Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w85 1/1 bl. 27
  • Koninkryksvermeerdering wêreldwyd

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Koninkryksvermeerdering wêreldwyd
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Soortgelyke materiaal
  • Die eerste takkantoor honderd jaar gelede
    Ontwaak!—2000
  • Wêreldwye steun vir die Koninkryksgeskil
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Getuieniswerk bring Koninkryksvermeerdering
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
w85 1/1 bl. 27

Koninkryksverkondigers berig

Koninkryksvermeerdering wêreldwyd

DIE profeet Jesaja het die uitbreiding van Koninkryksbelange in ons dag korrek voorspel toe hy gesê het: „Sy heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring” (Jesaja 9:6, NAV). Verslae uit meer as 200 lande waar Jehovah se Getuies die goeie nuus verkondig, toon dat Jehovah die werk seën. Hier is enkele kommentare uit verskillende dele van die aarde.

◻ Afrika: Die tak in Senegal sê dat „Jehovah se ryke seën weer eens gedurende hierdie diensjaar duidelik was”. Op die eiland Mauritius, waar die werk in 1951 begin het, het die geledere van die Getuies teen 1964 tot 100 aangegroei en in 1984 tot 679. Ghana berig dat Getuies in daardie land vermeerder het van 30 in 1938 tot 25 755 vandag! In Afrika word die pionierbediening ook goed ondersteun. ’n Pionier in Sierra Leone vertel waarom sy die voltydse diens betree het: „Ek het besluit om ’n pionier te word omdat verdere studies aan ’n kollege of universiteit ’n verkwisting sou wees van kosbare tyd wat gebruik kan word om opregte persone te help om juiste kennis van Jehovah en sy Seun, Jesus Christus, te verkry voordat die einde kom.” Onlangse byeenkomste in Suid-Afrika het eenheid weerspieël. Die Wagtoringtak hier sê: „Ons het vanjaar [1983] die eerste volskaalse, veelrassige byeenkomste in hierdie land gehou . . . Die veelrassige doopplegtigheid van 343 persone was ’n uitmuntende voorbeeld van die eenheid van Jehovah se skape in hierdie veelvolkige land.” In Zimbabwe het ’n politikus die waarheid aanvaar en uit die party bedank. „Dit het ’n groot opskudding veroorsaak, en die saak is by ’n openbare vergadering aan ’n besoekende amptenaar voorgelê. Toe hy gevra is wat met hierdie broer gedoen moet word, het die amptenaar gesê: ,Laat hom met rus. Dit is hulle beleid oral in die wêreld. As hy ’n partylid bly, is hy nie waarlik ’n Jehovahsgetuie nie.’”

◻ Asië en die Stille Oseaan: Die gees van voltydse pionierdiens is voortreflik in Japan, waar 40 persent van alle verkondigers gedurende Mei in die voltydse diens was. Die Filippynse tak berig dat nagenoeg 200 nuwe pioniers elke maand aangestel word. Australië sê dat „die pioniergees vanjaar waarlik uitstekend was”. Indië het nuwe takgeriewe en ’n hoogtepunt van 6 506 verkondigers. Hulle het 14 byeenkomste gehou, met nog 7 wat vir die eerste keer in die plaaslike tale gehou is. Meer as 9 000 het dit bygewoon en 246 is gedoop. Ons is bly om vermeerdering in hierdie ontsaglike land te sien. Daar was ook heelwat uitbreiding in Korea. Hulle nuwe tak is in 1982 toegewy, maar is nou te klein. Bouwerk is weer aan die gang om die vloerruimte te verdubbel. Gewone pioniers in daardie land het met 56 persent toegeneem. In Wes-Samoa is ’n nuwe tak gestig om beter in die behoeftes van die Samoa-eilanders te voorsien. Jehovah se „saailand” in Asië en die Stille Oseaan word dus geoes.

◻ Europa: Daar is duidelike bewyse van Koninkryksvermeerdering in Europa. Portugal skryf: „Daar was ’n ,ontploffing’ in belangstelling aan elke front. Die een maand word ’n hoogtepunt bereik en die volgende maand word dit oortref.” België berig insgelyks: „Uitbreiding vind oral plaas.” In Selters, Duitsland, is die naasgrootste takkompleks in die wêreld toegewy, en al die lede van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies op een na het aan die program deelgeneem. Een broer het geskryf: „Stel jou voor hoe ek na 60 jaar van diens​—waarvan 20 jaar in die tronk deurgebring is weens twee vlae van vervolging—​gevoel het oor die voorreg om deel te hê aan hierdie wonderlike geestelike feesmaal in ’n geestelike paradys.”

◻ Die Amerikas: Kanada het ’n uitsonderlike jaar van vermeerdering gehad, met 80 939 wat diens gerapporteer het. Die tak aldaar maak hierdie kommentaar: „Dit is baie bemoedigend dat ons, ondanks toenemende druk en verlokkinge van ’n verwordende wêreld, . . . aanhou om wonderlik te groei. Dit stem ooreen met die opmerklike uitbreiding van die vroeë Christelike godsdiens gedurende die dekadente laaste dae van die Romeinse wêreld (2 Timotheüs 3:1-5).” Belize, Sentraal-Amerika, sê dat een van die hoogtepunte van die jaar ’n „besoek aan die Maja-Indiaandorpies in die suide van die land was. Om hierdie afgeleë dorpies (altesaam 12) te bereik, moet ’n mens 113 myl [180 kilometer] met woudpaadjies langs loop.” Twaalf broers het die reis onderneem, toegerus met rugsakke en aktetasse, ’n ses-volt-skyfieprojektor en motorfietsbatterye. Hulle het skyfies van Jehovah se wêreldwye Koninkrykswerk vertoon. Een persoon wat nog nooit ’n skyfievertoning gesien het nie, het dit beskryf as „groot prent op muur met skerp lig”. In Mexiko het die verkondigertal gegroei van 81 in 1931 tot ’n hoogtepunt van 151 807 in 1984 (’n vermeerdering van 16 persent vir die jaar), en 695 769 het verlede April die Gedenkmaal bygewoon. Die Verenigde State het ’n skitterende hoogtepunt van 690 830 verkondigers gehad.

Die Koninkryksvermeerdering duur wêreldwyd voort.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel