerdery te laat geskied, en ons het gemeen dat dit vir ons ’n strik kon word. My vader het my vroeër ’n stuk grond gegee wat nie werklik groot genoeg was om op te boer nie. Ek het dit verkoop en ’n trekskop en verwante toerusting gekoop en uitgrawingswerk begin doen.
Ons het verhuis na die nabygeleë dorp Butte, Noord-Dakota, met ’n bevolking van 200. Ek het kelders uitgegrawe en plaasriole geïstalleer, en ek het geleer om sementblokke te lê en loodgieterswerk te doen. Ek het ook die skoolbus bestuur om ’n karige inkomste aan te vul. Maar ons was altyd bewus van Jehovah se besorgdheid en hulp wanneer ons gesin geestelike dinge eerste gestel het. Ondanks die feit dat ons ’n groot en betreklik arm gesin was en soms met gure weer te kampe gehad het, het ons altyd daarin geslaag om gemeentevergaderinge en byeenkomste by te woon, en ook om ’n gereelde deelname aan die veldbediening te hê.
Na ’n tyd kon ons ’n ou huis koop en, met die milde hulp van Carol se vader, kon ons dit in ’n baie mooi dog beskeie huis ombou. ’n Gemeente is in ons gebied gestig en ons het die voorreg gehad om ’n klein Koninkryksaal te help hou. Gevolglik moes ons toe slegs 25 kilometer in plaas van 90 kilometer ry om by die vergaderinge te kom. Ons het elke week dele op die program gehad omdat die gemeente so klein was, en ons het besig gebly met die voorbereiding daarvan.
Ons het Jehovah se sorg op so baie maniere ervaar. Ter toeligting: Ek is in Maart 1965 genooi om die Koninkryksbedieningskool, wat ’n maand se onderrigtingskursus vir Christen- ouere manne was, in South Lansing, New York, by te woon. Maar ons motor was oud en nie betroubaar genoeg vir my gesin om by die vergaderinge en ’n kringbyeenkoms te kom terwyl ek weg sou wees nie. Ons het dus na die naaste groot dorp gegaan om ’n motor te soek. Ons het feitlik heeldag sonder welslae gesoek. Toe, sowat 45 minute voordat ek moes terugkeer huis toe om die skoolbus te bestuur, het ek by nog een handelaar aangegaan.
Die verkoopsman het my na ’n donker, ondergrondse garage geneem en vir my ’n motor gewys wat myns insiens aan ons vereistes sou voldoen. ’n Toetsrit het getoon dat dit goed loop, maar die verkoopsman het gesê dat dit $300 kos, veel meer as wat ek kon bekostig. Ek wou net loop toe die verkoopsman my versoek om te wag terwyl hy die bestuurder gaan vra wat die minste was wat hy sou aanvaar. Die bestuurder het geaarsel, nagedink en teësinnig gesê, $150. Ons het die transaksie beklink en die motor huis toe bestuur.
Later in daardie lente was geld skaars. Ek het pas van die Koninkryksbedieningskool teruggekeer. Dit was te vroeg om buite te begin werk, aangesien die ryp nog in die grond was. Ek het werk oorkant die straat gehad waar ek ’n waterpyp moes lê en ’n riool sowel as ’n badkamer en toilet moes installeer. Dit sou ’n maand of langer wees voordat ek dit kon doen, maar eendag het my buurman my tot my verbasing gebel. Hy het gesê dat hy my $500 vir die werk wou voorskiet!
In 1967 is ek ’n werk aangebied in ’n dorp ongeveer 160 kilometer van ons af. Ek het besluit om dit te aanvaar. Een rede was dat my uitgrawingsonderneming my al hoe verder van die huis af geneem het, en dit was op die stadium waar ek die onderneming ten koste van geestelike bedrywighede sou moes uitbrei en dieper daarby betrokke sou moes raak. Ons het derhalwe ons huis verkoop en na New Rockford, Noord-Dakota, getrek waar ek ’n verkoopsman van grootmaatmesstof vir ’n boerewinkel geword het. Ofskoon ek nie soveel vryheid in hierdie nuwe werk sou hê as toe ek vir myself gewerk het nie, het ek besluit om dit te aanvaar, aangesien die kinders nou ouer en goed gevestig in die Christenweg was.
’n Gelukkige gesin in die voltydse bediening
Omdat die kinders beurse van die hand gewys het toe hulle gematrikuleer het, het hulle onderwysers en ander in die gemeenskap gemeen dat hulle hulle akademiese vermoëns begrawe. Maar ondanks die druk om verder te leer, het hulle almal, toe hulle klaar was met hoërskool, as pioniers die voltydse bediening betree.
Brenda het in 1970 met die pionierdiens begin, en daarna Rick in 1972. Hy is toe daardie Desember Bethel toe. Rhonda sowel as my vrou het die volgende jaar pioniers geword. In 1974 het ek en JoDene by hulle aangesluit in die pionierwerk en die volgende lente was Wayne die sesde pionier in die gesin. In 1976 het Wayne by Watchtower Farms gaan dien, maar Kenan het gematrikuleer en die aantal pioniers in die gesin op ses gehou.
Toe ek besluit het om ’n pionier te word, het my werkgewer geweier om my ’n deeltydse werk te gee, gevolglik het ek uit die boerewinkel bedank. Ek is later aangestel as ’n bestuurder van ’n brandstofwa, maar toe my werkgewer daarop aandring dat ek betrokke raak by oneerlike sakegebruike het ek ook daar bedank. Teen hierdie tyd het ek egter saam met Carol en die kinders pionierdiens gedoen, iets wat ek my lewe lank begeer het om te doen, en daarom kon niks my keer nie.
Binne ’n week nadat ek bedank het, het ’n ander werkgewer my gebel en my gevra of ek gedurende die winter twee dae per week kon werk en smeltoonde versien. Verbasend? Nie regtig nie, want is daar nie vir ons belowe dat as ons Koninkryksbelange eerste stel daar na ons omgesien sou word nie? (Mattheüs 6:33). Teen hierdie tyd het die kinders elkeen ’n deeltydse werk gehad, en danksy hulle bydraes tot die huishoudelike uitgawes was dit moontlik vir ons om as ’n gesin saam aan die pionierdiens deel te neem.
Toe is ek en Carol, sowel as Kenan, in Junie 1977 na Watchtower Farms genooi. As ’n moeder was dit vir my vrou swaar om ons huis en drie dierbare dogters agter te laat. Maar sy het gereken dat dit Jehovah se leiding en waarlik ’n onskatbare voorreg was. Die meisies het dit ook as sodanig beskou en ons aangespoor om te gaan. Die volgende somer het ons met vakansie teruggekeer, ons huis en ander besittings verkoop en ons dogters gehelp om na hulle eerste toewysing as spesiale pioniers sowat 160 kilometer daarvandaan te verhuis.
Terwyl die meisies in Grand Island, New York, as spesiale pioniers gedien het, is hulle in Augustus 1981 Watchtower Farms toe genooi om saam met ons te werk totdat hulle die 72ste klas van Gileadskool daardie Oktober sou bywoon. Hulle het die daaropvolgende Maart gegradueer en al drie was weldra op pad na ’n sendelingtoewysing in Colombia, Suid-Amerika.
Rhonda en JoDene is nog in Colombia, maar Brenda het in Maart 1983 met ’n Gileadklasmaat getrou en het by hom in die Midde-Ooste aangesluit. In Maart 1984 is Rhonda met ’n Gileadgegradueerde getroud, wat saam met haar in Colombia dien. En al die seuns is ook met gawe pioniers getroud, wat nou òf by Bethel in Brooklyn òf by Watchtower Farms saam met hulle dien. Ons pioniergesin het dus tot 13 toegeneem, ek en my vrou ingereken.
Ons is almal waarlik bly om in die voltydse diens van ons God, Jehovah, te wees, en as ’n gesin weet ons dat as ons wil voortgaan om hierdie diensvoorregte te geniet ons ons moet gedra op ’n wyse wat die goeie nuus waardig is (Filippense 1:27). Ons is dankbaar vir die uitstekende raad wat Jehovah deur middel van sy sigbare organisasie voorsien het, aangesien dit die toepassing daarvan in ons lewens is wat daartoe gelei het dat ons nou as ’n gesin ons huidige, wonderlike voorreg van diens kan geniet.
[Prent op bladsy 24]
JoDene, Brenda en Rhonda het Bybelverhale op ’n vroeë ouderdom geleer
[Prent op bladsy 25]
Wayne, Rick en Kenan—nou almal in Betheldiens
[Prent op bladsy 27]
Party van die Rittenbach-gesin vandag—almal in die voltydse diens