God se Woord is lewend
’n Trotse man word nederig
DIE trotse Aramese lëerowerste Naäman en sy dienaars is hier op pad na Israel waar Naäman hopelik van melaatsheid genees sal word. Naäman het by sy vrou se jong Israelitiese diensmeisie gehoor van die groot wonderwerke wat ’n profeet van Jehovah in Israel gedoen het.
Naäman het ’n brief van die Aramese koning wat hom aan die koning van Israel voorstel. Die brief versoek dat Naäman van sy melaatsheid genees word. Toe Naäman in Israel aankom, gee hy die brief vir koning Joram, wat baie kwaad word omdat hy nie hierdie man kan genees nie. Joram roep uit: ,Die koning van Aram soek net skoor met my.’ Toe Jehovah se profeet Elisa hiervan hoor, vra hy dat Naäman na hom toe gestuur word.
Daarop gaan Naäman met sy perde en strydwaens na Elisa se huis. Maar Elisa kom nie eers uit om hom te groet nie. Hy stuur net ’n boodskapper uit wat vir Naäman sê: ,As u genees wil word, moet u u sewe maal in die Jordaanrivier gaan was.’
Die trotse Naäman voel beledig en ry vererg weg. ,Ek het gedink hy sou ten minste uitkom na my toe’, sê hy, ,en tot Jehovah bid en sy hand oor die melaatse plek beweeg. Ek kon net sowel in die riviere van Aram gewas het.’ Maar een van Naäman se dienaars kalmeer hom deur te sê: ,My heer, as die profeet vir u gesê het om iets moeiliks te doen, sou u dit gedoen het. Hoekom gaan was u u nie maar net soos hy gesê het sodat u gesond kan word nie?’
Naäman luister na sy dienaar. Hy gaan na die Jordaan en duik in. En na die sewende keer verdwyn sy melaatsheid wonderbaarlik! Naäman is baie dankbaar en ry al die pad, miskien 48 kilometer, terug na Elisa toe om hom te bedank.
Naäman bied vir Elisa duur geskenke aan en vra dan: ,Laat my toe om twee muilvragte grond huis toe te neem.’ Waarom? Sodat hy daar op die grond van Israel offers aan Jehovah kan bring. Trouens, Naäman sweer dat hy voortaan aan geen ander god behalwe Jehovah slagoffers en brandoffers sal bring nie.—2 Konings 5:5-17.
Wat ’n merkwaardige verandering het Naäman aangebring! Dit is inderdaad ’n baie goeie voorbeeld vir ons. Maar ons kan nog ’n les uit hierdie voorval leer, en dit sal ons in ’n latere nommer van hierdie tydskrif behandel.