Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w84 9/1 bl. 13-18
  • Pas jou aan by “die gedagte van Jehovah” soos nou geopenbaar

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Pas jou aan by “die gedagte van Jehovah” soos nou geopenbaar
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Redding deur geloof en belydenis
  • Bly lojaal weens ’n “volkome” hart
  • Na die nuwe verbond—die Duisendjarige Koninkryk
    Wêreldwye veiligheid onder die “Vredevors”
  • God se nuwe verbond nader volvoering
    Wêreldwye veiligheid onder die “Vredevors”
  • Hoe ons baat kan vind by “een Middelaar tussen God en die mense”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Die “Vredevors” vestig sy aandag op diegene buite die nuwe verbond
    Wêreldwye veiligheid onder die “Vredevors”
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
w84 9/1 bl. 13-18

Pas jou aan by “die gedagte van Jehovah” soos nou geopenbaar

1. Deur watter nasie is natuurlike Israel vervang, en in watter verbond?

DIE Seun van God het die plek ingeneem van die profeet Moses, wat die middelaar van die Wetsverbond tussen God en natuurlike Israel was. Jesus Christus het die aangestelde Middelaar van Jehovah se voorspelde nuwe verbond geword. Hierdie verbond is gesluit met die nasie wat eertydse, natuurlike Israel vervang het en ’n geestelike Israel, “die Israel van God”, uitmaak (Galasiërs 6:16). Die Tien Gebooie en al die ander wette van die verbond wat deur die onvolmaakte man Moses bemiddel is, is op manuskripte opgeteken maar is nooit werklik geskryf in die harte en verstande van die besnede, vleeslike Jode of Israeliete nie. Jehovah God het daardie tekortkoming van die Mosaïese Wetsverbond raakgesien en het deur die profeet Jeremia die sluiting van ’n nuwe verbond voorspel, soos ons in Jeremia 31:31-34 lees.

2. (a) Hoe het Jesus die Middelaar van die verbond geword? (b) Hoe en wanneer het dit in werking getree?

2 Jesus Christus het daardie beloofde “nuwe verbond” met sy eie lewensbloed beseël toe hy met ’n gebroke hart aan die folterpaal buitekant Jerusalem gesterf het. Die vorige nag, toe hy ooreenkomstig die bepalings van die Mosaïese Wetsverbond sy laaste Pasgamaal saam met sy getroue apostels genuttig het, het Jesus die beker wyn aan hulle oorhandig en ’n nuwe betekenis daaraan gegee deur te sê: “Hierdie beker is die nuwe verbond, beseël deur my bloed, wat vir julle vergiet word” (Lukas 22:20, NAV; 1 Korinthiërs 11:23-26). So het hy die Middelaar van daardie nuwe verbond geword, wat ’n “beter verbond” as die Mosaïese Wetsverbond was (Hebreërs 8:6; 9:11-28). Van die tyd dat hy die waarde van sy volmaakte lewensbloed in 33 G.J. in die hemel aangebied het, dien hy dus as Middelaar vir die dissipels wat deur Jehovah God in die nuwe verbond ingebring word.—1 Timotheüs 2:5, 6.

3. Waar skryf Jehovah die wet van hierdie verbond, volgens Hebreërs 10:15, 16?

3 Waar hy die nuwe verbond bespreek, haal die apostel in Hebreërs 10:15, 16 die profesie van Jeremia uit die Griekse Septuaginta aan: “En ook die Heilige Gees gee aan ons getuienis; want nadat Hy tevore gesê het: Dit is die verbond wat Ek met hulle sal sluit ná dié dae, spreek die Here verder: Ek sal my wette gee in hulle hart [kar·di’as], en in hulle verstand [di·a’noi·an] sal Ek dit inskrywe.”

4. (a) Hoe verskil die figuurlike hart van die verstand? (b) Hoe gebruik Christene in die nuwe verbond hulle hart en verstand, ooreenkomstig Psalm 119? (c) Wanneer en hoe het God begin om sy wette in harte en verstande in te skrywe?

4 In ooreenstemming met die funksies van die figuurlike hart en die verstand sou die Christene wat deur Christus die Middelaar in die nuwe verbond ingebring word Jehovah se wette met hulle hart liefhê, deurdat dit hulle aanvuur om daardie wette te gehoorsaam, en sou hulle daardie goddelike wette deeglik onthou. Soos die psalmis dit gestel het: “Hoe liefhet ek u wet; dit is my bepeinsing [my belangstelling, NW] die hele dag” (Psalm 119:97). Jehovah se wette is van Pinksterdag van 33 G.J. af in die figuurlike hart van Christus se dissipels gegee en in hulle verstand ingeskrywe. Dit was toe dat die heilige gees op die wagtende dissipels van Jesus Christus uitgestort is en sigbare ‘tonge soos van vuur’ bo die koppe van die 120 dissipels gerus en hulle begin spreek het in vreemde tale wat hulle nog nooit bestudeer of geleer het nie. Voorwaar ’n wonderwerk! As gevolg van die getuienis wat daar vir die vergaderde toeskouers gegee is, is 3 000 gedoop omdat hulle in Jesus as die Christus, of Messias, geglo het, en is hulle opgeneem in die nuwe verbond met hom as hulle Middelaar.—Handelinge, hoofstuk 2; Joël 2:28-32.

5. Wie is vandag in die nuwe verbond opgeneem, en wat bewys dat hulle “takke” is?

5 Vandag, 1 900 jaar later, is daar ’n oorblyfsel van “die Israel van God” waarvan die lede blyk gee dat hulle in die nuwe verbond opgeneem is nadat hulle met die heilige gees gedoop is. Hulle gee blyk van die feit dat die wette van Jehovah God in hulle figuurlike hart gegee en in hulle verstand ingeskrywe is. Hulle voer die voorspelling van hulle Middelaar, soos opgeteken in Mattheüs 24:14 en Markus 13:10, uit. Hulle is “takke” in daardie geestelike olyfboom wat deur die apostel Paulus in Romeine hoofstuk 11 beskryf is, en hulle dra baie vrugte.

6. (a) Watter ander aspek van die “gedagte” van Jehovah is sedert 1935 onthul? (b) Hoe lewer die “ander skape” oortuigende bewys van hulle liefde vir God se “wet” vir ons dag?

6 Nog ’n aspek van die “gedagte” van Jehovah word onthul sedert die byeenkoms van Jehovah se Getuies in 1935 in Washington, D.C. Wat het Jehovah in “gedagte” gehad in verband met die “groot menigte” wat in Openbaring 7:9-17 voorspel is? Hierdie voorspelde menigte lowers van Jehovah God en van sy Lam, Jesus Christus, wat God in sy figuurlike tempel dien, het van 1935 af op die toneel verskyn. Die 840 wat daarna op Saterdag, 1 Junie, in Washington gedoop is, het tot vandag toe in getal toegeneem. Vandag is daar meer as twee-en-’n-half-miljoen van hierdie “ander skape” van die Goeie Herder, Jesus Christus, dwarsoor die aarde wat gereeld met die geesverwekte deelgenote van die nuwe verbond omgaan en wat deelneem aan die Koninkryksgetuieniswerk soos voorspel in Mattheüs 24:14 (Johannes 10:16). Soos die psalmis lewer hulle oortuigende bewys van hulle liefde vir Jehovah se “wet” vir hierdie “voleinding van die wêreld”, en van die feit dat sy “wet” iets is waaroor hulle verstand peins en waarin hulle hart belangstel.

Redding deur geloof en belydenis

7, 8. (a) Berus redding bloot op kopkennis? (b) Wat sê Romeine 10:5-10 oor die wisselwerking tussen die figuurlike hart en die verstand?

7 Om redding te verkry, hetsy in Jehovah se Koninkryk in die hemele of op die paradysaarde onder die duisendjarige heerskappy van Jesus Christus, is nie bloot ’n kwessie van kopkennis, ’n saak van die verstand, nie. Die apostel Paulus stel dit in Romeine 10:5-10 duidelik. Daar bespreek hy die vraag van Christene wat ’n natuurlike, vleeslike hart het, nie ’n oorgeplante of selfs ’n meganiese hart nie. Hy voer sy argument soos volg:

8 “Want Moses beskrywe die geregtigheid wat uit die wet is: Die mens wat hierdie dinge doen, sal daardeur lewe. Maar die geregtigheid wat uit die geloof is, sê dit: Moenie in jou hart sê nie: Wie sal in die hemel opvaar, naamlik om Christus af te bring; of: Wie sal in die afgrond neerdaal, naamlik om Christus uit die dode op te bring? Maar wat sê dit? Naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart. Dit is die woord van die geloof wat ons verkondig: As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word; want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding.”

9. (a) Wat is nodig om gered te word, en waarom antwoord jy so? (b) Wat moet ’n Christen waarlik in sy hart glo? (c) Watter houding het die Atheners aangeneem, en waarom?

9 Dit toon dat die saak dieper lê as die intellek, of die verstand. Dit is nie bloot ’n kwessie van inligting versamel, dit in die verstand orden en dit dan soos ’n papegaai opsê nie. Die verstand met sy kennis is nie die bepalende faktor nie; dit is die motivering voor God wat hier ter sprake is. Die Christen se geloof moet deur die figuurlike hart aangedryf word. Hy moet met sy hele hart aan Christus se opstanding glo, uit hartgrondige waardering vir hierdie wonderwerk wat die almagtige God verrig het. Dit is iets wat Christus nie self kon doen nie, en geen ander mens kon dit doen nie. Dit is God wat sy dooie Seun tot hemelse lewe opgewek het (2 Korinthiërs 4:13). Ons onthou dat sommige van die intellektuele Atheners van die apostel Paulus se dag geneig was om te “spot” toe hulle van “die opstanding van die dode” gehoor het, terwyl ander nie dadelik oor die saak wou besluit nie, maar gesê het: “Ons sal u weer hieromtrent hoor.” Hulle verstande vol kennis het verhinder dat hulle die inligting aanvaar, al was dit op feite gegrond. Net ’n paar het gelowig geword en by Paulus aangesluit.—Handelinge 17:21, 32-34.

10. (a) Waartoe moet die hart ’n persoon beweeg? (b) Watter twee dinge verlang Jehovah dus?

10 ’n Persoon se hart moet hom dus beweeg om te glo. Hy moet met sy hart glo. Wanneer hy dit doen, sal die hart—die innerlike self—van die gelowige hom beweeg om met sy mond in die openbaar te bely. Hy moet met sy hele hart glo. Die openbare belydenis met die mond, aangevuur deur die gelowige hart, sal volg. Wanneer ’n gelowige in water gedoop word om te simboliseer dat hy hom deur Jesus Christus aan Jehovah God toegewy het, doen hy ’n openbare belydenis wat tot redding lei. Jehovah God ondersoek nie net die figuurlike hart om te kyk of daar ’n aansporende geloof daarin is nie, maar luister ook of daar ’n openbare belydenis is.

Bly lojaal weens ’n “volkome” hart

11. (a) Hoe kon Dawid lojaal bly aan Jehovah? (b) Waarom kon Dawid, in weerwil van sy sonde, bid soos in Psalm 86:11? (c) Wie het Dawid se goeie voorbeeld gevolg?

11 Dawid van die ou tyd is, soos alle ander mense, in ongeregtigheid gebore en in sonde ontvang, maar hy het lojaal gebly aan sy God, Jehovah, omdat hy ’n figuurlike hart gehad het wat “volkome” was voor die God van die nasie Israel (Psalm 51:7). Ons vind getuienis hiervan in 1 Konings 15:3: “Sy [Abia se] hart was nie volkome met die HERE sy God soos die hart van sy vader Dawid nie.” Dawid het weliswaar ’n gruwelike sonde met die vrou van Uria die Hetiet gepleeg, maar hy het opreg berou gehad daaroor en sy hart was onverdeeld en onwrikbaar in sy toewyding aan Jehovah as sy God (1 Konings 15:4, 5). Dawid kon met goeie rede bid: “Verenig my hart tot die vrees van u Naam” (Psalm 86:11). As koning oor Israel het hy ’n skitterende voorbeeld vir sy opvolgers gestel, en koning Asa het Dawid in hierdie opsig nagevolg, want ons lees in 1 Konings 15:14: Asa se hart was volkome met die HERE al sy dae.”

12. Wat verg moed en openhartigheid, en hoe het Hiskia dit geopenbaar?

12 Dit verg beslis baie moed en openhartigheid om die allerhoogste God, die Ondersoeker van menseharte, om genade en ontferming te smeek. Maar dit is wat koning Hiskia van Israel gedoen het. Toe hy ’n siekte opgedoen het wat hom gewis sy lewe sou kos tensy God ingegryp het, het Hiskia gebid: “Ag, HERE, dink tog daaraan dat ek voor u aangesig in trou en met ’n volkome hart gewandel het en gedoen het wat goed is in u oë.”—Jesaja 38:3.

13. Wat moet gesalfde Christene altyd in gedagte hou, in navolging van Jesus?

13 Met die oog op so ’n voorbeeld moet die gesalfde Christene in ons dag wat in die ‘verbond vir ’n koninkryk’ met Jesus Christus in die hemele ingebring is altyd in gedagte hou dat hulle “met ’n volkome hart” voor Jehovah moet wandel. Soos sy koninklike voorvader Dawid het Jesus Christus “met ’n volkome hart” voor sy hemelse Vader, Jehovah, gewandel toe hy ’n volmaakte man op aarde was. Daarom was dit vir Jehovah God, die Aansteller van konings, ’n groot genoeë om aan hom die heerskappy in die hemelse Koninkryk te gee, waar hy as “die Koning van die konings en die Here van die here” sal heers tesame met sy getroue dissipels wat as ondergeskikte konings en here sal regeer.—Lukas 22:29; Openbaring 19:16.

14. Om watter rede is die “ander skape” in die “een kudde” onder die “een herder” ingebring?

14 Die “groot menigte” van Christus se “ander skape” verwag om die eerstes te wees wat lewend in die duisendjarige heerskappy van Jesus Christus en sy 144 000 medeheersers ingaan (Openbaring 7:9, 10; Johannes 10:16; Openbaring 14:1; 20:4-6). Sedert die gebeurtenis volle jaar 1935 gaan die lede van daardie “groot menigte” om met die oorblyfsel van daardie Koninkrykserfgename wat met ’n volkome hart voor Jehovah God wandel. Omdat hierdie “ander skape” van die Goeie Herder, Jesus Christus, daarna strewe om “met ’n volkome hart” voor Jehovah God te wandel, vorm hulle nou “een kudde” met die oorblyfsel van die Koninkrykserfgename onder die “een herder”, Jesus Christus. Danksy hulle getroue volharding met sulke eensgesinde, volkome harte sal hulle die voorreg geniet om deel te hê aan die regverdiging van die universele soewereiniteit van die God vir wie hulle getuies is, Jehovah.—Jesaja 43:10, 12.

15. Waarvoor kan ons almal nou dankbaar wees?

15 Op hierdie manier pas elkeen van ons, as dissipels van die Seun van God, ons Goeie Herder, ons by die “gedagte” van Jehovah aan soos hy dit nou aan sy toegewyde, gedoopte aanbidders openbaar. Hoe dankbaar kan en moet ons wees dat die allerhoogste God in die hemel aan ons bekend gemaak het wat eerste in sy “gedagte” opgekom het en nie by enige mens van vlees en been ontstaan het nie! Daarom word ons beweeg om te dink soos Jehovah dink met betrekking tot sy heerlike voorneme.

16, 17. (a) Wat leer ons in 1 Korinthiërs 2:16 oor “die sin van Jehovah” en “die sin van Christus”? (b) Wat onthul Filippense 2:5-8 in verband met die “sin” of gedagte van Christus?

16 Ons verstaan wat in 1 Korinthiërs 2:16 vir ons opgeskrywe is, naamlik: “Want wie het die sin van [Jehovah] geken, dat hy Hom sou kan onderrig? Maar ons het die sin van Christus.” Die Griekse woord vir “sin” is hier in albei gevalle nous.

17 Dit is ’n onteenseglike feit dat die “sin” of gedagte van Christus ooreengestem het met “die sin van Jehovah”. Die geïnspireerde woorde in Filippense 2:5-8 (NW) help ons om in die “gedagte” van selfs die voormenslike Seun van God in te kyk, want daar lees ons: “Bewaar hierdie geestesgesteldheid [“gedagte”, Authorized Version; American Standard Version; Revised Standard Version] in julle wat ook in Christus Jesus was, wat, alhoewel hy in God se gedaante bestaan het, geen gewelddadige inbesitneming oorweeg het, naamlik om aan God gelyk te wees nie. Nee, maar hy het homself ontledig en die gedaante van ’n slaaf aangeneem en aan die mense gelyk geword. Meer nog, toe hy hom in die gestalte van ’n mens bevind het, het hy hom verneder en gehoorsaam geword tot die dood toe, ja, die dood aan ’n folterpaal.”

18. Wat is van die Seun vereis om hom by die “gedagte van die Vader aan te pas?

18 Jehovah God het in gedagte om die mensdom van ewige dood vry te koop, en die eniggebore Seun van God was bereid om hom aan te pas by die gedagte van sy hemelse Vader in hierdie verband, al het dit intense lyding vir hom op aarde beteken.

19. (a) Hoe kan ons ons figuurlike hart by die “gedagte” van Jehovah aanpas? (b) Wat in verband met “die sin van Christus” moet ons nou uitvoer?

19 As ons ons vandag by “die gedagte van Jehovah” wil aanpas, moet ons ons eweneens verneder soos Christus gedoen het en ons onvoorwaardelik aan Jehovah se wil onderwerp. Dit verplig ons om Jehovah se getuies te wees en, aangedryf deur ’n liefdevolle en lojale hart [kar·di’a], te doen wat Jesus Christus in sy versiende gedagte gehad het toe hy gesê het: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies”—reg tot die einde toe.—Mattheüs 24:14; Markus 13:10.

20. (a) Wat bevorder nou eendragtige optrede oor die hele wêreld? (b) Watter welslae behaal die verenigde kudde van God se volk vandag?

20 Ons wat vandag toegewyde, gedoopte getuies van die allerhoogste God is, wil “eensgesind” wees ten opsigte van hierdie diensvoorreg (Filippense 4:2). Dit bevorder eendragtige optrede oor die hele wêreld. Omdat ons dit doen, het Jehovah God die “groot menigte” van Christus se “ander skape” sowel as die gesalfde oorblyfsel van Christus se Koninkrykserfgename geseën met die verblydende welslae wat hulle vandag wêreldwyd behaal met die insameling van al die “ander skape” en die welslae waarmee hulle die finale waarskuwing aan die ganse mensdom rig vóór sy heerlike oorwinning en die regverdiging van sy universele soewereiniteit by Armageddon.—Openbaring 16:16.

Enkele vrae ter hersiening:

◻ Hoe is die “hart” en “verstand” betrokke by Jehovah se skrywe van die “wet” van die nuwe verbond?

◻ Watter twee dinge is by redding betrokke?

◻ Hoe help ’n “volkome” hart ons om lojaal te bly?

◻ Hoe kan ons toon dat ons “die sin van Jehovah” sowel as “die sin van Christus” het?

[Prent op bladsy 15]

Jehovah het die “wet” van sy nuwe verbond op die harte en verstande van gesalfdes geskryf. “Ander skape” verrig nou vreugdevol saam met hulle heilige diens

[Prent op bladsy 17]

Hiskia het ’n “volkome hart” geopenbaar toe hy beproewing verduur het. Ons kan ook

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel