Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w85 4/1 bl. 28-31
  • Turkse hof stuur Jehovah se Getuies tronk toe

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Turkse hof stuur Jehovah se Getuies tronk toe
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Onderhofies
  • Wetsgehoorsame mense
  • Gebeure wat tot die verhoor gelei het
  • Valse beskuldigings
  • Valse godsdiensgetuienis
  • Die verdediging se getuienis
  • Die hof verwerp die getuienis
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
w85 4/1 bl. 28-31

Turkse hof stuur Jehovah se Getuies tronk toe

OP 12 DESEMBER 1984 het die Staatsveiligheidshof in Ankara, Turkye, ’n skokkende uitspraak gegee. Dit het vyf van Jehovah se Getuies tot tronkstraf gevonnis, elkeen vir ses jaar en agt maande, met nog twee jaar en twee maande in ballingskap! Agttien ander Getuies is tot vier jaar en twee maande tronkstraf gevonnis, met nog ’n jaar en vier maande in ballingskap. Ander Getuies sal ’n afsonderlike verhoor in ’n strafhof hê.

Wat was hulle „misdaad”? Hulle is skuldig bevind aan die skending van artikel 163 van die Turkse Strafreg. Daarvolgens is dit ’n misdaad ,om godsdienspropaganda te maak met die doel om die maatskaplike, ekonomiese, politieke of regsorde van die staat te verander’. Daar is derhalwe beweer dat ’n paar​—slegs ’n handjievol—​van Jehovah se Getuies probeer het om die bestaande regeringsorde in Turkye te verander. Maar hoe kon hierdie groepie mense wat vreedsaam, ongewapen en heeltemal onopgelei is in politieke ondermyning ’n bedreiging wees vir die hele gesagsorde van die nasie?

Wetsgehoorsame mense

Jehovah se Getuies staan dwarsoor die wêreld bekend as wetsgehoorsame mense. ’n Goewerneur-generaal van Nigerië het byvoorbeeld van hulle gesê: „Hulle het grootliks tot die geestelike opbouing van ons volk in Nigerië bygedra.” Hy het ook gesê: „As al die godsdiensdenominasies soos Jehovah se Getuies was, sou daar geen moord, inbraak, misdadigheid, gevangenes en atoombomme gewees het nie. Deure sou dag in en dag uit nie gesluit word nie.”

Jehovah se Getuies het ook nog nooit met die politiek ingemeng nie. Hulle neutraliteit in sulke sake is welbekend. Die Italiaanse publikasie Il Corriere di Trieste het gesê dat „Jehovah se Getuies bewonder moet word”. Wat is van die redes? Want, het dit gesê, hulle godsdiens leer hulle ,om nie politiek met godsdiens te meng nie en nie die belange van politieke partye te bevorder nie’.

Gedurende hulle bestaan van meer as honderd jaar het hulle dus nog nooit probeer om enige politieke orde of enige staat te verander nie. Hulle doen eerder wat die Bybel sê hulle moet doen​—om die bestaande regerings as „owerhede” te aanvaar waaraan hulle respek moet betoon (Romeine 13:1, NAV). Dit is derhalwe teen hulle godsdiensoortuiginge om aan enige ondermynende bedrywighede deel te neem. Dit is waarom nasies wat nie diktatoriaal is nie, erken dat Jehovah se Getuies beslis ’n godsdiens is en hulle die vryhede van ander burgers gegee het, vryheid van aanbidding inkluis.

Die vonnisse is ook om ’n ander rede heeltemal onregverdig. Op 24 Maart 1980 het die Hooggeregshof in Turkye beslis dat Jehovah se Getuies nie gestraf kan word nie, aangesien hulle godsdiens nie die wet skend nie. Die hof het hulle vrygespreek van aanklagte van ondermyning.

Gebeure wat tot die verhoor gelei het

Die vraag ontstaan dus: Watter inligting het die hof gebruik om tot sy beslissing te kom? Het Jehovah se Getuies hulle bedrywighede of opvattinge sedert 1980 verander? Kom ons beskou kortliks die gebeure wat tot die verhoor gelei het, sowel as die hofverslae.

Op 20 November 1974 het ’n streekhof in Istanbul Jehovah se Getuies wetlik as ’n godsdiens erken. Die Getuies kon gevolglik hulle godsdiens wetlik op hulle persoonskaarte laat registreer, en hulle het dit gedoen. En sedert Desember 1974 het Jehovah se Getuies in verskeie stede van die land vrylik vir aanbidding bymekaargekom. Die militêre regering wat in September 1980 aan bewind gekom het, het ook hulle openbare vergaderinge in hulle „Sale van aanbidding” toegelaat.

Maar in Maart 1984 het drie gesinne in Eski§ehir by die hof aansoek gedoen dat hulle godsdiens as Jehovah se Getuies geregistreer moet word. Daardie voorval het groot aandag in die plaaslike koerant geniet. Daar hulle voorheen Moslems was, het hulle aansoek die vyandigheid van fanatiese Moslems uitgelok, wat Jehovah se Getuies in verskeie koerante begin aanval en belaster het.

Die „Hoë Raad van Godsdiens in die Direktoraat van Godsdienssake”, ’n Moslem-regeringsdepartement, was onder die teenstanders. Hierdie raad het gesê: „Hierdie beweging [Jehovah se Getuies], wat in geen land as ’n godsdiens aanvaar word nie . . . is ’n Christenorde onder Joodse invloed.” Dit het verder gesê dat „as hierdie beweging [in Turkye] toegelaat word dit ’n gevaar vir die Staat sowel as vir Islam sou wees”.

Na die kwaadwillige koerantveldtog is twee Getuies skielik in Ankara in hegtenis geneem omdat hulle hulle publikasies vir ’n ander persoon aangebied het. Maar daardie lektuur is wettig in Turkye gedruk.

Gedurende die daaropvolgende dae het die polisie in Ankara die vyf ouere manne van ’n gemeente sowel as ander wat as Jehovah se Getuies bekendstaan in hegtenis geneem. Altesaam 31 is gearresteer. Party is in hulle huise gearresteer, ander by hulle werk en party ná hulle vergadering by hulle „Saal van aanbidding”. Van die 31 wat aanvanklik in hegtenis geneem is, is 23 aangehou en die ander vrygelaat.

Valse beskuldigings

Met die verloop van die verhoor het dit al hoe duideliker geword dat dit nie werklik ’n saak van wetsoortreding was nie. Dit was eerder ’n godsdiensgeskil wat die hof beslis het.

Die aanklaer het byvoorbeeld ’n verklaring van die Direktoraat van Godsdienssake as sogenaamde bewys van skuld gebruik. In hierdie verklaring word Jehovah se Getuies bestempel as „’n waansinnige Christenbeweging” wat „geen profete en geen spesiale heilige boek” het nie. Inteendeel, Jehovah se Getuies staan bekend as ’n uiters verstandige, wetsgehoorsame, vredeliewende groep mense. En hulle het gewis ’n profeet​—Jesus Christus—​wat, terloops, selfs deur Moslems as ’n profeet erken word. En hulle het geen ander „spesiale heilige boek” nodig nie, want hulle het reeds een​—die Heilige Bybel, wat „deur God ingegee” is​—2 Timotheüs 3:16.

Daar is ook beweer dat Jehovah se Getuies nie „die bestaande nasies en state en hulle nasionale grense” erken nie. Dit is ook heeltemal vals. Hulle godsdiens vereis spesifiek dat hulle hulle moet „onderwerp aan die [regerings]owerhede” en al die wette wat nie bots met God se wette nie. Dit is wat die Bybel voorskryf.​—Romeine 13:1, NAV; Handelinge 5:29.

Daarbenewens het die Direktoraat van Godsdienssake beweer dat Jehovah se Getuies werk „om ’n godsdiensorde, gegrond op die Bybel, oor die hele wêreld” op te rig, en dat God se Koninkryk tussen die „Eufraat en Nyl” opgerig sou word. Hierdie verklaring probeer bewys dat Jehovah se Getuies die gevestigde politieke orde in Turkye sal verander, aangesien die Eufraatrivier deur oostelike Turkye loop.

Dit is nog ’n heeltemal valse aanklag. Jehovah se Getuies het nog nooit geglo dat die Koninkryk van God op aarde sal wees nie. Hulle het eerder altyd geleer dat dit ’n hemelse regering sal wees. Dit kan dus onmoontlik in enige deel van Turkye geleë wees.​—Mattheüs 4:17; 6:9, 10.

Valse godsdiensgetuienis

Die hof het ook drie „deskundiges” aangestel om die publikasies en opvattinge van Jehovah se Getuies te ondersoek. Een was ’n lid van die Direktoraat van Godsdienssake. Die tweede was ’n assistant-professor aan ’n Islamitiese fakulteit. Die derde was ’n assistant-professor aan die regsfakulteit van die Universiteit van Ankara.

Die advokaat vir die verdediging het beswaar gemaak teen die aanstelling van twee van die godsdienstige „deskundiges”. Hulle het reeds in ’n boek hulle mening teen Jehovah se Getuies uitgespreek. Daar kon derhalwe nie verwag word dat hulle die hof ’n onbevooroordeelde mening sou gee nie. Die hof het egter die verdediging se versoek geweier en hierdie bevooroordeelde godsdienstiges laat deelneem.

Toe hierdie drie hulle verslag ingelewer het, was dit soos te verwagte. Die godsdienstige ondersoekers het Jehovah se Getuies skuldig bevind. Die regsdeskundige het egter geen skuld gevind nie. Hy het gesê: „Hulle verwag die komende verandering in die wêreld deur God na die oorlog van Armageddon”, en nie deur menslike inmenging nie.

Die godsdiensyweraars het beweer dat Jehovah se Getuies nie ’n godsdiens is nie. Dit is duidelik nog ’n valse aantyging. Hulle het ook beweer dat Jehovah se Getuies se geloof in God en in Jesus Christus „slegs ’n godsdiensdekmantel is om die ware doel te verberg”. En wat is daardie „ware doel” veronderstel om te wees? Die godsdiensraadgewers het gesê: „Onder die dekmantel van die Koninkryk van God lê hulle ’n grondslag vir sekere politieke verwikkelinge in ’n onbekende toekoms.” Hulle het nie-verwante gedeeltes uit die lektuur van Jehovah se Getuies aangehaal en tot die slotsom gekom dat hulle ,’n geheime organisasie onder Sionistiese invloed is wat godsdiensvergaderinge as ’n dekmantel gebruik’.

Maar hierdie twee godsdienstiges het nie ’n enkele bewys voorgelê dat Jehovah se Getuies die Turkse staat ooit probeer ondermyn het nie. Hulle kon nie sulke bewys voorlê nie, want die Getuies ondermyn nie bestaande regerings nie. Dit is God wat regerings aanspreeklik hou. Hy, en nie enige mens nie, is die Regter. En hulle hoegenaamd niks met Sionisme te doen het nie.

Die verdediging se getuienis

Die verdediging het andersyds talle bewyse gelewer dat Jehovah se Getuies nie skuldig is aan die skending van enige wet nie. Benewens die beslissing van die Hooggeregshof op 24 Maart 1980 het die verdediging drie ander beslissings van die Hooggeregshof voorgelê. Hulle het Jehovah se Getuies ook voorheen van dieselfde aanklagte vrygespreek.

Die verdediging het ook ’n tweede opinie van ’n ander regsprofessor voorgelê wat die publikasies van Jehovah se Getuies ondersoek het. Hy het geen wetsoortreding daarin gevind nie.

Die hof is ook na sowat 20 ander hofbeslissings verwys wat gedurende die afgelope 30 jaar in Turkye geneem is. Al daardie howe het die Getuies van dieselfde aanklagte vrygespreek.

Laaste, maar nie die minste nie, het selfs die polisieman wat aangestel is om oor die vergaderinge van die Getuies toesig te hou getuienis in die hof afgelê. Hy het gesê dat hy „geen skending van die wet opgemerk het gedurende die hele jaar” wat hy toesig oor die vergaderinge gehou het nie.

Die hof verwerp die getuienis

Die hof het nietemin al die getuienis van die verdediging verwerp! Dit het slegs die lasterlike en heeltemal ongegronde geskrifte aanvaar wat die aanklaer voorgelê het. Dit was die verklarings van die Direktoraat van Godsdienssake en ook die verslag van die twee bevooroordeelde godsdienskommentators.

Die vonnisse het ernstige vrae geopper. Het die regters van die hof se Moslemopvattinge hulle ook bevooroordeeld gemaak? Is daar godsdiensdruk op die hof uitgeoefen om Jehovah se Getuies te vonnis?

Daar word natuurlik geappelleer teen die beslissing. Die Hooggeregshof sal dus die geleentheid hê om die saak te hersien. Daar word gehoop dat hierdie hof ’n uitspraak in ooreenstemming met die feite sal lewer. Ongelukkig sal die 23 Getuies​—15 mans en 8 vroue—​tot dan in die tronk bly.

Eerlike en vryheidsliewende mense dwarsoor die wêreld vra ongetwyfeld: Hoe kon so iets gebeur in ’n land wat beweer dat dit ’n demokratiese staat is? Hoe kon Turkse howe so iets doen wanneer die Turkse regering ook die Verklaring van Menseregte onderteken het, wat vryheid van geloof waarborg?

As jy daaroor verontwaardig is dat vredeliewende, onskuldige persone so onregverdig tot tronkstraf gevonnis is, kan jy dit betuig. Jy kan aan een of al die amptenare hieronder skryf oor hoe jy oor hierdie saak voel:

President of the Republic:

His Excellency Kenan EVREN, Bakanliklar, Ankara, Turkey

Prime Minister:

Mr. Turgut ÖZAL, Bakanliklar, Ankara, Turkey

Minister of Interior:

Mr. Yildirim AKBULUT, Bakanliklar, Ankara, Turkey

Minister of Justice:

Mr. M. Necat ELDEM, Bakanliklar, Ankara, Turkey

[Lokteks op bladsy 30]

Jehovah se Getuies ondermyn geen regering nie

[Lokteks op bladsy 31]

Hoe kon so iets gebeur in ’n land wat beweer dat dit demokraties is?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel